Tuesday, March 6, 2007

Die ANTI-PLAKKIES!

'n Post, spesiaal opgedra aan al my mede-stryders daar aan die verkeerde kant van Banhoegweg.

Vriende,

vir lank het ons gebuk gegaan onder die ystervuis regering van Plakkies daar in Stellenbosch. Ons word om elke hoek en draai bedreig met hoë pryse, nors gesigte agter die till, en koffie wat partykeer grys is en effens snaaks ruik.

Hier in die vreemde, het ek egter 'n teenvoeter gevind vir hierdie monster. Die Hoop van Hoop. Die Wonderbare:

ANTI-PLAKKIES!
(oftewel, die Ingenieurskafeteria hier in Wuppertal).

Die AP bied LEKKER kos (ek bedoel nou ma-se-kombuis tipe kwaliteit hier) in GROOT hoeveelhede teen BILLIKE pryse, met VRIENDELIKE personeel, HEERLIKE koffie wat jou tone laat krul, en chocolate melkies wat Steri Stumpie soos water laat proe. Dis fantasties. 'n Ervaring wat ek regtig kan aanbeveel.

Ongelukkig, soos meeste dinge, is die AP egter nie perfek nie. Daar's geen TV nie, so mens kan nie Judge Judy of Rick Lake se genot ervaar saam met jou kos nie. Aan die ander kant, daar's genoeg Duitsers om jou te vermaak, so dis seker okay.

Op 'n ander noot, kom ek nou agter die verstotenheid van die ingenieursgeboue (weg van hoofkampus) is nie uniek aan aan Stellenbosch nie. Hier, is die ingenieurskampus ook 'n ent van die hoofkampus af, en soos ek die mense hoor, klink dit my dit gaan maar oral so.

Ek het dus besluit: Wanneer ek eendag my eie universiteit begin, sal ek net die ingenieursgeboue, die studentesentrum, die admin geboue en die biblioteek op die hoofkampus hê, en al die ander fakulteite 2 km verder pos in alle rigtings. Hmmm, miskien moet ek Admin ook maar 'n bietjie verder wegpos... miskien na die buurdorp.