Wednesday, March 28, 2007

Sonnenschein Tag


101_0915, originally uploaded by tstander.

Ek is vandag effens vroeër as gewoonlik by die kantoor weg, om 'n bankrekening te gaan oopmaak by Deutsche Post. Om die lieflike lentedag te vier, om die Duitse spesie 'n bietjie van nader te bestudeer onder alternatiewe klimaatstoestande, en om myself te beloon dat ek vir 'n bankrekening kon aansoek doen sonder om een keer oor te slaan Engels toe, het ek afgedrentel Elberfeld middestad toe vir 'n roomys.

Vandag, vir die eerste keer, kon ek agterkom dat dit Universiteitsvakansie is. 'n Mens het oral studente (en ander mense) sien drentel met roomys in die hand (of bier, al was dit eers skuins na 4). Mense wat sit in lees in op Karlsplatz, of vars groente koop by die mark, of net oor die algemeen die lieflike sonskynweer geniet.

'n Interessante ding wat ek hier opgetel het, is dat die Duitsers baie ernstig is oor wag vir die groen mannetjie by die verkeerslig voor hulle die straat oorsteek. Daar sal vir myle en myle geen voertuig in sig wees nie, maar hulle (selfs die wildste, rofste punk met 'n bier in beide hande en meer gaatjies as 'n teesiffie) sal bly staan by daai lig tot die rooi mannetjie verdwyn. En dit, nogal, in 'n voetgangersone, waar voertuie slegs 30km/h mag ry. 'n Soort publieke dissipline wat my aangenaam verras het.

So, die lessies vir die dag: Doen wat jy kan in die plaaslike taal, jy sal verbaas wees hoe ver jy kan kom. Wag vir die groen mannetjie voor jy oor die pad stap. En vermy die mint roomys hier, dis nie vreeslik lekker nie.

Monday, March 26, 2007

Barmen, kameras, usw.


101_0905, originally uploaded by tstander.

Raaaaaaait, na 'n taamlike afwesigheid laasweek, is ek van plan om hierdie Maandag-namiddag 'n slag produktief aan te wend. Op my blog, natuurlik, nie op my projek nie.

Ok, eerstens, oor my projek: ek weet ek het 'n paar mense laasweek 'n bietjie mismoedig gehad daaroor. Dankie vir jul ondersteuning en raad. Dinge is nou weer aan die gang (soort van, siende dat ek steeds wag vir die AWR license server om aan die gang te kom), en ek vorder so stadig maar seker.

Saterdag, soos die gewoonte nou maar is, het ek die pad gevat dorp toe. Ek het natuurlik eers by die poskantoor gestop (hou jul posbusse dop), en toe afgesuiker Elberfeld toe op soek na skoene, kameras en superglue. Laasgenoemde was nogal maklik (6 buisies vir 'n euro), maar die kameras en skoene was 'n bietjie meer tricky.

Ek was tussendeur ook vinnig by 'n teewinkel in (R260 vir 'n kilogram Rooibos, so terloops) waar die eienaar baie vinnig verneem het of ek van Clanwilliam af kom. Soek seker iemand om hom te help insmokkel.

'n Tekort aan skoenwinkels is iets waarvan Elberfeld definitief nie beskuldig kan word nie. Die kuns, lyk dit my, is om goedkoop skoene te kry wat pas.

Ek was toe by daai groot skoenwinkel, net om agter te kom hulle is nie die budget winkel wat almal gesê het hulle sal wees nie (ook nie eintlik so groot nie... net een verdieping mansskoene). Ek het toe ook daar 'n paar Adidas sneakers gesien, vir 'n skamele prys van 'n retoer vliegkaartjie na... wag, dis 'n verrassing. Maar ja, dit was duur. Die budget winkel, Deichmann, het wel goedkoper, maar nie heelwat goedkoper nie. Maar die grootste jammerte van almal, is dat die goed nie pas nie.

Die ding met "sneakers" wat hier verkoop word (Adidas inkluis) is dat dit ontwerp is vir mense met lang, dun voete, wat ek nou ongelukkig nie het nie. Hulle het wel casual skoene, maar dié is gewoonlik Italiaans en kos soveel soos 'n Ferrari (of 'n paar honderd duisend Pizzas, afhangende van jou verwysingsraamwerk). Dus ook nie 'n belegging wat ek hier gaan maak nie.

C&A het egter nogal oulike skoene. Die hele winkel herinner baie aan Woollies by ons, behalwe dat dit meer budget is. So half 'n kruis tussen Woollies en Ackermans. Anyway, daar het ek heelwat skoene gekry wat gemaklik sit (breed oor die brug), vir 25 Euro of minder. Nie 'n slegte opsie nie, en definitief iets wat ek in gedagte sal hou.

'n Terloopse interessantheid wat ek hier opgetel het, is dat skoenwinkels in Duitsland skoene groepeer volgens grootte, en nie volgens tipe of styl nie. As jy 'n nommer 44 is, stap jy net af in die nr. 44 gangetjie, en alles wat vir jou pas, sal jy daar vind. As jy egter tussen twee groottes lê, en jy wil dieselfde paar skoene in verskillende groottes uittoets, is dit 'n bietjie ongerieflik om aanmekaar tussen gangetjies te stap.

Die soeke na 'n nuwe kamera het egter beter resultate opgelewer. Eers het ek by Medimax ('n tipe klein HiFi corporation) ingeloer, toe by twee spesialis kamera winkels (waar ek net, weereens, besef het hoe swak kliëntediens hier is i.v.m. SA), en toe by Media-Markt. Wat lekker is daar, is dat daar demonstrasiemodelle van al die kameras op die rak staan. Daar's natuurlik alarms aangeheg, maar niks van hierdie glaskas nonsens nie... as jy 'n kamera wil koop, kan jy met die ding speel tot jou vingers stomp is sonder om 'n verkoopspersoon se toestemming en toesig. Gegewe hierdie land se kliëntediens, dalk 'n goeie opsie.

Dit was toe daar dat ek kennis gemaak het met die Olympus FE-250.

Die FE-250 is in Februarie vanjaar bekend gestel. 8MP CCD, 3x optiese zoom, goeie lens, maar wat my die meeste beïndruk het, was die laelig fotografie. Die 250 kan, met outomatiese verstellings, gaan tot ISO3600. Natuurlik het dit ook 'n paar ander nifty features (anti-blur DSP, ens), en dis net 16.5 mm dik... lekker gemaklik vir 'n hemp se bo-sak.

Omdat dit egter splinternuut op die mark is, is dit nou nog taamlik duur: omtrent so 300 Euro. Die mense (nou nie die verkoopspersoneel nie, die mense hier in die kantoor) sê egter dit behoort volgende maand heelwat goedkoper te wees. Ons sal maar sien.

Na Media-Markt, het ek besluit om die westelike deel van Elberfeld te verken. Ek het dit omtrent verken, soveel so dat ek, na 'n uur (en 'n stop by 'n winkelsentrum, waar ek 'n Duitse WalMart kon ervaar en 'n bottel 2004 Nederburg Pinotage opgetel het vir 5 Euro), myself bevind het in Barmen, die historiese "buurdorp" van Elberfeld voordat alles Wuppertal geword het.

Siende dat ek daar was, kon ek netsowel die tyd nuttig aanwend, en het dan ook so gedoen met 'n besoek aan die geboortehuis van Friedrich Engels (Mede-outeur van die Kommunistiese Manifes, comrade) en die museum vir vroeë industrialisering.

Die huis is maar 'n huis, min om daaroor te vertel. Die museum is egter 'n besoek werd. Uit my gebrekkige Duits kon ek agterkom dat Wuppertal (wel, in daardie stadium not Elberfeld en Barmen) in die laat 18e eeu 'n groot nywerheidsentrum geword het, veral in die tekstielbedryf (dit het amper die helfde van die werksgeleenthede verskaf in die omgewing). Die museum handel oor hoe hierdie industrie gevorder het, asook hoe die industrie ander aspekte van die mense se lewens beïnvloed het, (geloof, politiek, sosiale omstandighede). Hoogtepunte is definitief die TEN VOLLE WERKENDE spin- en weefmasjiene uit die era (veral die Spinning Jenny, wat daar gedemonstreer is), en die verhaal van Mina Knallenfalls ('n fiktiewe verhaal oor 'n meise wat in die 1800's in Wuppertal geleef het, wie se lewensverhaal 'n tipe dokumentêr is oor die mense se lewensomstandighede in daardie tyd). Definitief die toegangsfooi werd, al is dit 'n bietjie jammer ek kon nie foto's daarbinne neem nie.

'n Heel aangename Saterdag, net effens versuur deur die krieket wat ek moes aanskou daardie aand.

Mehr schnee


101_0888, originally uploaded by tstander.

Okay, ek's jammer ek't so lanklaas hier iets geskryf, maar liewer laat as nooit.

Laasweek het dit heel week gesneeu hier. My aanvanklike opgewondenheid Maandag is Donderdag 'n bietjie gedemp to ek, na 'n meer senior tipe sneeustorm, Hermannshöhe moes uitklim met die sypaadjies bedek met 'n tipe natgereënde yserige gladde gemors wat jou nogal laat dink aan Slush Puppy. 'n Minder aangename ervaring, maar deel van die leeproses. Sneeu is nie altyd oulik of sprokiesagtig nie, dis kan partykeer maar 'n bogger ook wees.

Tuesday, March 20, 2007

SCHNEE!!!!


101_0880, originally uploaded by tstander.

Jip, dit het gesneeu hierso. Einde Maart, en Lente is nog nie met ons nie. En wat sê jy nou, Almatine?

Op 'n ander noot, Penny se random tafels het vandag gefokus op fietsryers: fietsrakke vir motors, fietse self, fietspompe, en sulke lekker 9 Euro rugsakke waarvan ek een aangeskaf het omdat my Denel sak vir die soveelste keer gebreek het. Hierdie keer was dit darem nie in die middel van die pad met my notebook daarin nie.

CeBIT 2007 und Hannover


101_0750, originally uploaded by tstander.

Wow. Net wow.

Dit was absoluut die moeite werd om die 6h15 trein Hannover toe te vang vir CeBIT, selfs al moet jy op Hannover hoofstasie hardloop vir jou trein omdat Deutsche Bahn se streekstrein alweer laat was.

Die eerste ding wat jou opval, selfs voor jy daar aankom, is dat CeBIT groot is. Baie, baie groot. Op die voorstedelike trein na die gronde (Die terrein het sy eie treinstasie) kon 'n mens nog net staanplek kry by die deure tussen die waens, so vol was dit. Die skywalk vanaf die stasie na die gronde was net een, kontinue stroom mense, selfs meer so as Tygervallei op Oukersdag, of die Neelsie oor middagete.

Die gronde bestaan uit so 'n stuk of 25 sale, waarvan die kleinste so groot is soos die DF Malan sentrum is, en die grootste een groter as die Goeie Hoop sentrum. Dit gronde, sou ek skat, is maklik groter as die Waterfront (as ek nou dink hoe lank dit my geneem het om van een punt na 'n ander te stap). Dis belaglik. Daar's absoluut geen manier jy sien als in een dag nie, wat dit belangrik maak vooraf te beplan waar jy wil sien, en waar om dit te gaan kyk. Wat ek natuurlik nie gedoen het nie. Ek het darem so driekwart van die sale gesien in 9 ure, waarvan die laaste paar maar baie vlugtig was.

CeBIT is baie groot, onder andere omdat daar baie twak is (ek sou nou gesê het stront, want dis wat dit is, maar ek het besluit om nie meer sulke taal op my blog te gebruik nie). Die eerste 5 sale waardeur ek gestap het, was net rye op rye op rye Chinese en Taiwanese vervaardigers wat verspreiders soek in Europa. Nou, in beginsel, het ek geen probleem dat hulle daar is nie, maar ek sal nie weer soveel tyd by hul stalletjies spandeer nie.

Wat my seker die meeste gepla het van hierdie vervaardigers, is die gebrek aan oorspronklikheid. Jy sien ry op ry keyboards, muise, speakers, webcams, CPU fans en heatsinks, en dan as jy in die volgende ry afloop, sien jy weer presies dieselfde keyboards, muise, speakers, webcams, CPU fans en heatsinks maar net weer. 'n Mens weet nie wie by wie afkyk nie, maar jy voel later jy loop by Groenpunt se vlooimark rond waar al die Nigerians dieselfde hou kameelperde, Chinese rugsakke en jade skaakstelletjies verkoop. Nie die moeite werd nie.

Wat ek ook agtergekom het daar (spesifiek m.b.t. die digitale kameras wat hulle daar bemark) is dat hulle absoluut incash op die funksionele ontwerpe van name brands. Hulle sal dieselfde CCD, DSP chip en sagteware in 'n Kodak-agtige (ek's jammer, maar as jy vinnig kyk, kan jy geen verskil sien tussen daai kamera en 'n Kodak nie. Selfs die logo begin ook met 'n K, en dis ook rooi op geel gedruk) digitale kamera verpakking, en in 'n Sony handycam verpakking. Die elektronika word nie ontwerp om of 'n goeie still image, of 'n goeie movie te maak nie. Die eindproduk is, ongelukkig, nie iets waaraan ek sou vat as ek 'n Europese verspreider was nie.

Gelukkig was die hele skou nie so nie. In van die ander sale, het ek kans gekry om 'n hele rits cluster servers onder oë te kry, asook om 'n hele paar regte egte digitale kameras te toetsbestuur. Ek kon 'n paar "innoverende" (vreemde?) muis ontwerpe uittoets, en my PDA laat laai van 'n mobiele kragbron (basies laai jy een battery uit 'n ander battery uit, met die ander battery wat 3000mAh kapasiteit het en omtrent so groot is soos 'n plat selfoon). Ek het ook kans gekry om te tik op twee vreemde sleutelborde: die een is heeltemal PVC, en kan dus letterlik opgerol word; die ander, was net lig wat skyn op 'n tafel. Sodra jy daar waar die lig skyn, druk, tel 'n sensor dit op, en registreer jou keystroke.

'n Ander groot tema daar was CPU fans, spesifiek fans wat die minimum geraas maak. Nie iets waaraan ek sou dink as 'n groot probleem nie, maar tog interessant.

Saal 1 (dis nou die grote, wat seker maklik dubbeld so groot is soos die Goeie Hoop sentrum) is waar al die swaargewigte speel. Samsung, Casio (wat, terloops, baie oulike kameras maak, kom ek daar agter), IBM, FujitsuSiemens, ens. het almal daar hul beste en nuutste uitgestal (met die hulp van 'n F1 kar hier en daar). Ek moes definitief meer tyd daar spandeer het.

Wat my egter ook 'n bietjie teleurgestel het, was dat nie al die groot spelers daar was nie. IBM was daar, asook Samsung, Kodak, AMD, Intel, Casio (wat, terloops, bitterlike oulike kameras maak, kom ek daar agter), maar plekke soos HP, Compaq en Nokia was glad nie daar nie.

Daar was ook, i.v.m. wat ek laas gekry het in Kaapstad, nogal min freebies. Ek het nou wel 3 of 4 kilogram se katalogusse gekry, maar behalwe vir 'n paar penne, 'n paar sakke, 'n pakkie mints van Windows Cluster Server en 'n badge van Commodore, het niemand regtig soveel goed uitgedeel nie.

Waar hulle wel baie goed uitgedeel het, was in die hoek van Saal 21. Saal 21 was die groot gaming saal, waar al die toernooie van die World Cybersport Championships gehou is (CS, RPG's soos WoW, ens). Daar was hierdie een hoek wat omgebou is in 'n tipe ouditorium, waar die groot vervaardigers elkeen 'n kans kon kry om iets te sê oor sy of haar produk, en om 'n paar kopieë uit te deel. Daar het duisende (indien nie tienduisende nie) Euro se games, PSP's, graphics cards, ens. van daardie verhoog af gevlieg in die hande van die gehoor in. Natuurlik was daar geen manier ek kom voor uit nie, daar's net eenvoudig te veel skoolkinders in jou pad. Ek vind to by een van die uitstallers uit dat hierdie kinders elke jaar CeBIT toe kom, net om die hele dag voor die verhoog in daardie ouditorium te gaan staan en games vang. Afhangende van wat jy daar vang, kan jy jou hekgeld van 17 Euro in 'n japtrap terugkry.

Aangaande my eie smokkelaankope daar (niemand mag eintlik verkoop nie, maar baie doen dit wel): ek het 'n bietjie met 'n Rus onderhandel om 'n 1.3 MP webcam aan te skaf vir 12 Euro, en ek het 'n Switserse ou oortuig (Hy het die laaste 5 van sy 6 vakansies in SA deurgebring, waar hy elke keer in Stellenbosch was. Ons kon tog te lekker gesels oor watse wyn 'n mens waar kan koop, en watter plase jy moet vermy) om daar en dan aan my 'n universal power adapter te verkoop vir 25 Euro. Vreeslike gawe ou.

Nouja, na 'n hele dag se rondstap en kyk (van 9 tot 6, waarvan ek net so 20 minute gestop het vir middagete: lekker halfmeter Bockwurst en 'n broodjie), het ek die aand vry gehad om 'n bietjie in Hannover te gaan rondstap (niks was oop nie, maar ek het lekker window shopping gedoen), 'n bietjie die stasie daar te verken, poskaarte te koop en 'n bietjie die Duitsers te bestudeer in hul natuurlike habitat: voor 'n TV, met sokker op die skerm en 'n bier in die hand. Al wat my gepla het omtrent Hannover stasie, is dat daar absoluut nêrens sitplek was nie. Die enigste sitplekke was binne-in die eetplekke, en as jy daar wil sit, moet jy iets koop. Vir iemand wat die hele dag rondgeloop het by CeBIT, was dit 'n bietjie te veel.

Ek kon darem kans kry om vir so 'n paar uur my voete te rus op die streekstrein van Hannover na Essen. Dit sou toe, op die ou einde, 'n goeie ding wees, siende dat ek daarna nog 'n uur en 'n half moes huis toe stap nadat ek een twee stasies te vroeg afgeklim het op die voorstedelike trein. Dit was nou 2h Sondag-oggend, so daar's nie 'n siel in sig om te vra vir aanwysings nie. Ek kon darem my pad terugvind deur die rivier te volg, en ten minste het dit nie gereën nie.

Laastens, 'n paar tips vir mense wat wil gaan:

Los jou warm baadjie by die coat check by die ingang. Daai sale raak nogal warm binne, en jy's nooit lank genoeg buite om te begin koud kry nie.

Besoek die "computer and peripherals" stalletjies laaste. Soos vroeër genoem, is daar baie twak. Spandeer die meeste van jou tyd in die saal met die groot spelers, en dan hulle.

Die pryse van die middagete (as jy nie groot eet nie) is nog orraait, maar probeer om jou eie drinkgoed saam te neem. Dis vrek duur om daar te koop (2.80 Euro vir 'n glas Coke). En vermy die alkoholvrye bier, dis verskriklik sleg.

Vat 'n groot, sterk sak saam, verkieslik 'n rugsak, vir al jou goodies wat jy daar gaan optel. Dit kan maar 'n groterige sak wees, jy sal dit wel kan volmaak. Jy sal daarso ook 'n sak of twee kry, en daardie sakke sal ook volraak. Mense is egter huiwerig om vir jou 'n sak te gee as hulle sien jy't reeds een, so probeer die grootste sak eerste kry.

Indien moontlik, trek 'n baadjie en 'n das aan. Mense behandel jou partykeer regtig met minagting as jy met jeans en tekkies voor hulle durf verskyn. Plus, jy word toegelaat tot die "business lounge". Jy kan dan ook jou rugsak vervang met 'n hand luggage trollie. Dis meer gerieflik as om alles te dra, plus dit dra by tot jou sakeman beeld.

Dra 'n gemaklike paar stapskoene (as jy nou nie 'n baadjie en das dra nie). Of probeer 'n skopfietsie insmokkel.

Moenie op die verkeerde stasie afklim nie.

Ehm, ja, ek dink dis dit. Oja, jy moet dit geniet ook!

Sunday, March 11, 2007

"It was very nice travel 2: Is very warm, yes?"

Wat 'n lekker Sondag!

Eerstens het ons vandag lieflike sonskynweer gehad, die eerste keer sedert ek hier in Duitsland is. Ek het gisteraand 'n bietjie teneergedruk gevoel, so hierdie was net die regte medisyne. Lente is oppad.

Ek was maar taamlik skepties oor die idee van kerk toe gaan hier in Duitsland, na fiasko op fiasko met my Duits die voorafgaande week. Liza het my egter oortuig, en vanoggend 10h00 was ek in die Evangelische Kirchengemeinde Elberfeld-Süd, waar hulle vanoggend 'n Gereformeerde liturgie (nogal met 'n programmetjie en als) gevolg het. Daar was min mense in die kerk (omtrent so 25, waarvan net 6 of 7 onder die ouderdom van 40), maar ek het onmiddelik welkom gevoel, en kon die meeste van die diens volg en liedere saamsing. Die woordeboek op my PDA het ook handig te pas gekom (al het my buurvrou dit 'n bietjie snaaks aangekyk).

Dit was toe toevallig nagmaal in die kerk, wat 'n heel ander ervaring is as by ons. Jy staan op en gaan staan in 'n kring voor in die kerk, en word persoonlik deur die predikant bedien met sulke ronde plat crackers (soos die katolieke gebruik). Almal drink ook uit dieselfde beker uit. 'n Baie spesiale ervaring.

Na afloop van die diens het ek 'n bietjie met die predikant gepraat, vir haar verduidelik dat ek 'n uitruilstudent van SA is, en dat ek vir die volgende drie maand of so hier wil inskakel. Sy was natuurlik baie bly daaroor, baie nuuskierig oor my kerkverband in SA, waar ek vandaan kom, en waar ek nou woon. Sy het my ook gewaarsku dat ek volgende week se diens 'n bietjie vreemd mag vind, siende dat hulle 'n Lutherse liturgie gaan volg (hulle gebruik om die beurt Gereformeerde en Lutherse liturgieë). Maar ek's nie bang nie... ek weet net nie hoe ek my oë gaan oophou in die diens nie (ek kom eers die oggend 2h van Hannover af).

Terug by die huis, het ek Mischa oortuig dat ons twee vandag die pad moet vat botaniese tuine toe. Wat 'n ervaring! Daar's natuurlik nou nie die planteverskeidenheid wat ons in Stellenbosch het nie, maar die plek is vreeslik mooi (selfs so vroeg in lente) en GROOT! Dis reusagtig groot daar, en hulle is besig om nog verder uit te brei. Ons het ook oppad terug gestop vir tee by 'n coffee shop, waar ek die kelnerin kon leer dat jy Rooibos moet laat treeeeeeeeeeek, net net vinnig die teesakkie afspoel soos gewone tee nie (of soos sekere Hollanders maak met Rooibos nie).

Ek het hope en hope foto's geneem (asook 'n paar van hoofkampus), en sal later vanaand dit op flickr sit.

Saturday, March 10, 2007

Ein ruhigen Samstag ins Dorf

Vanoggend vroeg het ek en Jakkie toe afgesuiker poskantoor toe om poskaarte te gaan pos. Dis 'n oefening wat egter jou sak so 'n bietjie ruk (posgeld is 'n ander ding wat duurder is hier), so dis nou nie iets wat elke week gaan gebeur nie.

Van daar af het is ek terug na die Euro winkel vir 'n botteloopmaker. Jip, ek het nou besluit, dit help nie ek het al die pad gekom om die Duitse wyne te proe, en ek's net beperk tot wat ek kan kry in 'n skroefdop nie. Nonsens.

So gepraat van wyn: op pad soontoe, loop ek toe 'n wynwinkel raak, en loer gou vinnig daar binne rond. Hulle het nou nie die wydste versameling SA wyne nie (bietjie Two Oceans, 'n paar bottels Simonsig, ens) maar wat my die meeste opgeval het, was dit betreklik goedkoop was. Ek het niks oor R60 daar gesien nie.

Die soektog na 'n paar skoene (ek het nog nie moed verloor om nog 'n paar lekker Adidas sneakers aan te koop nie) is in alle erns voortgesit, met 'n stuk of 7 winkels wat in 'n japtrap kafgedraf is. Dit lyk my tog ek sal vir tussen 20 en 30 Euro kan wegkom, as ek die regte winkel op die regte dag tref. Ek gaan egter my aankoop uitstel tot die grootste skoenwinkel in Elberfeld (toe vir bouwerk tot 17 Maart) ook oop is, blykbaar is dit iets soos ons Shoe City, maar net drie verdiepings daarvan.

Toe was dit om te gaan stap. Ek't my pad gekronkel al langs die rivier en ou geboue afgeneem, tot ek begin agterkom het ek's nou uit die Durbanville deel van Wuppertal, en in die Parow area. Eintlik het ek verkeerd gedraai: ek het bedoel om oos te gaan in die rigting van die Altstadt, maar 'n trippie deur die garages-en-motorhandelaars-distrik van Wuppertal was nogal interessant. Ek het eers omgedraai toe ek begin agterkom hier's nou baie fabrieke en min om te sien rondom my.

Terug in Elberfeld middestad, het ek 'n draai gaan maak by die plaasmark. Niks gekoop nie, maar dit was tog vermaaklik om 'n bietjie daar rond te loop en die kompeterende handelaars mekaar se groente te hoor beledig.

Net voor ek terug is huis toe, het ek gestop in 'n tipiese Duitse eetplek vir 'n tipiese Duitse middagete: Bratwurst (gebraaide varkwors), Kartoffelsalat (aartappelslaai, proe maar dieselfde as hoe ons dit hier maak) en 'n Brötchen ('n klein broodjie, sag aan die binnekant, maar met 'n kors so taai soos BS414). Dis okay, maar ek sal nie 'n uitstappie Duitsland toe aanbeveel net vir die cuisine nie. Volgende keer gaan ek egter een van die soppe probeer, of 'n Döner kry om die hoek.

Na ek 'n stop gemaak het by die huis, het ek weer Penny aangedurf vir my week se kruideniersware (eerder as wat ek, soos laasweek, elke tweede dag soontoe moes stap). Vandag op die random tafels was daar tuingereedskap, skoene (weer: kon seker nie uitverkoop kry laasweek nie), paashase en drukkokers.

Benewens die nodige, het ek my eerste bottel Duitse wyn ook gekry, iets waarvan Penny nogal min het. Die meeste is wyne op die rak is new world wyne, soos 'n SA "Western Cape Blend", wat ek vermoed net Tas is in 'n mooier bottel. Anyway, ek't toe maar gegaan vir die rooietjie uit Baden, en sal daaroor terugrapporteer 'n bietjie later.

Thursday, March 8, 2007

Penny Markt

Penny Markt (www.pennymarkt.de) is 'n snaakse winkeltjie.

Dis 'n kruideniersware winkel, omtrent so groot soos die Neelsie se 7Eleven, maar heelwat meer dig gepak met rakke, en 'n heelwat ander verskeidenheid produkte.

Daar's die standaard goed: melk, gevriesde kos, skoonmaakmiddels, lekkers, ensovoorts. Dan is daar 'n reuse verskeidenheid kase, brode, vleise (verwerkte vleis: hul vars vleis is maar beperk tot maalvleis en 'n paar tjoppe hier en daar) en wyne. 'n Tipe verskeidenheid wat 'n mens meer verwag van 'n groter tipe winkel. Dan is daar ook goed wat 'n mens sou verwag by 'n supermark hier, wat hulle glad nie het nie: speelgoed, skryfbehoeftes, kombuisware (soos 'n botteloopmaker, iets wat ek met 'n seer hart soek... ek gaan nie skroefdop wyn drink vir drie maande nie) en so aan.

Dan is daar die random tafels.

Dis sulke tafels wat min-of-meer in die middel van die winkel staan, met die vreemdste goed wat jy nou daar kan koop. Skoene, afstandbeheerde vliegtuie, wireless keyboard en muis, DVD opnemers (Nogal goedkoop, teen so R1000), blindings, koffiemasjiene... ek wil amper sê you name it, ek het dit al op 'n kol daar gesien.

Wat hierdie verskynsel nog snaakser maak, is dat ek nooit twee dae na mekaar dieselfde goed op daai tafels sien nie. Of hulle dit sirkuleer tussen die winkels, en of die goed uitverkoop (ek twyfel eintlik... ek het nog nooit iemand daar iets sien koop nie), dit weet ek nie. Maar dit dra net by tot die misterie van daai tafels.

Dis amper die moeite werd soontoe te stap bedags, net om te sien wat vandag op die tafels is.

CeBIT, Skype und Freitag

Wel, eerste dinge eerste.

Ek het maar my oë toegeknyp en 'n treinkaartjie gekoop na Hannover vir CeBIT (www.cebit.com). Ek weet ek gaan dit berou as ek aan die einde van die maand my laaste sente tel in Penny Markt, maar ek gaan nie weer die geleentheid kry nie. Plus, dis nou klaar gedoen.

Dan ook: almal van julle wat Skype het en my nog nie op jul lys van contacts gesit het nie: my username is "tstander", en ek sal dit baie waardeer om 'n paar stemme van die huis af te hoor van tyd tot tyd.

Môre is Vrydag. Om die geleentheid te vier, gaan ek twee dinge doen.
Ten eerste, gaan ek NIE môre daai donnerse bult uitklim nie. Ek gaan 'n enkelkaartjie koop, die 603 neem van my voordeur tot by Hermannshöhe, en dan sal ek daai laaste entjie stap (wat nogsteeds 'n deeglike workout is).
Tweedens, gaan ek nagereg koop by die AP (Anti-Plakkies, sien vorige post). Ek sien al die ander mense dit koop, en ek het dit nog nie probeer nie. Basta. Môre is dit my beurt, al moet ek nou my chocolate melkie opoffer.

Wednesday, March 7, 2007

Tuesday, March 6, 2007

Waschmaschine

Vanaand het ek (met 'n skok) uitgevind hoeveel dit werklik kos om wasgoed te was. Dis R100 om 'n kaart te koop vir die wasmasjiene, met 20 krediete vooraf gelaai. 'n Was hier kos 4 krediete, 'n siklus in die droër 3. Dis dus omtrent R35 per bondel, wat my laat wonder hoe duur water en elektrisiteit regtig hier is.

Maar, my klere (insluitende dié waarmee ek gevlieg het) is nou skoon en droog, en ek hoef eers weer volgende week bekommerd te wees oor waar die volgende R35 vandaan kom.

Die ANTI-PLAKKIES!

'n Post, spesiaal opgedra aan al my mede-stryders daar aan die verkeerde kant van Banhoegweg.

Vriende,

vir lank het ons gebuk gegaan onder die ystervuis regering van Plakkies daar in Stellenbosch. Ons word om elke hoek en draai bedreig met hoë pryse, nors gesigte agter die till, en koffie wat partykeer grys is en effens snaaks ruik.

Hier in die vreemde, het ek egter 'n teenvoeter gevind vir hierdie monster. Die Hoop van Hoop. Die Wonderbare:

ANTI-PLAKKIES!
(oftewel, die Ingenieurskafeteria hier in Wuppertal).

Die AP bied LEKKER kos (ek bedoel nou ma-se-kombuis tipe kwaliteit hier) in GROOT hoeveelhede teen BILLIKE pryse, met VRIENDELIKE personeel, HEERLIKE koffie wat jou tone laat krul, en chocolate melkies wat Steri Stumpie soos water laat proe. Dis fantasties. 'n Ervaring wat ek regtig kan aanbeveel.

Ongelukkig, soos meeste dinge, is die AP egter nie perfek nie. Daar's geen TV nie, so mens kan nie Judge Judy of Rick Lake se genot ervaar saam met jou kos nie. Aan die ander kant, daar's genoeg Duitsers om jou te vermaak, so dis seker okay.

Op 'n ander noot, kom ek nou agter die verstotenheid van die ingenieursgeboue (weg van hoofkampus) is nie uniek aan aan Stellenbosch nie. Hier, is die ingenieurskampus ook 'n ent van die hoofkampus af, en soos ek die mense hoor, klink dit my dit gaan maar oral so.

Ek het dus besluit: Wanneer ek eendag my eie universiteit begin, sal ek net die ingenieursgeboue, die studentesentrum, die admin geboue en die biblioteek op die hoofkampus hê, en al die ander fakulteite 2 km verder pos in alle rigtings. Hmmm, miskien moet ek Admin ook maar 'n bietjie verder wegpos... miskien na die buurdorp.

Erste Tag im Büro

Gister was nou amptelik my eerste dag op kantoor. Wel, soort van. Ek't soontoe geswoeg (daai 2 km opdraand voel nog verder as dit ysreën rondom jou... ek kannie wag vir my buskaartjie nie), 'n bietjie die plek verken, almal ontmoet, gesien waar die kombuis met die tee is (natuurlik geen Rooibos nie... 'n situasie wat ek vandag vinnig gerepireer het), en toe 'n lift gevang na die Meldebehörde in Oberbarmen. Oppad soontoe sou ek uitvind dat, tot taamlik onlangs, Wuppertal 'n klomp verkillende stede was. Elberfeld (waar die universiteit is) was een, en Oberbarmen een van die ander.

Anyway, alles het vlot verloop, en ek kon aanmeld as inwoner van Wuppertal vir die volgende drie maande. Martin (Prof. Chaloupka se laaste PhD student) het my daarna 'n bietjie Oberbarmen gewys (foto's volg later vanaand), waarna ons in Ronsdorf gaan eet het. 'n Tipiese Duitse ete (schnitzel, chips en slaai) in 'n tipies on-Duitse restaurant ('n Turkse kebab take-away plek). Maar heel lekker.

Gister-aand was dan ook my eerste ontmoeting met die ander internasionale studente by die Uni Kneipe (kuierplek). Ons was toe 'n hele volle 2 daar, met so 4 ander Duitse studente. Dis lekker om met 'n ander buitelander Duits te oefen, want julle praat ewe stadig en ewe eenvoudig. Hy ken 'n paar woorde wat ek nie ken nie en vice versa, so 'n mens leer maar so. Die Duitsers is egter baie geduldig, praat mooi stadig as jy vra, en kan vinnig vertaal. Oor die algemeen (behalwe vir die Duitse bier, wat nou nie op my gunsteling lysie sal verskyn binnekort nie), 'n heel aangename aand.

Dis nou, behalwe vir die kwartier wat ons buite op die straat (in die koue) gesels het terwyl ek en Jakkie ('n Spanjaard, wat ook nie gewoond is aan die koue nie) staan en bibber. Ek's seker die Duitsers is almal eintlik ysbere wat net elke dan hul human suits oopzip om 'n draai te loop. Die mense hier ken net nie van koudkry nie.

Sunday, March 4, 2007

Rotwein und Wäsche

Nee, nie bymekaar nie, maar die post gaan oor albei.

Ek het toe daai bottel rooiwyn oopgemaak. Dit proe soos koeldrank, of erger, daai "naturally sweet red" wat Four Cousins maak, wat my ma so graag drink. Ga.

Die ander een was 'n opmerking van Mischa. Vandag vra ek hom waar ek 'n kaart kan koop vir die wasmasjiene hier by die Wohngemeinschaft. Wat my baie verbaas het, is dat hy nie geweet het nie. Die rede hoekom dit my verbaas het, is omdat hy al 'n maand lank hier woon. Dit beteken dat hy óf 'n maand se klere saamgebring het van Ukraine, óf nie heeltemal so skoon en netjies is soos wat ek aanvanklik gedink het nie...

"It was very nice travel"


101_0627, originally uploaded by tstander.

Ek, Mischa en een van Mischa se labmates, Roman (ook 'n kenfisikus, maar hierdie keer van Rusland) het vandag weer Elberfeld ingevaar.

Op pad soontoe ('n heelwat korter pad as wat ek tevore geneem het) het ek nog 'n paar dinge opgelet. Eerstens kon ek nie agterkom waar die mense petrol koop nie. Ek sien oral karre, maar geen vulstasies nie. Vreemd. Die ander ding was dat die meeste van die kerke hier in Wuppertal (en hier is BAIE) se klokke lui en mense instap op Sondae. Dis glad nie net 'n klomp leë geboue soos waarvan ek vooraf gehoor het nie, hier's 'n klomp aktiewe gemeentes.

Anyway, ek het toe op 'n plek afgekom wat lekker skoene verkoop (nou nie presies die Adidas sneakers wat ek soek nie, maar amper) vir so 20 Euro. Roman het my ook beduie waar ek sulke skoene kan koop vir 5 Euro, maar dit sal ek glo as ek dit sien. Sy Engels is so gebroke, hy kon ook bedoel het hy het eenkeer 5 Euro muntstukke in sy skoen gegooi iewers :)

Ons het lekker rondgeloop en foto's geneem (meer foto's by http://www.flickr.com/photos/38118825@N00/), döners geëet en by 'n roomys winkel gestop. Ek't nou nie vir my gekry nie (die temperatuur was 10C, so 'n bietjie te koud vir roomys vir my, veral met die dat ek my warm baadjie by die huis gelos het), maar Roman (wat 'n minuut vroeër aan my verduidelik het dat dit heel winter by hulle -30C was) het wel een gekry. Wou seker 'n bietjie afkoel van hierdie verskriklike hitte.

Oja, die titel was my flatmate se opmerking toe ons terugkom by die Wohngemeinschaft.

Môre gaan ek maar 'n lekker lang dag op kantoor insit, en dan iewers in die week gaan aanmeld by die Meldebehörde aan die ander kant van die stad. Dis te ver om te loop (seker maklik 'n uur van hier af), so die maklikste manier om daar uit te kom is met die Schwebebahn (bietjie duur, maar lekker geleentheid vir foto's neem), en op hierdie stadium voel ek ek eet eerder een minder döner as wat ek verdwaal in Wuppertal.

Saturday, March 3, 2007

Die Deutsche und Englische Sprache

Ek het nog 'n ver ent om te gaan met my Duits.

Aanvanklik was ek maar baie skepties oor my vermoëns, veral na ek die afkondigings op die Lufthansa flug amper glad nie kon verstaan nie. Dieselfde het gegeld vir die afkondigings op die trein (dankie tog ek het verstaan dat ons aansluiting in Köln vir ons wag, anders het ek daar weggeloop om 'n ander trein te soek), en die arme ou in die 1 Euro shop wat vir my probeer verduidelik het dat hy vir my 'n sakkie probeer aanbied (10 uit 10 vir sy geduld).

Ek het egter ook al rede gehad om moed te skep. Soos toe ek 'n broodjie gekoop het by die treinstasie in Frankfurt. Ek kon vir die ou verduidelik ek kom van Stellenbosch, dat ons vrugte daar heelwat goedkoper is as waarvoor hy dit verkoop, en kon 'n paar vrae oor die wyn in Stellenbosch beantwoord. Dieselfde toe Rebekka vir my by die treinstasie kom haal het. Ek kon haar heel goed volg en orraait gesels, tot my brein op 'n stadium net op een woord vasgehaak het en ons oorgeskakel het Engels toe. Die kersie op die koek was natuurlik toe die ou wat aan my die verskillende opsies vir selfone verduidelik het, heel verbaas was om my SA paspoort te sien, en my gekomplimenteer het met my "goeie Duits". Ek wens hulle gee hom 'n reuse kommissie vir daardie sale.

Ek het egter besluit om met my promotors hier (Heinz Chaloupka en Volkert Hansen) Engels te praat. Dis een ding om gaandeweg te leer hoe om small talk te maak, maar in daardie omgewing moet jy tegniese terme kan gebruik... 'n brug wat my Duits nog nie oorgesteek het nie. Ek sal stadigaan die goed begin leer, maar vir eers gaan ek maar voort in Rooinek.

Heelwat minder mense praat en verstaan Engels as wat ek verwag het. By die AOK het net een tannie in die kantoor 'n bietjie gebroke Engels gepraat. Die mense by die AAA praat ook nie almal Engels nie. Ek verstaan dus heeltemal dat die mense hul flieks oorklank in Duits.

Hier en daar probeer ek dingetjies doen om my Duits te verbeter wanneer ek nie in 'n gesprek is nie. Een daarvan, is om my PDA met my tweetalige woordeboek by my te dra 24/7. Elke keer as ek aan iets dink, of iets sien waarvan ek nie die Duitse woord ken nie, soek ek dit vinnig op. Ek gaan van Maandag af ook probeer om 'n Duitse koerant in die hande te kry.

Wat egter nie help nie, is dat Mischa se Duits slegter is as myne, so ons kom oor die weg in Engels (hy klink plek-plek nogal 'n bietjie soos Borat). Waarteen ek egter moet waak, is soos hy te begin praat. Ek't myself vandag gevang dit doen toe ek by die deur uitstap en sê "OK, I go now!". Sies, Tinus. Ek sal meer op my hoede wees in toekoms.

Maandag trek in 'n lab in vol Duitsers, so ek sal daar verder moet oefen.

Flatmate (ek kry nie 'n Duitse vertaling daarvoor nie)

Mischa is 'n nadoktorale navorser by die Chemie departement hier. Hy't laasjaar sy PhD in Kernfisika klaargemaak in Kiev (hyself is van 'n ander deel van Ukraine), en studeer vanjaar hier op 'n Erasmus stipend. Hy's stil, pynlik netjiese en vriendelike ou, wat graag self kook wanner hy die kans kry, heeldag voor sy rekenaar sit, graag tee drink, bedags eers na 10 ingaan lab toe, en nie 'n stoornis is vir enigiemand nie.

In kort: ek woon langs myself (wel, behalwe vir die pynlik netjiese deel). En ek's 'n fantastiese flatmate.

Soos enigiemand, het hy ook sy quirks. Hy luister heeldag na die stream van 'n radiostasie in Ukraine. Dit klink soos 'n tipe nuusdiens, want ek hoor net manne ernstig praat heeldag - geen musiek of ander stemme nie.

Ons het nou al ooreengekom om elkeen ons eie kruideniersware te behartig, en sal op 'n stadium iets uitwerk rondom die skoonmaak van die woonstel (maar met 'n pynlike netjiese ou soos hy, sal dit nie 'n probleem wees nie).

Mischa gaan my nog die gewoonte laat aanleer, voor einde Mei, om na elke maaltyd my skottelgoed te was, pleks om dit te laat opstapel vir 'n week of twee.

Einkaufen

My eerste paar dae se inkopies hier in Duitsland was nogal insiggewend.

Natuurlik, heel eerste, soek ek Donderdag-aand 'n kruideniersware winkel vir die nodige brood, melk, suiker, en ontbytgraankos, net om aan die gang te kom die volgende dag. Ek is deur Rebekka (die meisie van die International Students Team, wat my kom haal het by die treinstasie) verwys na Penny Platz, net so 'n paar verdiepings se trappe af agter die Wohngemeinschaft. Hulle sê om min te slaap is so goed soos om dronk te wees, so met my dutch courage vaar ek toe Penny Platz in.

Eerstens kon ek nie 'n trollie loskry nie. Die goed is aanmekaargeketting, en ek sou eers later agterkom dat jy 'n munt in die gleufie moet druk om die slot oop te kry (ek weet nog net nie watse munt nie, maar ek sal weldra een probeer en kyk wat gebeur). Toe ek sien almal loop rond met hul inkopie sakke, kom ek agter ek het vergeet om iets te bring om die kruideniersware in huis toe te dra. Dis eers die volgende dag dat ek per ongeluk sien jy KAN sakke koop, jy moet net weet waar om te kyk.

Gewone kruideniersware is nie regtig duurder hier as in SA nie. Groente is natuurlik 'n bietjie duurder (vars en gevries), maar dit maak jy weer op deur die goedkoper vleis. Dieselfde tipe goed is natuurlik ook goedkoper (mince teenoor steak, 2 minute noodles tenoor pasta-en-sous boksies), so ek kan maar meestal hier koop wat ek by die huis koop.

Wat my hart natuurlik vreeslik bly gemaak het, was om te sien Penny Platz verkoop wyn ook. Ek't vandag (na ek yskoud en sopnat was van verdwaal in Wuppertal) vir my daar 'n bottel Mazedonischer Rotwein gekry. Daar staan nie van watter landgoed dit kom nie, so ek vermoed dis maar hul weergawe van Tas. Dit was ook die enigste bottel in die winkel met 'n skroefdop, wat ek maar noodgedwonge moes neem, siende dat ons nie 'n botteloopmaker hier het nie (maar dit sal verander). Plus, selfs al is dit 'n liter bottel, is dit die goedkoopste op die rak. Ek't nou nog nie kans gekry om dit uit te toets nie, maar ek sal julle op hoogte hou.

Na my registrasie Vrydag, het ek ook 'n bietjie die groot stad ingevaar. So deur my wandelinge, kom ek toe op twee interessante plekke af. Die een is die winkelsentrum naby die hoof treinstasie, "City-Arkade". Dis omtrent so groot soos Eikestad Mall, maar pragtig versier met die mooiste fonteine. By 'n elektronika winkel daar kon ek toe 'n selfoon simkaart en netwerk kabel bekom, maar nie sonder 'n paar handtekeninge nie. In Duitsland, as jy 'n prepaid kaart koop, moet jy op 'n databasis geregistreer word en daarvoor teken. Anyway, gelukkig het ek toe my paspoort en my Wohngemeinschaft adres by my gehad, so ek kon een koop. Die ou wou ook nie vir my glo toe ek hom vertel het prepaid fone is 'n SA uitvindsel nie. Ek wonder of hy toe ooit op wikipedia gaan kyk het...

Ek kom daar toe ook af op 'n boekwinkel waar ek 'n paar Wuppertal poskaarte kon kry. Die gelukkiges onder julle behoort dit te ontvang sodra ek kan uitfigure waar ek kan posseëls koop.

Daar was ook 'n skoenwinkel, en ek het so vinnig daar ingeloer, maar to sien ek ewe skielik daar's net vroue in die winkel. Nie dat 'n mens uit die skoene wat daar staan kan aflei dat dit dameskoene is nie, maar 'n mens wil tog 'n goeie ambassedeur wees en nie sulke gender ambigous goed aanvang soos damesklere koop nie. Nou dat ek daaraan terugdink, wonder ek of ek nie net toevallig op die verkeerde tyd daar ingestap het nie. Miskien moet ek maar weer gaan kyk en sien of ek enige mans daar sien skoene aanpas.

Net langs City-Arkade is 'n Elberfeld, 'n klomp loopgange met winkeltjies. Die Bellville in my het natuurlik die fonds van die dag uitgesnuffel: die 1 Euro shop, waar alles op die rak 1 Euro stuk is. Ek het daar lekker vir my 'n koffiebeker (Duitse sokker, wat anders?) en papbakkie gekry, asook 'n afdroogdoek en iets wat ek nie gedink het ek sou kry nie: cable ties, om my vlag vas te maak aan die balkon. As ek weer iets nodig het, sal ek weer daar gaan soek.

Dis 'n lekker area om in te shop, net jammer dis omtrent 20 minute na 'n halfuur se stap om daar uit te kom. Miskien sal ek maar teruggaan sodra ek 'n buskaartjie het. Dit sal ook help om my geld in my sak te hou... as Penny Platz nie intussen alles opeet nie...

Eintragung

Vrydag-oggend moes ek gaan registreer by die Akademische Auslandsamt. Ek moet eerlik sê, die mense hier is baie gaaf, maar nie daai klomp nie. Dit moet 'n vreeslike slegte werk wees, of hulle moet regtig goedkoop koffie drink, of iets, want to ek 08h30 daar instap, is ek begroet met die suurste gesigte wat ek tot nou toe hier in Duitsland gesien het (dit sluit nou die nors tannie in wat oorkant my gesit het op die trein tussen Mainz en Köln). Wat dinge natuurlik vererger het, is dat my aansoek nie heeltemal volledig was nie. Ek moes eers by die AOK kantoor 'n brief gaan haal het wat bewys ek mediese versekering het.

Daar aangekom, kom ek toe agter (na 'n bietjie wisseling tussen my swak Duits en hul swak Engels) dat, as jy in Duitsland studeer, moet jy "gewone" mediese dekking hê. Reisversekering is onvoldoende.

Na heelwat onderhandling, kon ek toe vir hulle oortuig dat ek 'n mediese fonds het in SA wat vir my mediese dekking bied in die buiteland vir ten minste 90 dae se reis, waarmee hulle toe tevrede was.

Sjoe.

Ongelukkig was dit nie die einde van my registrasiekrampe nie. Daar aangekom en vorm ingevul (met my PDA naby... dit dien as my woordeboek hier) kom ek agter ek't hier geland 'n maand voor hul somer semester. Dit beteken, al my byvoordele van registrasie (meer spesifiek, toegang tot publieke vervoer) word eers geaktiveer op 1 April. Tot dan, moet ek maar stap waar ek wil wees.

Ook moes ek betaal vir daardie byvoordele vir 'n volle 6 maande, waarvan ek net 2 gaan benut. Hulle't gesê hulle gaan kyk of ek iets kan terugkry sodra ek my registrasie kanselleer in Mei, maar ons sal maar sien wat daarvan kom.

Beobachtungen

Twee goed wat my sopas getref het:

Ek het nog nie een mier, vlieg, kakkerlak, mot of enige ander insek gesien nie. Ek weet dis winter, maar 'n mens sou darem iets verwag het?

Dan ook: Die 2 Euro munt het presies dieselfde grootte, vorm en kombinasie van silwer en brons as die R5 stuk. Ek wonder of ek daarmee sou kon wegkom...

Wohngemeinschaft

Ek woon hier in 'n 5e vloer dubbelwoonstel met 'n nadoktorale genoot in Fisika van Ukraine (meer oor hom in 'n ander post). Die woonstel is heel gerieflik (sien foto's) en baie modern. Natuurlik het al die kamers central heating en double-glazed vensters, wat ek elke dag meer en meer waardeer. Die deure is ook dik en die kosyne seël dig, wat verder help om dit warm te hou. Dit maak die kamers ook taamlik klankdig, waaroor ek baie bly is.

Die badkamer is voldoende (stort, toilet en wasbak) en het die grootste en warmste verhitter. Dis dus die aangewese plek om 'n nat broek of nat skoene te plaas om vinnig droog te word.

Al wat ek het teen die plek, is die swak verskoning vir 'n kombuis. Hier's 'n wasbak, 2 plaat stoof en 'n yskas. Ek het nou nie 'n koffiemasjien verwag nie, en 'n oond sou ook 'n (welkome) luuksheid gewees het, maar mens verdag darem 'n mikrogolf en 'n ketel, of hoe? Ons kook nou maar water op die stoof as ons iets wil maak, maar ek gaan regtig kyk vir 'n ketel op 'n stadium.

Ek't ook 'n gebruik vir my vlag gevind. Al die internasionale studente hier hang hul landsvlae van hul balkonne af, om te wys waarvandaan almal kom. Ek't nou dieselfde gedoen, met die cable ties wat ek (per ongeluk) by die 1 Euro winkel gekry het.

Erste Eindrücke

Ok, so na my lekker wandeling in die reën waartydens ek my disnis verdwaal het, kan ek verder skryf oor my eerste indrukke van Duitsland, Wuppertal en die Bergische Universität.

Eerste indrukke oor Wuppertal is dat dit maar 'n stad is, soos stede nou maar is. Dis nie vreeslik mooi of vreeslik lelik nie, nie besonders groot of klein nie. Dis maar net 'n stad, met sy kwota ouerige geboue, verkeer, winkels en mense. Wat 'n mens wel opval, is dat dit vreeslik heuwelrig is. Alles lê teen 'n skuinste, en jy loop nooit êrens heen sonder om iewers te moet trappe klim nie. Ek en Elinda het 'n bietjie bespiegel (voor ek gekom het) oor hoe die Duitsers hul gewig in toom hou met die hoeveelheid bier, brood en wors wat hulle inneem, sonder om verskriklik baie te gimneer (om André se woord vir 'n oomblik te leen). Nou weet ek. Jy hoef nie 'n gimnasium (waarvan ek nog nie een gesien het nie) te besoek om te oefen nie, jy stap net elke dag eenmaal winkel toe. Natuurlik ry niemand dan ook hier fiets nie. Dis net hopeloos te heuwelagtig.

Wat 'n mens egter vinnig oplet, is dat daar nêrens polisie op straat is nie. Ek het by die lughawe in Frankfurt vreeslik baie polisie gesien (meer as in Kaapstad of Johannesburg), maar nog nie een in Wuppertal nie. Mense ervaar ook nie duidelik misdaad as 'n daaglikse gebeurtenis nie, en tref min voorsorg daarteen. Die bank het nie koeëlvaste vensters nie, die mense los hul tasse en sakke alleen in die trein, en ou tannies loop dodgy agterstraatjies alleen in die nag. Aan die ander kant, in 'n welsynstaat soos hierdie is dit seker nie nodig dat iemand steel nie.

Terug by die heuwelagtige omgewing: Toe hierdie mense die universiteit "Bergisch" genoem het, het hulle waaragtig nie 'n grap gemaak nie. Na hoofkampus (reg oorkant die pad) moet ek die ekwivalent van seker 5 of 6 verdiepings se trappe klim om by die Akademische Auslandsamt uit te kom. Dan is daar nog trape verder op by die bokant van die kampus uit te kom, en dan begin die opdraande (13 grade, volgens die waarskuwingsbord) 2km pad tot by my kampus (reg bo-op die heuwel) eers.

Daar is 'n bus wat loop (van net bokant die Wohngemeinschaft) tot by Campus Freudenberg (waar ek werk), maar my buskaartjie werk eers van die 1ste April af (meer oor daardie brokkie genot in die "Eintragung" post). Die eindresultaat? Ek gaan ongelooflik fiks raak hier in Duitsland.

Reisen

Reg, hier's nog een van daai lang lys posts waaroor ek julle gewaarsku het.

Eerstens, oor die vlug van Kaapstad na Londen: Ek dink ek stap terug Kaapstad toe. Hierdie 12 ure in 'n vliegtuig doen dit glad nie vir my nie.

Op papier, was alles perfek. Die kos was nogal lekker, maar miskien is dit net omdat ek nie 'n vreeslike fussy eater is nie. Die baked beans by ontbyt was maar tipies Engels, maar die res was heel lekker... veral die witwyn saam met aandete. Die vermaak was heel gangbaar... oulike flieks, maar ek't nooit een deurgekyk nie. Ek't maar meestal die Britse comedy sketches gekyk, want vir hulle kon jy maar vir 10 minute op 'n slag wakker wees, verder probeer slaap, en dan weer verder kyk.

Ek kon net glad nie slaap nie. Ek weet nie wat dit was nie, maar ek het seker vir so 3 ure geslaap, en ooit langer as 'n halfuur op 'n slag nie. Elke nou en dan word ek wakker, kyk op die kaart hoe ver ons nog moet gaan, sug mismoedig, kyk 'n vinnige sketch, en probeer weer van voor af. En dan raak ek so kwaad as die vlieënier so kruie. Een oomblik sien ek ons vlieg nog 'n respektabele 900km/h, en die volgende oomblik, 'n skamele 820km/h. Dis asof hy aspris stadiger gaan om my ongemak verder uit te rek. Ek't later gevoel ek kan begin sing "Omie, trap die petrol", of dalk self vorentoe gaan en vir hom gaan wys hoe dit eintlik gedoen word.

In Londen aangekom, hoor ons toe die lughawens in Europe is 'n nagmerrie a.g.v. slegte weer. Hulle kon toe gelukkig vir my op 'n vroeë, maar vertraagde (die netto effek was dat ek opstyg presies die tyd wat ek moes) vlug sit van Londen na Frankfurt, so ek was betyds vir my trein. En my bagasie (wat op genade alleen na die ander vlug oorgeboek is) ook.

Genadiglik het ek al my treinkonneksies gehaal, en elke keer korrek oorgeklim. Ek het egter amper my konneksie in Köln gemis a.g.v. 'n vertraging in Bonn (die trein was 'n hele volle 6 minute laat... skande!)

Net om seker te maak en geniet die volle spektrum van reismoontlikhede in Duitsland, het ek die bus geneem van die treinstasie na die universiteit. Hier het iemand my darem kom haal en op die regte bus gesit. Ook maar beter so, anders het ek nou nog daar gestaan.

Nouja, laat ek gou my skottelgoed gaan was, dan kom skryf ek nou-nou verder oor "Erste Eindrücke" oor die land, die stad en kampus.

Rusdag

Die plan was om vandag 'n bietjie meer van die middestad te gaan verken op soek na nog 'n paar sneakers ('n mens kry nie meer die lekker Adidas sneakers in SA nie), maar ek het van plan verander. Eerstens, omdat die weer buite horrigooslik sleg is (baie koud, sterk wind, reën) en ek het nie kans gesien om in hierdie weer al die pad te stap middestad toe nie. My buskaartjie kry ek ook eers in April (meer oor daardie brokkie genot in my "Eintragen") post, en ek's nie lus om 2 Euro te betaal vir die bus nie.

Tweedens, het ek 'n bietjie op die Internet gaan kyk vir hoeveel hierdie sneakers gaan op die ope mark. Hulle begin tipies by R500, en gaan op tot oor die R750. Oeps. Miskien moet ek maar my besluit heroorweeg tot my volgende maand se huur betaal is. Dan het ek sommer my buskaartjie ook, en kan ek ry waar ek kan koop.

Ek het dus besluit, na my gejaag van die afgelope drie dae, om vandag in te stel as 'n rusdag. Dit gee my kans om my blog op datum te kry, en die klank van die druppels op my double-glazed ruite te geniet. Miskien kan ek ook 'n bietjie met my flatmate bond. Miskien kan ek hom oortuig dat dit in beide van ons se belang is om in Duits te probeer kommunikeer, of dalk om net saam te kom na vanaand se "Spring Break Party" in die Mensa.

FOTOS!!!!

http://www.flickr.com/photos/38118825@N00/

Kyk en geniet!

Foto's en meer

Okay, ek het gedink om sommer vanaand al 10 van hierdie posts klaar te maak, maar my moed (en my energie... lees die inskrywing oor die geografiese ligging van die kampus hier) het my nou ewe skielik verlaat. Plus, ek wil nog 'n paar foto's hier aflaai. Hmmm, ag nee wat, ek dink dit kan ook maar wag. Ek sal dit als saam môre of oormôre doen.

Gute Nacht!

Inpak

'n Mens kan nie jou hele lewe inpas in 20 kg nie. Dit kom ek toe agter 'n uur voor ek moes ry lughawe toe, wat tipies nie die tyd is wanneer jy dit wil agterkom nie.

Ek moes al drama verwag het toe ek die eerste keer my handbagasie geweeg het, en dit 5kg oor was. Natuurlik was die notebook die vark in die verhaal. Op 3kg, 'n ware potjierol. Maar, dit moes in die handbagasie kom, so ek gooi toe maar 'n paar van die ander goeters uit. My Popular Mechanics wat ek nooit kans kry om te lees nie, moes ek maar los vir wanner ek terugkom *snik*, asook die boek wat Carla vir my geleen het. Op einde laas kon ek, na 'n indringende dieet, my handbagasie afkry na die maksimum 8kg.

My groot tas was egter die groot blikskottel (Siende dat my ma ook hierdie blog lees, gaan ek maar liewers bliksem, moer en dôner vermy. Behalwe, natuurlik, as dit regtig nodig is.). Ek's so amper klaar gepak (die absolute broodnodige klere, skoene, dokumente, medisyne, toebehore ens), toe ek besluit het om vinnig te weeg om te sien hoeveel geskenke en minder noodsaaklike goed ek kan neem. 25kg. Wat presies is hoeveel ek land-uit kan gaan met BA, maar wat 'n volle R1500 in excess baggage by Lufthansa sou wees.

In so 'n situasie begin 'n mens vinning nadink ook waarsonder jy werklik kan lewe, en waarsonder nie. Wat dinge natuulik slegter maak, is dat ek moet pak vir twee seisoene op twee kontinente.

So wat los jy? Die ekstra langbroek? Kortbroek (nou nie Marthinus nie)? Die tweede trui? Die droë vrugte, of dalk Liza se Amarula? Of dalk alles van die bovermelde?

Natuurlik moes al die bovermelde gaan, asook 'n my wireless muis, notebook sak (ek het 'n ander, dunner, ligter sak geneem) en 'n hele gros ander dinge wat ek gedink het ek hier sou kon vervang. Genadiglik het ek nog nie iets hier nodig gekry wat ek nie kon aankoop nie (behalwe natuurlik my beskuit), so ons hoop maar vir die beste. Ons hoop veral vir die beste as Liza agterkom haar beskuit, Amarula en droë vrugte lê in Bellville. Miskien sal die Rooibos, biltong en my ma se beskuitresep daarvoor opmaak.

Beste deel is, my handbagasie is nêrens geweeg nie, en my bagasie net by check-in vir BA by Kaapstad, (ek't aanvanklik gedink ek gaan nie deurboek tot in Frankfurt nie, maar is deur die dame by BA andersins oortuig) waar dit 'n volle 3.5 kg ondergewig was. Miskien sal ek daardie plek gebruik vir my versameling bierbekers oppad terug.

Friday, March 2, 2007

Die lig aan die einde van die blog-tonnel...

... is 'n goederetrein vol posts wat oppad is jou kant toe!

Jip, ek en al my bagasie het veilig hier aangekom, ingesettle, 'n bietjie die stad verken, geregistreer, versekering gedodge, my promotor gaan sien, en vir my woonstelmaat geleer van Rooibostee en parallelle (ek dink dis 4 l'e.. aag wat) getrek tussen die magstryde in die regerende partye van SA en Ukraine.

Die volgende stuk of 10 posts gaan oor alles wat met my gebeur het (m.b.t. my avontuur hier, natuurlik) sedert ek laas iets hier geskryf het. Dis rofweg chronoligies, maar is meer ingedeel volgens onderwerp.

Lees en geniet! En e-mail my as jy my selnommer hier soek, ek sal dit aanstuur.