Sunday, May 20, 2007

Drielandenpunt


100_1780, originally uploaded by tstander.

Sheena het weer kom inloer oppad Frankfurt toe, en met skok moes ek aanhoor dat, in haar tyd hier in Europa, sy net twee lande besoek het. Die situasie het dringend aandag gekort, en Saterdag-oggend het ons besluit om gou vinnig daai aantal te verdubbel met 'n besoek aan Drielanden, die punt waar Nederland, België en Duitsland bymekaarkom. Dis eintlik heel maklik om daar uit te kom: jy neem net die streekstrein na Aachen, een bus tot in Vaals (Nederland), en dan die toeristebus na Drielanden self.

Daar aangekom, was die eerste stop die hoogste punt in Nederland: 'n allermintige 327.5 meter. Ons het ongelukkig ons suurstofbottels by die huis vergeet, so ons kon nie op die toring klim nie, maar ons het darem foto's geneem by die paaltjie. Nog 'n fotogeleentheid (vir ons, en die diere) was by Drielandenpunt self.

Oral hier in Europa kry jy sulke masjiene, wat (teen 'n koste van 1 Euro) 'n vyfsent of tiensent vir jou platrol en 'n ontwerp daarop pers wat verband hou met die besienswaardigheid. Nou, volgens iemand wat Petro in Skotland raakgeloop het, pers daardie masjiene nie regtig die punt wat jy vir hom gee, plat nie. Dit word periodiek volgemaak met reeds platgedrukte munte, en die warm munt wat jy terugkry (oënskynlik a.g.v. die persproses), word intern verwarm voordat dit uitgespoeg word, om die illusie voor te hou. Gister was daar dan ook so 'n masjien, en 'n gulde geleentheid om Petro se kennis se teorie te toets. Eerstens, is 'n groot, diep X op albei kante van die munt gekerf op 'n staal dropper naby, waarna die muntstuk deur die masjien is. Wonder bo wonder, het die muntstuk verskyn: warm (ten spyte daarvan dat dit nie naby 'n kragprop is om verwarm te word nie), met die oorblyfsels van 'n groot X op beide kante. Wetenskap is wonderlik.

Uiteindelik het die vermoeienis van verskeie kere loop van Nederland na Duitsland na België, plus die hoogste punt in nederland bestyg, plus die veeleisende wetenskaplike eksperimente, 'n tol begin eis, en ons moes eers ons energievlakke herstel met 'n middagete.

Ek het seker in my lewe nog nooit soveel moeite gehad om 'n burger en chips by 'n plek te bestel nie. Die fout wat ek gemaak het, is om weg te val met my snaaks-geïntoneerde Afrikaans (wat amper klink soos Nederlands), wat die vrou agter die till onmiddellik laat dink het ek praat een of ander Nederlandse aksent. Toe ek begin agterkom dat ons nou mekaar nie reg verstaan nie (Ek't probeer verduidelik dat die een chips sonder mayo moet wees, en sy wou 'n ekstra chips met mayo oplui. Miskien was dit maar net die konsep van chips sonder mayo wat haar verstand 'n bietjie in trurat gesit het) bied ek vriendelik aan om verder in Engels of Duits te bestel. Nee, was die reaksie, Nederlands is okay, ek moet net stadiger. Nie dat dit veel gehelp het nie: vyf minute later het ek steeds opgeëindig met twee burger menus (sonder die beloofde koeldrank, wat ek na die tyd moes gaan haal), plus 'n ekstra chips "sonder mayo, soos ek bestel het". Nog 'n bewys dat dit partykeer erger is om 'n taal halfpad te verstaan as glad nie verstaan nie.

Na middagete was dit tyd om die doolhof aan te pak. Die doolhof is uitgelê in heining, met allerhande interessante goed soos watermure wat periodiek stop om 'n paar mense (droog) deur te laat, standbeelde, 'n brug of drie, en 'n 1m hoë tonneltjie op een punt. Die punt is om die middel van die doolhof te bereik, waarvandaan jy 'n maklike, eenvoudige (geen ander afdraaie) paadjie kan volg tot by die eindpunt.

Nou, een manier om 'n doolhof te navigeer, is 'n ou metode waarvolgens jy jou linkerhand op die ingangsportaal se linkermuur te plaas, en net aan te hou loop sodat jou linkerhand altyd op die linkermuur bly (volgens oorlewering bly jou linkerhand op die muur, sodat jou regterhand die swaard kan bly vashou, hoewel ons vergeet het om ons swaarde op te tel by Schloss Burg). Wat ek egter onthou het, toe ons die eerste keer weer by die ingang beland, is dat dit net werk om van een ingang na 'n ander te beweeg, en nie om 'n spesifieke kol binne-in die doolhof te bereik nie. Tinus en Sheena 0, Doolhof 1.

Vandaar was dit tyd om volgens bakens te probeer navigeer, en kyk hoe en waar jy kan draai om nader en nader aan die middelpunt te kom met elke draai. Ongelukkig het die paaie 'n manier om skerp weg te draai van die middelpunt af sodra jy dit gekies het, en kort voor lank beland ons weer by die ingang. 2-0.

Ons volgende hoop was om 'n groepe Amerikaners met 'n kaart te volg. Die ouens het aanvanklik taamlik selfversekerd (seker 'n bietjie vanselfsprekend, met verwysing tot hierdie nasie) en bevoeg voorgekom, en te oordeel aan al die nuwe dele van die doolhof wat ons te siene gekry het, het dit werklik gevoel asof ons vordering maak. Ongelukkig, na die soveelste doodloopstraat (lyk my die ouens het nie die doolhof op die kaart opgelos voordat hulle begin stap het nie, 'n vlak van voorbereiding wat ons seker maar ook te wagte moes wees), het die groepie verbrokkel, en was ons weer op ons eie inisiatief aangewese.

Die volgende opsie was om 'n pad te beplan vanaf 'n uitsigpunt bo-op 'n nabygeleë brug. Nadat die roete beplan is en die eerste doodloopstraat bereik is, het ons agtergekom dat die doolhof van bo af bedrieglik is: wat lyk soos 'n deurgang van bo, is soms 'n doodloopstraat. Eintlik is dit meestal 'n doodloopstraat. En 'n paar doodloopstrate verder, het ons wel by een uitgekom wat ons iewers gebring het: die ingang. 3-0.

Nou was dit tyd vir kroek. By die ingang is daar ook 'n paadjie wat lei vanaf die middelpunt, en as jy 'n bietjie stroom-op swem deur die paadjie, kom jy by die eindpunt uit. 3-3 (ja, daai slim streek is drie punte werd in my boekie). Om ons oorwinning te vier (en omdat ons moes wag vir die bus) het ons daarna vinnig onsself blootgestel aan 'n rondte Belgiese donker bier, wat op geen manier verwar kan word met die lekker Duitse donker bier nie, behalwe as jy dit vir die eerste keer bestel. Nie weer nie, en definitief nie 'n aanbeveling nie.

Die enigste bus terug het gery, nie na Vaals toe nie, maar na Gulpen. Hier het my halfpad-Nederlands egter handig te pas gekom, want ons kon die busbestuurder oorreed om 'n stop te maak by die plek waar die pad na Vaals afdraai. Daar aangekom, kon ons 'n lieflike Saterdag-namiddag wandeling deur die Nederlandse platteland geniet, waarna ons Vaals te voet kon besigting, om vandaar 'n bus te neem terug Aachen toe.

Wat Aachen 'n bietjie uniek maak, is dat die bushof en die treinstasie nie op dieselfde plek is nie (soos ons sou agterkom, daar aangekom). Ons het toe kans gekry om 'n bietjie deur Aachen se ou stad te stap tussen die twee, wat 'n aandete by 'n Italiaanse restaurant ingesluit het, asook 'n vinnige draai by 'n paar van die besienswaardighede.

Die laaste bietjie opwinding vir die aand was in die aankoop van ons kaartjies vir die terugtog, waar ons sou verneem dat Monchengladbach inderdaad NIE een van die bestemmings is wat ingeprogrammeer is op die kaartjiemasjien nie. 'n Paar benoude oomblikke (10 minute voor die trein se vertrek) later, het 'n dame ons genader met 'n proposisie om haar gebruikte, maar steeds geldige, NRW dagkaartjie te gebruik oppad terug. 'n Bietjie onderhandeling later, het ons ons kaartjie gehad vir 15 Euro: sy score 15, ons spaar 5. En almal loop weg gelukkig behalwe Deutschebahn self.