Thursday, May 10, 2007

Salzburg: Donnerstag und Freitag


IMG_0596, originally uploaded by tstander.

Nouja, na Sparky se verdwyning moes die lewe aangaan, en 06h40 Donderdag-oggend het ek en Sheena die 45 minute vlug na Salzburg onderneem.

Aangekom op die lughawe, was die eerste stap om Salzburg kaarte te bekom. Met hierdie 21-29 Euro kaarte (afhangende van of jy 24, 48 of 72 uur kaarte koop) bekom jy gratis openbare vervoer, asook gratis toegang tot amper 50 museums in Salzburg en belaglike kortings op hekgelde by al die res. In kort, 'n moet vir elke besoeker. Eintlik was dit stap 2 (na ontbyt), siende dat die winkel wat dit verkoop eers 9h oopgemaak het, maar dit was hoog op die prioriteitslysie.

'n Ander ding wat ek onmiddellik op die lughawe agtergekom het, is dat ek baie makliker oor die weg gaan kom hier in Oostenryk as in Duitsland. Nie net is alles (en ek bedoel ALLES) tweetalig in Duits en Engels nie, maar die Oostenrykers praat ook heelwat stadiger as die Duitsers, wat dit makliker maak om te volg.

Maar om die mense beter te verstaan, help jou ook partykeer van die wal af in die sloot. So het ons, op die bus oppad na die hoof treinstasie, 'n aankondiging gehoor dat daar by een van die stoppe 'n oorklim moontlikheid is na die... hoof treinstasie. Natuurlik was ek so opgewonde oor hierdie afkondiging dat ek ons onmiddellik laat afklim het om te wag vir die volgende bus. En die volgende bus het ook hoofstasie toe gegaan... maar eers op die terugwaartse tog. Ons het dus die scenic roete geneem hoofstasie toe, via die Ikea en sokkerstadion op die buitewyke van die stad. Wat natuurlik op hierdie busse nie help nie, is dat die stoppe nie aangekondig of op 'n skerm vertoon word nie. Daar's nie eens 'n kaart van die roete binne die bus nie. Jy moet maar raai waar om af te klim as jy nie die plekname op die bushalte se bordjies langs die straat betyds raaksien nie.

By die hoofstasie aangekom, het Sheena hierdie keer die regte bus geraai, en 'n kort stappie later was ons ingeboek by die jeughostel. Teen hierdie tyd was ons taamlik pê ('n bietjie lanklaas geslaap) en het ons besluit die aangewese ding om te doen sou wees 'n uiltjie knip.

'n Paar uur later, fris en uitgerus, het ons die pad gevat na die eerste besienswaardigheid op ons lysie: Die bergvesting langs die ou stad. Hohensalzburg sit letterlik op 'n berg, omring deur die stad. Daar is 'n trollie wat jou teen die berg opneem om daar uit te kom, maar ons het besluit om eerder die scenic opsie te neem en dit uit te stap. Oppad soontoe, kon ons die hekke in Nonnental sien waar, in "The Sound of Music", Maria die klooster verlaat vir die eerste keer.

Bo aangekom, het ons ons weg gebaan deur die binnehowe en die museums binne-in die vesting. Die grootste daarvan is die "gewone" museum, wat die konstruksie van die kasteel en die lewe van die verskillende inwoners uitbeeld. 'n Ander interessante museum daar, is die marionet museum, waar jy die kans kry om jou behendigheid self te toets (en nuwe respek te ontwikkel vir wie-ook-al die poppe laat dans het in die fliek).

Van daar het ons tog besluit om die spoor terug te neem na die onderste deel van die stad, waar ons 'n bietjie rondgeloop het in die oustad tot met aandete by die plaaslike sokkerklub se kroeg. 'n Tipiese woonbuurt pub, met almal wat die dag se sokker bespreek en wedstryde dophou op die ou TV in die hoek.

Vrydag was ons behoorlik uitgerus, en reg om nog 'n groot toeristebestemming aan te pak: Die 1320m rit op met die kabelkarretjie op na die toppunt van Untersberg. Behalwe vir die uitsig vanaf die drie verskillend pieke, was 'n reuse hoogtepunt van hierdie uitstappe natuurlik die sneeu wat nog plek-plek die berg bedek het... plus die geleentheid vir 'n sneeugeveg. Vandaar is ons terug middestad toe vir middagete (ons was die hele oggend op die berg) en 'n bootrit op die Salzach.

Die boot is 'n bietjie van 'n tegniese wonder, en verdien haar eie paragraaf. Dis ontwerp spesiaal vir die rivier, siende dat die rivier taamlik vlak kan raak in somer. Met 70 passasiers, is die romp van die boot nooit meer as 37cm onder die watervlak nie. Nog beter, by volspoed, verminder dit na 17cm. Ek hoop daardie ingenieur het 'n vet tjek gekry vir daardie ontwerp.

Die bootrit neem jou al met die rivier langs deur die stad, en vertel jou tussendeur 'n bietjie van die geskiedenis, veral oor die soutmyne en hoe die sout vervoer is op die rivier. Een van die interessantste stories, is dat die soutmyne net bootmanne aangestel het wat NIE kon swem nie, om hulle te motiveer om die boot aan't dryf te hou in slegte weer. Natuurlik het 'n hele klompie so verdrink, maar in daardie tye was die sout belangriker as die mense. Of so iets.

Nouja, van die bootrit het ons Mozart se geboortehuis gaan sien. Dis 'n vreeslike jammerte dat 'n mens nie daar binne mag fotos neem nie, want ek sou so graag daardie bizarre affêre met almal wou deel. Die toer begin heel onskuldig: histories ingerigte kombuis, hoofslaapkamer ens, maar die illusie van "normaliteit" word vinnig gestroop wanneer jy by Mozart se babakamer kom. Daar's 'n cot in die middel van die vertrek, en binne-in lê hierdie sieklik, sieklik, sieklike wit, misvormde pop en loer vir jou met sulke booooose ogies. Plus, daar hang 'n blou neon stralekrans bo sy kop. Dit raak net afdraand van hier.

Die uitstallings in die daaropvolgende kamers sluit in 'n tipe donkerkamer, met spieëls wat outydse rokke verlig deur weerkaatsings van versteekte ligte, gevolg deur 'n onderstebo kamer (die meubels is onderstebo, en teen die plafon sit daar 'n gipsuitbeelding van die stad, kompleet met geboue, bome en mensies). en 'n klavierkamer met vreemde kartonuitknipsel figure: een van 'n man met 'n voorlaaier gerig op 'n vrou, en die ander van 'n hond wat lyk of dit pie op die klavier.

Soveel vreemdheid kan een mens net vir 'n rukkie verduur, en ons het daaruit geglip na die wasmuseum langsaan. Die toer (begelei deur 'n klein spraaktoestelletjie wat monitor waar jy loop en die toergids se stem speel soos jy aangaan) lei jou deur allerlei aspekte van 18e eeuse Salzburg, met behulp van waspoppe. Jy loop deur 'n straatjie en sien al die vakmanne besig met hul werk, waarna jy 'n herehuis besoek vir 'n dinee. Daarna word jy op 'n toer deur die wêreld van Mozart se Towerfluit geneem, insluitend 'n tonnel waarvan die muur rondom jou draai en jou vreeslik disoriënteer. Maar baie opwindend, en definitief 'n besoek werd.

Ons het ons 'n bietjie misgis met die tyd, en te laat opgedaag by Mozart se woonhuis om die laaste toer mee te maak. Natuurlik moes one hierdie teleurstelling verdrink in 'n eg Oostenrykse bier. Hier rond word die mense al deur Stiegl Pils gewalg sedert 1452, met 'n smaak wat jou 'n bietjie herinner aan afgewaterde Castle. Hoekom dit so lang oorleef het, weet nugter alleen, maar hierdie een sal nie binnekort op my lysie van gunstelinge verskyn nie.

Van daar is ons in die "nuwe" stad in aan die ander kant van die rivier ("nuwe", hier rond, beteken die geboue is slegs 100 of 200 jaar oud) na 'n restaurant vir 'n lekker aandete, vanwaar ons terug is jeughostel toe.