Saturday, March 10, 2007

Ein ruhigen Samstag ins Dorf

Vanoggend vroeg het ek en Jakkie toe afgesuiker poskantoor toe om poskaarte te gaan pos. Dis 'n oefening wat egter jou sak so 'n bietjie ruk (posgeld is 'n ander ding wat duurder is hier), so dis nou nie iets wat elke week gaan gebeur nie.

Van daar af het is ek terug na die Euro winkel vir 'n botteloopmaker. Jip, ek het nou besluit, dit help nie ek het al die pad gekom om die Duitse wyne te proe, en ek's net beperk tot wat ek kan kry in 'n skroefdop nie. Nonsens.

So gepraat van wyn: op pad soontoe, loop ek toe 'n wynwinkel raak, en loer gou vinnig daar binne rond. Hulle het nou nie die wydste versameling SA wyne nie (bietjie Two Oceans, 'n paar bottels Simonsig, ens) maar wat my die meeste opgeval het, was dit betreklik goedkoop was. Ek het niks oor R60 daar gesien nie.

Die soektog na 'n paar skoene (ek het nog nie moed verloor om nog 'n paar lekker Adidas sneakers aan te koop nie) is in alle erns voortgesit, met 'n stuk of 7 winkels wat in 'n japtrap kafgedraf is. Dit lyk my tog ek sal vir tussen 20 en 30 Euro kan wegkom, as ek die regte winkel op die regte dag tref. Ek gaan egter my aankoop uitstel tot die grootste skoenwinkel in Elberfeld (toe vir bouwerk tot 17 Maart) ook oop is, blykbaar is dit iets soos ons Shoe City, maar net drie verdiepings daarvan.

Toe was dit om te gaan stap. Ek't my pad gekronkel al langs die rivier en ou geboue afgeneem, tot ek begin agterkom het ek's nou uit die Durbanville deel van Wuppertal, en in die Parow area. Eintlik het ek verkeerd gedraai: ek het bedoel om oos te gaan in die rigting van die Altstadt, maar 'n trippie deur die garages-en-motorhandelaars-distrik van Wuppertal was nogal interessant. Ek het eers omgedraai toe ek begin agterkom hier's nou baie fabrieke en min om te sien rondom my.

Terug in Elberfeld middestad, het ek 'n draai gaan maak by die plaasmark. Niks gekoop nie, maar dit was tog vermaaklik om 'n bietjie daar rond te loop en die kompeterende handelaars mekaar se groente te hoor beledig.

Net voor ek terug is huis toe, het ek gestop in 'n tipiese Duitse eetplek vir 'n tipiese Duitse middagete: Bratwurst (gebraaide varkwors), Kartoffelsalat (aartappelslaai, proe maar dieselfde as hoe ons dit hier maak) en 'n Brötchen ('n klein broodjie, sag aan die binnekant, maar met 'n kors so taai soos BS414). Dis okay, maar ek sal nie 'n uitstappie Duitsland toe aanbeveel net vir die cuisine nie. Volgende keer gaan ek egter een van die soppe probeer, of 'n Döner kry om die hoek.

Na ek 'n stop gemaak het by die huis, het ek weer Penny aangedurf vir my week se kruideniersware (eerder as wat ek, soos laasweek, elke tweede dag soontoe moes stap). Vandag op die random tafels was daar tuingereedskap, skoene (weer: kon seker nie uitverkoop kry laasweek nie), paashase en drukkokers.

Benewens die nodige, het ek my eerste bottel Duitse wyn ook gekry, iets waarvan Penny nogal min het. Die meeste is wyne op die rak is new world wyne, soos 'n SA "Western Cape Blend", wat ek vermoed net Tas is in 'n mooier bottel. Anyway, ek't toe maar gegaan vir die rooietjie uit Baden, en sal daaroor terugrapporteer 'n bietjie later.