Saturday, March 3, 2007

Rusdag

Die plan was om vandag 'n bietjie meer van die middestad te gaan verken op soek na nog 'n paar sneakers ('n mens kry nie meer die lekker Adidas sneakers in SA nie), maar ek het van plan verander. Eerstens, omdat die weer buite horrigooslik sleg is (baie koud, sterk wind, reën) en ek het nie kans gesien om in hierdie weer al die pad te stap middestad toe nie. My buskaartjie kry ek ook eers in April (meer oor daardie brokkie genot in my "Eintragen") post, en ek's nie lus om 2 Euro te betaal vir die bus nie.

Tweedens, het ek 'n bietjie op die Internet gaan kyk vir hoeveel hierdie sneakers gaan op die ope mark. Hulle begin tipies by R500, en gaan op tot oor die R750. Oeps. Miskien moet ek maar my besluit heroorweeg tot my volgende maand se huur betaal is. Dan het ek sommer my buskaartjie ook, en kan ek ry waar ek kan koop.

Ek het dus besluit, na my gejaag van die afgelope drie dae, om vandag in te stel as 'n rusdag. Dit gee my kans om my blog op datum te kry, en die klank van die druppels op my double-glazed ruite te geniet. Miskien kan ek ook 'n bietjie met my flatmate bond. Miskien kan ek hom oortuig dat dit in beide van ons se belang is om in Duits te probeer kommunikeer, of dalk om net saam te kom na vanaand se "Spring Break Party" in die Mensa.