Tuesday, March 20, 2007

CeBIT 2007 und Hannover


101_0750, originally uploaded by tstander.

Wow. Net wow.

Dit was absoluut die moeite werd om die 6h15 trein Hannover toe te vang vir CeBIT, selfs al moet jy op Hannover hoofstasie hardloop vir jou trein omdat Deutsche Bahn se streekstrein alweer laat was.

Die eerste ding wat jou opval, selfs voor jy daar aankom, is dat CeBIT groot is. Baie, baie groot. Op die voorstedelike trein na die gronde (Die terrein het sy eie treinstasie) kon 'n mens nog net staanplek kry by die deure tussen die waens, so vol was dit. Die skywalk vanaf die stasie na die gronde was net een, kontinue stroom mense, selfs meer so as Tygervallei op Oukersdag, of die Neelsie oor middagete.

Die gronde bestaan uit so 'n stuk of 25 sale, waarvan die kleinste so groot is soos die DF Malan sentrum is, en die grootste een groter as die Goeie Hoop sentrum. Dit gronde, sou ek skat, is maklik groter as die Waterfront (as ek nou dink hoe lank dit my geneem het om van een punt na 'n ander te stap). Dis belaglik. Daar's absoluut geen manier jy sien als in een dag nie, wat dit belangrik maak vooraf te beplan waar jy wil sien, en waar om dit te gaan kyk. Wat ek natuurlik nie gedoen het nie. Ek het darem so driekwart van die sale gesien in 9 ure, waarvan die laaste paar maar baie vlugtig was.

CeBIT is baie groot, onder andere omdat daar baie twak is (ek sou nou gesê het stront, want dis wat dit is, maar ek het besluit om nie meer sulke taal op my blog te gebruik nie). Die eerste 5 sale waardeur ek gestap het, was net rye op rye op rye Chinese en Taiwanese vervaardigers wat verspreiders soek in Europa. Nou, in beginsel, het ek geen probleem dat hulle daar is nie, maar ek sal nie weer soveel tyd by hul stalletjies spandeer nie.

Wat my seker die meeste gepla het van hierdie vervaardigers, is die gebrek aan oorspronklikheid. Jy sien ry op ry keyboards, muise, speakers, webcams, CPU fans en heatsinks, en dan as jy in die volgende ry afloop, sien jy weer presies dieselfde keyboards, muise, speakers, webcams, CPU fans en heatsinks maar net weer. 'n Mens weet nie wie by wie afkyk nie, maar jy voel later jy loop by Groenpunt se vlooimark rond waar al die Nigerians dieselfde hou kameelperde, Chinese rugsakke en jade skaakstelletjies verkoop. Nie die moeite werd nie.

Wat ek ook agtergekom het daar (spesifiek m.b.t. die digitale kameras wat hulle daar bemark) is dat hulle absoluut incash op die funksionele ontwerpe van name brands. Hulle sal dieselfde CCD, DSP chip en sagteware in 'n Kodak-agtige (ek's jammer, maar as jy vinnig kyk, kan jy geen verskil sien tussen daai kamera en 'n Kodak nie. Selfs die logo begin ook met 'n K, en dis ook rooi op geel gedruk) digitale kamera verpakking, en in 'n Sony handycam verpakking. Die elektronika word nie ontwerp om of 'n goeie still image, of 'n goeie movie te maak nie. Die eindproduk is, ongelukkig, nie iets waaraan ek sou vat as ek 'n Europese verspreider was nie.

Gelukkig was die hele skou nie so nie. In van die ander sale, het ek kans gekry om 'n hele rits cluster servers onder oë te kry, asook om 'n hele paar regte egte digitale kameras te toetsbestuur. Ek kon 'n paar "innoverende" (vreemde?) muis ontwerpe uittoets, en my PDA laat laai van 'n mobiele kragbron (basies laai jy een battery uit 'n ander battery uit, met die ander battery wat 3000mAh kapasiteit het en omtrent so groot is soos 'n plat selfoon). Ek het ook kans gekry om te tik op twee vreemde sleutelborde: die een is heeltemal PVC, en kan dus letterlik opgerol word; die ander, was net lig wat skyn op 'n tafel. Sodra jy daar waar die lig skyn, druk, tel 'n sensor dit op, en registreer jou keystroke.

'n Ander groot tema daar was CPU fans, spesifiek fans wat die minimum geraas maak. Nie iets waaraan ek sou dink as 'n groot probleem nie, maar tog interessant.

Saal 1 (dis nou die grote, wat seker maklik dubbeld so groot is soos die Goeie Hoop sentrum) is waar al die swaargewigte speel. Samsung, Casio (wat, terloops, baie oulike kameras maak, kom ek daar agter), IBM, FujitsuSiemens, ens. het almal daar hul beste en nuutste uitgestal (met die hulp van 'n F1 kar hier en daar). Ek moes definitief meer tyd daar spandeer het.

Wat my egter ook 'n bietjie teleurgestel het, was dat nie al die groot spelers daar was nie. IBM was daar, asook Samsung, Kodak, AMD, Intel, Casio (wat, terloops, bitterlike oulike kameras maak, kom ek daar agter), maar plekke soos HP, Compaq en Nokia was glad nie daar nie.

Daar was ook, i.v.m. wat ek laas gekry het in Kaapstad, nogal min freebies. Ek het nou wel 3 of 4 kilogram se katalogusse gekry, maar behalwe vir 'n paar penne, 'n paar sakke, 'n pakkie mints van Windows Cluster Server en 'n badge van Commodore, het niemand regtig soveel goed uitgedeel nie.

Waar hulle wel baie goed uitgedeel het, was in die hoek van Saal 21. Saal 21 was die groot gaming saal, waar al die toernooie van die World Cybersport Championships gehou is (CS, RPG's soos WoW, ens). Daar was hierdie een hoek wat omgebou is in 'n tipe ouditorium, waar die groot vervaardigers elkeen 'n kans kon kry om iets te sê oor sy of haar produk, en om 'n paar kopieë uit te deel. Daar het duisende (indien nie tienduisende nie) Euro se games, PSP's, graphics cards, ens. van daardie verhoog af gevlieg in die hande van die gehoor in. Natuurlik was daar geen manier ek kom voor uit nie, daar's net eenvoudig te veel skoolkinders in jou pad. Ek vind to by een van die uitstallers uit dat hierdie kinders elke jaar CeBIT toe kom, net om die hele dag voor die verhoog in daardie ouditorium te gaan staan en games vang. Afhangende van wat jy daar vang, kan jy jou hekgeld van 17 Euro in 'n japtrap terugkry.

Aangaande my eie smokkelaankope daar (niemand mag eintlik verkoop nie, maar baie doen dit wel): ek het 'n bietjie met 'n Rus onderhandel om 'n 1.3 MP webcam aan te skaf vir 12 Euro, en ek het 'n Switserse ou oortuig (Hy het die laaste 5 van sy 6 vakansies in SA deurgebring, waar hy elke keer in Stellenbosch was. Ons kon tog te lekker gesels oor watse wyn 'n mens waar kan koop, en watter plase jy moet vermy) om daar en dan aan my 'n universal power adapter te verkoop vir 25 Euro. Vreeslike gawe ou.

Nouja, na 'n hele dag se rondstap en kyk (van 9 tot 6, waarvan ek net so 20 minute gestop het vir middagete: lekker halfmeter Bockwurst en 'n broodjie), het ek die aand vry gehad om 'n bietjie in Hannover te gaan rondstap (niks was oop nie, maar ek het lekker window shopping gedoen), 'n bietjie die stasie daar te verken, poskaarte te koop en 'n bietjie die Duitsers te bestudeer in hul natuurlike habitat: voor 'n TV, met sokker op die skerm en 'n bier in die hand. Al wat my gepla het omtrent Hannover stasie, is dat daar absoluut nêrens sitplek was nie. Die enigste sitplekke was binne-in die eetplekke, en as jy daar wil sit, moet jy iets koop. Vir iemand wat die hele dag rondgeloop het by CeBIT, was dit 'n bietjie te veel.

Ek kon darem kans kry om vir so 'n paar uur my voete te rus op die streekstrein van Hannover na Essen. Dit sou toe, op die ou einde, 'n goeie ding wees, siende dat ek daarna nog 'n uur en 'n half moes huis toe stap nadat ek een twee stasies te vroeg afgeklim het op die voorstedelike trein. Dit was nou 2h Sondag-oggend, so daar's nie 'n siel in sig om te vra vir aanwysings nie. Ek kon darem my pad terugvind deur die rivier te volg, en ten minste het dit nie gereën nie.

Laastens, 'n paar tips vir mense wat wil gaan:

Los jou warm baadjie by die coat check by die ingang. Daai sale raak nogal warm binne, en jy's nooit lank genoeg buite om te begin koud kry nie.

Besoek die "computer and peripherals" stalletjies laaste. Soos vroeër genoem, is daar baie twak. Spandeer die meeste van jou tyd in die saal met die groot spelers, en dan hulle.

Die pryse van die middagete (as jy nie groot eet nie) is nog orraait, maar probeer om jou eie drinkgoed saam te neem. Dis vrek duur om daar te koop (2.80 Euro vir 'n glas Coke). En vermy die alkoholvrye bier, dis verskriklik sleg.

Vat 'n groot, sterk sak saam, verkieslik 'n rugsak, vir al jou goodies wat jy daar gaan optel. Dit kan maar 'n groterige sak wees, jy sal dit wel kan volmaak. Jy sal daarso ook 'n sak of twee kry, en daardie sakke sal ook volraak. Mense is egter huiwerig om vir jou 'n sak te gee as hulle sien jy't reeds een, so probeer die grootste sak eerste kry.

Indien moontlik, trek 'n baadjie en 'n das aan. Mense behandel jou partykeer regtig met minagting as jy met jeans en tekkies voor hulle durf verskyn. Plus, jy word toegelaat tot die "business lounge". Jy kan dan ook jou rugsak vervang met 'n hand luggage trollie. Dis meer gerieflik as om alles te dra, plus dit dra by tot jou sakeman beeld.

Dra 'n gemaklike paar stapskoene (as jy nou nie 'n baadjie en das dra nie). Of probeer 'n skopfietsie insmokkel.

Moenie op die verkeerde stasie afklim nie.

Ehm, ja, ek dink dis dit. Oja, jy moet dit geniet ook!