Monday, August 6, 2007

Hawaii Sondag


100_2439, originally uploaded by tstander.

Nog 'n dag, nog 'n vroeg opstaan. Hierdie keer was dit darem eers 6h, waar dit 4h15 sou wees as ons op die begeleide toer gegaan het van die groot eiland. 7h kon ons 'n taxi haal lughawe toe, 9h was ons op die vliegtuig, en kort voor 10h00 was ons al daar. Was jou eerste tref van Hilo lughawe, is dat daar groot oop stukke is (selle as Honolulu) waar daar geen vensters is nie. Wat natuurlik in skrille kontras staan teen die double glazed vensters oral in Europa. Na 'n goeie halfuur se wag vir ons huurmotor, kon ons die pad vat na die Vulkaan park op die eiland.

Die park is uitgelê rondom 'n aktiewe vulkaan, met 'n pad was reg rondom die rim hardloop. Die idee is dan dat jy al rondom die vulkaan ry, by al die uitsigpunte stop, kyk, en verstik aan die swaweldampe so ver jy gaan. Hoogtepunte op hierdie roete (behalwe nou vir die swaweldampe) is die stoompype, die Soutwest Rift (wat lyk presies soos Mordor in die movies), en die een punt waar jy heeltemal op die rant van die krater staan. Hierso is dan ook die plek waar jy jou offers kan bring aan die godin van die vulkaan. Te oordeel aan wat daar rond lê, hou sy nogal van vrugte, varkkoppe, en Bacardi rum.

Ook deel van die roete, is 'n afdraaipad wat jou neem see toe om die lavaflows te gaan kyk. Daarso stop jy, check die park ranger hut vir inligting oor waar die lava vandag vloei, en loop van daar af verder kuslangs om dit te gaan sien. Ongelukkig vir ons, sou ons daardie dag 6 myl moes stap om lava te sien. Dit, en die hele rits waarskuwings (die grond kan onder jou ontplof, die grond kan onder jou voete in die see wegsak, die hitte kan rotse laat opskiet om jou te tref tot 'n honderd meter verder), het ons laat besluit om maar eerder nie te ver te gaan nie. Wat ons wel gesien het, is waar die lava oor die pad geloop het so 'n jaar of drie gelede. Een oomblik is dit nog geteerde pad, die volgende steek die "No Parking" bordjie onder 'n meter en 'n half pikswart gestolde lava uit. Wat jou natuurlik 'n bietjie senuweeagtig maak om daar te loop, is dat daar oral op hierdie rotsplaat sulke gate ingesink het waar iemand te hard getrap het. Blykbaar is die hele storie onder jou voete hol. Lekker.

Laaste stop in die park (wel, voorlaaste: ons het weer 'n hotdog gaan eet by die hotel naby die uitgang) was 'n trippie deur die ou lava tonnel. Waar die plantegroei rondom die vulkaan en langs die kus heeltemal droog en amper Karoo- of Bosveld-agtig is, lyk hierdie stukkie soos 'n tropiese reënwoud. Die tonnel opsigself is nou seker nie indrukwekkend nie, tot jy jouself probeer voorstel dat, eens op 'n kol, dit vol kokende lava was.

Laaste stop vir die dag was by Rainbow Falls, 'n stuk tropiese woud met 'n pragtige waterval en rotspoele. Natuurlik, by al die maklik begaanbare paadjies gemerk "Vreeslik Gevaarlik, moenie hier loop nie", terwyl die moeiliker paadjies so erg is vir die locals, hulle het nie eens gebother om iemand daarteen te waarsku nie. Seker nie gedink iemand sou mal genoeg wees om effens moeite te maak om bo uit te kom nie.

Te ongelooflik vir woorde, was die terugtog. 18h het ons ingecheck by Hilo, 18h30 was ons in die lug op 'n vroeër vlug. Die ironie is, Hilo is seker die een lughawe waar 'n mens nie sou omgee om 2 ure te wag vir jou vlug nie. Daar's groot, gemaklike banke en stoele, en live entertainment. Die mense het darem net die regte styl hier op die eiland.

Terug in Honolulu, was dit tyd vir die legendariese Big Kahuna burger. Ons vermoed die plek het ontstaan nadat daar verwys is na 'n fiktiewe Big Kahuna take-away plek in Pulp Fiction, maar die burger wat ons gekry het was alles behalwe fiktief. Reusagtig, met alles wat jy op 'n burger in Hawaii verwag, plus chips en 'n draft. 'n Heel geskikte last meal op die eiland.

Al wat toe oorgebly het was inpak, en slaap wat jy kon om 03h30 weer jou taxi te kry vir jou vlug huistoe.