Tuesday, March 6, 2007

Erste Tag im Büro

Gister was nou amptelik my eerste dag op kantoor. Wel, soort van. Ek't soontoe geswoeg (daai 2 km opdraand voel nog verder as dit ysreën rondom jou... ek kannie wag vir my buskaartjie nie), 'n bietjie die plek verken, almal ontmoet, gesien waar die kombuis met die tee is (natuurlik geen Rooibos nie... 'n situasie wat ek vandag vinnig gerepireer het), en toe 'n lift gevang na die Meldebehörde in Oberbarmen. Oppad soontoe sou ek uitvind dat, tot taamlik onlangs, Wuppertal 'n klomp verkillende stede was. Elberfeld (waar die universiteit is) was een, en Oberbarmen een van die ander.

Anyway, alles het vlot verloop, en ek kon aanmeld as inwoner van Wuppertal vir die volgende drie maande. Martin (Prof. Chaloupka se laaste PhD student) het my daarna 'n bietjie Oberbarmen gewys (foto's volg later vanaand), waarna ons in Ronsdorf gaan eet het. 'n Tipiese Duitse ete (schnitzel, chips en slaai) in 'n tipies on-Duitse restaurant ('n Turkse kebab take-away plek). Maar heel lekker.

Gister-aand was dan ook my eerste ontmoeting met die ander internasionale studente by die Uni Kneipe (kuierplek). Ons was toe 'n hele volle 2 daar, met so 4 ander Duitse studente. Dis lekker om met 'n ander buitelander Duits te oefen, want julle praat ewe stadig en ewe eenvoudig. Hy ken 'n paar woorde wat ek nie ken nie en vice versa, so 'n mens leer maar so. Die Duitsers is egter baie geduldig, praat mooi stadig as jy vra, en kan vinnig vertaal. Oor die algemeen (behalwe vir die Duitse bier, wat nou nie op my gunsteling lysie sal verskyn binnekort nie), 'n heel aangename aand.

Dis nou, behalwe vir die kwartier wat ons buite op die straat (in die koue) gesels het terwyl ek en Jakkie ('n Spanjaard, wat ook nie gewoond is aan die koue nie) staan en bibber. Ek's seker die Duitsers is almal eintlik ysbere wat net elke dan hul human suits oopzip om 'n draai te loop. Die mense hier ken net nie van koudkry nie.