Sunday, March 11, 2007

"It was very nice travel 2: Is very warm, yes?"

Wat 'n lekker Sondag!

Eerstens het ons vandag lieflike sonskynweer gehad, die eerste keer sedert ek hier in Duitsland is. Ek het gisteraand 'n bietjie teneergedruk gevoel, so hierdie was net die regte medisyne. Lente is oppad.

Ek was maar taamlik skepties oor die idee van kerk toe gaan hier in Duitsland, na fiasko op fiasko met my Duits die voorafgaande week. Liza het my egter oortuig, en vanoggend 10h00 was ek in die Evangelische Kirchengemeinde Elberfeld-Süd, waar hulle vanoggend 'n Gereformeerde liturgie (nogal met 'n programmetjie en als) gevolg het. Daar was min mense in die kerk (omtrent so 25, waarvan net 6 of 7 onder die ouderdom van 40), maar ek het onmiddelik welkom gevoel, en kon die meeste van die diens volg en liedere saamsing. Die woordeboek op my PDA het ook handig te pas gekom (al het my buurvrou dit 'n bietjie snaaks aangekyk).

Dit was toe toevallig nagmaal in die kerk, wat 'n heel ander ervaring is as by ons. Jy staan op en gaan staan in 'n kring voor in die kerk, en word persoonlik deur die predikant bedien met sulke ronde plat crackers (soos die katolieke gebruik). Almal drink ook uit dieselfde beker uit. 'n Baie spesiale ervaring.

Na afloop van die diens het ek 'n bietjie met die predikant gepraat, vir haar verduidelik dat ek 'n uitruilstudent van SA is, en dat ek vir die volgende drie maand of so hier wil inskakel. Sy was natuurlik baie bly daaroor, baie nuuskierig oor my kerkverband in SA, waar ek vandaan kom, en waar ek nou woon. Sy het my ook gewaarsku dat ek volgende week se diens 'n bietjie vreemd mag vind, siende dat hulle 'n Lutherse liturgie gaan volg (hulle gebruik om die beurt Gereformeerde en Lutherse liturgieë). Maar ek's nie bang nie... ek weet net nie hoe ek my oë gaan oophou in die diens nie (ek kom eers die oggend 2h van Hannover af).

Terug by die huis, het ek Mischa oortuig dat ons twee vandag die pad moet vat botaniese tuine toe. Wat 'n ervaring! Daar's natuurlik nou nie die planteverskeidenheid wat ons in Stellenbosch het nie, maar die plek is vreeslik mooi (selfs so vroeg in lente) en GROOT! Dis reusagtig groot daar, en hulle is besig om nog verder uit te brei. Ons het ook oppad terug gestop vir tee by 'n coffee shop, waar ek die kelnerin kon leer dat jy Rooibos moet laat treeeeeeeeeeek, net net vinnig die teesakkie afspoel soos gewone tee nie (of soos sekere Hollanders maak met Rooibos nie).

Ek het hope en hope foto's geneem (asook 'n paar van hoofkampus), en sal later vanaand dit op flickr sit.