Sunday, April 22, 2007

Nacht der Museen


100_1188, originally uploaded by tstander.

Eers, 'n bietjie agtergrond.

"Nacht der Museen" beteken, letterlik, "Nag van die Museums". En dis presies wat op daardie nag gebeur. Jy koop een kaartjie van 11 Euro, waarmee jy elkeen van die 44+ museums en kunsgallerye in Düsseldorf (voortaan Duesseldorf, sien my Köln / Koeln post) kan besoek van 7h die aand tot 2h die oggend. Gegewe dat die museums gewoonlik tussen 5 en 10 Euro stuk kos om te besoek, en die stad gratis pendelbusse verskaf om jou tussen die museums te vervoer, klink dit na 'n heel aantreklike proposisie vir 'n Saterdag-aand.

Die geheim van so 'n uitstappie is egter (kom ek te laat agter) om nie as 'n groot groep (met diverse belangstellings en staminavlakke) te gaan nie. Iemand gaan effens teleurgesteld daar weggaan, indien nie almal nie.

Ek het die eerste keer begin onraad vermoed toe die "algemene konsensus" was dat ons toer moes begin by die K20 museum met die Picasso uitstalling. Die dun dun kwylstraaltjies wat by sommige van my museumgenote se mondhoeke verskyn het terwyl ons vir 20 minute in die tou gewag het, het die gevaarligte laat flikker. Maar die omvang van my verknorsing het eers werklik ingesink toe die eerste mense gaan sit het in die gallery. Net sit, staar na die skilderye, en wag tot dit tot hulle "spreek". En dit sommer in die eerste vertoonvertrek. Die koeël was deur die kerk. Ek het Nacht der Museen aangepak met "ernstige kunsliefhebbers".

Nou, ten spyte van die tou, sou ek seker ook die Picasso's wou sien, selfs al is dit net om vir almal te vertel dat ek al 'n Picasso in lewende lywe gesien het. Maar dis een ding om vinnig te loer, en die res van die 6 ure produktief te spandeer. Maar twee ure van die groot P was vir my 'n bietjie te veel. Vir my onopgevoede oog lyk alles dieselfde, en nie een besonders mooi nie (wel, nie mooier in lewende lywe as wat ek voor die tyd op die internet gesien het nie). Sy keuse van onderwerp was ook effe verdag, maar ons sal dit daar laat.

Terug by die hoofstasie het ons die geleentheid gehad om nog meer kuns te waardeer (hierdie keer met 'n meer moderne geur) en 'n happie te gryp, waarna ons vertrek het na die boonste punt van die stad vir 'n besoek aan die AquaZoo.

Die 20 minute rit in die dig gepakte pendelbus was elke elmboog in die gesig werd. Hoewel hulle nie die heel groot tenks het soos by die Two Oceans in die Waterfront nie, het hulle 'n ongelooflike verskeidenheid waterdiere (sout en vars) reg deur van mikroskopies tot tropies en sopies (jy kon 'n bier koop en drink terwyl jy deurloop). En dit eindig nie met visse nie. Hulle't 'n groot tropiese insek- en reptieluitstalling ook, asook 'n spesiale vertoonsaal oor Madagaskar (met 'n paar kleinerige soogdiere ook). Ons het ook die geleentheid gekry om 'n "nagwandeling" mee te maak deur een van hul tropiese sale, en te wed op 'n kakkerlakresies. Dit was ook hier waar ons, vir die eerste keer, die "live music" beleef het wat vooraf beloof is: "Paddy" Schmidt, wat met sy akoestiese kitaar en dik Duitse aksent die lof van sy geliefde Ierland besing het. Maar verder was die AquaZoo elke minuut van die 2 ure wat ons daar spandeer het, werd.

Gees en stamina, dis wat jy nodig het in museumgenote vir Nacht der Museen. Ons span het gees gehad, maar net na ons uit is by die AquaZoo (omtrent half een) het die stamina gefaal, en die meeste van die span het die volgende bus geneem terug hoofstasie toe. Twee spanlede het egter genoeg stamina gehad vir nog 'n museum, maar het besluit om dit te spandeer op *sug* nog 'n kunsgallery. Dis hier waar ek ek myself vriendelik uit die geselskap verskoon het, en die een museum gaan sien het wat vir my ononderhandelbaar was: die Comtoise Horlosiemuseum.

Dis 'n ongelooflike jammerte 'n mens mag nie daar foto's neem nie (by die Picasso's ook nie, maar dit kan 'n mens verstaan... nadat hulle al daai geld spandeer het op die goed se aankoop, sou hulle nie genoeg oorhê om skadevergoeding uit te betaal as daai skilderye die kameras se lense een na die ander laat kraak nie), want dit was nou omtrent 'n ervaring. Honderde muurhorlosies, van elke kleur en geur. Ek soek so 'n saal in my huis as ek eendag 'n biljoenêr is... behalwe dat almal die regte tyd sal wys (nie een van die horlosies daar was reg ingestel nie, seker om te keer dat almal terselftetyd afgaan en 'n onuithoudbare geraas veroorsaak elke uur).

Na 'n salige driekwartuurtjie in die teenwoordigheid van soveel meganiese majesteit, was dit tyd dat ek ook huis kry. Ongelukkig was die horlosiemuseum aan die heel teenoorgestelde kant van die stad, en die busse was 'n bietjie stadig, so halfpad oppad stasie toe het ek besef ek gaan nie die 01h30 trein haal nie. So, halfpad oppad soontoe, klim ek af, en lê die laaste entjie te voet af om 'n bietjie van die stad ook te sien. Duesseldorf het in halfuurtjie my net oortuig dat ek absoluut terug moet kom vir 'n volle dag op 'n stadium. Plus, ek moet gaan poskaarte koop.

So, ten einde laas (na 'n vinnige besoek aan Pizza Hut by die stasie) was dit alweer ek, 'n treinstasie in die vroeë oggendure, Sparky en my kamera. Die onvermydelike moes gebeur: eerstens, dat ek almal op die perron se aandag moes trek deur 'n foto te neem van Sparky, en tweedens, dat ek in die een wa op die trein moes klim waar een of ander idioot van sy Saterdag-nog jolyt (en sy ontbyt) afskeid geneem het.

Saturday, April 21, 2007

Braai


100_1178, originally uploaded by tstander.

Nee, geen Duitse titel vandag nie, want vandag het ons nie ge-"barbeque" of ge-"grill" of selfs veel Duits gepraat nie (meeste van die mense se Engels was beter). Nee, vandag het ons geBRAAI, geïnspireer deur my trippie na Arkenza gister.

Gistermiddag het ek en Gosia gegaan om ons kaartjies vir vanaand se Nacht der Museen te gaan koop, vanwaar ek my disposable gaan ingee het (wat ek in Hamburg gekoop het) vir ontwikkeling. In die 45 minute waarvoor ek moes wag, besluit ek toe om vinnig my week se kruideniersware te gaan koop in Arkenza, 'n supermark in die City Arkaden sentrum.

Arkenza is heelwat groter as Penny, met 'n heelwat groter verskeidenheid. Maar die groot treffer van die dag was nie die Nederburg (uiteindelik hoef ek nie meer al die pad Barmen toe te ry daarvoor nie) of die Nutella nie. Dit was die MRS BALL'S BLATJANG! En net daar besluit ek, met hierdie blatjang gaan ek braaibroodjies maak en môre braai, al braai ek alleen.

Nuus oor Die Braai het egter vinnig versprei, en teen die tyd dat ek en Inaki teruggekom het van Thalia ('n kuierplek naby die hoofstasie) het ons al ses kamerade gehad. Gewapen met 'n sak charcoal, hout wat ons in die bos naby die woonstel gekry het, en alles wat mens denkbaar (en ondenkbaar) op kole kan gaarmaak, eien ons toe vir ons 'n kolletjie op die gras buite die woonstelle.

Die een slaggat van braai in die vreemde is egter dat jy vreemde goed kry om te braai. Neem bv. die gerookte rib. Hoe "gaar" rook hulle die rib voordat hulle dit in die pakkie sit en op die rak plaas? Ek weet nie, maar volgens Mischa moet 'n mens dit eintlik net 'n bietjie warm maak op die kole. Ek het dit darem 'n bietjie meer as net warm gemaak, maar moes dit afhaal toe ek sien die kleur verander nie noemenswaardig in enige rigting behalwe swart nie. Maar dit was darem lekker, en niemand het tot dusver gekla oor 'n maag wat nie lekker is nie, so ek glo alles was darem wel.

My eie beesnek tjoppie en worsie het absoluut vorentoe gesmaak, en die botteltjie Rioja wat Inaki daar aangebring het, was net die regte ding om dit mee af te was. Die dames het 'n slaaitjie ook voorberei, wat net weereens bevestig het dit wel, selfs hier in die vreemde, hul rol in die braai was.

Natuurlik is my braaibroodjies met ope arms verwelkom, (wel, darem 5 van die 6... die laaste enetjie het in die vuur gesneuwel toe my rooster omgetip het), en Gaelle was gaaf genoeg om vir nagereg te sorg met piesang en Nutella in tinfoil.

Die grootste encore versoek wat ek vandag gekry het, is vis. Ek sal maar kyk wat 'n mens hier rond kry, en miskien 'n plan maak vir volgende keer. Maar, vir eers, het ek nog twee stukkies wors en 'n varktjoppie in die vrieskas... 'n heel aangename vooruitsig, veral met die weer wat besig is om so mooi te draai.

Friday, April 20, 2007

Karting


100_1166, originally uploaded by tstander.

Maandag-oggend, na my opwindende naweek in Hamburg, kry ek 'n chat boodskappie van Gosia oor Skype. Almal gaan vanaand "karting" (go-carts ry) en wil ek nie saamkom nie? Nadat ek vinnig gedink het aan die 5 miljoen rand se reisversekering, en watter vermorsing dit sou wees as ek te ten minste 'n deeltjie daarvan laat uitbetaal op 'n stadium nie, stem ek toe in.

So gesê, so gedaan, en half agt neem ons (ek, Inaki, Gaelle, Victoria, en die Pole) die schwebebahn Vohwinkel toe. Daar aangekom, het elkeen sy kaartjie (5 oefenrondtes plus 'n wedren van 15 rondtes vir 11 Euro, wat ek dink heel skaflik is) plus sy swart ninja mus (wat jy moet koop, siende dat hulle nie wil hê jou luise moet meng met die luise van die ou wat die valhelm voor jou gedra het nie) gekoop het, is ons deur om 'n oorsig oor die reëls te kry. Die gewone goed: maak seker jy laat genoeg spasie vir vinnige ouens om jou aan die binnekant verby te steek, moenie rem en petrol gelyk trap nie, en moenie die kar breek nie. Eenvoudig.

Ons was 'n bietjie baie, so daar's besluit om eers die dames 'n kans te gee voordat die manne mekaar die stryd aansê. Na ek daardie wedren aanskou het, het ek alle vrees verloor vir ooit bestuur in Pole of Rusland. Hierdie dames het dit heeltemal kalm en rustig geneem, stadig en versigtig bestuur, en nooit enigiets gewaagd probeer nie. Gaelle, die dametjie uit Lyon, aan die ander kant, het my bang gemaak. Sy't gejaag, gegely, sentimeters van die muur af verbygeskuur by vele geleenthede, en vinniger baantye geklok as enigiets in ons wedren later met 'n gemiddeld van oor die 63 km/h in daardie binneshuise baan waar een reguit stuk pad langer as 50 meter is nie. Sy't ons almal deeglik beïndruk, maar ek dink nie een van ons sal na dese in 'n kar klim met haar agter die stuur nie.

Hierna was dit tyd vir ons wedren, waartydens ek 'n paar snaakse goed agtergekom het rondom gocart ry. Eerstens, geen ratkas, so jy voel altyd jy versnel 'n bietjie stadig en wil altyd afgear voor 'n draai. Dan, geen diff, wat beteken die karretjie ruk 'n bietjie om 'n draai as die binnewiel gly en die buitewiel nie. Maar die vreemdste ding, is dat jy glad nie kan rol nie (jou massamiddelpunt sit te laag). Die erste wat gebeur is dat jou agterwiele onder jou uitgly (rear wheel drive), in welke geval jy net liggies in die rigting van die gly stuur ('n paar manne het in die verkeerde rigting gestuur, m.a.w. teen die gly, en het lieflik getol gedurende die wedren) tot jy weer beheer het, en daar gaan jy. Die gevolg is dat jy heeltemal onnatuurlik vinnig om hoeke gaan. Maar dis deel van die ervaring.

In die wedren self het ek darem nie heel laaste geëindig nie, en het 'n skaflike gemiddelde spoed van 59km/h gehandhaaf. Vir 'n eerste probeerslag, dink ek nie dit was so sleg nie. Definitief iets wat ek weer sal probeer.

Hamburg


RIMG00402, originally uploaded by tstander.

Dit help nie ek bespreek 'n sitplek op 'n trein hier nie.

Deutsche Bahn (oftewel, die klein DB, om verwarring te vermy met die Groot DB) het dit goed gedink om my 1.50 Euro te laat opdok vir 'n sitplekreservering, en dan vir my self te laat baklei daarvoor. Sien, hoe dit gewoonlik werk is, jy bespreek 'n sitplek, en daar word 'n pragtige kaartjie by die sitplek aangebring wat aandui dat die sitplek gereserveer is tussen hierdie en hierdie stasies. Natuurlik was dit Vrydag weer nie gedoen nie, en die tannie wat daar gesit het, het botweg geweier om te skuif (want daar's mos nie 'n kaartjie wat aandui die sitplek is gereserveer nie). Partykeer dink ek die kondukteurs doen dit aspris, sodat hulle iewers kan sit en kyk hoe die drama ontvou... daar's mos niks anders om hulself mee te vermaak hier rond nie. Skurke. Ek's seker ek't hulle hoor giggel toe ek maar die oop sitplekke in die rookafdeling gaan opsoek het.

4 ure en seker 'n pakkie sigarette later, land ek toe by Hamburg hoofstasie, en 'n kort (en onwettige) moltrein rit later was ek by Petro, waar ek verneem het sy het OOK nie 'n kamera nie. Na 'n vinnige koukus oor presies hoe, waar en wanneer ons een in die hande gaan kry, het ons die res van die namiddag spandeer op 'n wandeling deur die stad (waartydens ek o.a. 'n klein opslaan-braaitjie gesien het, iets wat ek al lankal soek), wat ons uiteindelik besorg het by 'n woonbuurt pub.

As ek eendag 'n pub (kroeg is net nie die regte woord nie... my meer belese lesers sal my moet uithelp op 'n stadium) oopmaak, gaan dit so lyk. Ou tafels en banke, met die ou versierings langs die mure. Ou mense wat kaart speel in een hoek, jonger mense skaak by 'n ander, en die res wat net kuier by die kroeg en die aand rustig verwyl. En elkeen met sy gunsteling biertjie in die hand. So rustig, so eenvoudig, en 'n definitiewe moet as jy ooit die kans kry om so 'n plekkie te besoek. So meegesleur was ons met die atmosfeer, dat ons maar die res van die aand daar deurgebring het in die gawe geselskap van Dunkel Weissbier en 'n paar Iranese immigrante.

Die volgende dag was die weer (soos die vorige dag) lieflik, en natuurlik het ek die geleentheid gevier deur vir die eerste keer Duitsland se strate aan te durf in 'n kortbroek en sandale. Dadat ek eers daai braaitjie en 'n paar nuwe sokkies gaan aanskaf het (myne het ek amper almal deurgeloop in die maand wat ek hier was) het ons toe die pad gevat af hoofstasie toe. Natuurlik is daar mildelik gestop langs die pad vir foto's met die disposables wat ons langs die pad verkry het, veral toe ons verby Inner Alster en die kunsmuseum gestap het. Daai kameratjie was elke sent werd. Daar's net soveel om te sien en af te neem, jy kon nie wag tot jy 'n ander kamera het voordat jy begin snap-happy raak nie. Verby die hoofstasie (terloops, die grootste treinstasie in Duitsland) het ons (heel verwags, volgens my reseppie... sien die "Dortmund" post) die loopstrate en die oustad gevind, van waar ons verkenningstog vir die dag sou begin.

Maar soos enige ontdekkingsreisiger jou sou kon vertel, kan jy nie so iets aanpak sonder 'n kamera nie, so ons is gou eers in by Saturn om 'n bietjie rond te kyk. 'n Halfuur, 'n bietjie EC Geldkart drama en 'n duty-free slippie later, was Petro die trotse eienaar van 'n Ricoh Caplio R5. Natuurlik moes hierdie kamera se battery eers gelaai word, en 'n beter verskoning om 'n lekker eetplek te kry (naby 'n kragprop) het ons nie nodig gehad nie. Ons skiet toe af na 'n Chinese restaurant, kry twee chop sueys en twee biere, en beplan ons roete verder (hierdie keer is die kaart vroegtydig aangeskaf) terwyl die battery laai.

Hoewel ons nou kaart en kamera gehad het, het ons nog een ding gekort... fietse. Hamburg is heeltemal plat, en heeltemal fietsbehep (amper erger as Nederland). Hier's oral fietspaaie uitgelê, en jy kan alles sien wat jy moet sien op twee wiele. Hiermee dan 'n ernstige aanbeveling: as jy ooit hierdie hawestad besoek, huur 'n fiets. Ek weet nie waar nie, maar ek weet dit sal jou dag oneindig beter maak.

Terug na die storie. Eerste stop was die Rathaus (soos dit maar is by enige oustad), waarna ons ons pad deur die ou stad gekronkel het verby St. Nikolai ('n Gotiese kerk wat amper heeltemal vernietig is deur geallieerde bomwerpers, en nooit heeltemal herbou is nie. Die ruïnes is tans 'n monument) en St. Katharinen tot by die river. By die Speicherstadt (die staddeel langs die rivier waar al die skeepsvrag gestoor is in die laat 19e en vroeë 20e eeu) het ons kans gekry om die "Hamburg Dungeon" van buite te beskou, asook om onsself te vermaak in die winkeltjie (die tou was 'n bietjie lank, so ons het nie ingegaan nie).

Van daar het ons al langs die rivier en hawe gestap tot in Altona. Op hierdie stadium wou ons voete nie meer nie, toe moes ons eers in die geselskap van 'n bier of twee gaan rus in die eerste, beste kuierplek wat ons kon kry. En wat 'n interessante plekkie.

Ons beland toe in die kuierplek van die plaaslike Griekse gemeenskap. Die eerste ding wat jou tref as jy daar instap, is die blou rookwalms wat daar hang. Dan, sodra jy jou gasmasker op het en weer kan sien, kom jy agter dat daar, behalwe vir die ouerige tannie agter die kroeg wat een whisky wegslaan na die ander, net middeljarige en bejaarde mans is. En die manne dobbel ernstig, soveel so dat daar by elke tafel 'n skeidsregter dophou om seker te maak niemand kroek nie. En dan sien jy al die Griekse versierings teen die mure: vlae, borde (tans nog heel, maar net die regte hoogte vir gryp en smyt op die vloer), ou foto's van die vaderland, en natuurlik leë Uzo-bottels. Ons het lank genoeg hier vertoef om sommer lus te kry vir Griekeland toe gaan, maar kort genoeg om nie te voel ons moet nou kos bestel nie.

Vandaar is ons na ons laaste stop vir die aand: St. Pauli, en meer spesifiek, die kuierplekke van Reeperbahn. Al die studente kom hierheen om te kuier, en ons kon onmiddellik agterkom hoekom. Daar's absoluut om van te kies en te keur in daardie straat, vir oud en jonk en elke voorkeur. So, na 'n vinnige stop by 'n Pizza Hut en 'n kitch winkeltjie langs die pad (en 'n apteek, vir lip ice: iets wat 'n mens nêrens by 'n kafee of 'n gewone winkel kry nie, kom ons toe agter) val ons toe in by Nachtlager (baie soortgelyk aan Mystic Boer) vir ons laaste paar biere vir die aand.

Nie ek of my medestryder het op daardie stadium kans gesien vir terug stap meer toe nie, en twee train hops later was ons terug by die huis.

Sondag het ons dit rustig gevat en laaaaaaaat geslaap. So laat, dat teen die tyd dat ons gereed was om weer die pad te vat, dit amper middagete was. So, na 'n vinnige stop by 'n vulstasie-winkeltjie vir broodjies, slaai, koue vleis en bier, sny ons 'n reguit lyn meer toe vir 'n piekniek. Nadat ons ordentlik geëet en gerus het, het ons 'n kort wandeling om die meer gemaak, waarna ek terug is Wuppertal toe. 'n Heel onvergeetlike naweek in 'n pragtige stad.

Thursday, April 19, 2007

Dortmund


13-04-07_0952, originally uploaded by tstander.

Vrydag (dis nou laas Vrydag... ek's besig om in te haal met die blog) neem ek die RE14 na Dortmund, oppad na Hamburg om vir Petro te gaan kuier. Die vorige aan sien ek vir die eerste keer dat ek, Vir een of ander vreemde rede, my kaartjie bespreek het om eers 11h30 te ry vanaf Dortmund na Hamburg. Toe besef ek dat, as ek die 8h trein uit Wuppertal neem, ek vir twee en 'n half ure Dortmund kan verken voordat ek verder ry na Hamburg. Waarskynlik is dit hoekom ek die kaartjie eers vir so laat bespreek het, en ek het net my oorspronklike plan vergeet. In ieder geval, Vrydag-oggend was ek in Dortmund.

As die dominante tema op 'n stad se poskaarte 'n sokker is (sokkerbal, sokkerstadion, sokkerondersteuners) dan verwag 'n mens ongelukkig nie veel in terme van ander besienswaardighede nie. In Dortmund, was dit dan ook die geval. Van wat ek kon sien, is die meeste van die besienswaardighede (behalwe natuurlik die sokkerstadion) buite die stad, of binne die ou deel van die stad, waar die hoofstasie ook is. Dis 'n tipiese resep hier rond vir stede: net langs die hoofstasie is die ou deel van die stad, met 'n gesonde porsie loopstrate, wat grens aan die moderne stadkern. Vandaar kwyn die stad weg na minder indrukwekkende dele, tot jy weer 'n stukkie oustad en 'n stasie vind wat behoort het aan die eertydse buurdorp. Natuurlik word die hele storie verbind met of 'n trollie (Hannover, Dortmund), of 'n sweefspoor (soos Wuppertal).

Dortmund se oustad het my maar baie herinner aan Wuppertal of Hannover se oustad, met ou kerke en geboue hier en daar, en vreeslik baie winkels. Daar is egter, bo-op een van die U-bahn (moltrein) stasies 'n pragtige, groot tuin gebou, versier met die interessantste beeldhouwerk en fonteine. Ongelukkig, slim perd wat ek is, het ek my kamera in my woonstel vergeet. Ek het 'n paar foto's probeer neem met my selfoon, maar dis net nie dieselfde nie. Sparky het dit egter vreeslik geniet om 'n bietjie gevleuelde renosters te ry deur die stad, so die uitstappie was vir hom 'n fees.

Siende dat my studentekaart geldig is vir stadvervoer in die hele VRR streek (waarvan Dortmund ook deel is) het ek besluit om dit 'n bietjie te misbruik deur die trollie te neem van die endpunt van die oustad terug te neem na die stasie. Ek is egter vinnig gestraf vir my luiheid, deur 'n paar stoppe te laat af te klim. Dit het my egter net kans gegee om weer 'n ander deel van die (nuwer) stad te sien, my poskaarte te pos, en my te vergaap aan die ou in die pienk pak klere wat strate vee onder korrektiewe toesig. Miskien moes Tony Yengeni maar eerder hierso sy vonnis kom uitdien het.

Liege


DSCN1740, originally uploaded by tstander.

Maandag-oggend neem ek en Liza toe die trein na Liege (of Luik, afhangende van of jy die Franse of Vlaamse uitspraak verkies) in België. Sonder 'n kaart, soos dit hoort... jy kan mos navigeer volgens die son en die reuk van wafels. Wel, jy kom tot daardie besef nadat jy by die eerste drie oop winkels wat jy kry nie een kaart in die hande kan kry nie. Maar wel wafels. Nie wafferse wafels nie, maar genoeg om as ontbyt te pass.

Die meeste mense in Liege is enkeltalig Frans. 'n Bietjie agtergrond in die taal (Om 'n paar keer Amelie te kyk, tel net as "agtergrond" as jy dit gedoen het sonder subtitles) is dus 'n ernstige aanbeveling. Dit, of 'n phrase book. As jy egter nie een van die vorige het nie, probeer eers in Nederlands/Afrikaans/Vlaams (daai mense ken nie verskil nie) of Duits navrae rig. Moenie sommer wegval in Engels nie, jy gaan nie altyd ver kom daarmee nie.

Wat egter meer prominent is as Liege se Franse karakter, is die industriële karakter. Die stad het ontwikkel op die rug van die staalbedryf, maar het op 'n stadium 'n bietjie agteruitgegaan (volgens Hans). Hoewel 'n mens uit die enorme hoeveelheid konstruksie in die stad agterkom dat dinge aan die verbeter is, is die tekens van maer jare sigbaar. Dit het pragtige ou dele met Renaissance cobblestone strate (veral die dele rondom die ou stadsmuur, maar meer daaroor later) en ou kerke, maar die meeste van die "nuwer" stad herinner jou meer aan Wuppertal of Parow as enigiets anders. As jy hier wil besoek, moet jy weet waarheen jy oppad is, anders gaan jy baie teleurgesteld wees.

Hans het gelukkig die vorige aand vir ons van 'n paar goed vertel om te gaan sien, en gelukkig het Liza kop gehou, opgelet, en al die name onthou. Sy het dus die meeste van ons navigering deur die stad behartig. Eerste op die lysie was die St. Jaques, en danksy Liza se beste Frans het ons dit sonder veel moeite bereik. St. Jaques is baie oud, maar die mees besonderse deel is die regtige, regtige, verskriklike ou orrel. Dit was ook blou, as ek reg onthou, maar die belangrike deel was dat dit oud is.

Vandaar het ons ons weg gebaan al langs die rivier (aanvanklik in die verkeerde rigting, maar ons het betyds agtergekom) om die ou Romeinse doopvond te gaan besigting by St. Bartholomew. Weereens danksy Liza se Frans, kon ons agterkom dat die plek is toe tot 14h00, wat ons net genoeg tyd gegee het vir verversings en middagete. So, by die kafee Artoris, op 'n straathoekie in België, het ek en Sparky 'n Stella Artoris genuttig. Stella, in 'n straathoek in België. Ek weet mense soos André sal 'n paar minute moet neem om die grootsheid hiervan te absorbeer, so ek sal vir julle 'n paar minute blaaskans gee voordat julle verder hoef te lees.

Reg.

Die oomblik was egter te groot vir Liza, so sy moes die minderwaardige opsie neem en 'n koffie drink. Maar ek's seker sy het moed geskep uit die brawe manier waarop en my onderwerp het aan die absolute beheer Stella in België, en sal volgende keer die regte keuse neem.

Na hierdie magtige oomblik sou middagete by dieselfde kafee net afbreuk doen aan die perfekte herinnering, so ons het toe maar gaan worsies, broodjies, tamatiesous, water en sjokolade koop in die (waarskynlik enigste oop) supermark om piekniek te hou in die nabygeleë parkie. Die sjokolade, het ek aangeneem, so nagereg wees tot ons middagete van worsbroodjies. Ek sou verkeerd wees. Die intensie was, inderdaad, dat die sjokolade op die rolletjie te plaas. Blykbaar is dit nie so 'n sosiale en dieetkundige taboe om sjokolade op brood te eet hier soos wat dit is daar by ons nie.

Van daar het ons die kronkelstraatjies geneem na die St. Bartholomew om die doopvond (en die orrel... moenie die groot wit orrel vergeet nie) van nader te beskou. 'n Mens kan nie regtig die grootte daarvan skat op die foto nie, maar ek sal die beskryf as groot genoeg om in te swem, maar te klein om in te duik (ten spyte van my optrede op die foto... don't try this at home, kids). 'n Tipe eenman-jacuzzi grootte, behalwe dat jy self die borrels moet verskaf, sou dit verlang word.

Vandaar was ons na die paleis om 'n paar foto's te neem, waarvandaan ons die trappe (met die gepaardgaande verskerpte herinneringe aan Wuppertal) geneem na die buitewyke van die stad om die ou stadsmure van nader te besigtig, en om 'n uitsig oor die stad te verkry. Hierdie uitstappie, hoewel dit plek-plek 'n bietjie vuil of verwaarloos mag voorkom (ek het die indruk gekry dis 'n minder gegoede deel van die stad) kan ek dit van harte aanbeveel aan elke besoeker. Jy sien die ou cobblestone straatjies en klein, regop huisies wat almal waarskynlik so oud soos die stadsmure is. Vir iemand uit 'n land wat op daardie stadium nog meerendeels veld en vlakte was, is dit werklik 'n ervaring om te deurkruis.

En deurkruis het ons dit behoorlik. Liza het ons genavigeer deur seker mees scenic toer moontlik die oudstad. Met soveel selfvertroue (wat ek geneem het as 'n teken dat ons nie verdwaal het nie). En sonder kaart. 'n Ware inspirasie, en 'n definitiewe moet op enige stadtoer. Ek sal uitvind wat haar tarief is, en vir julle laat weet. Ek vermoed egter beskuit, biltong en Rooibostee sal deel uitmaak van vergoedingspakket. My beskeie bydrae tot die uitstappie was net om ons van die middestad af wer te kry na Liege-Guillame stasie.

'n Effense demper op die dag was feit dat daar nie een winkel oop was waar ek Liege poskaarte kon koop nie. Of so het ek gedink. Want sien, toe ons by die stasie aankom, sien ek deur die venster van die stasie se nuusagentskap... poskaarte. Ongelukkig was hulle op daardie stadium toe, soos die res van die winkels in die stad. Hulle was egter nie geslote toe ek en Liza tevergeefs vanoggend daar 'n kaart probeer koop het nie. Uit hierdie ervaring, dus, 'n lewenslessie. As dit kom by rare kommoditeite, koop jy terwyl jy kan.

Die impak van hierdie tragiese ironie, die vermoeiende staptog en die verantwoordelikheid van navigasie het, op einde laas, vir arme Liza ingehaal op die stasie, en sy't nie haar gewoonlike sprankelende self gelyk nie. Dit was egter hier waar my eie Frans tot die redding gekom het. Met 'n vriendelike "Bonjour! Parle vous Deutsch?" het ek my pad deur die restaurante en kafees langs die stasie getoor, en by die 5e een 'n take-away koffie en wafels gekry. Net die medisyne om ons reg te dokter voor ons aandjie in die geselskap van Stef Bos, Koos du Plessis en Petra van der Eijk.

Monday, April 16, 2007

Zweite Wochenende in Maastricht


100_1079, originally uploaded by tstander.

Saterdag-aand, na my wedervaringe in Herzogenrath, het ek net vinnig vir Liza gaan groet en toe maar 'n lyn gesny na Pieter se solder toe.

Sondag-oggend het ons die Opstandingsondag diens bygewoon in die Onze Lieve Vrou basilika. Dit was my eerste erediens in 'n Katolieke kerk, waarvan ek ongelukkig nie veel te siene gekry het vanaf my gerieflike sitplek agter die pilaar nie (Liza het haar topsnelheid 'n bietjie oorskat toe ons op 'n tyd afgespreek het om te loop, en die kerk was propvol). Ek het darem die boodskap gehoor (en meeste verstaan) en kollekte gegee, maar van die res het ek bitterlik min verstaan.

Die basilika het sy status gekry deur die nougesette navolg van die liturgie en seremonie. 'n Mens kry dus soms die gevoel dat dit meer 'n geestelike teaterstuk is as 'n erediens, kompleet met kostuums en al. Die twee priesters (een is nie genoeg nie, blykbaar) dra albei sulke goue jasse, die diakens dra aandpakke (kompleet met manelle, onderbaadjies en wit strikdasse) en die altaarkinders (as ek reg gekyk het, was daar seuns en meisies) almal uitgevat in sulke oorgroot wit dooprokke. Die beste deel is egter die grys omie wat die hele prosessie lei. Hy's uitgevat in 19e eeuse militêre uniform, kompleet met spies en swaard, en beskerm die prosessie teen die gevaarlike gemeentelede links en regs van hulle. Hy patrolleer ook die gangetjies tydens die diens, om seker te maak niemand slaap nie, al die kinders sit stil, en die gemeente begin nie iets gevaarlik doen soos die Bybel vertaal uit Latyn nie.

Na die diens en 'n bietjie middagete het ons 'n bietjie in die stad gaan stap en uitgespan in die park. Wat, klink my, Liza se gunsteling tydverdryf was tydens haar hersteltyd (wanneer sy natuurlik nie kan oefen of werklike, nuttige, belangrike navorsi... skuus, sy oefen net). Ek kan heeltemal verstaan hoekom. Dis lieflik daar, soos julle kan sien uit my foto's uit. Daar's soveel pragtige goed om te sien oral, veral in sulke warm weer. Die tuin self is ook nie sleg nie, met welige plantegroei en 'n dammetjie met 'n paar waterdiere. Die werklike attraksie is, en bly, egter die landdiere.

Die aand het ons by Hans (Liza se dosent) en sy vrou gaan kuier. En in daardie huis, by daardie familie, het ek seker my grootste kuier tot dusver in Europa gehad. Behalwe vir die peerlikeur, kan ek net onthou dat ons 'n bietjie paralelle (en anti-parelelle) getrek het tussen Afrikaans, Nederlands en Duits, veral met woorde wat soortgelyk klink, maar heeltemal verskillende denotasies en konnotasies het. Maar meestal onthou ek dat ek my gate uit geniet het in hul geselskap.

Das wetter und dieses Blog

Raait, so...

Ek kom die naweek agter ek's agter met my blog posts iets verskrikliks. So, vir almal vir wie ek al vertel het van waar ek die afgelope week was en wat ek als gedoen het: ek sal weldra daaroor skryf en die foto's oplaai. Dit sluit nou in:
  • Die res van my naweek in Maastricht
  • Die trippie na Liege
  • Die vinnige besoek aan Dortmund
  • Die naweek in Hamburg
  • en vanaand se go-cart aandtjie saam met die Pole en Russe.
Iets waaroor ek net gevoel het ek vandag MOET skryf, is die weer. Vandag, vir die eerste keer, voel ek regtig asof die winter in Wuppertal verby is. Ons het al sonskyn en warm-erige dae hier gehad, maar vandag is anders. Die mense loop almal met kortmouhemde en kortbroeke of kort rompies rond (wat ongelukkig nie in alle gevalle so 'n goeie ding is nie, maarnouja), die bome is groen, en alles is net vars, vrolik en vriendelik.

Ek sal weldra 'n paar foto's neem van die bome buite my ventster en oplaai.

Thursday, April 12, 2007

Herzogenrath, o Herzogenrath


100_1063, originally uploaded by tstander.

Die storie van my tweede besoek aan Maastricht moet begin met die storie van Herzogenrath.

Dis 'n klein dorpie op die grens met Nederland. Die een trein (Mönchengladbach -> Aachen) los jou daar, terwyl 'n ander trein (Aachen -> Heerlen) jou verder neem in Nederland in.

Probleem is, die treine loop 'n rukkie uitmekaar, so jy moet vir meer amper 'n halfuur daar spandeer. Wat, onder normale omstandighede, genoeg tyd sou wees vir 'n koffie en 'n paar poskaarte koop. Behalwe dat, hier, geen koffie of poskaarte te koop was nie, omdat daar nie 'n treinstasie is nie, omdat Herzogenrath tussen niks en nêrens sit.

Dis reg, maters, Herzogenrath is soos Putsondersauerkraut hier rond. As jy 4 Euro minder wil betaal vir jou treinkaartjie, kry jy die voorreg om hier op die beton blok langs die treinspoor te sit en jou lewe te kontempleer. As daar egter min te kontempleer is, is jy in die moeilikheid, want daar's niks anders om te sien of doen nie. As jy dus haastig is, sou jy die eerste en beste trein daaruit wou neem... selfs al is dit die verkeerde trein.

My trein se vertrektyd was 19h49. Om 19h42 trek daar 'n trein in op spoor 3, waarvandaan my trein sou vertrek. Bietjie vroeg, maar ek kla nie (ek konnie vinnig genoeg daar wegkom nie), en ek klim op. Dis eers nadat ons 'n entjie gery het dat ek snuf in die neus kry. Dit was die eerste keer dat ek sien 'n Duitse trein ry betyds, nevermind 'n minuut of wat vroeg. Iets was fout, en die gesprek van 'n paar jongelinge voor in die wa (hulle't iets genoem van die Nederlandse trein wat in die ander rigting loop) het my vermoedens bevestig. Ek was op die verkeerde trein, oppad in die verkeerde rigting.

Wat doen jy? Jy ontspan. Jy ry rustig verder tot by Aachen, koop vir jou 'n paar poskaarte en 'n koffie, SMS die mense wat jou ontvang dat jy 'n uur laat gaan wees, en ry 'n halfuur later terug na Herzogenrath (en bly sommer sit, siende dat dit dieselfde trein was wat jou moes neem Heerlen toe 'n uur gelede).

En jy sit en wees dankbaar dat jy nie op die trein gevang is sonder 'n kaartjie tussen Aachen en Herzogenrath nie.

Köln Ausflug


100_1028, originally uploaded by tstander.

Ek het 'n nuwe gunsteling tydverdryf gekry op die trein. Wel, twee. Die een is om te haal met my penpal korrespondensie, die ander is om hierdie blog te skryf. Hierdie ekstra bietjie produktiwiteit laat my 'n bietjie beter voel oor die ongelooflik baie tyd wat ek (voel ek) deesdae op treine spandeer.

Maarnouja, na die onderwerp vir die dag: die internasionale studente se uitstappie na Köln. Die storie van Köln begin met my notebook se keyboard, meer spesifiek, die groot hoeveelheid moeite dit is om die umlaut-o ö te maak. Almal wat al op 'n 86-key sleutelborde moes werk, julle ken my pyn. Vir almal wat die nie ken nie: dis regtig, regtig baie moeite om die alt-keys beet te kry om elke keer 'n ö te maak. Die umlaut kom egter van ou Duits, waar die umlaut nie twee dotjies was nie, maar 'n klein lettertjie "e". In moderne geskrewe Duits, daar waar die umlaut karakters nie beskikbaar is nie (of moeilik beskikbaar is, soos op 'n 86 key sleutelbord), word die antieke "e" afgeskuif na direk na die volgende letter. Köln (dankie tog, laaste keer) kan dus ook as Koeln gespel word, wat ek hier gaan doen.

Die opwinding vir die dag het al begin selfs voordat ek die trein geklim het. Ek het die aangename voorreg gehad om Sohail te ontmoet, 'n Pakistani en mede-krieketliefhebber. Natuurlik kon ons lang stories ruil oor watter wedstryde ons onthou, mees legint spelers, ensovoorts.

'n Mens kan nie met 'n VRR kaartjie (soos wat alle studente aan die Uni Wuppertal het) heeltemal tot in Koeln vaar nie. Ons het dus gratis gevaar tot in Solingen, en vandaar was ons aangewese op ons Duitse begelyers se groepkaartjies. As jy alleen ry, kos dit jou sowat 11 Euro retoer (tussen Solingen en Koeln). Nie net het ons vir 7.50 Euro retoer gevaar na Koeln nie, ons het daar geëet, twee museums besoek, 'n toer deur die stad gekry en ons kon met die Dom Kirche se toring opstap. Ongelooflik.

'n Ander hoogtepunt van die treinrit (behalwe natuurlik die plesier wat ek daaruit kon put om my studentekaart vir die kondukteur te flash om my uit te los, soos 'n wafferse Fox Mulder), was dat ek die geleentheid gehad het om die die vreugde van mikrogolfingenieurswese te versprei deur vir mense te verduidelik waaroor my tesis gaan. Beste deel is, ek het dit in net 15 minute gedoen, met behulp van allerlei analogieë soos om 'n dik stroom water te spuit na 'n klein gaatjie in 'n sponsmuur. Plus hulle kon die meeste daarvan verstaan. Miskien moet ek tog 'n loopbaan in die akademie oorweeg.

Aangekom in Koeln, is ons begroet deur ons vriendelike toergids en minder vriendelike weer: tipiese lenteweer hier, koud en bewolk. Ek het probeer foto's neem van als wat ons gesien het, en beskrywings daarvan is op my foto site www.flickr.com/photos/tstander. 'n Paar hoogtepunte was egter die volgende:
- 'n Tipiese eetplek, of "Brauhaus", in Koeln brou sy eie bier. As jy 'n "Kölsch" bestel (wat eintlik beteken "van Koeln"), kry jy so een. Dis die goedkoopste drankie in die Brauhaus, selfs goedkoper as water. Ook, as jy dit bestel, kry jy dit ten minste 5 minute vinniger as enige ander drankie.
- Die kelners dra almal blou ('n tradisie uit die werkersklas dae) en is gewoonlik nie verskriklik vriendelik nie. Dis egter orraait, want niemand van hulle verwag 'n tip nie.
- 'n Ou storie lui dat die mense in Koeln, lank lank gelede, vreeslik lui was. Hulle het net 'n bietjie gewerk in die dag, en dan gaan kuier en gaan slaap. Hul werk is egter elke nag klaargemaak deur 'n klomp dwergies ("männlein"). Een aand het 'n vrou gaan kyk wie elke nag die werk klaarmaak, en afgekom op die dwergies. Hieroor het hulle hul vreeslik vervies, en die pad gevat. Daarna moes die mense maar self hul werk klaarmaak.

Na die stadstoer het ons die Dom Kirch besoek, met 'n kans om die 500+ trappe te klim na die toppunt van die 150m Suid-toring. Die uitsig was, ongelukkig, niks om oor huis toe te skryf nie (bewolkte dag, met allerhande beton steeksels, knoetse en blokke rondom die toring wat jou uitsig nog verder belemmer). Die teleurstelling van die uitsig het egter vervaag teen die avontuur van die heen- en terugtog. Die toring se trappe is baie nou, met hopeloos te veel toeriste, so daar's 'n konstante dreun in die toring van mense wat hyg soos hulle die trappe klim, wat my 'n bietjie daai bult by Freudenberg 'n bietjie laat waardeer het. Maar net 'n bietjie. Die terugtog was ook 'n uiterste toets in selfbeheersing, omdat jy elke keer in die versoeking gestel word om die hoogte en momentum voordeel te gebruik om die mense wat van onder af opklim, terug te stamp omdat hulle nie vir jou genoeg plek los om af te klim nie. Toeriste is nou maar eenmaal nie die vriendelikste kalante nie.

Na 'n bietjie oefening was middagete net die regte ding, so ons is vandaar direk na die Bauhaus Früh vir 'n wors met mash en Sauerkraut. En Kölsch. Die ete was lekker, en die bier was heel interessant. Baie, baie lig, met heelwat minder alkohol as ander Duitse biere. 'n Goeie opsie vir 'n paar wegslaan met 'n rustige kuiertjie.

Daarna is ons af na die Sjokolademuseum langs die Reihn, waar almal begroet is met 'n blokkie Lindt en 'n toergids wat ons vriendelik ingelig het dat hy die toer kan lei in Portugees ook, sou ons dit verkies. Die toer neem jou deur die hele proses van sjokolade vervaardiging, van die boom tot verpakking. Iets wat ek nooit geweet het nie, is dat die kakao vrug se bone eers fermenteer moet word (onder piesangblare, verkieslik) vir 'n week voordat dit verskeep word na Europa om gerooster te word en die kakao onttrek kan word om sjokolade te maak. Ook het die museum 'n stuk oor die oorsprong van sjokolade in Sentraal Amerika, asook die geskiedenis daarvan in Europa.

Ongelukkig kon ek nie veel daarvan sien nie, want ons moes toe hardloop om die Romeinse-Germaniese museum nog oop te kry. Dit was self 'n ervaring, en vertel heel veel oor die geskiedenis van Koeln onder Romeinse beheer. Onder andere, was Koeln in die ryk bekend vir die glaswerk wat daar vervaardig is, en 'n mens kan dit heeltemal glo. Die versiering op die glas is verskriklik fyn, en die fyn detail metaalwerk waartoe die mense in staat was, het my heeltemal verstom. Natuurlik vertel die fotos die storie.

Na 'n vinnige stop vir 'n koffie by McD's (my eerste keer hier in Europa) vir 'n koffietjie, kon ons weer die pad terug aanpak Wuppertal toe.

Wednesday, April 4, 2007

Bowling und Busse


Image17, originally uploaded by tstander.

Gisteraand het die IST (International Students Team) vir ons 'n bietjie op 'n toer deur die stad geneem, en na die tyd het ons gaan bowling speel. Vet pret, en natuurlik was Ma se kamera daar om als te verewig vir die nageslag.

Vanoggend het ek besef my buskaartjie is 'n dubbelsnydende swaard. Aan die een kant, het ek die gemak en gerief om elke dag nie die hele pad opdraand te loop kantoor toe nie. Aan die ander kant, moet ek saamleef met die gevolge van die verkeerde bus kies van my twee opsies.

Beide opsies (die 603 en die Uni-Express, oftewel die "E" bus) vaar elke 20 minute, ry ewe vinnig, en bring my by my bestemming. En by beide is daar 'n opwaartse staptog ook betrokke.

Vir die 603, hoewel dit van digby my voordeur vertrek (wel, amper digby: dis omtrent so 2 verdiepings se trappe op), moet ek 'n entjie van my kampus af afklim en die laaste (steilste) deel van die bult self aanpak. Met die E-bus, moet ek eers 'n verdere 8 verdiepings se trappe klim (I kid you not, ek het hulle vanoggend afgetel: die trappe is netjies uitgelê in 20 halfverdieping sarsies) tot by die bushalte, maar kan van daar af tot by my kantoordeur ry.

Vanoggend het ek die fout gemaak om die E-bus te neem. Nie net het die jafel laat opgedaag nie (natuurlik gebeur dit: ek kan nie onthou dat die 603 al ooit betyds was nie), maar hy's absoluut sy tyd geneem by elke stop (waar die 603 al amper wegtrek met mense in die deur), plus hy't by die een bushalte gestop om vir hom 'n pakkie sigarette te gaan koop by die kafee. Belaglik.

Dit lyk my ek neem maar in toekoms die 603 en die bult by Hermannshöhe.

Tuesday, April 3, 2007

Unerwartet Wochenende in Maastricht


101_0971, originally uploaded by tstander.

Sjoe, wat 'n naweek.

Vrydag 11h00 kry ek 'n SMS van Liza: sy's in die hospitaal (niks té ernstig nie, en sy's nou weer orraait), maar dit het op daardie stadium nie goed gegaan nie. Natuurlik soek ek al lankaal 'n verskoning om Maastricht toe te gaan, en 'n uur en 'n half later was ek op die trein.

Hierdie keer het ek weereens my bestemming bereik ten spyte van Deutsche Bahn en Nederlandse Spoorwegen se beste pogings. DB het my laat besorg in Venlo, en die Nederlandse trein het nie gewag nie. Gelukkig was daar 'n halfuur later weer 'n trein, wat my sommer kans gegee het om 'n paar poskaarte aan te skaf en myself te vergewis dat ek in Nederland is. By gebrek aan enige vorm van paspoortkontrole, moes ek uit die vreemde vlag en die vreemde Duitse dialek (wat verskriklik baie klink soos Afrikaans) aflei dat ek, inderdaad, die grens oorgesteek het.

Dit was maar goed dat hierdie snaakse dialek baie soos Afrikaans klink. Met die geharwar van hardloop vir 'n treinkonneksie op Roermond, beland ek toe in die verkeerde helfde van die trein. I kid you not, die voorste helfde is Maastricht toe, en die agterste helfde (waar ek my toe bevind) na Heerlen. Gelukkig kon ek die aankondiger verstaan toe hy ons van die skeiding ingelig het by ons volgende stop, anders sou ek definitief laat gewees het vir besoektyd.

Petra (een van haar vriendinne hier) het my by die treinstasie kom haal en saamgeneem hospitaal toe om te gaan groet, te eet, weer te gaan groet, en toe om te gaan plak in haar (tans vakante) woonstel. 'n Pragtige ou huis, met 'n duisend antieke horlosies wat jou behoorlik laat skrik as jy die eerste keer almal gelyk hoor.

Eerste indukke van Maastricht? Selfs al is dit net 'n fraksie van die grootte van Wuppertal, het ek dit tog 'n stad van "meer" gevind. Definitief meer mooi: meer mooi ou geboue (woonhuise inkluis, en selfs die argitektuur van die nuwe geboue is nie te sleg nie), meer mooi parke, en definitief meer mooi meisies. Nie dat Wuppertal 'n totale gebrek aan skoonhede het, of almal in Maastricht al genader is deur Vogue nie, maar die gemiddelde is merkbaar hoër.

Meer toeriste. Veral Duitse toeriste, lyk dit my. Ek het oraloor Duits gehoor, en is by verskeie geleenthede gehelp (of reggehelp) in Duits as ek weggeval het in Afrikaans. Dit was almal se aanbod: Duits, of Engels. Aanvanklik het ek gedink dit het iets te doen met die feit dat Duits en Afrikaans albei meer voor in die mond lê as Nederlands, maar ek sou later hoor dat ek meer Duits lyk (veral in kleredrag) as Nederlands. Nie dat ek al die ooreenkoms gesien het nie (hoewel, noudat ek daaraan dink, ek nog nooit i.t.v. kleredrag uitgestaan het in Wuppertal nie).

En dan, natuurlik, meer fietse. Selfs al is dit die meer "bergagtige" (whahahahaha) deel van Nederland, fiets almal ooral. Selfs ek het na minder as 24 uur in die stad 'n fiets geleen, op aandrang van my begeleiers wat seker al gatvol was daarvoor om oral met my te stap.

Behalwe oor die deel van Maastricht wat ek gesien het waar selfs Liza (of, klink my, geen ander voetgang nie), gaan ek nie verder skryf nie. Die foto's spreek boekdele.

Wat ek ook opgelet het hier, is dat kos heelwat duurder is. 'n Maaltyd kos jou maklik 5 Euro, en dis niks ongewoon om 10 Euro te hoes vir 'n pizza nie. Met al sy gebrek aan mooiheid, waardeer ek Wuppertal ewe skielik vreeslik baie.

Om dit te bowe te kom, is hier 'n groot kultuur van oor-en-weer etery. Dis vele male meer gewoon om mense te nooi vir ete, of by 'n vriend te gaan eet, as om te gaan uiteet (hoewel kruideniersware self maar 'n duur storie kan raak, afhangende van wat jy koop). Ek het, heeltemal onbedoeld, drie gratis maaltye bekom Ongelooflik. Natuurlik, as jy iewers eet, is dit jou plig om skoon te maak na die tyd (iets wat Liza op 'n stadium genoem het, en wat ek gelukkig onthou het).

Wat my bring by seker die belangrikste paragraaf van hierdie blog post: Liza se vriende. Hierdie mense is ongelooflik. Hulle het, in drie dae, my gepeper met ongekende gasvryheid en vriendelikheid. Dis nie net dat hulle my by die stasie kom haal het, en vir my kos en blyplek gegee het op bitterlike kort kennisgewing, en vir my 'n fiets geleen het en oral saam met my gery het nie. Dis dat hulle alles gedoen het met 'n glimlag. Aan GP, AP, Piet(er), Lisca, Eveline, al Lisca se ander flatmates en almal van julle: Julle het al my dank en bewondering. My deure (voordeur, kardeur en yskasdeur) staan altyd vir julle oop.

Nouja, na 'n besoek aan Liza en 'n absolute feesmaal Saterdag-aand by Lisca, het ek Sondag-oggend die diens bygewoon by St. Jan, die protestantse kerk in die oustad. Wat my net weereens getref het, is hoe min mense daar was (selfs al was dit Palmsondag, met 'n kinderoptog en als). Wat my selfs meer teruggesit het, was dat die min mense wat daar was, die min stoele wat gepak is, volgesit het. As selfs die verwagting tot bywoning begin daal (en 'n stuk of sewe kerke in die stad omgeskakel is na winkels, kuierplekke en stoorplekke), dan begin dit 'n hartseer storie raak.

Maar, die diens was mooi, en ek kon die meeste daarvan volg. Dis net die persoonlike voornaamwoorde wat my 'n bietjie aan die begin gevang het, maar die res van die woordeskat was heel eenvoudig. Plus, die koffie na die tyd was heel lekker (net 'n bietjie min na my sin, maar ek sou leer dat miniatuur koppietjies die manier is om koffie te bedien daar rond).

Liza is toe uiteindelik Sondag-aand geopereer, en Maandag ontslaan, waarna ek die trein terug kon neem Wuppertal toe. Ons is 'n rukkie gelede verby Wuppertal, en ek sit nou juis en wag vir die kondukteur om verby te kom sodat ek, vir die eerste keer, my studentekaart in sy gesig kan swaai as vervoerpas.