Friday, May 18, 2007

Berlin Samstag


100_1632, originally uploaded by tstander.

Saterdag-oggend vroeg sit ek en Petro toe weer af met ons geliefde S-bahn, om hierdie keer te voet en te bus die deursnit van die stad te verken. Eerste stop Breitscheidplatz en die Kaiser-Wilhelm-Gedächtniskirche, 'n ou gedeeltelik uitgebomde kerk wat tans dien as 'n gedenkmaal. Van hier is ons vinnig (die reën hier rond het 'n geneigdheid om jou spoed te verbeter) na die ingang van die dieretuin.

Knut-maina het hierdie land behoorlik beetgepak, dus is dit miskien die moeite werk om 'n paragraaf daaraan af te staan. Vir die wat nie weet nie: vir die eerst keer 'n baie lang ruk, is 'n baba ysbeer gebore in die Berlyn dieretuin. Die klein mannetjie, genaamd Knut, het 'n reuse media- en bemarkingsfoefie geword, soveel so dat die een ou wat saam met my in die kamer was in die jeughostel, na Berlyn gekom het NET om die ding te sien. Die enigste logiese rede hoekom daardie wit rot soveel aandag kan geniet, moontlik, is dat almal wonder wat hulle vir hul rotte by die huis kan voer sodat dit ook so groot kan word. Dit, of almal wonder wat van die ding se stert geword het.

Hoe dit ook al sy, daai ding het veroorsaak dat hekgeld by die dieretuin 20 Euro is, wat al begin vergelyk met my retoer treinkaartjie na Berlyn. Na deeglike besinning en oordenking vir 'n volle oomblik en 'n half, het ons dus besluit dat ons maar vir Knut moet sien via die miljoene plakkate, poskaarte en speelgoed oral in die stad.

Om die teleurstelling dat ons die rot 'n skip moes gee, te verwerk, baan ons toe maar ons weg na Großer Stern ('n groot verkeersirkel) en die Siegessäule ('n groot toring, bo-op die sirkel). Dis seker een van Berlyn se beroemdste landmerke, so ons het moeite gemaak om deur die tonnels onderdeur die pad te loop tot by die toring, maar nie voordat ons 'n paar fotos geneem het van die Ampelmännchen nie.

Die Ampelmännchen was die kenmerkende verkeersmannetjies van Oos-Berlyn. Waar Wes-Berlyn die gewone mannetjies (soos in die res van Duitsland, en wêreldwyd) het, het Oos-Berlyn 'n mannetjie wat duidelik 'n hoed dra, net een arm het as hy stap (hy's dan groen ook) en die arm weer teruggeroei en beide wyd sprei as hy stilstaan (en rooi verkleur). Na vereniging, wou die mense aanvanklik die Ampelmännchen vervang met die gestandariseerde verkeersligte, maar a.g.v. 'n sterk Ostalgie (nostalgie na allerlei dinge Oos-Duits) beweging is hulle behou, en selfs aangebring in sommige van die Westelike dele van die stad. Vandag kan 'n mens hulle koop op enigiets van koffiebekers tot t-hemde en yskasmagnete.

Vanaf Ku'damm het ons die 100 bus (een van die twee toeriste lyne) geneem na Schloß Bellevue (die presidensiële paleiswoning), maar vergeet om die stop knoppie betyds te druk en beland by die Museum vir Volkekunde. Hoewel die gebou baie interessant gelyk het van buite, het dit ook taamlik toe voorgekom. Hierdie onverwagte stop het ons egter kans gegee om al langs die Spree river terug te stap tot by Bellevue vir 'n paar kiekies onder die wakende oog van die polisieman wat die voorste grasperk patrolleer.

Toe was dit tyd om polities te raak, deur die 100 weer te neem tot by Platz der Republik. Hier, dig bymekaar, sien mens die Bundeskanzeleramt (Angela Merkel se kantoor), Bundestag (Federale parlement se kantore) en die ou grote, die Reichstag (die ou parlementgebou, wat nou net vir sittings gebruik word). 'n Mens kan net die laaste van die drie besoek, ongelukkig, en siende dat dit die ou grote is, is daar permanent 'n ou grote ry voor dit. Wat natuurlik tot die lengte van die ry bydra, is dat gratis is om te besoek. Siende dat ons nie twee ure in die reën as 'n aangename tydverdryf beskou het op daardie stadium nie, het ons die slim opsie geneem en eerder in die reën gestap al langs die Spree tot by die Friedrichstraat stasie.

Na 'n vinnige peusel aan eg Duitse (m.a.w, swak nagemaakte Engelse) fish & chips, het ons weer die trein geneem, hierdie keer na die Berlyn muur gedenkmaal en museum in die noorde van die stad. Wat hierdie stuk besonders maak, is dat die westelike en oostelike dele van die versperring (met die sg. "kill zone" tussen die twee mure) behoue gebly het. Oorkant die straat kan jy dan ook 'n paar verdiepings se trappe klim om bo-oor die muur te kan sien tot binne-in die "kill zone". Op die toerboekies staan daar oral dat 'n mens op die uitkyk moet wees vir 'n wagtoring, maar dit het ons nie gesien nie.

Terug in die middestad, was dit tyd om die groot besienswaardighede aan te durf. Aan die een punt van Unter den Linden ('n baie historiese straat in die middestad), kon ons die Brandenburger Tor van naby beskou, asook die vreemde mense in snaakse kostuums op Parisplatz reg voor die Tor. Jy kan daar 'n toer meemaak met 'n mannetjie aangetrek as Friedrich die Grote, afgeneem word saam met twee jonge dames (een aangetrek as 'n Amerikaanse MP, die ander as 'n Soviet ekwivalent), of net die snaakse ou in die silwer-gespuitverfde uniform dophou vir 'n rukkie. Deur die poort, het ons links afgedwaal na die Holocaust Gedenkmaal, 'n plein met 'n oerwoud van 2711 betonblokke wat jou met dieselfde tipe angs en melankolie vul as die onderste dele van die Joodse museum.

Hierdie hartseer het my natuurlik weer laat dink aan Sparky, en sy skielike verdwyning. Maar dit het my ook op 'n vreemde manier geïnspireer om voort te gaan met die lewe, en die vakante posisie van amptelike reismetgesel en reisfoto model weer te vul. So, van daar af is ek na 'n geskenkwinkeltjie reg langs die plein, om te begin onderhoude voer met van die potensiële kandidate.

Na 'n vinnige oorsig, het drie name dit op die kortlys gemaak: Olifant, Renoster en Hoender. Wat in Olifant en Renoster se guns getel het, was dat beide Afrika-diere was (soos ek self is), en twee euro goedkoper was as Hoender ('n heel billike 3 euro elk). Die probleem met hierdie twee kandidate was egter dat hulle 'n bietjie lig in die broek was... letterlik. 'n Vinnige ondersoek het getoon hierdie twee was net gevul met dons en wind, wat hulle 'n gevaarlike opsie maak vir fotos neem vanaf rivierbrug muurtjies op winderige dae. Hoender het my getref as meer solied van karakter (gevul amper soos 'n boontjiesakkie) en meer gehard vir die eise wat reis in my geselskap sou stel. So, na 'n goeie 10 minute onderhoud, is Huhn aangestel in die vakante pos.

Na 'n vinnige inhuldigingseremonie, het ons drie (Petro was nogsteeds met ons) die pad geneem na die Sowiet gedenkmaal in 17e Junie straat, vernoem na die 1953 opstande in Oos-Berlyn. Die ironie tref jou eers later, dat 'n gedenkmaal vir die Sowiet weermag gebou is in dieselfde straat wat vernoem is na die opstande wat hulle so wreed onderdruk het. Ten minste is daar 'n paar ou tenks en kannonne om die besoek die moeite werd te maak.

Nouja, van daar was dit tyd om Unter den Linden van endpunt tot endpunt te stap. Interessant genoeg, het 'n skare betogers daardie dag gedink ons het 'n goeie idee beet, en besluit om dieselfde te doen. Blykbaar word een of ander ou iewers terregestel, en hulle is nie gelukkig daarmee nie. Maarnouja.

Verby die Berlynse staatsbiblioteek en "Ou Fritzie" (Die standbeeld van Friedrich die Grote) is die Humboldt museum, en oorkant die pad, die Bebelplatz. Ons het ongelukkig ons kaartjies vir die Staatsopera vergeet, maar ons kon wel in by die St. Hedwig katedraal, wat opsigself 'n heel interessante ervaring was. Dis seker die modernste katedraal wat ek tot nou toe besoek het in Europa, met heeltemal 'n ander atmosfeer (amper meer soos 'n gereformeerde kerk, met heelwat minder versierings en beelde) as die ou katedrale.

Oor die Kasteelbrug het ons eers 'n kort wandeling geneem af met die tuine om by die Museumeiland uit te kom. Hoewel dit baie mooi gelyk het van buite af, het ons geweet dat daar net kunsmuseums daar is, en dat dit waarskynlik gevaarlik sou wees om te lank daar te vertoef. Ons het toe maar eerder teruggedraai en die Berliner Dom besoek: 'n pragtige ou katedraal, met 'n toer wat jou deur die gallerye en die koninklike grafte onder in die kelder neem. Wat dit meer besonders gemaak het, is dat ons daar opgedaag het tydens 'n kooroefening, en dus 'n bietjie van die pragtige akoestiek kon waardeer.

Op die ander punt van Unter den Linden kom 'n mens uit by Marx-Engels forum, 'n plein met 'n reusegroot standbeeld van Friedrich Engels en Karl Marx. Goeie kapitaliste wat ons is, moes ons eers foto's daar neem ook, waarna ons na die Nikolaikwartier (die historie middestad) is. Vandaar het ons gou die St. Marienkirche toe is. Hierdie kerkie se eenvoudige afwerking was nogal indrukwekkend: miskien juis omdat dit nie so (amper oormatig) versier is soos die meeste ander kerke van die tyd nie.

Natuurlik was dit toe tyd (na 'n vinnige stop om 'n sekere nikotienverslawing te voed) om die beroemde Alexanderplatz te besigtig, met die wêreldhorlosie. Ongelukkig was hulle besig met konstruksiewerk daar, wat 'n bietjie afbreek gedoen het aan die geleentheid. Wat wel interessant was, was dat daar 'n uitstalling op die plein was van die Duitse regering, oor hoe en waar hulle betrokke is in projekte in die ontwikkelende wêreld. Soos 'n mens maar te verwagte kon wees, is die uitstalling oorheers deur beelde van mense in hutte en bestaansboere, wat maar die algemene beeld van die ontwikkelende wêreld (veral Afrika) is hier.

'n Ander groot (letterlik) besienswaardigheid daar is die TV toring, met die kafeetjie reg bo-in waar jy kan gaan koffie drink vir 8 euro. En ons het in die toring gaan aandete nuttig... maar onderin, waar jy vir dieselfde prys twee groot döners met bier kan kry.

Laaste stop vir die aand was 'n woonbuurt in die voormalige Oos-Berlyn, waarvan ek eenkeer gehoor het in 'n liedjie in ons Duitskursus. Pankow is maar 'n woonbuurt (en, mens kom agter, effens minder gegoed as sommige van die ander dele wat ons nog sou besoek), maar dit was ook interessant om te sien hoe Berlyn lyk weg van die toeristebestemmings. Ons moes net van die geleentheid gebruik maak, en 'n biertjie gaan nuttig by Queens, met sy tropiese eiland afwerking.

Hierna het ons die pad terug Wannsee toe aangedurf... en wat 'n terugtog was dit nie!

As hulle werk in Duitsland aan 'n stuk van 'n spoorweglyn, bied die stad 'n busdiens tussen die spoorwegstasies waarlangs die trein nie meer loop nie. So ry ek en Petro toe met die S1 van Pankow na Potsdamer Platz, klim op die bus, en klim af by die volgende stasie om verder te ry. Ongelukkig het ons op die verkeerde bus geklim ('n ander treinlyn se bus), en klim ons toe af by 'n stasie waarvandaan die S1 nie ry nie. In sulke omstandighede moet mens maar die beste maak van 'n slegte saak, 'n bier koop by die kafeetjie langs die stasie, en dit op die eg Duitse manier op straat staan en drink (en jou beste doen om nie kommin te lyk nie, hoewel dit moeilik is) en wag vir die volgende bus.

Op eindelaas kom die bus daar aan, en ons ry tot by die volgende stasie. Soos ons op die S1 klim, verander die eindstop ewe skielik na 'n stasie 2 stoppe voor ons bestemming. Sulke vreemde goed het ons al gesien daar (ook dat 'n bordjie partykeer verander na "Moenie opklim nie" soos 'n trein intrek by 'n stasie, net om te sien hoe ander mense opklim en die trein doodluiters ry tot by die volgende stasie), en besluit om ons nie veel daaraan te steur nie. Ons moes maar: ons het inderdaad gestop by Zehlendorf, twee stoppe voor ons eindbestemming, en beveel om almal uit te klim. Alle indikasies was dat dit maar so ver is soos die S1 ry

Nou raak jy 'n bietjie bekommerd. Daar's busstoppe naby, maar geen kaart nie. Jy kan nie net lukraak op 'n bus klim nie, want dan beland jy op 'n plek waar jy dalk REGTIG nie wil wees nie (nie dat Zehlendorf 'n plek is waar jy wil wees nie, maar dit kan erger). En in die geskarrel tussen busstoppe op soek na 'n kaart, sien Petro dit raak: 'n S1 trein, wat soos wegtrek uit die stasie, oppad Wannsee toe. Dit was toe net ons geluk dat ons die een trein gekry het wat vroeg gestop het. Belaglik.

Die eindresultaat was dat ons WEER na middernag in die hostel teruggekom het, om vinnig uit te rus vir ons laaste dag in Berlyn.