Saturday, March 3, 2007

Inpak

'n Mens kan nie jou hele lewe inpas in 20 kg nie. Dit kom ek toe agter 'n uur voor ek moes ry lughawe toe, wat tipies nie die tyd is wanneer jy dit wil agterkom nie.

Ek moes al drama verwag het toe ek die eerste keer my handbagasie geweeg het, en dit 5kg oor was. Natuurlik was die notebook die vark in die verhaal. Op 3kg, 'n ware potjierol. Maar, dit moes in die handbagasie kom, so ek gooi toe maar 'n paar van die ander goeters uit. My Popular Mechanics wat ek nooit kans kry om te lees nie, moes ek maar los vir wanner ek terugkom *snik*, asook die boek wat Carla vir my geleen het. Op einde laas kon ek, na 'n indringende dieet, my handbagasie afkry na die maksimum 8kg.

My groot tas was egter die groot blikskottel (Siende dat my ma ook hierdie blog lees, gaan ek maar liewers bliksem, moer en dôner vermy. Behalwe, natuurlik, as dit regtig nodig is.). Ek's so amper klaar gepak (die absolute broodnodige klere, skoene, dokumente, medisyne, toebehore ens), toe ek besluit het om vinnig te weeg om te sien hoeveel geskenke en minder noodsaaklike goed ek kan neem. 25kg. Wat presies is hoeveel ek land-uit kan gaan met BA, maar wat 'n volle R1500 in excess baggage by Lufthansa sou wees.

In so 'n situasie begin 'n mens vinning nadink ook waarsonder jy werklik kan lewe, en waarsonder nie. Wat dinge natuulik slegter maak, is dat ek moet pak vir twee seisoene op twee kontinente.

So wat los jy? Die ekstra langbroek? Kortbroek (nou nie Marthinus nie)? Die tweede trui? Die droë vrugte, of dalk Liza se Amarula? Of dalk alles van die bovermelde?

Natuurlik moes al die bovermelde gaan, asook 'n my wireless muis, notebook sak (ek het 'n ander, dunner, ligter sak geneem) en 'n hele gros ander dinge wat ek gedink het ek hier sou kon vervang. Genadiglik het ek nog nie iets hier nodig gekry wat ek nie kon aankoop nie (behalwe natuurlik my beskuit), so ons hoop maar vir die beste. Ons hoop veral vir die beste as Liza agterkom haar beskuit, Amarula en droë vrugte lê in Bellville. Miskien sal die Rooibos, biltong en my ma se beskuitresep daarvoor opmaak.

Beste deel is, my handbagasie is nêrens geweeg nie, en my bagasie net by check-in vir BA by Kaapstad, (ek't aanvanklik gedink ek gaan nie deurboek tot in Frankfurt nie, maar is deur die dame by BA andersins oortuig) waar dit 'n volle 3.5 kg ondergewig was. Miskien sal ek daardie plek gebruik vir my versameling bierbekers oppad terug.