Saturday, March 3, 2007

Einkaufen

My eerste paar dae se inkopies hier in Duitsland was nogal insiggewend.

Natuurlik, heel eerste, soek ek Donderdag-aand 'n kruideniersware winkel vir die nodige brood, melk, suiker, en ontbytgraankos, net om aan die gang te kom die volgende dag. Ek is deur Rebekka (die meisie van die International Students Team, wat my kom haal het by die treinstasie) verwys na Penny Platz, net so 'n paar verdiepings se trappe af agter die Wohngemeinschaft. Hulle sê om min te slaap is so goed soos om dronk te wees, so met my dutch courage vaar ek toe Penny Platz in.

Eerstens kon ek nie 'n trollie loskry nie. Die goed is aanmekaargeketting, en ek sou eers later agterkom dat jy 'n munt in die gleufie moet druk om die slot oop te kry (ek weet nog net nie watse munt nie, maar ek sal weldra een probeer en kyk wat gebeur). Toe ek sien almal loop rond met hul inkopie sakke, kom ek agter ek het vergeet om iets te bring om die kruideniersware in huis toe te dra. Dis eers die volgende dag dat ek per ongeluk sien jy KAN sakke koop, jy moet net weet waar om te kyk.

Gewone kruideniersware is nie regtig duurder hier as in SA nie. Groente is natuurlik 'n bietjie duurder (vars en gevries), maar dit maak jy weer op deur die goedkoper vleis. Dieselfde tipe goed is natuurlik ook goedkoper (mince teenoor steak, 2 minute noodles tenoor pasta-en-sous boksies), so ek kan maar meestal hier koop wat ek by die huis koop.

Wat my hart natuurlik vreeslik bly gemaak het, was om te sien Penny Platz verkoop wyn ook. Ek't vandag (na ek yskoud en sopnat was van verdwaal in Wuppertal) vir my daar 'n bottel Mazedonischer Rotwein gekry. Daar staan nie van watter landgoed dit kom nie, so ek vermoed dis maar hul weergawe van Tas. Dit was ook die enigste bottel in die winkel met 'n skroefdop, wat ek maar noodgedwonge moes neem, siende dat ons nie 'n botteloopmaker hier het nie (maar dit sal verander). Plus, selfs al is dit 'n liter bottel, is dit die goedkoopste op die rak. Ek't nou nog nie kans gekry om dit uit te toets nie, maar ek sal julle op hoogte hou.

Na my registrasie Vrydag, het ek ook 'n bietjie die groot stad ingevaar. So deur my wandelinge, kom ek toe op twee interessante plekke af. Die een is die winkelsentrum naby die hoof treinstasie, "City-Arkade". Dis omtrent so groot soos Eikestad Mall, maar pragtig versier met die mooiste fonteine. By 'n elektronika winkel daar kon ek toe 'n selfoon simkaart en netwerk kabel bekom, maar nie sonder 'n paar handtekeninge nie. In Duitsland, as jy 'n prepaid kaart koop, moet jy op 'n databasis geregistreer word en daarvoor teken. Anyway, gelukkig het ek toe my paspoort en my Wohngemeinschaft adres by my gehad, so ek kon een koop. Die ou wou ook nie vir my glo toe ek hom vertel het prepaid fone is 'n SA uitvindsel nie. Ek wonder of hy toe ooit op wikipedia gaan kyk het...

Ek kom daar toe ook af op 'n boekwinkel waar ek 'n paar Wuppertal poskaarte kon kry. Die gelukkiges onder julle behoort dit te ontvang sodra ek kan uitfigure waar ek kan posseëls koop.

Daar was ook 'n skoenwinkel, en ek het so vinnig daar ingeloer, maar to sien ek ewe skielik daar's net vroue in die winkel. Nie dat 'n mens uit die skoene wat daar staan kan aflei dat dit dameskoene is nie, maar 'n mens wil tog 'n goeie ambassedeur wees en nie sulke gender ambigous goed aanvang soos damesklere koop nie. Nou dat ek daaraan terugdink, wonder ek of ek nie net toevallig op die verkeerde tyd daar ingestap het nie. Miskien moet ek maar weer gaan kyk en sien of ek enige mans daar sien skoene aanpas.

Net langs City-Arkade is 'n Elberfeld, 'n klomp loopgange met winkeltjies. Die Bellville in my het natuurlik die fonds van die dag uitgesnuffel: die 1 Euro shop, waar alles op die rak 1 Euro stuk is. Ek het daar lekker vir my 'n koffiebeker (Duitse sokker, wat anders?) en papbakkie gekry, asook 'n afdroogdoek en iets wat ek nie gedink het ek sou kry nie: cable ties, om my vlag vas te maak aan die balkon. As ek weer iets nodig het, sal ek weer daar gaan soek.

Dis 'n lekker area om in te shop, net jammer dis omtrent 20 minute na 'n halfuur se stap om daar uit te kom. Miskien sal ek maar teruggaan sodra ek 'n buskaartjie het. Dit sal ook help om my geld in my sak te hou... as Penny Platz nie intussen alles opeet nie...