Sunday, April 22, 2007

Nacht der Museen


100_1188, originally uploaded by tstander.

Eers, 'n bietjie agtergrond.

"Nacht der Museen" beteken, letterlik, "Nag van die Museums". En dis presies wat op daardie nag gebeur. Jy koop een kaartjie van 11 Euro, waarmee jy elkeen van die 44+ museums en kunsgallerye in Düsseldorf (voortaan Duesseldorf, sien my Köln / Koeln post) kan besoek van 7h die aand tot 2h die oggend. Gegewe dat die museums gewoonlik tussen 5 en 10 Euro stuk kos om te besoek, en die stad gratis pendelbusse verskaf om jou tussen die museums te vervoer, klink dit na 'n heel aantreklike proposisie vir 'n Saterdag-aand.

Die geheim van so 'n uitstappie is egter (kom ek te laat agter) om nie as 'n groot groep (met diverse belangstellings en staminavlakke) te gaan nie. Iemand gaan effens teleurgesteld daar weggaan, indien nie almal nie.

Ek het die eerste keer begin onraad vermoed toe die "algemene konsensus" was dat ons toer moes begin by die K20 museum met die Picasso uitstalling. Die dun dun kwylstraaltjies wat by sommige van my museumgenote se mondhoeke verskyn het terwyl ons vir 20 minute in die tou gewag het, het die gevaarligte laat flikker. Maar die omvang van my verknorsing het eers werklik ingesink toe die eerste mense gaan sit het in die gallery. Net sit, staar na die skilderye, en wag tot dit tot hulle "spreek". En dit sommer in die eerste vertoonvertrek. Die koeël was deur die kerk. Ek het Nacht der Museen aangepak met "ernstige kunsliefhebbers".

Nou, ten spyte van die tou, sou ek seker ook die Picasso's wou sien, selfs al is dit net om vir almal te vertel dat ek al 'n Picasso in lewende lywe gesien het. Maar dis een ding om vinnig te loer, en die res van die 6 ure produktief te spandeer. Maar twee ure van die groot P was vir my 'n bietjie te veel. Vir my onopgevoede oog lyk alles dieselfde, en nie een besonders mooi nie (wel, nie mooier in lewende lywe as wat ek voor die tyd op die internet gesien het nie). Sy keuse van onderwerp was ook effe verdag, maar ons sal dit daar laat.

Terug by die hoofstasie het ons die geleentheid gehad om nog meer kuns te waardeer (hierdie keer met 'n meer moderne geur) en 'n happie te gryp, waarna ons vertrek het na die boonste punt van die stad vir 'n besoek aan die AquaZoo.

Die 20 minute rit in die dig gepakte pendelbus was elke elmboog in die gesig werd. Hoewel hulle nie die heel groot tenks het soos by die Two Oceans in die Waterfront nie, het hulle 'n ongelooflike verskeidenheid waterdiere (sout en vars) reg deur van mikroskopies tot tropies en sopies (jy kon 'n bier koop en drink terwyl jy deurloop). En dit eindig nie met visse nie. Hulle't 'n groot tropiese insek- en reptieluitstalling ook, asook 'n spesiale vertoonsaal oor Madagaskar (met 'n paar kleinerige soogdiere ook). Ons het ook die geleentheid gekry om 'n "nagwandeling" mee te maak deur een van hul tropiese sale, en te wed op 'n kakkerlakresies. Dit was ook hier waar ons, vir die eerste keer, die "live music" beleef het wat vooraf beloof is: "Paddy" Schmidt, wat met sy akoestiese kitaar en dik Duitse aksent die lof van sy geliefde Ierland besing het. Maar verder was die AquaZoo elke minuut van die 2 ure wat ons daar spandeer het, werd.

Gees en stamina, dis wat jy nodig het in museumgenote vir Nacht der Museen. Ons span het gees gehad, maar net na ons uit is by die AquaZoo (omtrent half een) het die stamina gefaal, en die meeste van die span het die volgende bus geneem terug hoofstasie toe. Twee spanlede het egter genoeg stamina gehad vir nog 'n museum, maar het besluit om dit te spandeer op *sug* nog 'n kunsgallery. Dis hier waar ek ek myself vriendelik uit die geselskap verskoon het, en die een museum gaan sien het wat vir my ononderhandelbaar was: die Comtoise Horlosiemuseum.

Dis 'n ongelooflike jammerte 'n mens mag nie daar foto's neem nie (by die Picasso's ook nie, maar dit kan 'n mens verstaan... nadat hulle al daai geld spandeer het op die goed se aankoop, sou hulle nie genoeg oorhê om skadevergoeding uit te betaal as daai skilderye die kameras se lense een na die ander laat kraak nie), want dit was nou omtrent 'n ervaring. Honderde muurhorlosies, van elke kleur en geur. Ek soek so 'n saal in my huis as ek eendag 'n biljoenêr is... behalwe dat almal die regte tyd sal wys (nie een van die horlosies daar was reg ingestel nie, seker om te keer dat almal terselftetyd afgaan en 'n onuithoudbare geraas veroorsaak elke uur).

Na 'n salige driekwartuurtjie in die teenwoordigheid van soveel meganiese majesteit, was dit tyd dat ek ook huis kry. Ongelukkig was die horlosiemuseum aan die heel teenoorgestelde kant van die stad, en die busse was 'n bietjie stadig, so halfpad oppad stasie toe het ek besef ek gaan nie die 01h30 trein haal nie. So, halfpad oppad soontoe, klim ek af, en lê die laaste entjie te voet af om 'n bietjie van die stad ook te sien. Duesseldorf het in halfuurtjie my net oortuig dat ek absoluut terug moet kom vir 'n volle dag op 'n stadium. Plus, ek moet gaan poskaarte koop.

So, ten einde laas (na 'n vinnige besoek aan Pizza Hut by die stasie) was dit alweer ek, 'n treinstasie in die vroeë oggendure, Sparky en my kamera. Die onvermydelike moes gebeur: eerstens, dat ek almal op die perron se aandag moes trek deur 'n foto te neem van Sparky, en tweedens, dat ek in die een wa op die trein moes klim waar een of ander idioot van sy Saterdag-nog jolyt (en sy ontbyt) afskeid geneem het.