Wednesday, March 28, 2007

Sonnenschein Tag


101_0915, originally uploaded by tstander.

Ek is vandag effens vroeër as gewoonlik by die kantoor weg, om 'n bankrekening te gaan oopmaak by Deutsche Post. Om die lieflike lentedag te vier, om die Duitse spesie 'n bietjie van nader te bestudeer onder alternatiewe klimaatstoestande, en om myself te beloon dat ek vir 'n bankrekening kon aansoek doen sonder om een keer oor te slaan Engels toe, het ek afgedrentel Elberfeld middestad toe vir 'n roomys.

Vandag, vir die eerste keer, kon ek agterkom dat dit Universiteitsvakansie is. 'n Mens het oral studente (en ander mense) sien drentel met roomys in die hand (of bier, al was dit eers skuins na 4). Mense wat sit in lees in op Karlsplatz, of vars groente koop by die mark, of net oor die algemeen die lieflike sonskynweer geniet.

'n Interessante ding wat ek hier opgetel het, is dat die Duitsers baie ernstig is oor wag vir die groen mannetjie by die verkeerslig voor hulle die straat oorsteek. Daar sal vir myle en myle geen voertuig in sig wees nie, maar hulle (selfs die wildste, rofste punk met 'n bier in beide hande en meer gaatjies as 'n teesiffie) sal bly staan by daai lig tot die rooi mannetjie verdwyn. En dit, nogal, in 'n voetgangersone, waar voertuie slegs 30km/h mag ry. 'n Soort publieke dissipline wat my aangenaam verras het.

So, die lessies vir die dag: Doen wat jy kan in die plaaslike taal, jy sal verbaas wees hoe ver jy kan kom. Wag vir die groen mannetjie voor jy oor die pad stap. En vermy die mint roomys hier, dis nie vreeslik lekker nie.