Saturday, March 3, 2007

Eintragung

Vrydag-oggend moes ek gaan registreer by die Akademische Auslandsamt. Ek moet eerlik sê, die mense hier is baie gaaf, maar nie daai klomp nie. Dit moet 'n vreeslike slegte werk wees, of hulle moet regtig goedkoop koffie drink, of iets, want to ek 08h30 daar instap, is ek begroet met die suurste gesigte wat ek tot nou toe hier in Duitsland gesien het (dit sluit nou die nors tannie in wat oorkant my gesit het op die trein tussen Mainz en Köln). Wat dinge natuurlik vererger het, is dat my aansoek nie heeltemal volledig was nie. Ek moes eers by die AOK kantoor 'n brief gaan haal het wat bewys ek mediese versekering het.

Daar aangekom, kom ek toe agter (na 'n bietjie wisseling tussen my swak Duits en hul swak Engels) dat, as jy in Duitsland studeer, moet jy "gewone" mediese dekking hê. Reisversekering is onvoldoende.

Na heelwat onderhandling, kon ek toe vir hulle oortuig dat ek 'n mediese fonds het in SA wat vir my mediese dekking bied in die buiteland vir ten minste 90 dae se reis, waarmee hulle toe tevrede was.

Sjoe.

Ongelukkig was dit nie die einde van my registrasiekrampe nie. Daar aangekom en vorm ingevul (met my PDA naby... dit dien as my woordeboek hier) kom ek agter ek't hier geland 'n maand voor hul somer semester. Dit beteken, al my byvoordele van registrasie (meer spesifiek, toegang tot publieke vervoer) word eers geaktiveer op 1 April. Tot dan, moet ek maar stap waar ek wil wees.

Ook moes ek betaal vir daardie byvoordele vir 'n volle 6 maande, waarvan ek net 2 gaan benut. Hulle't gesê hulle gaan kyk of ek iets kan terugkry sodra ek my registrasie kanselleer in Mei, maar ons sal maar sien wat daarvan kom.