Monday, March 26, 2007

Barmen, kameras, usw.


101_0905, originally uploaded by tstander.

Raaaaaaait, na 'n taamlike afwesigheid laasweek, is ek van plan om hierdie Maandag-namiddag 'n slag produktief aan te wend. Op my blog, natuurlik, nie op my projek nie.

Ok, eerstens, oor my projek: ek weet ek het 'n paar mense laasweek 'n bietjie mismoedig gehad daaroor. Dankie vir jul ondersteuning en raad. Dinge is nou weer aan die gang (soort van, siende dat ek steeds wag vir die AWR license server om aan die gang te kom), en ek vorder so stadig maar seker.

Saterdag, soos die gewoonte nou maar is, het ek die pad gevat dorp toe. Ek het natuurlik eers by die poskantoor gestop (hou jul posbusse dop), en toe afgesuiker Elberfeld toe op soek na skoene, kameras en superglue. Laasgenoemde was nogal maklik (6 buisies vir 'n euro), maar die kameras en skoene was 'n bietjie meer tricky.

Ek was tussendeur ook vinnig by 'n teewinkel in (R260 vir 'n kilogram Rooibos, so terloops) waar die eienaar baie vinnig verneem het of ek van Clanwilliam af kom. Soek seker iemand om hom te help insmokkel.

'n Tekort aan skoenwinkels is iets waarvan Elberfeld definitief nie beskuldig kan word nie. Die kuns, lyk dit my, is om goedkoop skoene te kry wat pas.

Ek was toe by daai groot skoenwinkel, net om agter te kom hulle is nie die budget winkel wat almal gesê het hulle sal wees nie (ook nie eintlik so groot nie... net een verdieping mansskoene). Ek het toe ook daar 'n paar Adidas sneakers gesien, vir 'n skamele prys van 'n retoer vliegkaartjie na... wag, dis 'n verrassing. Maar ja, dit was duur. Die budget winkel, Deichmann, het wel goedkoper, maar nie heelwat goedkoper nie. Maar die grootste jammerte van almal, is dat die goed nie pas nie.

Die ding met "sneakers" wat hier verkoop word (Adidas inkluis) is dat dit ontwerp is vir mense met lang, dun voete, wat ek nou ongelukkig nie het nie. Hulle het wel casual skoene, maar dié is gewoonlik Italiaans en kos soveel soos 'n Ferrari (of 'n paar honderd duisend Pizzas, afhangende van jou verwysingsraamwerk). Dus ook nie 'n belegging wat ek hier gaan maak nie.

C&A het egter nogal oulike skoene. Die hele winkel herinner baie aan Woollies by ons, behalwe dat dit meer budget is. So half 'n kruis tussen Woollies en Ackermans. Anyway, daar het ek heelwat skoene gekry wat gemaklik sit (breed oor die brug), vir 25 Euro of minder. Nie 'n slegte opsie nie, en definitief iets wat ek in gedagte sal hou.

'n Terloopse interessantheid wat ek hier opgetel het, is dat skoenwinkels in Duitsland skoene groepeer volgens grootte, en nie volgens tipe of styl nie. As jy 'n nommer 44 is, stap jy net af in die nr. 44 gangetjie, en alles wat vir jou pas, sal jy daar vind. As jy egter tussen twee groottes lê, en jy wil dieselfde paar skoene in verskillende groottes uittoets, is dit 'n bietjie ongerieflik om aanmekaar tussen gangetjies te stap.

Die soeke na 'n nuwe kamera het egter beter resultate opgelewer. Eers het ek by Medimax ('n tipe klein HiFi corporation) ingeloer, toe by twee spesialis kamera winkels (waar ek net, weereens, besef het hoe swak kliëntediens hier is i.v.m. SA), en toe by Media-Markt. Wat lekker is daar, is dat daar demonstrasiemodelle van al die kameras op die rak staan. Daar's natuurlik alarms aangeheg, maar niks van hierdie glaskas nonsens nie... as jy 'n kamera wil koop, kan jy met die ding speel tot jou vingers stomp is sonder om 'n verkoopspersoon se toestemming en toesig. Gegewe hierdie land se kliëntediens, dalk 'n goeie opsie.

Dit was toe daar dat ek kennis gemaak het met die Olympus FE-250.

Die FE-250 is in Februarie vanjaar bekend gestel. 8MP CCD, 3x optiese zoom, goeie lens, maar wat my die meeste beïndruk het, was die laelig fotografie. Die 250 kan, met outomatiese verstellings, gaan tot ISO3600. Natuurlik het dit ook 'n paar ander nifty features (anti-blur DSP, ens), en dis net 16.5 mm dik... lekker gemaklik vir 'n hemp se bo-sak.

Omdat dit egter splinternuut op die mark is, is dit nou nog taamlik duur: omtrent so 300 Euro. Die mense (nou nie die verkoopspersoneel nie, die mense hier in die kantoor) sê egter dit behoort volgende maand heelwat goedkoper te wees. Ons sal maar sien.

Na Media-Markt, het ek besluit om die westelike deel van Elberfeld te verken. Ek het dit omtrent verken, soveel so dat ek, na 'n uur (en 'n stop by 'n winkelsentrum, waar ek 'n Duitse WalMart kon ervaar en 'n bottel 2004 Nederburg Pinotage opgetel het vir 5 Euro), myself bevind het in Barmen, die historiese "buurdorp" van Elberfeld voordat alles Wuppertal geword het.

Siende dat ek daar was, kon ek netsowel die tyd nuttig aanwend, en het dan ook so gedoen met 'n besoek aan die geboortehuis van Friedrich Engels (Mede-outeur van die Kommunistiese Manifes, comrade) en die museum vir vroeë industrialisering.

Die huis is maar 'n huis, min om daaroor te vertel. Die museum is egter 'n besoek werd. Uit my gebrekkige Duits kon ek agterkom dat Wuppertal (wel, in daardie stadium not Elberfeld en Barmen) in die laat 18e eeu 'n groot nywerheidsentrum geword het, veral in die tekstielbedryf (dit het amper die helfde van die werksgeleenthede verskaf in die omgewing). Die museum handel oor hoe hierdie industrie gevorder het, asook hoe die industrie ander aspekte van die mense se lewens beïnvloed het, (geloof, politiek, sosiale omstandighede). Hoogtepunte is definitief die TEN VOLLE WERKENDE spin- en weefmasjiene uit die era (veral die Spinning Jenny, wat daar gedemonstreer is), en die verhaal van Mina Knallenfalls ('n fiktiewe verhaal oor 'n meise wat in die 1800's in Wuppertal geleef het, wie se lewensverhaal 'n tipe dokumentêr is oor die mense se lewensomstandighede in daardie tyd). Definitief die toegangsfooi werd, al is dit 'n bietjie jammer ek kon nie foto's daarbinne neem nie.

'n Heel aangename Saterdag, net effens versuur deur die krieket wat ek moes aanskou daardie aand.