Tuesday, January 30, 2007

Een dag, lank lank gelede...

Raait, hierdie is nou my eerste post op hierdie blog, wat ek nou die tweede keer oortik. Die eerste keer het ek per ongeluk "back" geclick, en toe ek weer hier uitkom, was als weg. Ek het 'n regtige catchy intro gehad, maar kan nou nie meer onthou wat dit was nie. So hierdie sal nou maar moet werk.

So, ek gaan Duitsland toe. Almal weet dit nou al, want ek het dit al vir almal vertel. Herhaaldelik. Ek's verbaas dat daar nie al meer mense was wat my vertel het hoe gatvol hulle nou al is vir my Duitsland stories nie. Maar as jy tot kort tevore nog een van die gelukkiges was wat ek nie verveel het met die verhaal nie, hier's dit weer:

Ek gaan van 1 Maart tot 24 Mei in Duitsland studeer. Meer spesifiek, gaan ek verder werk aan my M-tesis aan die Bergische Universität Wuppertal. (Meer besonderhede by www.uni-wuppertal.de) Na afloop van hierdie tyd gaan ek by my suster kuier in Engeland, waarna ek IMS2007 gaan bywoon in Honolulu vir 'n week.

Omdat ek nie regtig kans gesien het om almal altyd via e-pos op hoogte te hou van my nuutste doen en late nie, het ek besluit om eerder my verhale hier te vertel. Ek sal seker spesifieke aspekte van spesifieke gebeurtenisse via e-pos aan die korrekte partye oordra, want my ma sal bitterlik vies wees as ek nie vir haar op een of ander manier laat spesiaal voel nie. :)

Nou waar trek die storie nou?

- Vliegkaartjie is gekoop, al die pad van Kaapstad -> Londen -> Frankfurt -> Londen -> Honolulu -> Londen -> Kaapstad. Ek en Heathrow gaan goeie vriende raak.
- My verblyf in Wuppertal is bespreek en deposito betaal. Ek deel 'n tweeslaapkamer woonstel op kampus met Onbekende Persoon X. Pret.
- Die prof in Wuppertal (Heinz Chaloupka) het laat weet dat my sitplekkie en toesig in plek is... maar nie meer by hom nie. Ek sal nou in die hoof van hul EM groep se lab sit.
- Ek wag nog vir einde Januarie, om te hoor of DAAD vir my gaan geld gee vir die trippie.
- Eers as ek klaar gehoor het van DAAD, kan ek begin met my Duitse visum.
- Ek het vandag ('n groottotaal van R 886 later) vir my VSA visum onderhoud gegaan. Ek sal 'n aparte blog post maak daaroor... dit was nogal 'n ervaring.
- Tydelike internasionale bestuurspermitte is verkry vir Duitsland, Engeland en die VSA (Dankie Ma!) en reistasse is aangeskaf (Dankie Ma!). Tussenin is Wimpy brunch ook genuttig, natuurlik (Dankie Ma!) Al wat ek nou nog kort vir die trippie, is 'n nuwe radio vir my Chico (Dankie Pa! Onthou, dis nou die een wat MP3's kan lees van 'n USB memory stick af.)

Jip, dis omtrent dit. Soos die doel van hierdie blog nou maar is, sal ek julle op hoogte hou.