Monday, February 26, 2007

Om nie jou woord by jou DAAD te voeg nie

Ek het toe nie DAAD gekry nie.

Vanoggend bel ek weer vir ons pêl Thomas by die konsulaat, om nou te hoor of DAAD iets laat weet het. Wonder bo wonder kon hy my toe vandag iets meedeel... dat daar 'n lys is van mense wat nie DAAD gekry het nie, en dat my naam prominent op die lys feature.

Aag wat.

Ten minste het ek 'n goedkoop plek gekry om my karretjie te stoor. 'n Tannie in 'n aftree-oord in Plattekloof vra presies 'n kwart wat die ander self storage mense vra. Nou't ek darem 'n geldjie vir 'n paar döners daar anderkant. My ma weet nog nie, maar ek's van plan om op daardie goed te leef vir die eerste rukkie. Blykbaar maak die Turke nogal lekker kos.

Vandag handel ek maar die laaste bietjie admin hier af, soos kopieë van my dokumente maak, vorms teken, ensovoorts. Môre is nou die groot pakkerasie, maar ek't darem so 'n idee van wat gaan en wat bly.

Vreemd omtrent die pakkerasie, is dat presies die helfde van my vriende daarop aandring dat ek eerder meer goed as minder vat (dis goedkoper om hier te koop), en die ander helfde aanbeveel dat ek juis minder goed neem (jy kan altyd daar anderkant koop, solank jou tas nie te vol raak nie). My oplossing is nou maar om presies genoeg goed te neem. Slim, né?

My volgende post sal nou waarskynlik wees nadat ek daar geland het, so tot dan, auf Wiedersehen!

Tuesday, February 13, 2007

Duitse Visum

Nouja, dit moes seker ook een of ander tyd gebeur het.

Verlede week bel ek vir Thomas ('n gawe ou, wat aanvanklik taamlik bymekaar en ingelig oorgekom het) by die konsulaat, om te hoor of hy vir my iets kan vertel van my DAAD aansoek. "Want", sê ek, "jy het aangedui dat die aansoekprosedure vir visums afhang van of jy DAAD kry of nie."

"Oja. Ehm, ek dink die regulasies het nou verander dat jy nou net vir 'n gewone Schengen aansoek doen."

"Huh?"

"Laat ek gou gaan seker maak, dan bel ek jou terug."

"Reg, maak so."

'n Week later (gister) bel ek hom weer.

"Jis, dis weer ek."

"Oja, ek moes jou gebel het. Ja, jy moet vir 'n gewone Schengen aansoek doen"

Baie dankie, Thomas.

So vandag suiker ek en Moeder weer af Kaapstad toe (hierdie keer darem die middestad, nie iewers in die gramadoelas nie), beland weer 'n paar uur te vroeg daar, eet weer ontbyt, en wag in die kar.

So 08h30 (hulle maak "amptelik" 09h00 oop) suiker ek op na die 19e vloer van Safmarine House, baan my weg deur sekuriteit, neem 'n nommer, en berei myself voor vir 'n lang wag.

Hierdie was 'n heelwat ander ervaring as by die Yanks. Heel eerste moet ek die uitsig noem. 19e vloer, met 'n onbelemmerde uitsig op Tafelbaai en Seinheuwel. Dis amper die moeite werd om Duitsland toe te gaan, net om in daardie wagkamer te mag wag. Die tydskrifte was, natuurlik, ook oor Duitsland (behalwe vir die een verdwaalde Matieland... vreemd), maar nie een is in Duits nie. Die plakkate was ook anders. Geen "culture of fear" (sien vorige post oor die VSA visum) nie, net die beste van die beste van Duitse innovasie.

My aangename wagtyd is egter kortgeknip toe ek die kennisgewings teen die muur begin lees het. "Duitse meisie wat kinders oppas in Rondebosch". "Lift club vanaf Tokai". "Die visumfooi het op 1 Januarie verdubbel". Sulke standaard goed.

Behalwe dat ek nie die standaard dubbeltarief in my beursie gehad het nie, slegs (wat ek gedink het genoeg sou wees, en laasjaar nogsteeds was) 35 Euro. Inderhaas probeer ek toe maar vir Moeder bel om nog geld te bring, skoon bevrees dat ek my 2e plek in die effens langerige waglys gaan verloor. Selfoon pap. Probeer toe maar van die mense se kantoorfoon af bel. Selfoon pap, hierdie keer haar foon.

Ek hardloop toe maar af, af in die straat, trek die ekstra geld, sign weer in by sekuriteit onder, baan my weg deur sekuriteit by die konsulaat, en weer op my ou sitplek om (genadiglik) te besef die ou voor my is nog nie gehelp nie. Sjoe.

En ek het toe nie eers ordentlik tyd gekry om die enigste tydskrif in Duits (ja, ek het een gaan soek) 'n bietjie deur te blaai nie, toe word my nommer geroep. Dis ook toe dat ek agterkom dat, nes die Amerikaners, hierdie karakters ook maar 'n onderhoud voer. Hulle stel baie belang in wat presies jy in Duitsland gaan doen, by wie jy gaan bly, vir hoe lank, ensovoorts. Hulle het my darem nie uitgevra oor my tesis hierdie keer nie, maar dit het maar 'n goeie 10 minute geneem om al my vorms in te kry.

Een tip wat hulle wel kan vang by die Amerikaners, is om jou paspoort vir jou te laat koerier. Jy moet die ding by hulle self weer gaan haal, en weer net tussen 9 en 12. Ai. Maar Moeder en Suster gaan anyway môre Waterfront toe, so hulle is nou opgekommandeer vir die taak, gewapen met my kwitansie.

Sodra ek dit het, moet ek nog net pak, en op die vliegtuig klim. En darem seker vir almal hierdie kant groet op 'n stadium.