Sunday, March 4, 2007

"It was very nice travel"


101_0627, originally uploaded by tstander.

Ek, Mischa en een van Mischa se labmates, Roman (ook 'n kenfisikus, maar hierdie keer van Rusland) het vandag weer Elberfeld ingevaar.

Op pad soontoe ('n heelwat korter pad as wat ek tevore geneem het) het ek nog 'n paar dinge opgelet. Eerstens kon ek nie agterkom waar die mense petrol koop nie. Ek sien oral karre, maar geen vulstasies nie. Vreemd. Die ander ding was dat die meeste van die kerke hier in Wuppertal (en hier is BAIE) se klokke lui en mense instap op Sondae. Dis glad nie net 'n klomp leë geboue soos waarvan ek vooraf gehoor het nie, hier's 'n klomp aktiewe gemeentes.

Anyway, ek het toe op 'n plek afgekom wat lekker skoene verkoop (nou nie presies die Adidas sneakers wat ek soek nie, maar amper) vir so 20 Euro. Roman het my ook beduie waar ek sulke skoene kan koop vir 5 Euro, maar dit sal ek glo as ek dit sien. Sy Engels is so gebroke, hy kon ook bedoel het hy het eenkeer 5 Euro muntstukke in sy skoen gegooi iewers :)

Ons het lekker rondgeloop en foto's geneem (meer foto's by http://www.flickr.com/photos/38118825@N00/), döners geëet en by 'n roomys winkel gestop. Ek't nou nie vir my gekry nie (die temperatuur was 10C, so 'n bietjie te koud vir roomys vir my, veral met die dat ek my warm baadjie by die huis gelos het), maar Roman (wat 'n minuut vroeër aan my verduidelik het dat dit heel winter by hulle -30C was) het wel een gekry. Wou seker 'n bietjie afkoel van hierdie verskriklike hitte.

Oja, die titel was my flatmate se opmerking toe ons terugkom by die Wohngemeinschaft.

Môre gaan ek maar 'n lekker lang dag op kantoor insit, en dan iewers in die week gaan aanmeld by die Meldebehörde aan die ander kant van die stad. Dis te ver om te loop (seker maklik 'n uur van hier af), so die maklikste manier om daar uit te kom is met die Schwebebahn (bietjie duur, maar lekker geleentheid vir foto's neem), en op hierdie stadium voel ek ek eet eerder een minder döner as wat ek verdwaal in Wuppertal.