Friday, April 20, 2007

Hamburg


RIMG00402, originally uploaded by tstander.

Dit help nie ek bespreek 'n sitplek op 'n trein hier nie.

Deutsche Bahn (oftewel, die klein DB, om verwarring te vermy met die Groot DB) het dit goed gedink om my 1.50 Euro te laat opdok vir 'n sitplekreservering, en dan vir my self te laat baklei daarvoor. Sien, hoe dit gewoonlik werk is, jy bespreek 'n sitplek, en daar word 'n pragtige kaartjie by die sitplek aangebring wat aandui dat die sitplek gereserveer is tussen hierdie en hierdie stasies. Natuurlik was dit Vrydag weer nie gedoen nie, en die tannie wat daar gesit het, het botweg geweier om te skuif (want daar's mos nie 'n kaartjie wat aandui die sitplek is gereserveer nie). Partykeer dink ek die kondukteurs doen dit aspris, sodat hulle iewers kan sit en kyk hoe die drama ontvou... daar's mos niks anders om hulself mee te vermaak hier rond nie. Skurke. Ek's seker ek't hulle hoor giggel toe ek maar die oop sitplekke in die rookafdeling gaan opsoek het.

4 ure en seker 'n pakkie sigarette later, land ek toe by Hamburg hoofstasie, en 'n kort (en onwettige) moltrein rit later was ek by Petro, waar ek verneem het sy het OOK nie 'n kamera nie. Na 'n vinnige koukus oor presies hoe, waar en wanneer ons een in die hande gaan kry, het ons die res van die namiddag spandeer op 'n wandeling deur die stad (waartydens ek o.a. 'n klein opslaan-braaitjie gesien het, iets wat ek al lankal soek), wat ons uiteindelik besorg het by 'n woonbuurt pub.

As ek eendag 'n pub (kroeg is net nie die regte woord nie... my meer belese lesers sal my moet uithelp op 'n stadium) oopmaak, gaan dit so lyk. Ou tafels en banke, met die ou versierings langs die mure. Ou mense wat kaart speel in een hoek, jonger mense skaak by 'n ander, en die res wat net kuier by die kroeg en die aand rustig verwyl. En elkeen met sy gunsteling biertjie in die hand. So rustig, so eenvoudig, en 'n definitiewe moet as jy ooit die kans kry om so 'n plekkie te besoek. So meegesleur was ons met die atmosfeer, dat ons maar die res van die aand daar deurgebring het in die gawe geselskap van Dunkel Weissbier en 'n paar Iranese immigrante.

Die volgende dag was die weer (soos die vorige dag) lieflik, en natuurlik het ek die geleentheid gevier deur vir die eerste keer Duitsland se strate aan te durf in 'n kortbroek en sandale. Dadat ek eers daai braaitjie en 'n paar nuwe sokkies gaan aanskaf het (myne het ek amper almal deurgeloop in die maand wat ek hier was) het ons toe die pad gevat af hoofstasie toe. Natuurlik is daar mildelik gestop langs die pad vir foto's met die disposables wat ons langs die pad verkry het, veral toe ons verby Inner Alster en die kunsmuseum gestap het. Daai kameratjie was elke sent werd. Daar's net soveel om te sien en af te neem, jy kon nie wag tot jy 'n ander kamera het voordat jy begin snap-happy raak nie. Verby die hoofstasie (terloops, die grootste treinstasie in Duitsland) het ons (heel verwags, volgens my reseppie... sien die "Dortmund" post) die loopstrate en die oustad gevind, van waar ons verkenningstog vir die dag sou begin.

Maar soos enige ontdekkingsreisiger jou sou kon vertel, kan jy nie so iets aanpak sonder 'n kamera nie, so ons is gou eers in by Saturn om 'n bietjie rond te kyk. 'n Halfuur, 'n bietjie EC Geldkart drama en 'n duty-free slippie later, was Petro die trotse eienaar van 'n Ricoh Caplio R5. Natuurlik moes hierdie kamera se battery eers gelaai word, en 'n beter verskoning om 'n lekker eetplek te kry (naby 'n kragprop) het ons nie nodig gehad nie. Ons skiet toe af na 'n Chinese restaurant, kry twee chop sueys en twee biere, en beplan ons roete verder (hierdie keer is die kaart vroegtydig aangeskaf) terwyl die battery laai.

Hoewel ons nou kaart en kamera gehad het, het ons nog een ding gekort... fietse. Hamburg is heeltemal plat, en heeltemal fietsbehep (amper erger as Nederland). Hier's oral fietspaaie uitgelê, en jy kan alles sien wat jy moet sien op twee wiele. Hiermee dan 'n ernstige aanbeveling: as jy ooit hierdie hawestad besoek, huur 'n fiets. Ek weet nie waar nie, maar ek weet dit sal jou dag oneindig beter maak.

Terug na die storie. Eerste stop was die Rathaus (soos dit maar is by enige oustad), waarna ons ons pad deur die ou stad gekronkel het verby St. Nikolai ('n Gotiese kerk wat amper heeltemal vernietig is deur geallieerde bomwerpers, en nooit heeltemal herbou is nie. Die ruïnes is tans 'n monument) en St. Katharinen tot by die river. By die Speicherstadt (die staddeel langs die rivier waar al die skeepsvrag gestoor is in die laat 19e en vroeë 20e eeu) het ons kans gekry om die "Hamburg Dungeon" van buite te beskou, asook om onsself te vermaak in die winkeltjie (die tou was 'n bietjie lank, so ons het nie ingegaan nie).

Van daar het ons al langs die rivier en hawe gestap tot in Altona. Op hierdie stadium wou ons voete nie meer nie, toe moes ons eers in die geselskap van 'n bier of twee gaan rus in die eerste, beste kuierplek wat ons kon kry. En wat 'n interessante plekkie.

Ons beland toe in die kuierplek van die plaaslike Griekse gemeenskap. Die eerste ding wat jou tref as jy daar instap, is die blou rookwalms wat daar hang. Dan, sodra jy jou gasmasker op het en weer kan sien, kom jy agter dat daar, behalwe vir die ouerige tannie agter die kroeg wat een whisky wegslaan na die ander, net middeljarige en bejaarde mans is. En die manne dobbel ernstig, soveel so dat daar by elke tafel 'n skeidsregter dophou om seker te maak niemand kroek nie. En dan sien jy al die Griekse versierings teen die mure: vlae, borde (tans nog heel, maar net die regte hoogte vir gryp en smyt op die vloer), ou foto's van die vaderland, en natuurlik leë Uzo-bottels. Ons het lank genoeg hier vertoef om sommer lus te kry vir Griekeland toe gaan, maar kort genoeg om nie te voel ons moet nou kos bestel nie.

Vandaar is ons na ons laaste stop vir die aand: St. Pauli, en meer spesifiek, die kuierplekke van Reeperbahn. Al die studente kom hierheen om te kuier, en ons kon onmiddellik agterkom hoekom. Daar's absoluut om van te kies en te keur in daardie straat, vir oud en jonk en elke voorkeur. So, na 'n vinnige stop by 'n Pizza Hut en 'n kitch winkeltjie langs die pad (en 'n apteek, vir lip ice: iets wat 'n mens nêrens by 'n kafee of 'n gewone winkel kry nie, kom ons toe agter) val ons toe in by Nachtlager (baie soortgelyk aan Mystic Boer) vir ons laaste paar biere vir die aand.

Nie ek of my medestryder het op daardie stadium kans gesien vir terug stap meer toe nie, en twee train hops later was ons terug by die huis.

Sondag het ons dit rustig gevat en laaaaaaaat geslaap. So laat, dat teen die tyd dat ons gereed was om weer die pad te vat, dit amper middagete was. So, na 'n vinnige stop by 'n vulstasie-winkeltjie vir broodjies, slaai, koue vleis en bier, sny ons 'n reguit lyn meer toe vir 'n piekniek. Nadat ons ordentlik geëet en gerus het, het ons 'n kort wandeling om die meer gemaak, waarna ek terug is Wuppertal toe. 'n Heel onvergeetlike naweek in 'n pragtige stad.