Friday, May 25, 2007

Letzte Freitag


100_1822, originally uploaded by tstander.

Hierdie dag het goed begin, en 'n paar rowwe uiterstes van goed en sleg bereik.

Goed begin, want middernag was ek (en my bottel wyn uit Chile, en 'n hele groot klomp ander internasionale studente) nog op die grasperk buite die Wohnheim, om die braaivleisvuur, besig om nonsens te praat en bratwurst stukkies van die kole af te eet. 'n Beter afskeid kon ek nie voor gevra het nie.

Later daardie oggend (seker so 10h se kant) het dinge sleg gedraai. Ek's "gou vinnig" internasionale kantoor toe (daai vriendelike mense waarvan ek drie maande gelede geskryf het) om my registrasie te gaan kanselleer, om 'n deel van my vervoerdeposito terug te eis. Na een en 'n half uur in die tou (daar's twee dames om die studente te help, maar net een het vanoggend studente gesien), is ek toe in, al die regte vorms ingevul en geteken, en aangesê om my pad te vind na die AStA kantoor om dit terug te eis.

Ek't al vir 'n lang tyd vermoed hierdie klomp by die universiteit is maar 'n ou lui spul, maar ek kon nog nie konkrete bewyse vind tot vandag nie. Nou het ek dit: AStA was vandag toe. Heeldag. Soos hulle is ELKE Vrydag. Wat daai ander vrou (ek dink) baie goed geweet het voordat sy my soontoe gestuur het.

Nouja, natuurlik was dit nou tyd om my probleem haar probleem te maak, en ek sny weer 'n lyn (dis nou al 15 minute voor toemaaktyd vir hulle) om haar te vertel AStA is toe, en hoe nou gemaak?

"Nee, ek's jammer, dis nie my verantwoordelikheid nie. As jy dit nie self kan gaan terugeis Maandag nie, het jy dit nou maar verbeur." Skouers opgetrek tot verby haar ore, natuurlik.

"Kan julle nie dalk die vorms vir my aanstuur nie?"

"Nee, jammer, dis 'n heeltemal ander afdeling, ons het niks daarmee te doen nie, ons kan jou nie help nie."

So, dames en here, hiermee dan konkrete bewyse. Universiteitsadministrasie is ewe LUI, ewe INGAT en ewe STRONT oral. Vermy soos die pes.

Gelukkig loop ek een van die Internasionale Kantoor se studenteassistente raak oppad uit, en deel toe met haar my hartseer storie. "Wat? Nee man, geen probleem nie. E-mail my jou posadres, en ek stuur die vorms vir jou aan volgende week." Rebekka, dankie. Ek hoop hulle betaal jou genoeg om die vriendelikheidsverantwoordelikheid van die hele kantoor na te kom.

Na al daai drama, het ek eers omtrent middagetetyd by die kantoor aangekom: net betyds vir my afskeidskoek. My toespraak was kort en kragtig ("Dankie, dit was baie lekker, ek sal verseker terugkom eendag, daar's genoeg slaapplek vir almal in my flat in 2010"), waarna die terte vinnig verdwyn het.

Dit was kort nadat ek my tweede of derde formule van die dag in my verslag geskryf het, dat ek besluit het dit is NIE hoe ek my laaste dag in Wuppertal wil spandeer nie. Ek besluit toe om heeltemal spontaan te wees, die bus te neem stasie toe, op die eerste trein te klim, en te ry tot dit stop. So beland ek toe vanmiddag in Hagen.

As die poskaarte op die stasie net fotos van steenkoolmyne en steenkoolmyners op het, moet jy al begin bang raak. Selfs beter, jy moet omdraai, en die volgende trein terugneem, voordat jy geskend word deur die stad. Ek was nou die afgelope tyd nie bekend daarvoor dat ek altyd die slim opsie neem nie, en vaar toe die stad in.

Te oordeel aan wat ek daar gesien het, lyk dit my die mense doen net vier dinge in Hagen: drink, dobbel, pimp hulle karre, en myn steenkool. Wat natuurlik geen tyd oorlaat vir enigiets besienswaardig bou, of selfs 'n park onderhou, nie. Die "historiese ou stad" lyk soos 'n grensgeval krotbuurt, dis vuil oral, en dit lyk net oor die algemeen nie soos die tipe plek wat jy op 'n poskaart sou sit nie... dus, die myne en myners.

Vinniger was ek nog nooit by 'n plek uit nie, maar tog het ek gevoel ek moet iets doen met die res van die namiddag. Toe besluit ek, oppad terug, om af te klim in Schwelm.

As daar nou 'n plek is wat verdien om op 'n poskaart te wees (en wat 'n jammerte ek kon nie sulke poskaarte vind nie), dan is dit Schwelm. Die stad begin sommer reg, met 'n groot park reg langs die treinstasie. Mooi ou geboue al die pad tot by die ou stad, en DAN skop die beïndruk-faktor eers in. Die fotos vertel die verhaal, maar hierdie plekkie (met sy duisend klein kroeggies al langs die pad) is hoog op my aanbevelingslys vir enige besoeker aan NRW.

Nou, moet ek hier opstaan, my hare 'n laaste knip gee, die woonstel skoonmaak (iets wat ek 'n bietjie lanklaas gedoen het, besef ek nou) en inpak. Pret.