Saturday, March 3, 2007

Die Deutsche und Englische Sprache

Ek het nog 'n ver ent om te gaan met my Duits.

Aanvanklik was ek maar baie skepties oor my vermoëns, veral na ek die afkondigings op die Lufthansa flug amper glad nie kon verstaan nie. Dieselfde het gegeld vir die afkondigings op die trein (dankie tog ek het verstaan dat ons aansluiting in Köln vir ons wag, anders het ek daar weggeloop om 'n ander trein te soek), en die arme ou in die 1 Euro shop wat vir my probeer verduidelik het dat hy vir my 'n sakkie probeer aanbied (10 uit 10 vir sy geduld).

Ek het egter ook al rede gehad om moed te skep. Soos toe ek 'n broodjie gekoop het by die treinstasie in Frankfurt. Ek kon vir die ou verduidelik ek kom van Stellenbosch, dat ons vrugte daar heelwat goedkoper is as waarvoor hy dit verkoop, en kon 'n paar vrae oor die wyn in Stellenbosch beantwoord. Dieselfde toe Rebekka vir my by die treinstasie kom haal het. Ek kon haar heel goed volg en orraait gesels, tot my brein op 'n stadium net op een woord vasgehaak het en ons oorgeskakel het Engels toe. Die kersie op die koek was natuurlik toe die ou wat aan my die verskillende opsies vir selfone verduidelik het, heel verbaas was om my SA paspoort te sien, en my gekomplimenteer het met my "goeie Duits". Ek wens hulle gee hom 'n reuse kommissie vir daardie sale.

Ek het egter besluit om met my promotors hier (Heinz Chaloupka en Volkert Hansen) Engels te praat. Dis een ding om gaandeweg te leer hoe om small talk te maak, maar in daardie omgewing moet jy tegniese terme kan gebruik... 'n brug wat my Duits nog nie oorgesteek het nie. Ek sal stadigaan die goed begin leer, maar vir eers gaan ek maar voort in Rooinek.

Heelwat minder mense praat en verstaan Engels as wat ek verwag het. By die AOK het net een tannie in die kantoor 'n bietjie gebroke Engels gepraat. Die mense by die AAA praat ook nie almal Engels nie. Ek verstaan dus heeltemal dat die mense hul flieks oorklank in Duits.

Hier en daar probeer ek dingetjies doen om my Duits te verbeter wanneer ek nie in 'n gesprek is nie. Een daarvan, is om my PDA met my tweetalige woordeboek by my te dra 24/7. Elke keer as ek aan iets dink, of iets sien waarvan ek nie die Duitse woord ken nie, soek ek dit vinnig op. Ek gaan van Maandag af ook probeer om 'n Duitse koerant in die hande te kry.

Wat egter nie help nie, is dat Mischa se Duits slegter is as myne, so ons kom oor die weg in Engels (hy klink plek-plek nogal 'n bietjie soos Borat). Waarteen ek egter moet waak, is soos hy te begin praat. Ek't myself vandag gevang dit doen toe ek by die deur uitstap en sê "OK, I go now!". Sies, Tinus. Ek sal meer op my hoede wees in toekoms.

Maandag trek in 'n lab in vol Duitsers, so ek sal daar verder moet oefen.