Sunday, May 27, 2007

Abfahrt


100_1864, originally uploaded by tstander.

Na ek my laaste skoonmake skoongemaak het so om middernag (ek moet regtig leer om minder tyd te mors) kon ek begin pak. Soveel chaos en drama, is ek seker, het daardie woonstelkamer nog nooit beleef nie. Ek weet nie hoe op dees aarde my "stuff" dit reggekry het om so vinnig aan te teel nie, maar dit het. Vergeet gewig, ek't selfs gesukkel om spasie vir alles te vind.

Na ek verskeie strategieë beproef het, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat ek beter af sou wees om my handbagasie so swaar as moontlik te laai met wat-ook-al baie min spasie neem, en die ander goed in die groot tas te prop. Dit gebeur toe ook so dat al Adana se trougeskenk-bierglase by in my handbagasie te lande kom. Ek kon egter steeds voel die tas is effe aan die swaar kant, maar nadat ek reeds afskeid geneem het van twee pragtige, besonderse bierbottels wat ek bitterlik graag wou saambring, kon ek nie regtig verder meer sny nie. So, met 'n swaar gemoed en 'n swak hart, kon ek so rondom 2h in die bed klim.

Volgende oggend 7h was Florian daar om seker te maak ek het die plek darem nie heeltemal afgebreek nie. Ongelukkig kon ek nie my deposito kontant ontvang nie (weer die mense wat met geld werk, wat nie op Vrydae werk nie), maar dit sal mettertyd in my rekening deponeer word. Na 'n laaste groet, was dit weer ek en my twee oorgewig tasse op die stasie in Wuppertal.

Soos dit die Duitse treine betaam, was my laaste trein laat. Gelukkig, so ook my aansluitingstrein in Koeln. Laat, en vol. Nog nooit het ek 'n trein so vol gesien in Duitsland nie. Ek moes van die agterste wa (waar ons inderhaas opgespring het nadat die trein op 'n ander perron gearriveer het) regdeur loop tot amper by die restaurantwa (tussen tweede- en eersteklas) om 'n oop, ongereserveerde sitplek te kry. Daar en dan het ek dit opgeëis, met my rugsak gemerk, en teruggestap na waar ek my bagasie gelos het in die agterste wa. Natuurlik kan 'n mens nie die tas dwars draai en op sy wieletjies trek deur die gangetjie nie, dit sou te maklik wees. So, skuifel-skuifel en sukkel-sukkel deur 'n stuk of 6 wae later, kon ek my sitplek inneem... net betyds om te stop in Bonn.

Soos tevore, was die rit tussen Bonn en Mainz (langs die rivier) Duitsland soos iets waarvan 'n mens lees in daai stories van die Duits 178 kursus. In Mainz aangekom, het ek vir so 'n uur of wat afgeklim om vinnig 'n koffetjie te gaan maak in die oustad met Damien, 'n neurobioloog van Frankryk wat daar aan sy PhD werk, en staan as lewende bewys dat jy, blykbaar nie Duits magtig hoef te wees om te oorleef in Duitsland nie.

Terug op die stasie, beland ek agter twee middeljare tannies wat wag vir die trein wat sou ry net voor myne. Na 'n rukkie, begin ek agterkom dat daar iets vreemds bekend is aan hul aksente. Na 'n rukkie, begin ek myself al hoe meer en meer oortuig dat dit Nederlands moet wees, of dalk, iets afkomstig van die Duits-Nederlandse grens, soos Platdeutsch. Maar dit het ook nie sin gemaak nie, want ek weet vir 'n feit dat Platdeutsch bitterlik moeilik is om te volg, en hierdie gesprek kan ek heeltemal volg.

Op einde laas loer ek toe maar op een van hulle se luggage tags waarvandaan hulle kom.

"Posbus XXX, Die Boord, Stellenbosch".

Dis reg, dames en here, na 'n skamele drie maande in die buiteland, kon ek nie meer my moedertaal herken nie. Skandalig. Maar dit was lekker om 'n bietjie na hul reisplanne uit te vra voordat hulle op hul trein gehop het, en ek 'n paar minute later op myne.

Aangekom op Frankfurt lughawe, en vinnig deur online checkin (heel gerieflik: jy druk net jou kredietkaart in 'n masjien vir identifikasiedoeleindes, pons jou besprekingsnommer in, en die ding spoeg jou kaartjie uit), was dit tyd om met groot angs en kommer my koffer in te boek.

25kg, 5kg oorgewig. Persoonlik het ek meer verwag, maar ek's nou bly ek het maar daai twee bierbottels in Wuppertal gelos. Oorspronklik wou die dametjie my inboek vir 3 kg oorgewig, maar toe ek (in my beste Duits) begin smeek (allerhande stories spin oor hoe ek die afgelope 3 maande in Duitsland studeer het, en hoe my hele lewe in daai tas is... ek't darem gestop voor 'n tranedal) ons toe gesels oor waar ek studeer het, hoe lelik Wuppertal is (haar broer het daar gewoon), waar ek oral getoer het, en hoekom ek nie Heidelberg besoek het nie. Die uiteinde was dat sy my net 2kg oorgewig gecharge het. Miskien moes ek haar vertel het dat ek wel Heidelberg besoek het, dan het ek dalk net 10 Euro betaal. Maarnouja, sy was baie gaaf, en ek sal haar ewig dankbaar wees vir die vriendelike gebaar.

Na 'n vinnige rondte poskaart-inkopies en middagete (die laaste keer dat ek daai my lippe moes sit aan daai klipharde Duitse brötchen vir 'n lang ruk), kon ek deur sekuriteit gaan. Waar ek 'n bietjie genip het, was dat ek my, benewens my (oorgewig) handbagasie, nog 'n rugsak gedra het as "laptop bag", hoewel die my kaartjie dit uitdruklik gestel het dat ek net een stuk handbagasie mag saamneem. Dit was egter nie hoekom hulle my gestop het nie... dit was oor die versameling glase in my handbagasie. Ek moes toe maar oopmaak dat die man hull een-vir-een deurvoel vir skerp rante, waarna ek die arme tassie amper nie weer kon toe kry nie.-Na vinnige happie en poskaarte koop, deur 1e rondte security. Nie probleem met "laptop sak", maar moes alle glase uitpak en check. Geen probleem (amper nie weer toekry) maar gaan verder.

Na nog 'n rondte sekuriteit by die Lufthansa terminaal (weer met x-straal, metaalverklikkers, die works) kon ons opstyg... so 'n uur of wat laat. En in Engeland, kon ek rustig die res van die aand verwyl voor Adana-hulle se TV.

Friday, May 25, 2007

Letzte Freitag


100_1822, originally uploaded by tstander.

Hierdie dag het goed begin, en 'n paar rowwe uiterstes van goed en sleg bereik.

Goed begin, want middernag was ek (en my bottel wyn uit Chile, en 'n hele groot klomp ander internasionale studente) nog op die grasperk buite die Wohnheim, om die braaivleisvuur, besig om nonsens te praat en bratwurst stukkies van die kole af te eet. 'n Beter afskeid kon ek nie voor gevra het nie.

Later daardie oggend (seker so 10h se kant) het dinge sleg gedraai. Ek's "gou vinnig" internasionale kantoor toe (daai vriendelike mense waarvan ek drie maande gelede geskryf het) om my registrasie te gaan kanselleer, om 'n deel van my vervoerdeposito terug te eis. Na een en 'n half uur in die tou (daar's twee dames om die studente te help, maar net een het vanoggend studente gesien), is ek toe in, al die regte vorms ingevul en geteken, en aangesê om my pad te vind na die AStA kantoor om dit terug te eis.

Ek't al vir 'n lang tyd vermoed hierdie klomp by die universiteit is maar 'n ou lui spul, maar ek kon nog nie konkrete bewyse vind tot vandag nie. Nou het ek dit: AStA was vandag toe. Heeldag. Soos hulle is ELKE Vrydag. Wat daai ander vrou (ek dink) baie goed geweet het voordat sy my soontoe gestuur het.

Nouja, natuurlik was dit nou tyd om my probleem haar probleem te maak, en ek sny weer 'n lyn (dis nou al 15 minute voor toemaaktyd vir hulle) om haar te vertel AStA is toe, en hoe nou gemaak?

"Nee, ek's jammer, dis nie my verantwoordelikheid nie. As jy dit nie self kan gaan terugeis Maandag nie, het jy dit nou maar verbeur." Skouers opgetrek tot verby haar ore, natuurlik.

"Kan julle nie dalk die vorms vir my aanstuur nie?"

"Nee, jammer, dis 'n heeltemal ander afdeling, ons het niks daarmee te doen nie, ons kan jou nie help nie."

So, dames en here, hiermee dan konkrete bewyse. Universiteitsadministrasie is ewe LUI, ewe INGAT en ewe STRONT oral. Vermy soos die pes.

Gelukkig loop ek een van die Internasionale Kantoor se studenteassistente raak oppad uit, en deel toe met haar my hartseer storie. "Wat? Nee man, geen probleem nie. E-mail my jou posadres, en ek stuur die vorms vir jou aan volgende week." Rebekka, dankie. Ek hoop hulle betaal jou genoeg om die vriendelikheidsverantwoordelikheid van die hele kantoor na te kom.

Na al daai drama, het ek eers omtrent middagetetyd by die kantoor aangekom: net betyds vir my afskeidskoek. My toespraak was kort en kragtig ("Dankie, dit was baie lekker, ek sal verseker terugkom eendag, daar's genoeg slaapplek vir almal in my flat in 2010"), waarna die terte vinnig verdwyn het.

Dit was kort nadat ek my tweede of derde formule van die dag in my verslag geskryf het, dat ek besluit het dit is NIE hoe ek my laaste dag in Wuppertal wil spandeer nie. Ek besluit toe om heeltemal spontaan te wees, die bus te neem stasie toe, op die eerste trein te klim, en te ry tot dit stop. So beland ek toe vanmiddag in Hagen.

As die poskaarte op die stasie net fotos van steenkoolmyne en steenkoolmyners op het, moet jy al begin bang raak. Selfs beter, jy moet omdraai, en die volgende trein terugneem, voordat jy geskend word deur die stad. Ek was nou die afgelope tyd nie bekend daarvoor dat ek altyd die slim opsie neem nie, en vaar toe die stad in.

Te oordeel aan wat ek daar gesien het, lyk dit my die mense doen net vier dinge in Hagen: drink, dobbel, pimp hulle karre, en myn steenkool. Wat natuurlik geen tyd oorlaat vir enigiets besienswaardig bou, of selfs 'n park onderhou, nie. Die "historiese ou stad" lyk soos 'n grensgeval krotbuurt, dis vuil oral, en dit lyk net oor die algemeen nie soos die tipe plek wat jy op 'n poskaart sou sit nie... dus, die myne en myners.

Vinniger was ek nog nooit by 'n plek uit nie, maar tog het ek gevoel ek moet iets doen met die res van die namiddag. Toe besluit ek, oppad terug, om af te klim in Schwelm.

As daar nou 'n plek is wat verdien om op 'n poskaart te wees (en wat 'n jammerte ek kon nie sulke poskaarte vind nie), dan is dit Schwelm. Die stad begin sommer reg, met 'n groot park reg langs die treinstasie. Mooi ou geboue al die pad tot by die ou stad, en DAN skop die beïndruk-faktor eers in. Die fotos vertel die verhaal, maar hierdie plekkie (met sy duisend klein kroeggies al langs die pad) is hoog op my aanbevelingslys vir enige besoeker aan NRW.

Nou, moet ek hier opstaan, my hare 'n laaste knip gee, die woonstel skoonmaak (iets wat ek 'n bietjie lanklaas gedoen het, besef ek nou) en inpak. Pret.

Thursday, May 24, 2007

Letzte Tage

Nouja, hierdie was nou 'n week van laastes vir my.

Maandagaand was my laaste kuier met die Internasionale studente, en waarskynlik, die laaste keer wat ek 'n Duitse bier genuttig het. Vandag het ek gaan afmeld by die Binnelandse Sake kantoor, en daarmee saam, die laaste keer die Schwebebahn gery. Ek't waarskynlik ook my laaste Bratwurst en broodjie geëet, en my laaste chocco melkie gedrink.

Wat my op 'n heel ander punt bring: Die Duitsers skud nie hul botteltjie sjokolademelk voor hulle dit drink nie. Nie dat so 'n aksie onnodig is nie: daar sit 'n dik, bruin laag onderin, maar hulle sal nie die moeite doen om die deur die hele drankie te versprei voordat hulle hul lippe daaraan sit nie.

Vreemd.

Monday, May 21, 2007

Projekt

Argh!

Vandag, in my vergadering met my prof, het ek mooi en versigtig geartikuleer hoekom die projek 'n doodloopstraat is (soort van... die paadjie gaan verder aan die ander kant van die berg, wat beteken dat as jy nie wil bergklim of tonnel grawe nie, is dit 'n doodloopstraat).

Hy't na my geluister, en toe met 'n rits voorstelle gekom om verder te ondersoek. 'n Week voor ek vertrek. Net toe ek gedink het ek kan rustig my vordering tot nou toe opskryf.

Wat my amper die meeste pla, is dat dit goeie voorstelle is met werklike potensiaal, en dat daar 'n nie-nul kans is dat daar tog iets betekenisvol gaan kom. Wat beteken ek moet hierdie laaste week regtig WERK daaraan.

Sunday, May 20, 2007

Drielandenpunt


100_1780, originally uploaded by tstander.

Sheena het weer kom inloer oppad Frankfurt toe, en met skok moes ek aanhoor dat, in haar tyd hier in Europa, sy net twee lande besoek het. Die situasie het dringend aandag gekort, en Saterdag-oggend het ons besluit om gou vinnig daai aantal te verdubbel met 'n besoek aan Drielanden, die punt waar Nederland, België en Duitsland bymekaarkom. Dis eintlik heel maklik om daar uit te kom: jy neem net die streekstrein na Aachen, een bus tot in Vaals (Nederland), en dan die toeristebus na Drielanden self.

Daar aangekom, was die eerste stop die hoogste punt in Nederland: 'n allermintige 327.5 meter. Ons het ongelukkig ons suurstofbottels by die huis vergeet, so ons kon nie op die toring klim nie, maar ons het darem foto's geneem by die paaltjie. Nog 'n fotogeleentheid (vir ons, en die diere) was by Drielandenpunt self.

Oral hier in Europa kry jy sulke masjiene, wat (teen 'n koste van 1 Euro) 'n vyfsent of tiensent vir jou platrol en 'n ontwerp daarop pers wat verband hou met die besienswaardigheid. Nou, volgens iemand wat Petro in Skotland raakgeloop het, pers daardie masjiene nie regtig die punt wat jy vir hom gee, plat nie. Dit word periodiek volgemaak met reeds platgedrukte munte, en die warm munt wat jy terugkry (oënskynlik a.g.v. die persproses), word intern verwarm voordat dit uitgespoeg word, om die illusie voor te hou. Gister was daar dan ook so 'n masjien, en 'n gulde geleentheid om Petro se kennis se teorie te toets. Eerstens, is 'n groot, diep X op albei kante van die munt gekerf op 'n staal dropper naby, waarna die muntstuk deur die masjien is. Wonder bo wonder, het die muntstuk verskyn: warm (ten spyte daarvan dat dit nie naby 'n kragprop is om verwarm te word nie), met die oorblyfsels van 'n groot X op beide kante. Wetenskap is wonderlik.

Uiteindelik het die vermoeienis van verskeie kere loop van Nederland na Duitsland na België, plus die hoogste punt in nederland bestyg, plus die veeleisende wetenskaplike eksperimente, 'n tol begin eis, en ons moes eers ons energievlakke herstel met 'n middagete.

Ek het seker in my lewe nog nooit soveel moeite gehad om 'n burger en chips by 'n plek te bestel nie. Die fout wat ek gemaak het, is om weg te val met my snaaks-geïntoneerde Afrikaans (wat amper klink soos Nederlands), wat die vrou agter die till onmiddellik laat dink het ek praat een of ander Nederlandse aksent. Toe ek begin agterkom dat ons nou mekaar nie reg verstaan nie (Ek't probeer verduidelik dat die een chips sonder mayo moet wees, en sy wou 'n ekstra chips met mayo oplui. Miskien was dit maar net die konsep van chips sonder mayo wat haar verstand 'n bietjie in trurat gesit het) bied ek vriendelik aan om verder in Engels of Duits te bestel. Nee, was die reaksie, Nederlands is okay, ek moet net stadiger. Nie dat dit veel gehelp het nie: vyf minute later het ek steeds opgeëindig met twee burger menus (sonder die beloofde koeldrank, wat ek na die tyd moes gaan haal), plus 'n ekstra chips "sonder mayo, soos ek bestel het". Nog 'n bewys dat dit partykeer erger is om 'n taal halfpad te verstaan as glad nie verstaan nie.

Na middagete was dit tyd om die doolhof aan te pak. Die doolhof is uitgelê in heining, met allerhande interessante goed soos watermure wat periodiek stop om 'n paar mense (droog) deur te laat, standbeelde, 'n brug of drie, en 'n 1m hoë tonneltjie op een punt. Die punt is om die middel van die doolhof te bereik, waarvandaan jy 'n maklike, eenvoudige (geen ander afdraaie) paadjie kan volg tot by die eindpunt.

Nou, een manier om 'n doolhof te navigeer, is 'n ou metode waarvolgens jy jou linkerhand op die ingangsportaal se linkermuur te plaas, en net aan te hou loop sodat jou linkerhand altyd op die linkermuur bly (volgens oorlewering bly jou linkerhand op die muur, sodat jou regterhand die swaard kan bly vashou, hoewel ons vergeet het om ons swaarde op te tel by Schloss Burg). Wat ek egter onthou het, toe ons die eerste keer weer by die ingang beland, is dat dit net werk om van een ingang na 'n ander te beweeg, en nie om 'n spesifieke kol binne-in die doolhof te bereik nie. Tinus en Sheena 0, Doolhof 1.

Vandaar was dit tyd om volgens bakens te probeer navigeer, en kyk hoe en waar jy kan draai om nader en nader aan die middelpunt te kom met elke draai. Ongelukkig het die paaie 'n manier om skerp weg te draai van die middelpunt af sodra jy dit gekies het, en kort voor lank beland ons weer by die ingang. 2-0.

Ons volgende hoop was om 'n groepe Amerikaners met 'n kaart te volg. Die ouens het aanvanklik taamlik selfversekerd (seker 'n bietjie vanselfsprekend, met verwysing tot hierdie nasie) en bevoeg voorgekom, en te oordeel aan al die nuwe dele van die doolhof wat ons te siene gekry het, het dit werklik gevoel asof ons vordering maak. Ongelukkig, na die soveelste doodloopstraat (lyk my die ouens het nie die doolhof op die kaart opgelos voordat hulle begin stap het nie, 'n vlak van voorbereiding wat ons seker maar ook te wagte moes wees), het die groepie verbrokkel, en was ons weer op ons eie inisiatief aangewese.

Die volgende opsie was om 'n pad te beplan vanaf 'n uitsigpunt bo-op 'n nabygeleë brug. Nadat die roete beplan is en die eerste doodloopstraat bereik is, het ons agtergekom dat die doolhof van bo af bedrieglik is: wat lyk soos 'n deurgang van bo, is soms 'n doodloopstraat. Eintlik is dit meestal 'n doodloopstraat. En 'n paar doodloopstrate verder, het ons wel by een uitgekom wat ons iewers gebring het: die ingang. 3-0.

Nou was dit tyd vir kroek. By die ingang is daar ook 'n paadjie wat lei vanaf die middelpunt, en as jy 'n bietjie stroom-op swem deur die paadjie, kom jy by die eindpunt uit. 3-3 (ja, daai slim streek is drie punte werd in my boekie). Om ons oorwinning te vier (en omdat ons moes wag vir die bus) het ons daarna vinnig onsself blootgestel aan 'n rondte Belgiese donker bier, wat op geen manier verwar kan word met die lekker Duitse donker bier nie, behalwe as jy dit vir die eerste keer bestel. Nie weer nie, en definitief nie 'n aanbeveling nie.

Die enigste bus terug het gery, nie na Vaals toe nie, maar na Gulpen. Hier het my halfpad-Nederlands egter handig te pas gekom, want ons kon die busbestuurder oorreed om 'n stop te maak by die plek waar die pad na Vaals afdraai. Daar aangekom, kon ons 'n lieflike Saterdag-namiddag wandeling deur die Nederlandse platteland geniet, waarna ons Vaals te voet kon besigting, om vandaar 'n bus te neem terug Aachen toe.

Wat Aachen 'n bietjie uniek maak, is dat die bushof en die treinstasie nie op dieselfde plek is nie (soos ons sou agterkom, daar aangekom). Ons het toe kans gekry om 'n bietjie deur Aachen se ou stad te stap tussen die twee, wat 'n aandete by 'n Italiaanse restaurant ingesluit het, asook 'n vinnige draai by 'n paar van die besienswaardighede.

Die laaste bietjie opwinding vir die aand was in die aankoop van ons kaartjies vir die terugtog, waar ons sou verneem dat Monchengladbach inderdaad NIE een van die bestemmings is wat ingeprogrammeer is op die kaartjiemasjien nie. 'n Paar benoude oomblikke (10 minute voor die trein se vertrek) later, het 'n dame ons genader met 'n proposisie om haar gebruikte, maar steeds geldige, NRW dagkaartjie te gebruik oppad terug. 'n Bietjie onderhandeling later, het ons ons kaartjie gehad vir 15 Euro: sy score 15, ons spaar 5. En almal loop weg gelukkig behalwe Deutschebahn self.

Letze Tage in Deutschland

Nouja, oor minder as 'n week vlieg ek na Engeland, en dan na Hawaii, en dan terug na goeie ou Stellenbosch. Na drie maande in Duitsland (en omgewing) is ek vandag 'n bietjie beetgepak deur introspeksie oor my tyd hier. Wat mis ek van SA? Wat sal ek mis van Duitsland? Wat sal ek NIE mis van Duitsland nie? En was dit die moeite werd om te kom?

Beginnende by die einde, kan ek sê dat my tyd hier wel die moeite (geld, tyd wat ek kon spandeer het op my PhD, ens) werd. Akademies gesproke, het ek nie verrig wat ek gedink het ek gaan nie... nie dat dit ooit 'n geheim was vir die mense waarmee ek gereeld gekorrespondeer het nie. Ek het wel 'n vraag gehad oor 'n deel van my eerste jaar se werk waarmee ek nie verder sou gaan vir my PhD nie, waaroor ek altyd nuuskierig sou wees. Daardie vraag is nou beantwoord, met oorweldige bewyse dat my idee nie wesenlik is nie. Maar ek weet dit nou, plus ek weet wat die industrie-standaard manier is om die probleem aan te pak, plus ek kon tyd spandeer om dit te verstaan en toe te pas.

Wat ek ook kon doen, is eerstehands ervaar hoe is dit om nagraads te studeer by 'n plek wat nie Stellenbosch is nie. Ek kon eerstehands die werklading en toewyding sien van daardie studente, hoeveel anders hul funksioneer, en hoe hulle partykeer ook maar met dieselfde probleme sit as ons m.b.t. kontrakte, toerusting en resultate wat net nie wil regkom nie.

Wat die reis betref, kon ek nie vir 'n beter deal gevra het nie. Wuppertal, hoewel self nie veel meer besienswaardig as Bellville nie, is ongelooflik sentraal geleë vir reis. Ek het hier die kans gekry om vir spotgoedkoop 'n hele rits bestemmings regoor Duitsland, sowel as Oostenryk, België en Nederland, te besoek. Ek't vir die eerste keer in my lewe kans gekry om op groot skaal te toer (heeltemal anders as die TKK toer in '97).

Verder het ek kans gekry om in 'n vreemde omgewing, met 'n vreemde taal, aan te pas en myself uit te leef in 'n ander kultuur, iets wat laas van my verwag is toe ek die eerste keer Stellenbosch toe is (dis nou vreemde taal ingesluit... IW154 was Grieks toe ek daar aangekom het). So 'n ervaring kry jy nie as jy net deur 'n plek toer nie: jy moet daar woon en werk, inkopies doen, busse verpas, op gladde sneeubedekte sypaadjies gly en uitgeskel word omdat die as van jou braai op ander mense waai.

En dan, hoewel ek hulle die afgelope maand 'n bietjie afgeskeep het met my toerdery, het ek die kans gekry om die vreemdste, belaglikste, interessantste en ongelooflikste vriende te maak hier in die vreemde. Ek't kans gekry om verskillende kulture te sien, met verskillende wêreldbeskouinge en benaderings. Die Baskiese onafhanklikheidsstryd sal nooit weer vir my net 'n nuusberig wees nie: dit sal vir my 'n gesig en 'n naam hê. Dieselfde met Franse vraagstukke oor regse politiek, die integrasie van die Turkse immigrante en hul nasate in die Duitse hoofstroom, verwesterde norme en praktyke in voormalike Oosblok lande, en vele meer. Dankie vir almal wat gehelp het om my oë op hierdie manier oop te maak.

Nouja, na drie maande hier, het ek al 'n taamlike lysie van goed wat ek wens ek kon inpak in my (seker reeds oorgewig... *sug*) tas en terugneem SA toe. 'n Kort lysie goed wat ek gaan mis in Duitsland:
  • Supermarkte wat, as 'n reël, tot 22h00 die aand oopbly.
  • Die bier, veral die donker biere. Wie kan vir SAB oortuig om 'n bietjie verskydenheid te oorweeg? Die wêreld begin en eindig nie by Lagers nie.
  • Openbare vervoer, voorstedelik en langafstand. SA het baie om te leer voor 2010.
  • Goedkoop en vinnig rondreis. Maar dit gaan verander: ek gaan, as ek terug is, 'n punt maak daarvan om meer binne SA te reis.
  • Haribo se kersie-lekkergoed. Njam njam.
  • Döners. Bumpers se schwarmas se agterent, hierdie mense doen dit reg.
  • Om hardop mense se vreemde klere / hare / bybehore te bespreek op die trein.
  • Sentrale verhitting (in die winter). Lieflik
  • Gratis, vinnige en onbeperkte Internet.
  • Die Anti-Plakkies, al het dit nie koeksisters nie.
  • Kamps, 'n tipe Duitse wegneem-koffiewinkeltjie. Altyd lekker, altyd vars, en altyd oop en altyd oral.
  • Posseël masjien, vir as jy nie binne kantoorure die poskantoor kan besoek nie.

Dan, natuurlik, 'n paar goed wat ek nie gaan mis nie:
  • Regsverkeer. Ek's jammer, dis net verkeerd.
  • Die weer. Jammer, ouens, te veel uiterstes. Werk daaraan.
  • Die broodjies, met die kors wat altyd te dik en te hard is, en jou verhemelte seermaak elke keer as jy een eet.
  • Op- en afdraande hier in Wuppertal. Ek studeer nooit weer in 'n riviervallei nie. Nooit nie.
  • Drink op straat. Dis kommin, en dis oral, en dit maak treinstasies veral 'n onaangename plek om te wees per geleentheid.
  • Sentrale verhitting (in die somer). Onmoontlik om jou woonstel koel genoeg te kry.
  • Om self my sakke te pak by die supermark.

En dan, natuurlik, die goed wat jy mis van huis:
  • Ou Casspir. Meer spesifiek, om met Casspir se hulp te beweeg tussen enige twee gegewe punte in eindige tyd. Soveel vryheid bied openbare vervoer jou nie.
  • Butternut. Die mense weet nie eens wat dit is nie. Skimp, Ma. SKIMP! (met pynappelhoender en rys, asseblief, op die dag wat ek land)
  • Goedkoop koffie. Ek sal nooit weer skroom om R5 uit te haal vir 'n koppie nie. Dieselfde gaan vir koeldrank en kos.
  • Spur. Hierdie ouens kry net nie 'n hamburger heeltemal reg nie.
  • Familie en vriende.
  • Die eetgoed: zoo koekies, biltong, beskuit, jelly tots, en dies meer.
  • 'n Kerk waar jy die diens voluit kan volg.
  • Ingeboude braaiplekke. Die petietserige UFO-effekies werk nie so lekker nie.
  • TV, in 'n taal wat ek ordentlik verstaan. Veral rugby en krieket kyk.
  • Jeff's se grootboet en chips.
  • Goeie tye in die E203 en die ESL.
  • Om altyd, almal, heeltemal te verstaan. Om permanent nie by te wees nie / nie die gesprek heeltemal te volg nie / nie die grap te vang nie raak later nie meer lekker nie.

Nouja, voort met my laaste week!

Friday, May 18, 2007

Berlin Sonntag


100_1753, originally uploaded by tstander.

Ons laaste dag in Berlyn het ons afgeskop met 'n besoek aan die meer waarna die woonbuurt Wannsee vernoem is. Behalwe vir die oulike meerhawe, is die woonbuurt die tuiste van die mooiste (en grootste, en sekerlik duurste) huise wat ons in Berlyn gesien het. Dit maak seker sin om so 'n duur woonbuurt langs 'n meer te hê.

Daarna het ons die trein verder geneem na 'n staddeel waarvan geen toeristegids oor Berlyn vir jou iets sal vertel nie: Potsdam, heel in die suide. Die rede hoekom die Berlynse toerismegidse vir jou niks daaroor vertel nie, is seker omdat hulle nie wil hê jy moet al jou tyd (en geld) daar spandeer nie, want dis amper net so veel die moeite werd om te besoek as Berlyn self. Die voorstad is self ryk in besienswaardighede, van die Fortunaportal en Nikolaikirche by die ou mark, tot die ou stad en eie Brandburger Tor. Ons het ongelukkig nie eens 'n fraksie gesien van wat hierdie staddeel te bied het nie (bv. Paleis Sanssouci, die Hollandse kwartier, Einsteintoring en vele meer), maar dis definitief op my to-do lysie vir wanneer ek eendag terugkom. En hopelik het hulle teen daardie tyd die nogsteeds die oulike dinosaurus uitstalling by die stasie.

Terug by die hoofstasie, was dit eers tyd om ons bagasie (wat ons oppad terug middestad toe opgetel het by die hostel) te stoor, waarna ons 'n ligte middagete by Burger King genuttig het. Dis werklik jammer hierdie manne wil nie hul deure oopmaak in SA nie. Die Whopper (met regte egte tamatieskywe) is 10 keer beter as die Big Mac, en dis nie so duur soos McD's in Europa nie.

Hierna was dit weer tyd om ons geluk te probeer in die tou by die Reichstag. En watse geluk het ons nie gehad nie! 10 minute, toe's ons in. Wel, "in", beteken maar net jy begin beweeg deur die streng lughawe-tipe sekuriteit om in te kom. Ek sou 'n foto daarvan geneem het, maar dit is ook verbode. Deur sekuriteit, neem jy die 5 verdiepings op na die dak (snaaks, dit voel soos baie meer as jy dit van onder af kyk) vanwaar jy 'n panorama uitsig op die stad het. Jy kan selfs verder gaan, op met die spiraal-loopvlak tot by die toppunt van die glaskoepel bo-op die dak, hoewel dit nie sulke mooi fotos maak nie (die glas is 'n bietjie vuil). Ek het darem 'n panorama video geneem, en sal dit later op my website laai.

Ons voorlaaste stop vir die dag, was die Ingenieurswese museum. Dit was 'n fout. In hierdie museum moet jy óf 'n dag spandeer, óf glad nie besoek nie. Dis seker 'n stuk of vier geboue, met elkeen 'n hele vloer vol uitstalling van een of ander tipe ingenieurswese ontwikkelingsveld. Ek het net regtig kans gehad om ordentlik deur die telekommunikasie en rekenaar uitstallings te loop, en vinnig (dit was plek-plek letterlik 'n drafstappie) deur die seevaart en lugvaart uitstallings. By die voertuie, treine en vele meer het ek glad nie uitgekom nie.

Wat hierdie museum regtig besonders maak, is dat hulle 'n REUSE versameling vliegtuie en ou meganiese rekenaars het. Soos 'n mens egter te wagte kan wees, is die rekenaars egter almal Duits, wat beteken jy sien niks van die Britse en Amerikaanse bydraes tot die bedryf nie. Maar nogsteeds, twee of drie ekstra ure in daardie museum sou bitterlik handig gewees het.

Oppad na ons laaste stop vir die dag, het ons kans gekry om te loop deur 'n ander (sekerlik minder gegoede) deel van Berlyn. Twee goed wat 'n mens hier opval, is die strak argitektuur, en die volop kuierplekke. Hierdie drie strate het seker meer kuierplekke as die hele Stellenbosch. Die goed sit letterlik drie of vier geboue uitmekaar.

Ons laaste stop vir die dag was by die Berlin Tempelhof lughawe, waar die Lugbrug gedenkmaal opgerig is. Daar was op daardie stadium nog kranse om die gedenkmaal, met die onmiskenbare Suid-Afrikaanse vlag op een van hulle.

Na 'n bietjie ligte vermaak op die U-bahn ('n ou wat van wa tot wa gaan en kitaar speel) was ons weer terug by die hoofstasie, om vinnig 'n verversing te geniet en foto's af te laai voordat ek op die ICE geklim het terug Dortmund toe. Daar aangekom, was dit tyd om vinnig 'n trein te soek tot in Wuppertal. Ek loop toe na die S-bahn platform toe, sien 'n trein staan, en draai om om teen die bord te kyk of dit die regte trein is. Toe ek sien dat dit wel is, toe ry dit. Onder normale omstandighede, sou dit nie 'n probleem gewees het nie: die S-bahn ry elke halfuur of elke uur tussen Duesseldorf (via Wuppertal) en Dortmund... maar nie op Sondae nie. Nee, dan ry die laaste trein om 1h, wat presies die een is wat ek sopas gemis het.

Die volgende trein was Maandag se eerste streekstrein, wat 'n wye boog maak om Wuppertal om te gaan draai by Essen en Duesseldorf lughawe. Ek sou waarskynlik dieselfde tyd aangekom het in Wuppertal as ek vir die volgende S-bahn gewag het, maar dan sou ek nie kon slaap nie: die perron is 'n bietjie koud en daar's die heeltyd mense wat jou lastig val.

Om 5h kon ek dus die S-bahn neem van Duesseldorf na Wuppertal, en 6h Maandag-oggend kon ek weer in my eie bed klim.

Berlin Samstag


100_1632, originally uploaded by tstander.

Saterdag-oggend vroeg sit ek en Petro toe weer af met ons geliefde S-bahn, om hierdie keer te voet en te bus die deursnit van die stad te verken. Eerste stop Breitscheidplatz en die Kaiser-Wilhelm-Gedächtniskirche, 'n ou gedeeltelik uitgebomde kerk wat tans dien as 'n gedenkmaal. Van hier is ons vinnig (die reën hier rond het 'n geneigdheid om jou spoed te verbeter) na die ingang van die dieretuin.

Knut-maina het hierdie land behoorlik beetgepak, dus is dit miskien die moeite werk om 'n paragraaf daaraan af te staan. Vir die wat nie weet nie: vir die eerst keer 'n baie lang ruk, is 'n baba ysbeer gebore in die Berlyn dieretuin. Die klein mannetjie, genaamd Knut, het 'n reuse media- en bemarkingsfoefie geword, soveel so dat die een ou wat saam met my in die kamer was in die jeughostel, na Berlyn gekom het NET om die ding te sien. Die enigste logiese rede hoekom daardie wit rot soveel aandag kan geniet, moontlik, is dat almal wonder wat hulle vir hul rotte by die huis kan voer sodat dit ook so groot kan word. Dit, of almal wonder wat van die ding se stert geword het.

Hoe dit ook al sy, daai ding het veroorsaak dat hekgeld by die dieretuin 20 Euro is, wat al begin vergelyk met my retoer treinkaartjie na Berlyn. Na deeglike besinning en oordenking vir 'n volle oomblik en 'n half, het ons dus besluit dat ons maar vir Knut moet sien via die miljoene plakkate, poskaarte en speelgoed oral in die stad.

Om die teleurstelling dat ons die rot 'n skip moes gee, te verwerk, baan ons toe maar ons weg na Großer Stern ('n groot verkeersirkel) en die Siegessäule ('n groot toring, bo-op die sirkel). Dis seker een van Berlyn se beroemdste landmerke, so ons het moeite gemaak om deur die tonnels onderdeur die pad te loop tot by die toring, maar nie voordat ons 'n paar fotos geneem het van die Ampelmännchen nie.

Die Ampelmännchen was die kenmerkende verkeersmannetjies van Oos-Berlyn. Waar Wes-Berlyn die gewone mannetjies (soos in die res van Duitsland, en wêreldwyd) het, het Oos-Berlyn 'n mannetjie wat duidelik 'n hoed dra, net een arm het as hy stap (hy's dan groen ook) en die arm weer teruggeroei en beide wyd sprei as hy stilstaan (en rooi verkleur). Na vereniging, wou die mense aanvanklik die Ampelmännchen vervang met die gestandariseerde verkeersligte, maar a.g.v. 'n sterk Ostalgie (nostalgie na allerlei dinge Oos-Duits) beweging is hulle behou, en selfs aangebring in sommige van die Westelike dele van die stad. Vandag kan 'n mens hulle koop op enigiets van koffiebekers tot t-hemde en yskasmagnete.

Vanaf Ku'damm het ons die 100 bus (een van die twee toeriste lyne) geneem na Schloß Bellevue (die presidensiële paleiswoning), maar vergeet om die stop knoppie betyds te druk en beland by die Museum vir Volkekunde. Hoewel die gebou baie interessant gelyk het van buite, het dit ook taamlik toe voorgekom. Hierdie onverwagte stop het ons egter kans gegee om al langs die Spree river terug te stap tot by Bellevue vir 'n paar kiekies onder die wakende oog van die polisieman wat die voorste grasperk patrolleer.

Toe was dit tyd om polities te raak, deur die 100 weer te neem tot by Platz der Republik. Hier, dig bymekaar, sien mens die Bundeskanzeleramt (Angela Merkel se kantoor), Bundestag (Federale parlement se kantore) en die ou grote, die Reichstag (die ou parlementgebou, wat nou net vir sittings gebruik word). 'n Mens kan net die laaste van die drie besoek, ongelukkig, en siende dat dit die ou grote is, is daar permanent 'n ou grote ry voor dit. Wat natuurlik tot die lengte van die ry bydra, is dat gratis is om te besoek. Siende dat ons nie twee ure in die reën as 'n aangename tydverdryf beskou het op daardie stadium nie, het ons die slim opsie geneem en eerder in die reën gestap al langs die Spree tot by die Friedrichstraat stasie.

Na 'n vinnige peusel aan eg Duitse (m.a.w, swak nagemaakte Engelse) fish & chips, het ons weer die trein geneem, hierdie keer na die Berlyn muur gedenkmaal en museum in die noorde van die stad. Wat hierdie stuk besonders maak, is dat die westelike en oostelike dele van die versperring (met die sg. "kill zone" tussen die twee mure) behoue gebly het. Oorkant die straat kan jy dan ook 'n paar verdiepings se trappe klim om bo-oor die muur te kan sien tot binne-in die "kill zone". Op die toerboekies staan daar oral dat 'n mens op die uitkyk moet wees vir 'n wagtoring, maar dit het ons nie gesien nie.

Terug in die middestad, was dit tyd om die groot besienswaardighede aan te durf. Aan die een punt van Unter den Linden ('n baie historiese straat in die middestad), kon ons die Brandenburger Tor van naby beskou, asook die vreemde mense in snaakse kostuums op Parisplatz reg voor die Tor. Jy kan daar 'n toer meemaak met 'n mannetjie aangetrek as Friedrich die Grote, afgeneem word saam met twee jonge dames (een aangetrek as 'n Amerikaanse MP, die ander as 'n Soviet ekwivalent), of net die snaakse ou in die silwer-gespuitverfde uniform dophou vir 'n rukkie. Deur die poort, het ons links afgedwaal na die Holocaust Gedenkmaal, 'n plein met 'n oerwoud van 2711 betonblokke wat jou met dieselfde tipe angs en melankolie vul as die onderste dele van die Joodse museum.

Hierdie hartseer het my natuurlik weer laat dink aan Sparky, en sy skielike verdwyning. Maar dit het my ook op 'n vreemde manier geïnspireer om voort te gaan met die lewe, en die vakante posisie van amptelike reismetgesel en reisfoto model weer te vul. So, van daar af is ek na 'n geskenkwinkeltjie reg langs die plein, om te begin onderhoude voer met van die potensiële kandidate.

Na 'n vinnige oorsig, het drie name dit op die kortlys gemaak: Olifant, Renoster en Hoender. Wat in Olifant en Renoster se guns getel het, was dat beide Afrika-diere was (soos ek self is), en twee euro goedkoper was as Hoender ('n heel billike 3 euro elk). Die probleem met hierdie twee kandidate was egter dat hulle 'n bietjie lig in die broek was... letterlik. 'n Vinnige ondersoek het getoon hierdie twee was net gevul met dons en wind, wat hulle 'n gevaarlike opsie maak vir fotos neem vanaf rivierbrug muurtjies op winderige dae. Hoender het my getref as meer solied van karakter (gevul amper soos 'n boontjiesakkie) en meer gehard vir die eise wat reis in my geselskap sou stel. So, na 'n goeie 10 minute onderhoud, is Huhn aangestel in die vakante pos.

Na 'n vinnige inhuldigingseremonie, het ons drie (Petro was nogsteeds met ons) die pad geneem na die Sowiet gedenkmaal in 17e Junie straat, vernoem na die 1953 opstande in Oos-Berlyn. Die ironie tref jou eers later, dat 'n gedenkmaal vir die Sowiet weermag gebou is in dieselfde straat wat vernoem is na die opstande wat hulle so wreed onderdruk het. Ten minste is daar 'n paar ou tenks en kannonne om die besoek die moeite werd te maak.

Nouja, van daar was dit tyd om Unter den Linden van endpunt tot endpunt te stap. Interessant genoeg, het 'n skare betogers daardie dag gedink ons het 'n goeie idee beet, en besluit om dieselfde te doen. Blykbaar word een of ander ou iewers terregestel, en hulle is nie gelukkig daarmee nie. Maarnouja.

Verby die Berlynse staatsbiblioteek en "Ou Fritzie" (Die standbeeld van Friedrich die Grote) is die Humboldt museum, en oorkant die pad, die Bebelplatz. Ons het ongelukkig ons kaartjies vir die Staatsopera vergeet, maar ons kon wel in by die St. Hedwig katedraal, wat opsigself 'n heel interessante ervaring was. Dis seker die modernste katedraal wat ek tot nou toe besoek het in Europa, met heeltemal 'n ander atmosfeer (amper meer soos 'n gereformeerde kerk, met heelwat minder versierings en beelde) as die ou katedrale.

Oor die Kasteelbrug het ons eers 'n kort wandeling geneem af met die tuine om by die Museumeiland uit te kom. Hoewel dit baie mooi gelyk het van buite af, het ons geweet dat daar net kunsmuseums daar is, en dat dit waarskynlik gevaarlik sou wees om te lank daar te vertoef. Ons het toe maar eerder teruggedraai en die Berliner Dom besoek: 'n pragtige ou katedraal, met 'n toer wat jou deur die gallerye en die koninklike grafte onder in die kelder neem. Wat dit meer besonders gemaak het, is dat ons daar opgedaag het tydens 'n kooroefening, en dus 'n bietjie van die pragtige akoestiek kon waardeer.

Op die ander punt van Unter den Linden kom 'n mens uit by Marx-Engels forum, 'n plein met 'n reusegroot standbeeld van Friedrich Engels en Karl Marx. Goeie kapitaliste wat ons is, moes ons eers foto's daar neem ook, waarna ons na die Nikolaikwartier (die historie middestad) is. Vandaar het ons gou die St. Marienkirche toe is. Hierdie kerkie se eenvoudige afwerking was nogal indrukwekkend: miskien juis omdat dit nie so (amper oormatig) versier is soos die meeste ander kerke van die tyd nie.

Natuurlik was dit toe tyd (na 'n vinnige stop om 'n sekere nikotienverslawing te voed) om die beroemde Alexanderplatz te besigtig, met die wêreldhorlosie. Ongelukkig was hulle besig met konstruksiewerk daar, wat 'n bietjie afbreek gedoen het aan die geleentheid. Wat wel interessant was, was dat daar 'n uitstalling op die plein was van die Duitse regering, oor hoe en waar hulle betrokke is in projekte in die ontwikkelende wêreld. Soos 'n mens maar te verwagte kon wees, is die uitstalling oorheers deur beelde van mense in hutte en bestaansboere, wat maar die algemene beeld van die ontwikkelende wêreld (veral Afrika) is hier.

'n Ander groot (letterlik) besienswaardigheid daar is die TV toring, met die kafeetjie reg bo-in waar jy kan gaan koffie drink vir 8 euro. En ons het in die toring gaan aandete nuttig... maar onderin, waar jy vir dieselfde prys twee groot döners met bier kan kry.

Laaste stop vir die aand was 'n woonbuurt in die voormalige Oos-Berlyn, waarvan ek eenkeer gehoor het in 'n liedjie in ons Duitskursus. Pankow is maar 'n woonbuurt (en, mens kom agter, effens minder gegoed as sommige van die ander dele wat ons nog sou besoek), maar dit was ook interessant om te sien hoe Berlyn lyk weg van die toeristebestemmings. Ons moes net van die geleentheid gebruik maak, en 'n biertjie gaan nuttig by Queens, met sy tropiese eiland afwerking.

Hierna het ons die pad terug Wannsee toe aangedurf... en wat 'n terugtog was dit nie!

As hulle werk in Duitsland aan 'n stuk van 'n spoorweglyn, bied die stad 'n busdiens tussen die spoorwegstasies waarlangs die trein nie meer loop nie. So ry ek en Petro toe met die S1 van Pankow na Potsdamer Platz, klim op die bus, en klim af by die volgende stasie om verder te ry. Ongelukkig het ons op die verkeerde bus geklim ('n ander treinlyn se bus), en klim ons toe af by 'n stasie waarvandaan die S1 nie ry nie. In sulke omstandighede moet mens maar die beste maak van 'n slegte saak, 'n bier koop by die kafeetjie langs die stasie, en dit op die eg Duitse manier op straat staan en drink (en jou beste doen om nie kommin te lyk nie, hoewel dit moeilik is) en wag vir die volgende bus.

Op eindelaas kom die bus daar aan, en ons ry tot by die volgende stasie. Soos ons op die S1 klim, verander die eindstop ewe skielik na 'n stasie 2 stoppe voor ons bestemming. Sulke vreemde goed het ons al gesien daar (ook dat 'n bordjie partykeer verander na "Moenie opklim nie" soos 'n trein intrek by 'n stasie, net om te sien hoe ander mense opklim en die trein doodluiters ry tot by die volgende stasie), en besluit om ons nie veel daaraan te steur nie. Ons moes maar: ons het inderdaad gestop by Zehlendorf, twee stoppe voor ons eindbestemming, en beveel om almal uit te klim. Alle indikasies was dat dit maar so ver is soos die S1 ry

Nou raak jy 'n bietjie bekommerd. Daar's busstoppe naby, maar geen kaart nie. Jy kan nie net lukraak op 'n bus klim nie, want dan beland jy op 'n plek waar jy dalk REGTIG nie wil wees nie (nie dat Zehlendorf 'n plek is waar jy wil wees nie, maar dit kan erger). En in die geskarrel tussen busstoppe op soek na 'n kaart, sien Petro dit raak: 'n S1 trein, wat soos wegtrek uit die stasie, oppad Wannsee toe. Dit was toe net ons geluk dat ons die een trein gekry het wat vroeg gestop het. Belaglik.

Die eindresultaat was dat ons WEER na middernag in die hostel teruggekom het, om vinnig uit te rus vir ons laaste dag in Berlyn.

Thursday, May 17, 2007

Berlin: Freitag


100_1520, originally uploaded by tstander.

Wat 'n naweek!

Toe ek laas in Hamburg was, het ek en Petro bespreek watter ander plekke sy nog in Duitsland wil besoek. Sy sê toe sy sou graag Berlyn wou sien, maar dat sy (heel verstaanbaar) nie graag alleen wou gaan nie. 'n Week of wat later was ons kaartjies bespreek.

Vrydag-oggend 04h00 klim ek toe uit my warm bedjie uit, en 5h sit ek op die S-bahn na Dortmund, vanwaar ek die langafstand ICE sou neem na Berlyn. Siende dat dit so 'n verskriklike tyd is, besluit ek om 'n uiltjie te knip oppad soontoe. Wat my vals gemoedsrus gegee het, is dat ek wel elke nou en dan wakker geword het om my van my posisie te vergewis. Toe ek egter die laaste keer wakker word, was die trein LEEG rondom my. Die eerste ding wat deur my kop flits, is dat ek te min oorklimtyd op die stasie het om die verkeerde trein te neem en terug te kom, so ek moes net eenvoudig op die regte stasie wees. Gelukkig onthou ek op daardie kol dat ons trein sy laaste stop maak op Dortmund en dat almal daar moet afklim. En toe besef ek die mense wat nou-nou oorkant die paadjie gesit het, is nou presies die mense wat nou verby my vester loop. Volgende keer drink ek my oggendkoffie voor ek op die trein klim.

Na 'n vinnige koffie en rosyntjiebroodjie op Dortmund, kon ek die res van my ICE rit na Berlyn rustig poskaarte skryf, die nuutste kwellende vraagstuk in my projek hier begin ontsyfer, en my vergaap aan die klompie agterin die wa wat oppad was iewers heen vir iemand se bachelorette partytjie (iets wat nogal groot is hier in Duitsland).

Na ek Petro op die hoofstasie gekry het, was die eerste stap om ons kaartjies vir openbare vervoer vir die naweek te kry. Vir 'n heel billike 21.90 Euro kan jy 72 ure enige vorm van stadsverkeer in Berlyn en die omliggende dorpe gebruik. Dit sluit nou in al die busse (inkluis twee spesiale besienswaardighede roetes) U-bahn (ondergrondse trein) en die beroemde (blykbaar, volgens hulle) 120-jaar oue S-bahn (voorstedelike trein) netwerk. Om die idee in te vryf dat die trein 120 jaar oud is, verf hulle dit dan ook snaakse kleure. Maar meer oor die beroemde S-bahn later.

Eerste stop was die Jeughostel Wannsee... wat inderdaad NIE in Wannsee is nie, sou ons agterkom toe ons by die treinstasie daar afklim. Dis eintlik een stop buite Wannsee, en 'n goeie kwartier te voet vandaar. Maar heel gerieflik en aangenaam, en vriendelik genoeg om nie vir my of Petro in 'n kamer te sit met een van die skoolgroepe wat ingeboek het saam met ons nie.

Nou omtrent middagetetyd, besluit ons om eers die suidelike deel van die stad te verken (wat nie heeltemal inval met 'n toerplan van wes na oos nie) rondom Potsdamer Platz. Hierdie area is vreeslik beroemd vir die groot, moderne skyskrapers wat oral daar staan. As jy 'n kantoor daar het, is jy gemaak. As jy jou eie gebou daar het, besluit jy wie dit maak en nie maak nie. Na 'n kort bespieding van die omgewing het ons die plaaslike sandwich bar (in 'n omgewing met soveel movers en shakers in hul oulike pinstripe suits moes daar so iets kosmopolitaans in die omgewing wees), waarna ons die pad gevat het na die Kulturforum, 'n konsentrasie kunsmuseums naby die Staatsbiblioteek en die kamermusiek saal. Nadat Petro die kompleks se boekwinkeltjie gefynkam het vir goeie kopies, was die algemene konsensus dat, indien ons vir haar daar binne loslaat, ons vir die res van die naweek nie daglig sou sien nie. Blykbaar is kunswaardering nie iets wat aangejaag kan word nie. Ons het dus besluit om maar eerder aan te skuif na ons volgende amptelike besienswaardigheid: Topografie des Terrors, 'n opelug uitstalling oor die kom en gaan van Nasionaal-Sosialisme in Duitsland.

Behalwe vir die baie (en soms, baie skokkende) fotos, is hierdie besienswaardighede vernaam vir twee redes. Eerstens, is die bestaande uitstalling langs die oorblyfsels van die kelder van die SS hoofkwartier in Berlyn. Tweedens, sukkel konstruksie aan die eintlike gedenkmaal (op die gronde waar die SS hoofkwartier was) al af-en-aan voort vir 'n paar dekades, te midde van 'n stink verhaal van politiekery, kontrakte wat nie nagekom het nie, geld wat opraak, en ander goed watma jou herinner aan wat nou aangaan met die nuwe Groenpunt stadion.

Volgende stop was by Checkpoint Charlie, die Amerikaanse grenspos tussen Oos- en Wes-Berlyn. Daar kan jy ook 'n stukkie van die muur sien, maar ook die oorspronklike waghuisie en padblokkades. Dis ook die plek om DDR (Deutsche Demokratische Republik, oftwel Oos-Duitsland) memorabilia op te tel, wat ons toe ook gedoen het.

Vandaar is ons na ons laaste (en langste) stop vir die dag: die Joodse museum, en seker een van die interessantste museums wat ek al gehad het hier in Duitsland. Die museum het twee definitiewe afdelings. Die een is die onderste drie gange, genaamd "Axis of Exile", "Axis of the Holocaust", en "Axis of Continuity", met iets besonders op die eindpunt van elkeen van die gange. Op die endpunt van "Axis of Exile" is die "Garden of Exile", 'n reghoekige binnehof met 49 reghoekige betonblokke eweredig geplaas oor die binnehof. Op die endpunt van die "Axis of the Holocaust" is daar 'n donker silo: net 'n leë, donker, koue saal wat jou absoluut die horries gee. Hierdie twee gange word verbind met die "Axis of Continuity", op die eindpunt waarvan jy die drie uitstallings vind. Heel onder is 'n uitstalling "Schalechet", basies 'n donker vertrek gevul met gepynigde gesigte gesny uit staal. Net bokant dit is 'n tydelike uitstalling oor die vlug van 'n klein Joodse gemeenskap uit Duitsland op die Donau, en heel bo, die permanente uitstalling wat die tweede groot deel van die museum vorm.

Die permanente uitstelling volg die geskiedenis van die Jode in Europa vanaf die val van Jerusalem tot moderne tyd, en lig telkens aspekte van Joodse kultuur in die verskillende eras uit. Die museum maak ook baie staat op persoonlike stories, wat dit meer as net 'n tipiese "kry-die-feite" ervaring maak. Baie van die uitstallings is interaktief en vreemd gestileer ook, wat veroorsaak dat jy die heeltyd geprikkel word deur wat jy sien. Wat my egter 'n bietjie begin pla het op 'n stadium, is dat die Jode deurlopend as verdrukte volk uitgebeeld word, en die Christene as die wrede verdrukkers, selfs tot die punt waar jy voel die verband tussen sommige aspekte van Joodse geskiedenis / kultuur en verdrukking is 'n bietjie aangeplak. 'n Mens voel later so skuldig, jy begin skoon kriewelrig raak.

Nouja, na amper drie ure daar, was die dag omtrent op sy rug, en het ons besluit om ietsie te gaan eet by Alexanderplatz voor ons teruggaan hostel toe. Ons het dan ook so gemaak by die Brauhaus Mitte, waar ons die res van die aand kon verwyl met 'n lekker aartappelsop en 'n paar biere.

Monday, May 14, 2007

München


IMG_0669, originally uploaded by tstander.

Saterdag-oggend vroeg neem ek en Sheena die trein na München (hierna Muenchen... sien vorige posts) om vir Caro te gaan kuier vir die dag. Wat natuurlik baie gehelp het, is dat Caro se ma 'n Muenchen toergids is, so ons het omtrent al die sights and sounds beleef in ons dag daar.

Eerste stop (naas die treinstasie, natuurlik) was die museumdistrik in en om Königsplatz. Nie dat ons deur enige van die museums is nie, maar dis gaaf om te weet waar dit is indien ek ooit eendag terugkeer.

Vanaf die museumkwartier het ons die pad gevolg deur die middestad tot by die Universiteit se hoofgeboue (beide universiteite in die stad is versprei oor die stad, soos Stellenbosch), en van daar na die Engelse tuine (so genoem omdat dit meer "natuurlik" is as die Franse tuine) Die hoogtepunt van hierdie uitstappie, behalwe vir die bietjie Bayernisch wat ek kon leer oppad, is die Chinese toring in die middel van die park. Wat vir my ook insiggewend was, was dat Bayern 'n goed gedefinieerde (en heeltemal aparte) dialek van Duits is, maar dat nie almal wat in Bayern woon, ewe veel Bayernisch praat nie. Caro, bv, gebruik hier en daar 'n Bayernische woord, en het glad nie 'n dik aksent nie, ten spyte van die feit dat sy hier grootgeword het. Ook, sou ek leer, dat Muenchen baie min ooreenstem met die res van Bayern i.t.v. politiek, spraak en gewoontes, vanweë 'n meer kosmopolitaanse karakter. Oppad deur die tuine het ons ook geleenthede gehad om paralelle te trek tussen Duitsland en Suid-Afrika se voorbereidings vir die Sokker Wêreldbeker. Te oordeel aan die gruwelstories wat ek op daardie uitstappie gehoor het, is ons goed oppad.

Van daar is ons na die Koningspaleis en gepaardgaande tuine (hierdie keer in 'n meer Franse styl), waarna ons al om die paleis gestap het tot in die historiese ou stad. Dit was toe ook op hierdie stadium dat ons gevoel het dis tyd vir 'n egter Bayernische middagete in 'n biertuin, wat alleen die trippie die moeite werd sou maak. Die bier was, natuurlik, fantasties, en die kos iets om te aanskou. Hulle maak hier 'n tipe aartappelslaai sonder mayo (taamlik suur, maar baie lekker) wat ons genuttig het saam met sulke reuse (maklik 30cm deursnit) Brezls en 'n tipe opgesnyde wors bedien in 'n asynsous met uie. Baie lekker, en ongelooflik vullend.

Van hier is ons gou vinnig by 'n kettingwinkel in om ietsie op te tel, maar moes eers in die voorportaal stop vir 'n foto van... Proteas. Jip, dit was op uitverkoping vandag, en jy kon 'n ruiker daar kry vir 'n skamele 10 Euro.

Ons laaste besienswaardigheid vir die dag was die tuine van Schloss Nymphenburg. Dis 'n entjie buitekant die stad, so ons het die geleentheid gehad om die berugte SUPER-vinnige Muenchen trollie te ry soontoe (die ding is seker dubbeld so vinnig soos die trollies in Duesseldorf en Dortmund). Ons koffetjie in die paleistuine is egter onderbreek deur 'n hewige donderstorm wat almal laat spaander het vir 'n plekkie onder die sambrele. Toe dit weer veilig was, is ons vinnig terug na die trolliehalte, om van daar ons weg te baan deur Karlsplatz (ek sou kon sweer elke liewe laaste stad hier in Duitsland het 'n Karlsplatz) na Cafe Munich, waar ons aandete gekry het.

Baie, baie dankie vir Caro wat ons heeldag entertain het!

Salzburg Sonntag


IMG_0684, originally uploaded by tstander.

Ons laaste dag in Salzburg is 'n bietjie bederf deur, wat ons later sou verneem, tipiese Lenteweer in Oostenryk: koud en nat, presies soos 'n Kaapse winter. Dit, plus die feit dat ons na drie dae taamlik pê was, het gehelp dat ons eers heelwat later opgestaan en reggemaak het vir die dag as gewoonlik.

Eerste aan die beurt was die Plesierpaleis en Toertjiefonteine by Hellbrun. Die plesierpaleis was so genoem omdat dit die landelike woning van die destydse aartsbiskop was, en hy't dit absoluut versier om aan hom soveel plesier as moontlik te verskaf met vakansie. Voordat ons egter in is by die paleis, het ons eers 'n bietjie gaan stap deur die tuine rondom die paleis, en afgekom op... die glashuisie in "Sound of Music". Natuurlik moes daar eers fotos geneem word.

Sodra jy jou voete sit in die paleis, kan jy heeltemal verstaan hoekom dit die aartsbiskop soveel plesier verskaf het. Behalwe vir die vertrekke wat versier is in spesifieke temas (visse, wilde bokke, ens) is daar die pragtigste fresco's ook, en een kamertjie in besonder (die musiekkamer, op die punt van die paleis) is alleen die busrit buite die stad werd.

'n Mens kan 'n bietjie van die toertjiefonteine sien as jy uitkyk by die paleis se vensters, maar dit was so na as wat ons daaraan gekom het. Die begeleide toer neem amper 'n uur, en jy mag nie op jou eie deurloop nie. Algemene konsensus was dat ons die tyd beter kon spandeer in die stad self. Wat ons eers heelwat later besef het, (toe dit te laat was) is dat die huis waar die Von Trapps woon in die fliek, net af in die straat is. Oops. Maarnouja.

Vandaar is ons deur na Mozart se woonhuis, waar 'n mens ongelukkig nie mag fotos neem nie. Skade, want dis nogal 'n indrukwekkende uitstalling. Die toer neem jou deur die Mozart gesin se leeftyd in die huis, insluitende hul hele rits Europese toere, waar en wanneer Wolfgang wat geskryf het, en wys ook talle van die instrumente waarop hy gekomponeer het ('n klein 3 oktaaf orreltjie inkluis).

Vandaar is ons terug oor die river na die ou stad, vir 'n eerste stop by St. Peter en die hoof katedraal. Beide is natuurlik indrukwekkend, maar wat ek veral interessant gevind het in die Dom, is dat daar 5 orrels is: vier kleintjies aan die vier pilare naaste aan die altaar, en die vyfde een 'n grote agter in die katedraal. Wat nog meer interessant is, is dat al 5 orrels tegelyk gespeel kan word, maar dat enigeen van die vier kleintjies ook die grote kan beheer. Heel indrukwekkend.

Na vier dae van harde toer was ons taamlik moeg, en dus besluit om die res van die aand (na 'n ligte aandete in die Australiese restaurant) af te neem en rustig die 20h00 vertoning van "Sound of Music" in die jeughostel te geniet, waarna ons die Maandag-oggend vroeg teruggevlieg het Koeln-Bonn toe.

Thursday, May 10, 2007

Salzburg: Donnerstag und Freitag


IMG_0596, originally uploaded by tstander.

Nouja, na Sparky se verdwyning moes die lewe aangaan, en 06h40 Donderdag-oggend het ek en Sheena die 45 minute vlug na Salzburg onderneem.

Aangekom op die lughawe, was die eerste stap om Salzburg kaarte te bekom. Met hierdie 21-29 Euro kaarte (afhangende van of jy 24, 48 of 72 uur kaarte koop) bekom jy gratis openbare vervoer, asook gratis toegang tot amper 50 museums in Salzburg en belaglike kortings op hekgelde by al die res. In kort, 'n moet vir elke besoeker. Eintlik was dit stap 2 (na ontbyt), siende dat die winkel wat dit verkoop eers 9h oopgemaak het, maar dit was hoog op die prioriteitslysie.

'n Ander ding wat ek onmiddellik op die lughawe agtergekom het, is dat ek baie makliker oor die weg gaan kom hier in Oostenryk as in Duitsland. Nie net is alles (en ek bedoel ALLES) tweetalig in Duits en Engels nie, maar die Oostenrykers praat ook heelwat stadiger as die Duitsers, wat dit makliker maak om te volg.

Maar om die mense beter te verstaan, help jou ook partykeer van die wal af in die sloot. So het ons, op die bus oppad na die hoof treinstasie, 'n aankondiging gehoor dat daar by een van die stoppe 'n oorklim moontlikheid is na die... hoof treinstasie. Natuurlik was ek so opgewonde oor hierdie afkondiging dat ek ons onmiddellik laat afklim het om te wag vir die volgende bus. En die volgende bus het ook hoofstasie toe gegaan... maar eers op die terugwaartse tog. Ons het dus die scenic roete geneem hoofstasie toe, via die Ikea en sokkerstadion op die buitewyke van die stad. Wat natuurlik op hierdie busse nie help nie, is dat die stoppe nie aangekondig of op 'n skerm vertoon word nie. Daar's nie eens 'n kaart van die roete binne die bus nie. Jy moet maar raai waar om af te klim as jy nie die plekname op die bushalte se bordjies langs die straat betyds raaksien nie.

By die hoofstasie aangekom, het Sheena hierdie keer die regte bus geraai, en 'n kort stappie later was ons ingeboek by die jeughostel. Teen hierdie tyd was ons taamlik pê ('n bietjie lanklaas geslaap) en het ons besluit die aangewese ding om te doen sou wees 'n uiltjie knip.

'n Paar uur later, fris en uitgerus, het ons die pad gevat na die eerste besienswaardigheid op ons lysie: Die bergvesting langs die ou stad. Hohensalzburg sit letterlik op 'n berg, omring deur die stad. Daar is 'n trollie wat jou teen die berg opneem om daar uit te kom, maar ons het besluit om eerder die scenic opsie te neem en dit uit te stap. Oppad soontoe, kon ons die hekke in Nonnental sien waar, in "The Sound of Music", Maria die klooster verlaat vir die eerste keer.

Bo aangekom, het ons ons weg gebaan deur die binnehowe en die museums binne-in die vesting. Die grootste daarvan is die "gewone" museum, wat die konstruksie van die kasteel en die lewe van die verskillende inwoners uitbeeld. 'n Ander interessante museum daar, is die marionet museum, waar jy die kans kry om jou behendigheid self te toets (en nuwe respek te ontwikkel vir wie-ook-al die poppe laat dans het in die fliek).

Van daar het ons tog besluit om die spoor terug te neem na die onderste deel van die stad, waar ons 'n bietjie rondgeloop het in die oustad tot met aandete by die plaaslike sokkerklub se kroeg. 'n Tipiese woonbuurt pub, met almal wat die dag se sokker bespreek en wedstryde dophou op die ou TV in die hoek.

Vrydag was ons behoorlik uitgerus, en reg om nog 'n groot toeristebestemming aan te pak: Die 1320m rit op met die kabelkarretjie op na die toppunt van Untersberg. Behalwe vir die uitsig vanaf die drie verskillend pieke, was 'n reuse hoogtepunt van hierdie uitstappe natuurlik die sneeu wat nog plek-plek die berg bedek het... plus die geleentheid vir 'n sneeugeveg. Vandaar is ons terug middestad toe vir middagete (ons was die hele oggend op die berg) en 'n bootrit op die Salzach.

Die boot is 'n bietjie van 'n tegniese wonder, en verdien haar eie paragraaf. Dis ontwerp spesiaal vir die rivier, siende dat die rivier taamlik vlak kan raak in somer. Met 70 passasiers, is die romp van die boot nooit meer as 37cm onder die watervlak nie. Nog beter, by volspoed, verminder dit na 17cm. Ek hoop daardie ingenieur het 'n vet tjek gekry vir daardie ontwerp.

Die bootrit neem jou al met die rivier langs deur die stad, en vertel jou tussendeur 'n bietjie van die geskiedenis, veral oor die soutmyne en hoe die sout vervoer is op die rivier. Een van die interessantste stories, is dat die soutmyne net bootmanne aangestel het wat NIE kon swem nie, om hulle te motiveer om die boot aan't dryf te hou in slegte weer. Natuurlik het 'n hele klompie so verdrink, maar in daardie tye was die sout belangriker as die mense. Of so iets.

Nouja, van die bootrit het ons Mozart se geboortehuis gaan sien. Dis 'n vreeslike jammerte dat 'n mens nie daar binne mag fotos neem nie, want ek sou so graag daardie bizarre affêre met almal wou deel. Die toer begin heel onskuldig: histories ingerigte kombuis, hoofslaapkamer ens, maar die illusie van "normaliteit" word vinnig gestroop wanneer jy by Mozart se babakamer kom. Daar's 'n cot in die middel van die vertrek, en binne-in lê hierdie sieklik, sieklik, sieklike wit, misvormde pop en loer vir jou met sulke booooose ogies. Plus, daar hang 'n blou neon stralekrans bo sy kop. Dit raak net afdraand van hier.

Die uitstallings in die daaropvolgende kamers sluit in 'n tipe donkerkamer, met spieëls wat outydse rokke verlig deur weerkaatsings van versteekte ligte, gevolg deur 'n onderstebo kamer (die meubels is onderstebo, en teen die plafon sit daar 'n gipsuitbeelding van die stad, kompleet met geboue, bome en mensies). en 'n klavierkamer met vreemde kartonuitknipsel figure: een van 'n man met 'n voorlaaier gerig op 'n vrou, en die ander van 'n hond wat lyk of dit pie op die klavier.

Soveel vreemdheid kan een mens net vir 'n rukkie verduur, en ons het daaruit geglip na die wasmuseum langsaan. Die toer (begelei deur 'n klein spraaktoestelletjie wat monitor waar jy loop en die toergids se stem speel soos jy aangaan) lei jou deur allerlei aspekte van 18e eeuse Salzburg, met behulp van waspoppe. Jy loop deur 'n straatjie en sien al die vakmanne besig met hul werk, waarna jy 'n herehuis besoek vir 'n dinee. Daarna word jy op 'n toer deur die wêreld van Mozart se Towerfluit geneem, insluitend 'n tonnel waarvan die muur rondom jou draai en jou vreeslik disoriënteer. Maar baie opwindend, en definitief 'n besoek werd.

Ons het ons 'n bietjie misgis met die tyd, en te laat opgedaag by Mozart se woonhuis om die laaste toer mee te maak. Natuurlik moes one hierdie teleurstelling verdrink in 'n eg Oostenrykse bier. Hier rond word die mense al deur Stiegl Pils gewalg sedert 1452, met 'n smaak wat jou 'n bietjie herinner aan afgewaterde Castle. Hoekom dit so lang oorleef het, weet nugter alleen, maar hierdie een sal nie binnekort op my lysie van gunstelinge verskyn nie.

Van daar is ons in die "nuwe" stad in aan die ander kant van die rivier ("nuwe", hier rond, beteken die geboue is slegs 100 of 200 jaar oud) na 'n restaurant vir 'n lekker aandete, vanwaar ons terug is jeughostel toe.

Wednesday, May 9, 2007

Auf Wiedersehen, Sparky


100_1356, originally uploaded by tstander.

Met hierdie post begin ek uiteindelik met ons toer in Oostenryk. Maar om hierdie verhaal te begin, moet ek begin met seker een van die hartseerste gebeurtenisse van my tyd hier in Duitsland: die skielike verdwyning van Sparky.

Slim kjend wat ek is, het ek ons vlug uit Köln (hierna Koeln) uit bespreek vir 06h40 Donderdag-oggend, wat beteken ons moes al 04h40 by die lughawe wees (internasionale vlug). Die probleem met daardie tyd van die oggend vlieg is nie soseer die vroeg opstaan nie, maar die snaakse tye wat die treine ry. Gewoonlik kry jy elke halfuur 'n direkte trein na die lughawe vanaf Wuppertal, maar daardie tyd van die oggend ry die treine net deur Duesseldorf, en dan ook net elke 2 ure. So, die 3h trein sou ons 05h30 by die treinstasie besorg het, wat te laat was, dus moes ons die 1h trein haal.

So gemaak, het ons aangekom op Koeln-Bonn lughawe, en oudergewoonte moes Sparky vir 'n paar fotos poseer. Kort daarna het ons gegaan vir koffetjie by een van die kafees in die lughawe. Toe ek egter weer vir Sparky wou afneem op die tafel met die feesmaal, was hy weg. Hy was nêrens in my rugsak of groot tas nie, ook nie op die grond of naby die kafee nie. Sparky was skoonveld.

Die enigste logiese verduidelikings vir sy verdwyning sou wees dat hy gatvol geraak het vir óf my geselskap óf Duitsland, of hy't net eenvoudig besluit Oostenryk is nie vir hom nie, en die eerste en beste vlug gekies na iewers sonnig en warm. Hoe dit ook al sy, Sparky het op daardie Donderdag-oggend uit my lewe verdwyn.

Sparky, as jy hierdie blog lees: Ek mis jou, ou pêl. Na 10 jaar saam was dit laakbaar van my om jou nie beter op te pas nie. Ek's jammer ek het jou by die huis vergeet toe ons Beyenburg toe is. As ek geweet het jy wil nie Oostenryk toe gaan nie, sou ek jou by die huis gelos het met genoeg kos en flieks om jou vir 'n maand te hou.

Maar, as jy nie terugkom nie, hoop ek iemand anders wys jou dele van die wêreld wat ek jou nie kon wys nie. Veilig reis, moenie vergeet om elke maand of so te bad nie, en stuur 'n foto (of selfs 'n poskaart) elke nou en dan.

KEIN Peppermint Crisp Torte


100_1512, originally uploaded by tstander.

Hiermee die verhaal van (wat veronderstel was om te wees) die onmoontlik-om-te-flop Peppermint Crisp tert wat ek vir almal by die kantoor sou neem op my verjaardag.

Soos in meeste ander kantore wêreldwyd, is die gebruik hier dat jy koek bring met jou verjaardag. Die oorspronklike idee was dat ek die Duitsers hier verras met tradisionele Suid-Afrikaanse gebak. Twee goed het my egter verhoed om my gastronomiese genie uit te leef.

Eerstens, is SA gebak SA gebak omdat meeste van die bestanddele eg SA is. Dis vrek moeilik om party goed hier in die hande te kry, wat jou keuse van koeke taamlik inperk. Wat my egter meer ingeperk het as dit, is die feit dat ons kombuis hier toegerus is met 'n 2 plaat stoof, 'n yskas, en 'n wasbak. Geen oond, geen mikrogolf, selfs geen ketel of toaster. Die maklike (en vinnige) uitweg was dus om maar 'n yskastert of wat te maak.

Die flaters het al begin selfs voordat ek by Penny ingestap het om die bestanddele te gaan koop. Die pakkie van Ma met die Peppermint Crisp (jy kry dit glad nie hier nie) het nie opgedaag nie, wat beteken dit sou van die begin af nie 'n Peppermint Crisp tert wees nie. Maar dit sou nie die einde wees nie.

Penny se vars room was op. Die enigste room wat ek kon kry, is die blikkie spuitroom. Gegewe dat die room in elkgeval styfgeklits moes word, het ek dit nie as 'n reuse struikelblok beskou nie, en die blikkie geneem. Die koekies (hoewel nie heeltemal dieselfde nie) was ook, na my opinie, heeltemal voldoende vir die taak. Ek het my egter begin vasloop in my soeke na kondensmelk. Die kondensmelk wat 'n mens hier kry is baie dunner as waaraan ons gewoond is, en nie versoet nie. Nie dat dit saak sou maak nie, siende dat ek die voorste stuk van die inskrywing KARAMELkondensmelk gemis het.

Tuis aangekom, het dinge nie verbeter nie. Die room (uit die spuitkannetjie) wou nie weer styf klits nadat ek die (verkeerde) kondensmelk daarby gegooi het nie. Ook, sou ek agterkom toe ek dit begin rasper, is die peppermint in die sjokolade 'n sagte, romerige storie, en nie crispy nie. So, nadat ek dit maar in blokkies gekap het, was dit tyd om uit te skep in pasta borde (siende dat ek nie ander diep glasbakke gehad het nie).

Die eindresultaat word op die foto getoon. En ek dink niemand sal my blameer dat ek maar eerder 'n paar terte by Penny gaan koop het en saamgeneem het die volgende dag nie.

Nou, 'n gewone mens sou die verhaal laat eindig het hier (met, miskien, 'n gevleuelde beskrywing van hoe daar onmiddellik met die misbaksels weggedoen is), maar hierdie storie het 'n vreemde nadraai. Ek het besluit om die storie te proe. Dit, opsigself, is seker vreemd genoeg. Selfs vreemder as dit, egter, is dat die misbaksel (behalwe natuurlik vir die loperige tekstuur) PRESIES soos Peppermint Crisp tert proe.

Raar, maar waar...

Beyenburg


IMG_0310, originally uploaded by tstander.

As 'n Maitag (1 Mei) uitstappie, sny ek en Sheena laas Dinsdag (jip, ek's besig om in te haal!) 'n lyn af na Beyenburg. Hierdie is tegnies 'n deel van Wuppertal, maar sit heeltemal buite die stad, en het amper 'n plattelandse atmosfeer. Beste deel is, dis net 'n halfuur vanaf die hoofstasie (10 minute schwebebahn, 20 minute bus). Ek kan heeltemal verstaan hoekom ons dept. sekretaresse hier dit aanbeveel het.

Wat sy egter nie genoem het nie, is die meer wat al langs die dorpie loop. Stausee (die meer) is 'n gunstelingbestemming vir kanovaarders in die omgewing. En 'n mens kan heeltemal verstaan hoekom. Dis lieflik. Net jammer jy kan nie by die grasperke rondom die meer uitkom as jy nie 'n klublid is nie.

Na 'n wandeling langs die meer het ons onsself eers dikgestop aan roomys by 'n winkeltjie langs die meer, waarna ons die energie kon afloop met 'n wandeling om die dorpie se pragtige ou huise te aanskou.

Verder vertel die fotos die storie.

Braai 2


100_1333, originally uploaded by tstander.

Sondag-aand, nadat ons teruggekom het van Schloss Burg, het ons (ek, Roman, Mischa en Sheena) op die balkon gebraai. Gegewe die wind en die mense wat begin kla het oor al die warm as wat op hulle waai, was dit miskien nie so 'n goeie idee nie. Volgende keer sal ons 'n terugkeer maak tot die tuin.

Ten minste was die vleis lekker, en die braaibroodjies (hierdie keer het ek vooraf die uie en tamatie gebraai) voortreflik.

Schloss Burg


IMG_0212, originally uploaded by tstander.

Daar's 'n paar dinge wat jy moet beleef in Europa. Een van hulle is definitief 'n besoek aan 'n middeleeuse kasteel.

Dit is waarom ek en Sheena laas Sondag die trein geneem het na Solingen (opsigself 'n pragtige dorpie, definief besienswaardig), en van daar die bus uit verby die endpunt van die dorp tot by Schloss Burg, 'n ou middeleeuse kasteel.

Daar's twee maniere om bo-op die bult uit te kom waar die kasteel is (terloops, die kasteel neem nie die hele bult in beslag nie... dis omring deur 'n klein dorpie). Die een, is om die bult te klim, die ander, met die ski-lift. Nou, gewoonlik sou ek nie 'n probleem hê met 'n bietjie voetwerk nie, maar die herinnering aan die bult wat ek moes klim om by die kantoor te kom, was 'n bietjie vars in die geheue, so algemene konsensus was dat ons retoer kaartjies kry vir die ski-lift. 'n Avontuur op sy eie, maar heel gerieflik en veilig. Of so is ons vertel.

Bo aangekom, het ons eers 'n bietjie die omgewing rondom die kasteel verken. Soos die manier nou maar was, is daar voorhowe rondom die kasteel, waar elke peasant sy goedjies kon verkoop in die ou dae. Netso vandag, is daar allerhande stalletjies waar mense enigiets met 'n middeleeuse tema (kristalle, messe, leerware, selfs middeleeuse klere en kos) kan verkwansel aan die toeriste. Wat hierdie dag effens meer besonders gemaak het, is dat daar 'n heksefees aan die gang was, wat beteken dat alles (bo en behalwe die middeleeuse tema) 'n heksetema ook gehad het. Plus, natuurlik, die klomp ou (en nie so oud) tannies wat rondgeloop het met lang neuse en snaakse klere. Die fees het ook gesorg vir akrobate en 'n verhoog met 'n live band wat (behalwe vir die baskitaar) op "regte" middeleeuse instrumente musiek maak. En die eerste sluk van hul bier op die verhoog stort as 'n offer aan die gode van die son en die natuur. Maar dit daar gelaat.

In by die hekke van die kasteel self, het ons eers 'n bietjie die voorhowe verken. Hoogtepunte hiervan was definitief die middeleeuse smit wat sy werk doen reg voor jou, asook die ouens met die wapentuig. En dan, natuurlik, die mense wat die kristalle en middeleeuse klere verkoop. En kilts... snaaks genoeg, probeer die mense aan jou kilts verkoop. Nie seker hoe dit inpas by middeleeuse Duitsland nie, maar gegewe wat ek daardie dag al gesien het, het niks my meer verbaas nie.

Wat 'n mens stadig maar seker begin agterkom het, egter, is dat nie almal wat opgedress is in middeleeuse klere, akteurs en museumpersoneel is nie. Baie van hulle (lyk dit vir my) is net gewone (oftewel, "gewone") mense wat op 'n Sondag hul gunsteling middeleeuse mondering (hetsy as heks, ridder, peasant, handelaar, barbaar of wat-ook-al jy voor lus is die dag) aantrek en die dag spandeer by die naaste kasteel. Elke mondering sluit natuurlik 'n versierde drinkhoring (beeshorings, uitgehol) in, waaruit jy jou tradisionele swartbier kan nuttig. Wat jou egter die meeste bekommer, is dat hierdie mense wat so snaaks aantrek en soveel bier drink, elkeen 'n lem van een of ander aard aan hul middeleeuse gordels dra. Die lemme wissel van vrugtemessies vir die peasants, tot lang swaarde vir die ridders, tot byle vir die barbare en versierde dolke vir die edelmanne. As jy ooit rede gesoek het om bekommerd te wees oor Duitsland, besoek 'n kasteel op 'n sonskyn dag. En wees gereed om bevrees te wees.

Minder vreesaanjaend, was die toer deur die kasteel, ingerig as 'n museum van die binnekant. Op hierdie toer kry jy nie net kans om die uitsig van die omgewing te geniet van die kasteel se hoogste torings en loopvlakke nie, maar ook om aspekte van die kasteel se bestaan oor die afgelope paar eeue (aptekerswese, landbou, wapentuig en verdediging, lewensstyl van die gewone mense en selfs Romeinse uitgrawings) te aanskou. Definitief die moeite werd.

Na 'n vinnige ete en 'n biertjie buite (uit ons splinternuwe drinkhorings... ons kon nie die geleentheid laat verbygaan nie) het ons die seilbaan weer afgeneem na die vallei, en vandaar die bus en Schwebebahn terug na Wuppertal, net betyds vir Mischa se braai.

Tuesday, May 8, 2007

Düsseldorf im Tag


IMG_0171, originally uploaded by tstander.

Saterdag (dis nou verlede Saterdag) besluit ek en Sheena toe om misbruik te maak van my gratis vervoer deur die VRR streek, en besluit om die dag in Düsseldorf (hierna Duesseldorf... sien my post oor Köln / Koeln) te spandeer.

Eerste stop na aankoms was die beroemde Altstadt (ou stad) wat, heel onvoorspelbaar (volgens my formule) NIE reg langs die hoofstasie was nie. Nietemin, na 'n kort rit op die U-bahn, het ons dit bereik, en ons verkyk aan al die ou geboue en loopstraatjies.

Tydens 'n wandeling deur die stad se ou tuine (Hofgarten: vreeslik mooi, en baie, baie groot) het ons net weereens besef het dat die manier om Europa te sien, vanaf 'n fiets se saal is. Veral hier langs die rivier, waar als so plat is.

Siende dat ons juis hierdie platheid soveel bewonder het, het ons besluit om die oorsaak daarvan te gaan opsoek: dit was tyd om die rivier te sien, oor te steek, ietsie by 'n supermark te koop en te gaan piekniek hou op die rivier se oewer.

Langs die rivieroewer (die oostelike kant... wes is die ou stad gebou tot op die oewer) is daar 'n groot, oop, plat stuk, wat lyk of dit op 'n stadium gebou is as 'n tipe markplein (te oordeel aan die steenwerk straatjies). Rondom dit is dit egter oop stukke groen grasperk, met baie bome, waar ons toe ons middagete gaan nuttig het.

Hierdie rivieroewer is baie populêr onder die Duitsers, veral onder middeljarige mans met boepe in Speedo's. Gelukkig was daar 'n kraal met skape daar naby om ons aandag daarvan af te lei. Wat my ook opgeval het, is dat die mense die rivieroewer as 'n tipe strand beskou, en selfs gaan swem in die rivier. As jy niks gewoond is nie, is dit seker die ding om te doen, maar knie-hoogte was genoeg om my behoorlik te laat gril vir daai water. Dit, en die omies in die Speedo's, was genoeg rede om myself nie soontoe te wend vir lafenis nie.

Dik geëet en deeglik vermaak, baan ons toe ons weg terug oor die rivier na die promenade aan die ander kant van die rivier (wat blykbaar 'n populêre plek is om rollerblade hokkie te speel... die een wat die meeste toeriste tref koop seker die aand se rondte bier) voordat ons nog eenkeer deur die oustad is om by Königsallee uit te kom. Hierdie straat, weerskante van 'n kanaal, is gebou deur Napoleon, maar is vandag meer soos 5th Ave. Manhattan: die grootste modeontwerpers en parfuumvervaardigers het almal boetieks in daardie straat. Definitief 'n plek waar jy jou beursie diep in jou sak moet hou.

Teen hierdie tyd was ons taamlik pê, maar 'n vinnige koffetjie by 'n Chinese restaurant het ons genoeg krag gegee om een laaste trippie aan te pak: uit die stad uit (hierdie keer op die trem), na Schloss Benrath.

Hierdie pienk paleis is alleen amper die uitstappie Duesseldorf toe werd. Dit is omring deur die grootste, pragtigste Franse tuine, en 'n wandeling hierdeur was net die regte ding om die dag mee af te sluit. Wel, dit, en die pizza wat ons opgetel het by die Griekse plekkie oppad huistoe. En die Black Adder reeks 4 marathon.

Besucherin aus Kanada


100_1228, originally uploaded by tstander.

Raait, so:

Ek het baie lanklaas hierdie blog opdateer. Daarvoor vra ek innig om verskoning, maar dinge het 'n bietjie dol gegegaan die afgelope twee weke.

Sheena, 'n vriendin uit Kanada, is oppad na Australië vir 'n nadoktorale genootskap by 'n universiteit in Melbourne. As deel van haar navorsing, moet sy literatuur kom soek by twee biblioteke in Duitsland. Gelukkig kon sy 'n bietjie tyd afknyp vooraf sodat ons 'n bietjie kon toer voordat sy met haar werk moet begin.

So, oor die volgende dag of drie, gaan ek stories en fotos oplaai van ons avonture die afgelope tyd. Dis 'n verhaal van opwinding en vermaak, maar ook met 'n tikkie verlies en hartseer... maar laat ek myself nie vooruithardloop nie.

Lees, kyk en geniet!