Saturday, March 3, 2007

Reisen

Reg, hier's nog een van daai lang lys posts waaroor ek julle gewaarsku het.

Eerstens, oor die vlug van Kaapstad na Londen: Ek dink ek stap terug Kaapstad toe. Hierdie 12 ure in 'n vliegtuig doen dit glad nie vir my nie.

Op papier, was alles perfek. Die kos was nogal lekker, maar miskien is dit net omdat ek nie 'n vreeslike fussy eater is nie. Die baked beans by ontbyt was maar tipies Engels, maar die res was heel lekker... veral die witwyn saam met aandete. Die vermaak was heel gangbaar... oulike flieks, maar ek't nooit een deurgekyk nie. Ek't maar meestal die Britse comedy sketches gekyk, want vir hulle kon jy maar vir 10 minute op 'n slag wakker wees, verder probeer slaap, en dan weer verder kyk.

Ek kon net glad nie slaap nie. Ek weet nie wat dit was nie, maar ek het seker vir so 3 ure geslaap, en ooit langer as 'n halfuur op 'n slag nie. Elke nou en dan word ek wakker, kyk op die kaart hoe ver ons nog moet gaan, sug mismoedig, kyk 'n vinnige sketch, en probeer weer van voor af. En dan raak ek so kwaad as die vlieënier so kruie. Een oomblik sien ek ons vlieg nog 'n respektabele 900km/h, en die volgende oomblik, 'n skamele 820km/h. Dis asof hy aspris stadiger gaan om my ongemak verder uit te rek. Ek't later gevoel ek kan begin sing "Omie, trap die petrol", of dalk self vorentoe gaan en vir hom gaan wys hoe dit eintlik gedoen word.

In Londen aangekom, hoor ons toe die lughawens in Europe is 'n nagmerrie a.g.v. slegte weer. Hulle kon toe gelukkig vir my op 'n vroeë, maar vertraagde (die netto effek was dat ek opstyg presies die tyd wat ek moes) vlug sit van Londen na Frankfurt, so ek was betyds vir my trein. En my bagasie (wat op genade alleen na die ander vlug oorgeboek is) ook.

Genadiglik het ek al my treinkonneksies gehaal, en elke keer korrek oorgeklim. Ek het egter amper my konneksie in Köln gemis a.g.v. 'n vertraging in Bonn (die trein was 'n hele volle 6 minute laat... skande!)

Net om seker te maak en geniet die volle spektrum van reismoontlikhede in Duitsland, het ek die bus geneem van die treinstasie na die universiteit. Hier het iemand my darem kom haal en op die regte bus gesit. Ook maar beter so, anders het ek nou nog daar gestaan.

Nouja, laat ek gou my skottelgoed gaan was, dan kom skryf ek nou-nou verder oor "Erste Eindrücke" oor die land, die stad en kampus.