Friday, April 20, 2007

Karting


100_1166, originally uploaded by tstander.

Maandag-oggend, na my opwindende naweek in Hamburg, kry ek 'n chat boodskappie van Gosia oor Skype. Almal gaan vanaand "karting" (go-carts ry) en wil ek nie saamkom nie? Nadat ek vinnig gedink het aan die 5 miljoen rand se reisversekering, en watter vermorsing dit sou wees as ek te ten minste 'n deeltjie daarvan laat uitbetaal op 'n stadium nie, stem ek toe in.

So gesê, so gedaan, en half agt neem ons (ek, Inaki, Gaelle, Victoria, en die Pole) die schwebebahn Vohwinkel toe. Daar aangekom, het elkeen sy kaartjie (5 oefenrondtes plus 'n wedren van 15 rondtes vir 11 Euro, wat ek dink heel skaflik is) plus sy swart ninja mus (wat jy moet koop, siende dat hulle nie wil hê jou luise moet meng met die luise van die ou wat die valhelm voor jou gedra het nie) gekoop het, is ons deur om 'n oorsig oor die reëls te kry. Die gewone goed: maak seker jy laat genoeg spasie vir vinnige ouens om jou aan die binnekant verby te steek, moenie rem en petrol gelyk trap nie, en moenie die kar breek nie. Eenvoudig.

Ons was 'n bietjie baie, so daar's besluit om eers die dames 'n kans te gee voordat die manne mekaar die stryd aansê. Na ek daardie wedren aanskou het, het ek alle vrees verloor vir ooit bestuur in Pole of Rusland. Hierdie dames het dit heeltemal kalm en rustig geneem, stadig en versigtig bestuur, en nooit enigiets gewaagd probeer nie. Gaelle, die dametjie uit Lyon, aan die ander kant, het my bang gemaak. Sy't gejaag, gegely, sentimeters van die muur af verbygeskuur by vele geleenthede, en vinniger baantye geklok as enigiets in ons wedren later met 'n gemiddeld van oor die 63 km/h in daardie binneshuise baan waar een reguit stuk pad langer as 50 meter is nie. Sy't ons almal deeglik beïndruk, maar ek dink nie een van ons sal na dese in 'n kar klim met haar agter die stuur nie.

Hierna was dit tyd vir ons wedren, waartydens ek 'n paar snaakse goed agtergekom het rondom gocart ry. Eerstens, geen ratkas, so jy voel altyd jy versnel 'n bietjie stadig en wil altyd afgear voor 'n draai. Dan, geen diff, wat beteken die karretjie ruk 'n bietjie om 'n draai as die binnewiel gly en die buitewiel nie. Maar die vreemdste ding, is dat jy glad nie kan rol nie (jou massamiddelpunt sit te laag). Die erste wat gebeur is dat jou agterwiele onder jou uitgly (rear wheel drive), in welke geval jy net liggies in die rigting van die gly stuur ('n paar manne het in die verkeerde rigting gestuur, m.a.w. teen die gly, en het lieflik getol gedurende die wedren) tot jy weer beheer het, en daar gaan jy. Die gevolg is dat jy heeltemal onnatuurlik vinnig om hoeke gaan. Maar dis deel van die ervaring.

In die wedren self het ek darem nie heel laaste geëindig nie, en het 'n skaflike gemiddelde spoed van 59km/h gehandhaaf. Vir 'n eerste probeerslag, dink ek nie dit was so sleg nie. Definitief iets wat ek weer sal probeer.