Saturday, March 3, 2007

Erste Eindrücke

Ok, so na my lekker wandeling in die reën waartydens ek my disnis verdwaal het, kan ek verder skryf oor my eerste indrukke van Duitsland, Wuppertal en die Bergische Universität.

Eerste indrukke oor Wuppertal is dat dit maar 'n stad is, soos stede nou maar is. Dis nie vreeslik mooi of vreeslik lelik nie, nie besonders groot of klein nie. Dis maar net 'n stad, met sy kwota ouerige geboue, verkeer, winkels en mense. Wat 'n mens wel opval, is dat dit vreeslik heuwelrig is. Alles lê teen 'n skuinste, en jy loop nooit êrens heen sonder om iewers te moet trappe klim nie. Ek en Elinda het 'n bietjie bespiegel (voor ek gekom het) oor hoe die Duitsers hul gewig in toom hou met die hoeveelheid bier, brood en wors wat hulle inneem, sonder om verskriklik baie te gimneer (om André se woord vir 'n oomblik te leen). Nou weet ek. Jy hoef nie 'n gimnasium (waarvan ek nog nie een gesien het nie) te besoek om te oefen nie, jy stap net elke dag eenmaal winkel toe. Natuurlik ry niemand dan ook hier fiets nie. Dis net hopeloos te heuwelagtig.

Wat 'n mens egter vinnig oplet, is dat daar nêrens polisie op straat is nie. Ek het by die lughawe in Frankfurt vreeslik baie polisie gesien (meer as in Kaapstad of Johannesburg), maar nog nie een in Wuppertal nie. Mense ervaar ook nie duidelik misdaad as 'n daaglikse gebeurtenis nie, en tref min voorsorg daarteen. Die bank het nie koeëlvaste vensters nie, die mense los hul tasse en sakke alleen in die trein, en ou tannies loop dodgy agterstraatjies alleen in die nag. Aan die ander kant, in 'n welsynstaat soos hierdie is dit seker nie nodig dat iemand steel nie.

Terug by die heuwelagtige omgewing: Toe hierdie mense die universiteit "Bergisch" genoem het, het hulle waaragtig nie 'n grap gemaak nie. Na hoofkampus (reg oorkant die pad) moet ek die ekwivalent van seker 5 of 6 verdiepings se trappe klim om by die Akademische Auslandsamt uit te kom. Dan is daar nog trape verder op by die bokant van die kampus uit te kom, en dan begin die opdraande (13 grade, volgens die waarskuwingsbord) 2km pad tot by my kampus (reg bo-op die heuwel) eers.

Daar is 'n bus wat loop (van net bokant die Wohngemeinschaft) tot by Campus Freudenberg (waar ek werk), maar my buskaartjie werk eers van die 1ste April af (meer oor daardie brokkie genot in die "Eintragung" post). Die eindresultaat? Ek gaan ongelooflik fiks raak hier in Duitsland.