Sunday, May 20, 2007

Letze Tage in Deutschland

Nouja, oor minder as 'n week vlieg ek na Engeland, en dan na Hawaii, en dan terug na goeie ou Stellenbosch. Na drie maande in Duitsland (en omgewing) is ek vandag 'n bietjie beetgepak deur introspeksie oor my tyd hier. Wat mis ek van SA? Wat sal ek mis van Duitsland? Wat sal ek NIE mis van Duitsland nie? En was dit die moeite werd om te kom?

Beginnende by die einde, kan ek sê dat my tyd hier wel die moeite (geld, tyd wat ek kon spandeer het op my PhD, ens) werd. Akademies gesproke, het ek nie verrig wat ek gedink het ek gaan nie... nie dat dit ooit 'n geheim was vir die mense waarmee ek gereeld gekorrespondeer het nie. Ek het wel 'n vraag gehad oor 'n deel van my eerste jaar se werk waarmee ek nie verder sou gaan vir my PhD nie, waaroor ek altyd nuuskierig sou wees. Daardie vraag is nou beantwoord, met oorweldige bewyse dat my idee nie wesenlik is nie. Maar ek weet dit nou, plus ek weet wat die industrie-standaard manier is om die probleem aan te pak, plus ek kon tyd spandeer om dit te verstaan en toe te pas.

Wat ek ook kon doen, is eerstehands ervaar hoe is dit om nagraads te studeer by 'n plek wat nie Stellenbosch is nie. Ek kon eerstehands die werklading en toewyding sien van daardie studente, hoeveel anders hul funksioneer, en hoe hulle partykeer ook maar met dieselfde probleme sit as ons m.b.t. kontrakte, toerusting en resultate wat net nie wil regkom nie.

Wat die reis betref, kon ek nie vir 'n beter deal gevra het nie. Wuppertal, hoewel self nie veel meer besienswaardig as Bellville nie, is ongelooflik sentraal geleë vir reis. Ek het hier die kans gekry om vir spotgoedkoop 'n hele rits bestemmings regoor Duitsland, sowel as Oostenryk, België en Nederland, te besoek. Ek't vir die eerste keer in my lewe kans gekry om op groot skaal te toer (heeltemal anders as die TKK toer in '97).

Verder het ek kans gekry om in 'n vreemde omgewing, met 'n vreemde taal, aan te pas en myself uit te leef in 'n ander kultuur, iets wat laas van my verwag is toe ek die eerste keer Stellenbosch toe is (dis nou vreemde taal ingesluit... IW154 was Grieks toe ek daar aangekom het). So 'n ervaring kry jy nie as jy net deur 'n plek toer nie: jy moet daar woon en werk, inkopies doen, busse verpas, op gladde sneeubedekte sypaadjies gly en uitgeskel word omdat die as van jou braai op ander mense waai.

En dan, hoewel ek hulle die afgelope maand 'n bietjie afgeskeep het met my toerdery, het ek die kans gekry om die vreemdste, belaglikste, interessantste en ongelooflikste vriende te maak hier in die vreemde. Ek't kans gekry om verskillende kulture te sien, met verskillende wêreldbeskouinge en benaderings. Die Baskiese onafhanklikheidsstryd sal nooit weer vir my net 'n nuusberig wees nie: dit sal vir my 'n gesig en 'n naam hê. Dieselfde met Franse vraagstukke oor regse politiek, die integrasie van die Turkse immigrante en hul nasate in die Duitse hoofstroom, verwesterde norme en praktyke in voormalike Oosblok lande, en vele meer. Dankie vir almal wat gehelp het om my oë op hierdie manier oop te maak.

Nouja, na drie maande hier, het ek al 'n taamlike lysie van goed wat ek wens ek kon inpak in my (seker reeds oorgewig... *sug*) tas en terugneem SA toe. 'n Kort lysie goed wat ek gaan mis in Duitsland:
  • Supermarkte wat, as 'n reël, tot 22h00 die aand oopbly.
  • Die bier, veral die donker biere. Wie kan vir SAB oortuig om 'n bietjie verskydenheid te oorweeg? Die wêreld begin en eindig nie by Lagers nie.
  • Openbare vervoer, voorstedelik en langafstand. SA het baie om te leer voor 2010.
  • Goedkoop en vinnig rondreis. Maar dit gaan verander: ek gaan, as ek terug is, 'n punt maak daarvan om meer binne SA te reis.
  • Haribo se kersie-lekkergoed. Njam njam.
  • Döners. Bumpers se schwarmas se agterent, hierdie mense doen dit reg.
  • Om hardop mense se vreemde klere / hare / bybehore te bespreek op die trein.
  • Sentrale verhitting (in die winter). Lieflik
  • Gratis, vinnige en onbeperkte Internet.
  • Die Anti-Plakkies, al het dit nie koeksisters nie.
  • Kamps, 'n tipe Duitse wegneem-koffiewinkeltjie. Altyd lekker, altyd vars, en altyd oop en altyd oral.
  • Posseël masjien, vir as jy nie binne kantoorure die poskantoor kan besoek nie.

Dan, natuurlik, 'n paar goed wat ek nie gaan mis nie:
  • Regsverkeer. Ek's jammer, dis net verkeerd.
  • Die weer. Jammer, ouens, te veel uiterstes. Werk daaraan.
  • Die broodjies, met die kors wat altyd te dik en te hard is, en jou verhemelte seermaak elke keer as jy een eet.
  • Op- en afdraande hier in Wuppertal. Ek studeer nooit weer in 'n riviervallei nie. Nooit nie.
  • Drink op straat. Dis kommin, en dis oral, en dit maak treinstasies veral 'n onaangename plek om te wees per geleentheid.
  • Sentrale verhitting (in die somer). Onmoontlik om jou woonstel koel genoeg te kry.
  • Om self my sakke te pak by die supermark.

En dan, natuurlik, die goed wat jy mis van huis:
  • Ou Casspir. Meer spesifiek, om met Casspir se hulp te beweeg tussen enige twee gegewe punte in eindige tyd. Soveel vryheid bied openbare vervoer jou nie.
  • Butternut. Die mense weet nie eens wat dit is nie. Skimp, Ma. SKIMP! (met pynappelhoender en rys, asseblief, op die dag wat ek land)
  • Goedkoop koffie. Ek sal nooit weer skroom om R5 uit te haal vir 'n koppie nie. Dieselfde gaan vir koeldrank en kos.
  • Spur. Hierdie ouens kry net nie 'n hamburger heeltemal reg nie.
  • Familie en vriende.
  • Die eetgoed: zoo koekies, biltong, beskuit, jelly tots, en dies meer.
  • 'n Kerk waar jy die diens voluit kan volg.
  • Ingeboude braaiplekke. Die petietserige UFO-effekies werk nie so lekker nie.
  • TV, in 'n taal wat ek ordentlik verstaan. Veral rugby en krieket kyk.
  • Jeff's se grootboet en chips.
  • Goeie tye in die E203 en die ESL.
  • Om altyd, almal, heeltemal te verstaan. Om permanent nie by te wees nie / nie die gesprek heeltemal te volg nie / nie die grap te vang nie raak later nie meer lekker nie.

Nouja, voort met my laaste week!