Tuesday, January 30, 2007

VSA Visum

Ek het vandag gegaan vir my VSA visum onderhoud. Soos ek vroeër genoem het, was dit nogal 'n ervaring.

Maar eers, 'n paar nare waarhede oor die visum:

- Dit kos jou R86, om 'n PIN te koop, waarmee jy die Visa Call Centre MAG bel om 'n onderhoud te skeduleer, of enige ander visum navrae te rig. Sonder daardie PIN, het jy geen afspraak nie, en geen navrae kan beantwoord word nie.
- Die visum aansoek self is R740, voorafbetaalbaar. Jy kry dit nie terug as jou visum afgekeur word nie.
- Dit kos jou 'n verdere R60 om jou paspoort te laat koerier terug na jou. Hierdie diens is verpligtend.

Praat van geldmaakstories. Ek dink ek weet nou hoe hulle hul buitelandse beleid finansier.

Maar nou ja, terug by die onderhoud.

Moeder was baie bekommerd dat ek alleen al die pad Kaapstad toe ry, siende dat verkeer sou sleg wees en ek nog nie so lank bestuur nie. Ons twee sny toe 'n lyn af Westlake (anderkant Tokai) toe vanoggend 05h45. Met Tinus wat navigeer, kan niks verkeerd gaan nie, en ons land daar so 06h45 se kant. Nadat ek mooi verneem het by die nagwag dat die deure toe is tot 08h00, gaan ons toe terug na die nabygeleë winkelsentrum se parkeerterrein, eet ontbyt, en lees rustig Die Burger tot 07h30, waarna ek op die bankies in die tou gaan sit buite die deur.

Hiermee dan die eerste waarskuwing, aan almal wat beplan om vir 'n VSA visum aansoek te doen in Kaapstad: Jou geskeduleerde onderhoudtyd is absoluut geen aanduiding van hoelaat jou onderhoud gaan wees nie. Almal word bedien op 'n first come, first served basis. Moet jou nie laat flous nie. Gaan vroeg, gaan sit / staan / lê in die tou, en wag jou beurt af. Hoe vroeër jy daar kom, hoe korter wag jy, hoe vinniger kan jy loop.

So, nadat ons eers vier-vier by die hoofingang ingelaat is, en my selfoon veilig toegesluit is in 'n locker by sekuriteit, land ek in die visum wagkamer. Nadat 'n ou eers vinnig jou dokumente deurkyk dat jy nou nie heeltemal 'n kansvatter is nie, gaan sit jy en wag jou beurt af vir 'n onderhoud.

En jy wag omtret.

Natuurlik is daar nie 'n horlosie in die wagkamer nie, en siende dat my selfoon by sekuriteit lê, sit ek toe sonder tyd. Wat daar wel is, is 'n TV wat SABC3 wys. So, as jy 'n TV skedule gememoriseer het vooraf, kan jy darem weer hoelaat (tot binne 'n halfuur) dit is deur te kyk watse tans uitgesaai word.

Nog iets wat jy oplet, is dat jy definitief in Amerika is sodra jy by daai hekke instap. Daar is natuurlik die obvious goed soos die vlag en die dik aksente oral, maar dis die meer subtiele goed wat my opgeval het. By voorbeeld: die muurproppe is almal Amerikaans. Die tydskrifte is almal Amerikaans. Selfs die koffie op die teetrollie het 'n bietjie uitlands gelyk.

Iets anders eg Amerikaans wat jou tref in die wagkamer, is die culture of fear waarmee jy begroet word. Oral is daar nét sulke groot posters wat jou waarsku dat jy onmiddellik in die tronk gestop sal word as jy 'n vals paspoort ingee nie, of vals inligting op jou aansoek invul nie, of hard jou neus blaas nie, of iets dergliks. Niks "Welkom in Amerika. Ons ontvang jou graag met ope arms" nie. Ek hoop maar dis nie ter voorbereiding op jou aankoms daar anderkant nie.

Alles is Amerikaans... behalwe die karre. Ek het nie een Amerikaanse kar gesien parkeer voor ek in is nie. Dis net VW, Fiat, Mazda, Merc (nogal 'n hele paar), BMW (ook 'n hele paar) en Toyota. Nie een Jeep, Ford of Chrysler nie. Maar dis maar net terloops.

So hoe verwerk jy hierdie kombinasie van wag en swak TV?
  • Lees 'n boek (ek het een vergeet... iets wat ek sterk afraai)
  • Kyk die advertensies tussen die stukke Bold op TV (want mens kan wragtag nie heel oggend Bold kyk nie)
  • Staar na die kaartjie wat jou nommer in die tou aandui
  • Slaap (Soos die omie wat langs my gesit het. Moet net nie hardop snork soos hy nie)
  • Luister na die gesnork van ander mense wat wag
  • Wonder watse ondersteunende dokumente jy vergeet het
  • Staar nog 'n bietjie na jou kaartjie

Natuurlik is geen van hierdie traumas beskore vir Amerikaanse burgers nie. Hulle het nou wel nie hul eie wagkamer nie, maar wel 'n klomp stoele wat spesiaal vir hulle gereserveer (en omhein) is. Hul toonbank het ook 'n deur, wat hulle toemaak sodat die klomp buitelanders nie kan sien wat hulle daar binne doen nie. Miskien is dit waar die Amerikaners hul human suits oopzip om hul twintig tentakels 'n bietjie te strek, ek weet nie.

Alles is darem nie so erg nie. So halfpad deur Bold het die teetrollie gekom met koffie, muffins en swieties. Maar dis nie sommer sulke koffie nie: dis uitlandse goed, wat hulle daar voor jou maak met 'n koffiemasjien in die vensterbank (Oja, daar's darem vensters ook, so jy kan darem 'n idee van tyd kry as jy nie 'n horlosie het nie. Nou nie dat die verbygaan van tyd 'n probleem is as jy vars filterkoffie op hande het nie).

Maar net toe ek my koppie wou bestel, roep hulle my vir my onderhoud. Nie so 'n gemoedelike affêre soos wat ek my verbeel het nie. Jy praat maar met die man deur 'n dik glasruit met 'n telefoon. Hy kyk ook nooit vir jou nie, siende dat al sy aandag is by die rekenaar waarop hy tik tekere gaan terwyl julle gesels. Hy kyk ook nie eens met vreeslike belangstelling na al jou ondersteunende dokumentasie wat jou 'n week geneem het om bymekaar te skraap nie.

Hy het darem nie te wyd of te diep uitgevra nie, en vir my 'n 1 jaar visum toegestaan. My paspoort behoort nou binne 6 dae hier te wees (te danke aan DHL).

En dan kan ek begin met my Duitse visum.

Een dag, lank lank gelede...

Raait, hierdie is nou my eerste post op hierdie blog, wat ek nou die tweede keer oortik. Die eerste keer het ek per ongeluk "back" geclick, en toe ek weer hier uitkom, was als weg. Ek het 'n regtige catchy intro gehad, maar kan nou nie meer onthou wat dit was nie. So hierdie sal nou maar moet werk.

So, ek gaan Duitsland toe. Almal weet dit nou al, want ek het dit al vir almal vertel. Herhaaldelik. Ek's verbaas dat daar nie al meer mense was wat my vertel het hoe gatvol hulle nou al is vir my Duitsland stories nie. Maar as jy tot kort tevore nog een van die gelukkiges was wat ek nie verveel het met die verhaal nie, hier's dit weer:

Ek gaan van 1 Maart tot 24 Mei in Duitsland studeer. Meer spesifiek, gaan ek verder werk aan my M-tesis aan die Bergische Universität Wuppertal. (Meer besonderhede by www.uni-wuppertal.de) Na afloop van hierdie tyd gaan ek by my suster kuier in Engeland, waarna ek IMS2007 gaan bywoon in Honolulu vir 'n week.

Omdat ek nie regtig kans gesien het om almal altyd via e-pos op hoogte te hou van my nuutste doen en late nie, het ek besluit om eerder my verhale hier te vertel. Ek sal seker spesifieke aspekte van spesifieke gebeurtenisse via e-pos aan die korrekte partye oordra, want my ma sal bitterlik vies wees as ek nie vir haar op een of ander manier laat spesiaal voel nie. :)

Nou waar trek die storie nou?

- Vliegkaartjie is gekoop, al die pad van Kaapstad -> Londen -> Frankfurt -> Londen -> Honolulu -> Londen -> Kaapstad. Ek en Heathrow gaan goeie vriende raak.
- My verblyf in Wuppertal is bespreek en deposito betaal. Ek deel 'n tweeslaapkamer woonstel op kampus met Onbekende Persoon X. Pret.
- Die prof in Wuppertal (Heinz Chaloupka) het laat weet dat my sitplekkie en toesig in plek is... maar nie meer by hom nie. Ek sal nou in die hoof van hul EM groep se lab sit.
- Ek wag nog vir einde Januarie, om te hoor of DAAD vir my gaan geld gee vir die trippie.
- Eers as ek klaar gehoor het van DAAD, kan ek begin met my Duitse visum.
- Ek het vandag ('n groottotaal van R 886 later) vir my VSA visum onderhoud gegaan. Ek sal 'n aparte blog post maak daaroor... dit was nogal 'n ervaring.
- Tydelike internasionale bestuurspermitte is verkry vir Duitsland, Engeland en die VSA (Dankie Ma!) en reistasse is aangeskaf (Dankie Ma!). Tussenin is Wimpy brunch ook genuttig, natuurlik (Dankie Ma!) Al wat ek nou nog kort vir die trippie, is 'n nuwe radio vir my Chico (Dankie Pa! Onthou, dis nou die een wat MP3's kan lees van 'n USB memory stick af.)

Jip, dis omtrent dit. Soos die doel van hierdie blog nou maar is, sal ek julle op hoogte hou.