Monday, August 6, 2007

Hawaii Sondag


100_2439, originally uploaded by tstander.

Nog 'n dag, nog 'n vroeg opstaan. Hierdie keer was dit darem eers 6h, waar dit 4h15 sou wees as ons op die begeleide toer gegaan het van die groot eiland. 7h kon ons 'n taxi haal lughawe toe, 9h was ons op die vliegtuig, en kort voor 10h00 was ons al daar. Was jou eerste tref van Hilo lughawe, is dat daar groot oop stukke is (selle as Honolulu) waar daar geen vensters is nie. Wat natuurlik in skrille kontras staan teen die double glazed vensters oral in Europa. Na 'n goeie halfuur se wag vir ons huurmotor, kon ons die pad vat na die Vulkaan park op die eiland.

Die park is uitgelê rondom 'n aktiewe vulkaan, met 'n pad was reg rondom die rim hardloop. Die idee is dan dat jy al rondom die vulkaan ry, by al die uitsigpunte stop, kyk, en verstik aan die swaweldampe so ver jy gaan. Hoogtepunte op hierdie roete (behalwe nou vir die swaweldampe) is die stoompype, die Soutwest Rift (wat lyk presies soos Mordor in die movies), en die een punt waar jy heeltemal op die rant van die krater staan. Hierso is dan ook die plek waar jy jou offers kan bring aan die godin van die vulkaan. Te oordeel aan wat daar rond lê, hou sy nogal van vrugte, varkkoppe, en Bacardi rum.

Ook deel van die roete, is 'n afdraaipad wat jou neem see toe om die lavaflows te gaan kyk. Daarso stop jy, check die park ranger hut vir inligting oor waar die lava vandag vloei, en loop van daar af verder kuslangs om dit te gaan sien. Ongelukkig vir ons, sou ons daardie dag 6 myl moes stap om lava te sien. Dit, en die hele rits waarskuwings (die grond kan onder jou ontplof, die grond kan onder jou voete in die see wegsak, die hitte kan rotse laat opskiet om jou te tref tot 'n honderd meter verder), het ons laat besluit om maar eerder nie te ver te gaan nie. Wat ons wel gesien het, is waar die lava oor die pad geloop het so 'n jaar of drie gelede. Een oomblik is dit nog geteerde pad, die volgende steek die "No Parking" bordjie onder 'n meter en 'n half pikswart gestolde lava uit. Wat jou natuurlik 'n bietjie senuweeagtig maak om daar te loop, is dat daar oral op hierdie rotsplaat sulke gate ingesink het waar iemand te hard getrap het. Blykbaar is die hele storie onder jou voete hol. Lekker.

Laaste stop in die park (wel, voorlaaste: ons het weer 'n hotdog gaan eet by die hotel naby die uitgang) was 'n trippie deur die ou lava tonnel. Waar die plantegroei rondom die vulkaan en langs die kus heeltemal droog en amper Karoo- of Bosveld-agtig is, lyk hierdie stukkie soos 'n tropiese reënwoud. Die tonnel opsigself is nou seker nie indrukwekkend nie, tot jy jouself probeer voorstel dat, eens op 'n kol, dit vol kokende lava was.

Laaste stop vir die dag was by Rainbow Falls, 'n stuk tropiese woud met 'n pragtige waterval en rotspoele. Natuurlik, by al die maklik begaanbare paadjies gemerk "Vreeslik Gevaarlik, moenie hier loop nie", terwyl die moeiliker paadjies so erg is vir die locals, hulle het nie eens gebother om iemand daarteen te waarsku nie. Seker nie gedink iemand sou mal genoeg wees om effens moeite te maak om bo uit te kom nie.

Te ongelooflik vir woorde, was die terugtog. 18h het ons ingecheck by Hilo, 18h30 was ons in die lug op 'n vroeër vlug. Die ironie is, Hilo is seker die een lughawe waar 'n mens nie sou omgee om 2 ure te wag vir jou vlug nie. Daar's groot, gemaklike banke en stoele, en live entertainment. Die mense het darem net die regte styl hier op die eiland.

Terug in Honolulu, was dit tyd vir die legendariese Big Kahuna burger. Ons vermoed die plek het ontstaan nadat daar verwys is na 'n fiktiewe Big Kahuna take-away plek in Pulp Fiction, maar die burger wat ons gekry het was alles behalwe fiktief. Reusagtig, met alles wat jy op 'n burger in Hawaii verwag, plus chips en 'n draft. 'n Heel geskikte last meal op die eiland.

Al wat toe oorgebly het was inpak, en slaap wat jy kon om 03h30 weer jou taxi te kry vir jou vlug huistoe.

Saturday, July 28, 2007

Hawaii Saterdag


DSC07958, originally uploaded by tstander.

Volgens dame by toere toonbank van die hotel, moet jy 07h30 in die tou staan, anders kry jy nie kaartjies nie. Die gevolg was dat ons om 05h30 al moes opstaan, slegs enkele ure nadat ons teruggekom het van Nashville. Maar, jy's nie in Hawaii om te slaap nie, so jy staan maar op... al verslaap jy dan tot 06h20.

Vir die wat nie weet nie: daar's vier groot besoekpunte by Pearl Harbour. Daar's die gedenkmaal wat bo-oor die wrak van die USS Arizona (een van die oorlogskepe wat in die hawe gesink is op 7 Desember 1941) gebou is, die USS Bowfish ('n WW2 duikboot wat in die hawe vasgemeer staan), die USS Missouri ('n 1944 oorlogskip wat nog in 1991 in die Persiese Golf diens gedoen het) en die Stille Oseaan lugvaartmuseum.

Siende dat die Arizona 'n nasionale gedenkmaal is, moet dit, volgens wet, gratis wees om te besoek. Dit beteken 'n lang tou, wat ons toe inderdaad aangetref het (sien fotos). Wat heel onverwags was, is dat die hele tou binne 10 minute kaartjies gekry het. En, kort nadat ons binne die wagarea 'n happie vor ontbyt en 'n koffie (God bless Amerika vir hul filterkoffie vending machines, veral na 'n aand soos die vorige), was daar nie meer 'n tou nie. Daai vrou sal betaal as ek haar ooit weer sien.

Die besoek aan die Arizona begin met 'n filmvertoning oor die geskiedenis rondom die aanval op Pearl Harbour, met die mees ongelooflike film wat tydens die aanval geskiet is. Hier moet ek vir die Amerikaners 'n pluimpie gee: dis een ding om 'n gedenkmaal te bou, maar om seker te maak almal verstaan en waardeer wat hulle sien, is goeie styl. Net jammer Dirk het nie veel daarvan ingeneem nie.

Van hier neem jy 'n boot uit na die middel van die hawe, waar die gedenkmaal staan bo-oor die wrak. Opsigself lyk of ervaar 'n mens dit nie as vreeslik indrukwekkend nie, maar die indruk word seker maar bepaal deur die waarde wat jy daaraan heg.

Om op te maak vir die gratis toer na die Arizona, looi die mense jou behoorlik vir die ander toere. Dis amper $50 om die ander goed te besoek, maar siende dat daar nêrens ander op die aardbol 'n Pearl Harbour is nie, en siende dat Petrie betaal het, het ons tog die volle toer geneem. Eerste stop was die USS Bowfish, met 'n audio toer om jou deur te neem. Wat veral besonders was van hierdie toer, was dat jy kans het om eerstehands te sien al die hoekies en kamertjies wat jy in al die WW2 duikboot flieks gesien het. Ek't selfs die manier van voete eerste swaai deur die luike wat ek op "Below" gesien het, toegepas om tussen die kompartemente te beweeg. Wat die films egter nie heeltemal tuisbring nie, is hoe ongelooflik beknop daai goed is. Nie 'n plek waar ek graag 'n maand wil spandeer nie.

Ook interessant om te sien in daardie omgewing, is die lugafweer kannonne, torpedos, en selfs 'n Kamikaze torpedo... die uitvinder waarvan gesterf het in 'n toetsrit van sy uitvindsel. En dan, natuurlik, 'n hotdog stand om vinnig iets te hap voor jy verder gaan.

Van daar het ons 'n bus geneem na die USS Missouri, die 1944 oorlogskip wat tans dien as museum. Wat ek definitief kan aanbeveel hier, is die begeleide toer: omtrent alles op daardie skip het simboliese waarde, en so 'n toer lig dit heeltemal uit. Van die verfwerk op die 16" kannontorings, tot die dek waar vrede met Japan geteken is, en die duik in die romp waar die kamikaze vliegtuig vasgevlieg het. Blywende indrukke van hierdie skip is dat dit reusagtig groot is, maar ook dat dit reusagtig goed in stand gehou is. 10 uit 10, en 'n definitiewe moet.

Ongelukkig kan ek nie dieselfde sê van die Pacific aviation museum nie. Dis letterlik net 'n saal van vliegtuig replikas, 'n stel simulators, en 'n geskenkwinkel. Halfuur in en uit.

Terug in Waikiki, het elkeen sy eie rigting geskiet. Ek was vinnig by die poskantoor (elke poskantoor hier is 'n franchise... net in Amerika), waarna dit tyd was om bietjie langs die swembad te ontspan. Die namiddag is afgesluit met 'n vinnige middagslapie, voor ons weer gaan aandete eet het by die rock & roll restaurant oorkant die pad. Die dametjies was weer daar om te dans op die verhoog, maar party was maar beter as ander.

Na 'n vinnige rondtetjie met die dames uit Toronto (IEMAND moet vir hierdie mense leer om 'n Guinness te gooi met 'n shamrock. Ten minste het hulle dit darem nie hierdie keer in 'n bottel bedien nie.), was ons maar vroegerig in die bed vir ons vlug die volgende oggend.

Hawaii Vrydag


100_2326, originally uploaded by tstander.

Vrydag het Petrie vir ons drie 'n lekker groot Amerikaanse kar gehuur, om sodoende die res van Oahu te verken, veral die Noordkus. En, na nog 'n opwindende oggend van uitcheck, incheck en kamers ruil, kon ons ons vuurwa by Budget gaan oplaai (ten spyte van die vreeslike gevaarlike trappe wat ons moes trotseer om dit te kry... sien die foto in hierdie verband)

Hoewel die een uitsig wat ons daardie dag wou besoek, gewoon toe was daardie spesifieke Vrydag-oggend, kon ons nogsteeds op 'n paar pragtige plekke al langs die kus stop vir fotos en verkyk. 'n Algemene ding hier is 'n sg. "beach park": 'n groen parkie, met 'n strand, aar jy nou vir die dag kan uitspan. Die een so pragtig soos die volgende, almal in die skadu van die berge net anderkant die kusweg.

Hier het ons dan ook kans gekry om 'n bietjie van Oahu se landskap in te neem, en 'n ongelooflike diverse landskap is dit wel. Een oomblik ry jy nog deur droë bossies en klippe, die volgende oomblik lyk dit soos tropiese eiland (afhangende van watter kant van die waterskeiding jy ry). Ons het dan ook 'n bietjie van die inwoners se huise gesien. Hierdie huise laat jou definitief meer dink aan 'n kusdorp as 'n groot metropool (soos Honolulu). Plek-plek lyk dit 'n bietjie vervalle, maar dit dra amper by tot die quaint karakter van die eiland. Dis waar wat Sheena gesê het: as jy regtig Hawaii wil sien, moet jy uit die stad uit kom.

Een van ons minder produktiewe stoppe was om te check of ons by die Polynesian cultural centre wil besoek. Die konsep is heel oulik: sewe verskillende Polenesiese kulture (behuising, kleding, danse, kos, ens) word uitgebeeld in sewe verskillende dorpies, waar jy nou heeldag kan rondloop en als inneem. Dis oulik, maar helaas het ons besluit dis nie $40pp oulik nie. Toe ry ons maar verder.

Robert en Valpre het ons vertel van 'n scuba plek aan die noordkus genaamd Shark's Cove (nee, daar's nie regtig haaie nie). Aanvanklik het ons vermoed ons het die plek gemis by die baai wat afgesluit was vir verkeer, maar kort anderkant Sunset Beach kom ons toe (heel per ongeluk) daarop af. Scuba gear is dadelik gehuur, daar is summier verklee, en die res van die oggend is in die geselskap van die visse spandeer. Gegewe die groot viskenner wat ek is, sou ek nou nie die meeste van die goed wat ek daar gesien het, herken of selfs onthou nie. Dat dit egter 'n ongelooflike ervaring was, is verseker, en definitief iets wat ek weer sal doen as die geleentheid kry. Die enigste jammerte is dat die plek 'n bietjie vol was (blerrie toeriste, tsk tsk), en kort voor middagete moes ons maar, a.g.v. die geweldige oormag waarteen ons moes kompeteer vir spasie in die water, maar die aftog blaas.

Hiermee dan 'n ernstige travel advisory vir almal wat daardie plekkie besoek: vermy die Shark Cove Grill. Ons het seker meer as 'n halfuur vir ons chips daar gewag, en die vlieë dra dit so gou weg soos jy dit ontvang. Pak 'n toebroodjie in.

Laaste stop vir die dag was Dole, 'n pynappelplantasie, wat ook dien as tuiste vir die wêreld se grootste doolhof. Waar jy by Drielanden darem net een punt soek, moet jy by hierdie plek ses verskillende stasies besoek om die uitstappie as "suksesvol" te beskou. Na die tweede een het ons egter 'n bietjie moed verloor, en maar, soos by Sharks Cove, die aftog geblaas.

Terug by Honolulu, neem ons toe waar dat ons gunsteling kusweg beset is deur 'n heel onverwagse straatfees. Die Pan-Pacific Festival is 'n versameling straatstalletjies, wat allerlei aspekte van Japanese kultuur en internasionale kookkuns tentoonstel. Hierdie fees bring nou letterlik die helfde van Japan na Hawaii; dis nou, die helfde wat nie reeds daar is nie. Tussen al die kos, musiek en dans was daar 'n uitvoering van Japanese tromslaners wat ons ongelooflik beïndruk het. Daardie mense slaan nie, hulle perform: hul gesigsuitdrukkings en hele liggaamshouding is deel van die show. Na die tyd kon ons ons toe ook trakteer op 'n aandete van vis, rib en rys, sommer daar op die sypaadjie tussen die geharwar.

Laaste uitstappie vir die aand was 'n kuiertjie saam met Dirk se vriendinne van Kanada, wat hy heel toevallig daar in Honolulu raakgeloop het een aand. Na 'n vinnige stop by 'n plekkie waar ons, na een rondte, nie meer die informercials op die TV's kon uithou nie, is ons deur na 'n plekkie genaamd Nashville.

Wat jy verwag om te sien in Nashville (die stad), sien jy in Nashville (die kroeg). Ouens en meisies met breërandhoede, reuse belt buckles, stewels tot by hulle knieë, en barn dancing op die ritme van Country musiek. Soos 'n mens ook kan verwag, krioel die plek van militêre manne. Daar's allsorts: marine vlieëniers met hul high 'n tight haarstyle, JAG corps offisiere (een van hulle het die hele aand sy besigheidskaartjie uitgedeel) en 'n hele lot vlootmanne (o.a. "Chief", wat in sy dronkenskap darem nugter genoeg was om na die derde verduideliking te besef ek's nie Brits nie). Nou, vir die koste van hulle en hul geselskap te verdra vir 'n aand, kry jy die hele aand lank graties biere, te danke aan hul militêre afslag. 'n Vreemde aksent is partykeer darem 'n wonderlike ding.

Later was wat ons verwag het is ons toe daar uit, om 'n vinnige uiltjie te knip voor ons uitstappie na Pearl Harbour.

Wednesday, July 18, 2007

Hawaii Donderdag


100_2275, originally uploaded by tstander.

Donderdag-oggend was dit weer tyd vir vroeg opstaan, vroeg ontbyt kry by Keori, en die bus neem na die konferensiesentrum. Daardie oggend se sessies was egter nie heeltemal so boeiend soos ons aanvanklik gehoop het hulle sou wees nie (behalwe natuurlik vir die non-planar filters sessie, waar manne mekaar links en regs woes beskuldig het van ongelooflike resultate). Na 'n kort vertoef by die eerste helfde van die een middagsessie, het ons dus net eensklaps besluit dat ons konferensie nou verby is, toe sny ons 'n lyn af na Waikiki strand toe.

Hierde strand loop die volle lengte van Waikiki, die onderdorp van Hawaii waar al die hotelle, kuierplekke en toeriste ook aangetref word. Die strand is egter 'n bietjie kunsmatig: blykbaar moes hulle tonne en tonne sand inry om 'n strand te maak waar daar voorheen eintlik net 'n rotsplaat was. Maar dis maar hoe die gerug loop.

Eg of nie, die water is warm, die poppies nog warmer, en 'n namiddag daar is 'n moet... al is dit dan nou net om die besienswaardighede te gaan waardeer.

Die aand is ons saam met twee ander SAners op die konferensie vir 'n ete by die "beste" (lees: enigste) Meksikaanse restaurant in Waikiki. Robert en Valpre werk vir EMSS buitekant Stellenbosch, en het die moeite gedoen om al die pad Hawaii toe te gaan om dit te bemark. Robert se surf board blykbaar saamgekom, maar natuurlik slegs vir sake doeleindes. Anyway, kos was lekker, bier was enorm (ons het probeer uitreken hoeveel ml 22 oz. is, maar halpad opgegee en maar net bestel), maar hier moet ek bieg dat ek nie heeltemal kan onthou wat ons die res van Donderdag-aand gemaak het nie. Siende dat ek nie iets spesifiek onthou nie, sou ek aanneem dat ek maar huis toe gegaan het vir 'n vroeë aandtjie. Hierdie mag egter verander soos nuwe inligting aan die lig kom.

Monday, July 16, 2007

Hawaii Woensdag


DSC07891, originally uploaded by tstander.

Woensdag was 'n vol dag van sessies (wat om die verskriklike uur van 8 aangevang het, met 'n halfuur busrit na die konferensiesentrum), so 07h00 was ons onder in die voorportaal om ontbyt te gaan kry. Hierdie keer het ons voor Denny's gestop en 'n nuwe plekkie probeer: Keoni, waar ons ook dan elke oggend daarna ontbyt gekry het. Dis nader, die kos is net so baie, selle prys, effens flouer koffie, maar baie vinniger diens as Denny's. Plus die dekor laat jou meer voel jy's in Hawaii as in New York, of enige ander Amerikaanse stad.

Na 'n vol dag van sessies (meestal oor filtertoepassings, maar met 'n interessante sessie oor die kommunikasiestelsels van 'n paar van die nuutste NASA en ESA projekte), het ons 'n social gehad by die Hilton Hawaiian Village, die duurste hotel op die eiland. Gelukkig het ons op 'n vroeë bus gekom, om sodoende vroeg toe te sak op die kostafels en 'n groterige aandete te nuttig uit peuselkos.

Wat ons ook gehad het, is baie drankkaartjies, te dankie aan die vreemde Spaanse tannie wat net randomly by ons tafel kom sit het. Sy's nie deel van die konferensie nie, maar dit klink my haar broer (of neef... kannie onthou nie) was wel, en dié het vir haar 'n stapel drankkaartjies gegee vir die aand. Sy't natuurlik net te gretig uitgedeel.

Die probleem met sulke goed is, natuurlik, dat jy jou blootstel aan allerhande voorstelle, en met jou verlaagde inhibisies, instem om goed te doen wat jy gewoonlik nie sou nie. So het ek dan ook, by hierdie kuiertjie, ingestem om 'n SA student chapter vir die IEEE te begin. Oeps. Minder cocktails volgende keer.

Van hier af (nadat ons met hewige ontsteltenis besef het die res van ons stapel kaartjies nutteloos is, siende dat die bar toegemaak het) het ons drie strandlangs gestap terug hotel toe, waar ek maar 'n vroeë aandjie gemaak het.

Hawaii Dinsdag


100_2255, originally uploaded by tstander.

Dinsdag was die eerste amptelike dag van die konferensie, so ons het mooi vroeg opgestaan om die eerste sessie by te woon. Eintlik 'n bietjie vroeër: ons het met groot skok en ontsteltenis die vorige aand besef ons kamer het nie netwerkpunte nie, toe moes ons noodgedwonge kamer skuif om daardie toegang te bewerkstellig.

Die buffet ontbyt by die hotel het Petrie nie vreeslik aangestaan nie, toe sny ons maar 'n lyn om die hoek na Denny's, 'n klassieke Amerikaanse diner, vir ontbyt. En dis omtrent 'n ontbyt wat daardie mense daar vir jou bedien. Enigiets waaraan jy kan dink, kan jy daar kry, sommer alles op een bord. Plus die koffie, wat altyd bottomless is.

Die hoogtepunt van die plenary sessie van die konferensie was seker die demonstrasie van Hula dansers vooraf. Die twee gassprekers het oulike onderwerpe gehad (3G vs. WiMax, en biomediese RF toepassings), maar het nie regtig beïndruk nie. Die biomediese ou het egter 'n paar interessante goed genoem en gewys, o.a. 'n mineatuur kamera wat jy insluk om dokters te help met diagnose, en allerhande goed wat in jou ingeplant kan word om jou vitals te monitor oor 'n RF link. Big brother is nader as wat ons vermoed het.

Die namiddagsessies het ek 'n skip gegee, om die uitstalling te sien. Hier kom 600 van die top maatskappye in RF en mikrogolf wêreldwyd. Dis 'n lekker plek om te sien wat's nuut in die industrie i.t.v. hardeware en simulasie sagteware, wie lewer wat, en om ingenieurs in die praktyk 'n bietjie te pols oor jou bestaande navorsing. Van 'n derde van die ouens wat filters ontwerp, het ek 'n besigheidskaartjie gekry, met die boodskap dat ek hulle moet kontak as ek inligting soek. Van 'n verdere derde, ook 'n kaartjie, met die boodskap om hulle te kontak sodra ek iets regkry. So bou 'n mens maar kontakte.

Aandete was nog 'n hoogtepunt van die uitstappie. Nie ver van ons hotel nie, is daar 'n 50's themed rock & roll restaurant. Al die dekor, die kelnerinne (hul stage names op hul naamkaartjies inkluis), en die kos lyk asof dit uit Grease is. Hulle speel dan ook die fliek heel aand op die TV's in die restaurant, en sodra "Greased Lightning" aanbreek, draai hulle die volume op, dan dans die kelnerinne saam 'n verhogie in die restaurant. Heel interessant.

Na 'n heel smaaklike Hawaiian pizza (wat anders?), het ons vir Petrie weer by die hotel gekry, en 'n biertjie gaan nuttig op die strandfront.

Hawaii Maandag


100_2259, originally uploaded by tstander.

Die eerste ding om te doen as jy van Londen af in Honolulu arriveer, is om jou hotel te vind. Of, as die vrou by die inligtingtoonbank begin lag as jy vra of die hotel stapafstand is, 'n shuttle na die hotel. Maar selfs dit is net 'n middel tot 'n doel: om uit daai langbroek te kom, en so vinnig as moontlik 'n korbroek en sandale aan jou te kry.

Na dit gedoen is, is dit om eerste indrukke te ontwikkel oor waar jy jouself bevind. En eerste indrukke het Honolulu in oormaat.

Daar's natuurlik die hitte en humiditeit. Na 'n hele lang ruk taamlik ver noord, kleef dit aan jou iets verskrikliks. Die aande is amper net so warm soos die dae, selfs deur die periodieke reënbuie wat nie veel doen behalwe om jou nog natter te maak as wat jy reeds is nie.

Tweedens, is dit die oormaat Japannese toeriste. Ek's seker meer as die helfde van ons hotel (en die res van Waikiki, die deel van Honolulu waar ons gewoon het, wat grootendeels bestaan uit hotelle) was vol Japanese toeriste. Daar's genoeg van hulle om te verseker dat al die bordjies in die hotelle en restaurante Japannees is, dat daar personeel is wat die taal verstaan, dat die hotel Japannese TV kanale het, dat die restaurant in die hotel Japannees is, en dat daar selfs winkels is waar jy verbyloop sonder om 'n enkele woord Engels binne of buite te sien. Waikiki kan in alle reg Little Tokyo genoem word.

Iets anders waarvan daar baie is, is ABC winkels. Hierdie geriefswinkels verkoop alles van basiese kruideniersware tot drank, souvenirs, klere, skryfbehoeftes, en alles tussenin. En hulle is ORAL. Daar's letterlik nie 100m in Waikiki wat jy kan stap sonder om deur een bekruip en oorval te word nie. Hulle is egter nogal handig om die plaaslike broue, Kona Long Board Lager en Kona Pale Ale, in die hande te kry om snaakse ure.

Wanneer 'n mens nou egter nie lus is vir 'n koue Kona op jou balkon nie, dan moet jy maar iewers 'n kuierplek gaan soek... of toevallig op een afkom. Dis hoe ek en Dirk toe die Red Lion gevind het, reg langs die strand, so 'n entjie van ons hotel af. Wat ons eintlik ingelok het, was die $3 draft specials (dis nou $3 vir 'n groot pitcher). Ons het egter nie eers driekwart deur ons eerste rondte gekom nie, toe maak ons die eerste keer kennis met die Vlooties van Pearl Harbour.

Daar's 'n groot vlootbasis by Pearl Harbour, en 'n stuk of drie lugmagstasies in die area. En al die manne kuier in Waikiki. En hulle kry, met hul militêre ID kaarte, afslag op al hul drank. So, natuurlik, as hulle 'n vreemde aksent hoor, 'n bietjie aangeklam is, en in 'n nuuskierige bui, begin hulle koop. So kry ek en Dirk toe vir die res van die aand ons bier, met die komplimente van die VSA Vloot.