Thursday, March 8, 2007

Penny Markt

Penny Markt (www.pennymarkt.de) is 'n snaakse winkeltjie.

Dis 'n kruideniersware winkel, omtrent so groot soos die Neelsie se 7Eleven, maar heelwat meer dig gepak met rakke, en 'n heelwat ander verskeidenheid produkte.

Daar's die standaard goed: melk, gevriesde kos, skoonmaakmiddels, lekkers, ensovoorts. Dan is daar 'n reuse verskeidenheid kase, brode, vleise (verwerkte vleis: hul vars vleis is maar beperk tot maalvleis en 'n paar tjoppe hier en daar) en wyne. 'n Tipe verskeidenheid wat 'n mens meer verwag van 'n groter tipe winkel. Dan is daar ook goed wat 'n mens sou verwag by 'n supermark hier, wat hulle glad nie het nie: speelgoed, skryfbehoeftes, kombuisware (soos 'n botteloopmaker, iets wat ek met 'n seer hart soek... ek gaan nie skroefdop wyn drink vir drie maande nie) en so aan.

Dan is daar die random tafels.

Dis sulke tafels wat min-of-meer in die middel van die winkel staan, met die vreemdste goed wat jy nou daar kan koop. Skoene, afstandbeheerde vliegtuie, wireless keyboard en muis, DVD opnemers (Nogal goedkoop, teen so R1000), blindings, koffiemasjiene... ek wil amper sê you name it, ek het dit al op 'n kol daar gesien.

Wat hierdie verskynsel nog snaakser maak, is dat ek nooit twee dae na mekaar dieselfde goed op daai tafels sien nie. Of hulle dit sirkuleer tussen die winkels, en of die goed uitverkoop (ek twyfel eintlik... ek het nog nooit iemand daar iets sien koop nie), dit weet ek nie. Maar dit dra net by tot die misterie van daai tafels.

Dis amper die moeite werd soontoe te stap bedags, net om te sien wat vandag op die tafels is.