Monday, February 26, 2007

Om nie jou woord by jou DAAD te voeg nie

Ek het toe nie DAAD gekry nie.

Vanoggend bel ek weer vir ons pêl Thomas by die konsulaat, om nou te hoor of DAAD iets laat weet het. Wonder bo wonder kon hy my toe vandag iets meedeel... dat daar 'n lys is van mense wat nie DAAD gekry het nie, en dat my naam prominent op die lys feature.

Aag wat.

Ten minste het ek 'n goedkoop plek gekry om my karretjie te stoor. 'n Tannie in 'n aftree-oord in Plattekloof vra presies 'n kwart wat die ander self storage mense vra. Nou't ek darem 'n geldjie vir 'n paar döners daar anderkant. My ma weet nog nie, maar ek's van plan om op daardie goed te leef vir die eerste rukkie. Blykbaar maak die Turke nogal lekker kos.

Vandag handel ek maar die laaste bietjie admin hier af, soos kopieë van my dokumente maak, vorms teken, ensovoorts. Môre is nou die groot pakkerasie, maar ek't darem so 'n idee van wat gaan en wat bly.

Vreemd omtrent die pakkerasie, is dat presies die helfde van my vriende daarop aandring dat ek eerder meer goed as minder vat (dis goedkoper om hier te koop), en die ander helfde aanbeveel dat ek juis minder goed neem (jy kan altyd daar anderkant koop, solank jou tas nie te vol raak nie). My oplossing is nou maar om presies genoeg goed te neem. Slim, né?

My volgende post sal nou waarskynlik wees nadat ek daar geland het, so tot dan, auf Wiedersehen!