Monday, July 16, 2007

Vlug na Honolulu


100_2247, originally uploaded by tstander.

Maandag-oggend heel vroeg, vang ek toe 'n lift na Heathrow vir my vlug na Hawaii. Gegewe dat ek aan die begin van 'n 20 ure vlug (wat toe nie 20 ure was nie... meer daaroor later) was, het ek dit goed gedink om te deurnag op Adana-hulle se Sky, om sodoende te verseker ek's doodmoeg op die vlug, en slaap al die pad LA toe.

Ek dink nie ek't vir almal verduidelik presies hoekom ek Hawaii toe is nie, so hierdie is seker 'n goeie plek om dit verduidelik. Die International Microwave Symposium is die IEEE (professionele liggaam waaraan ek behoort) se grootste mikrogolf ingenieurswese konferensie. Dinsdag tot Donderdag kry 'n mens die geleentheid om te hoor wat's die nuutste akademiese navorsing in jou veld, hoe gebruik ingenieurs in die praktyk die navorsing in hul nuutste projekte, en 'n mens kan die 600 uitstallers besoek om te sien wat's die nuutste produkte en dienste op die mark. Definitief 'n groot, belangrike werksbesoek.

Dit was dus 'n taamlike pê Tinus wat Maandag-oggend met sy oorgewig bagasie ingecheck het by Heathrow en beland het op die yskoue Boeing 777, reg agter seker die luidste en ongelukkigste passasier wat United al ooit vervoer het (en so 'n presteerder op slegs 'n paar maande oud... roem wag op haar). Pê, maar nie vaak nie. Dus moes ek my maar weer vir 11 ure verlustig aan United se reeks gesensorde flieks, 'n bietjie gesels tussendeur met die Duits-Arabiese Kaliforniër tannie langs my, en die laaste bietjie van my Londen blogs skryf. Ten minste het ek genoeg kos en snacks gehad my geselskap te hou wanneer die tannie geslaap het. Amerikaanse lugrederye moet regtig nie kla oor oorgewig passasiers nie: dis hulle wat die mense vet voer in die eerste plek.

Aangekom in LA, sou ek vinnig agterkom dat hierdie nie net 'n hervullingstop is nie. Dit is, in alles behalwe vlugnommer, twee heeltemal aparte vlugte van Londen na LA, en dan weer van LA na Honolulu.

Omdat dit die eerste sg. "entry point" in die VSA is, moet jy hier van die vliegtuig afklim, jou bagasie kry, en deur paspoortkontrole en doeane gaan. Net nadat jy deur doeane is, sit jy weer jou bagasie op 'n belt wat dit op die volgende vliegtuig sit. Dan moet jy die terminaal verlaat (dus, die sekuriteitsarea verlaat), en die pad vat na die terminaal langsaan vir jou vlug na Honolulu. Hierdie het my dan ook die kans gegee om Los Angeles te sien, al was dit dan nou net die karakteristieke palmbome en dik smog.

Weer deur sekuriteit, was daar genoeg tyd voor die vlug om rustig paralelle te sit en tref tussen McD's in SA en VSA (Behalwe vir die dubbelgrote porsies, identies. Plus die lingua franca in ons McD's is nie Spaans nie.), poskaarte te koop en skryf, en die plaaslike fauna te bestudeer.

Amerikaners is net gewoon anders. Dis in hoe hulle aantrek, hoe hulle hul geld hanteer, Heel eerste, is hulle vreeslik vinnig om 'n geselsie aan te knoop, veral as hulle hoor jy't 'n vreemde aksent. Hulle hou ook daarvan om hul, of ander mense, se persoonlike lewens kliphard te bespreek sodat almal dit moet hoor. G'n wonder hulle het nie 'n probleem om hul probleme na Oprah of Dr. Phil te neem nie. Oor die algemeen het ek hulle nie naastenby so onuithoudbaar ervaar as wat ek verwag het ek sou nie.

Hierdie sal dan ook seker 'n goeie geleentheid wees om te praat oor die Amerikaanse geld. Die Magtige Dollar kry mens in die gewone denominasies van 100, 50, 20, 10 en 5. Wat egter 'n bietjie vreemd raak, is dat 'n mens 'n 1 Dollar noot ook kry. Hoekom hulle die idee van 'n dollar munt weerstaan het vir soveel jare (dis blykbaar al op die kaarte vir lang ruk) kan 'n mens lank oor bespiegel. Die een moontlikheid, is dat dit jou vul met 'n oorweldigende gevoel van welvaart om met 'n beursie vol note die dorp in te vaar, al het jy in totaal nie meer as $20 op jou nie. Die ander opsie (soos die dame by die toonbank by Keori opgemerk het) is dat dat 'n 1 dollar munt heelwat moeiliker in 'n stipper se garter sal pas as 'n 1 dollar noot. Hoekom sy hierdie moontlikheid spesifiek genoem het, gaan ons nie oor spekuleer nie. Sy't seker maar baie flieks gekyk of iets.

Die Amerikaners se probleem met munte strek nog verder, in dat hulle nie 'n 50c stuk het nie. Hul grootste munt is die beroemde Quarter, of 25c. Daarna kry jy die Dime (10c), die Nickel (5c) en Penny (1c). Wat jou nog verder deurmekaarmaak, is dat die dime 'n hele ent kleiner is as die nickel.

Wat aankope in die land nog verder belemmer (asof die vreemde geldeenheid nie erg genoeg is nie) is dat die rakpryse, in baie gevalle, nie belasting insluit nie. Jy sal dus rustig die presies regte kleingeld regkry in die tou voor die kassier, net om inderhaas nog geld te soek sodra dit opgelui word. Belaglik.

Terug op die vliegtuig, het die moegheid my uiteindelik ingehaal. Van daardie vyf ure vlug, onthou ek net die Guava sap aan die begin, die eerste afkondiging om inligting deur te gee vir die "halway to Hawaii" kompetisie (jy moet, gegewe opstygtyd, landtyd, lugspoed, afstand ens. raai hoe laat ons presies halfpad tussen LA en Honolulu sal wees), en die afkondiging dat ons moet vasgordel vir landing. Absoluut die manier om te vlieg, en iets wat ek deeglik kan aanbeveel.

Wat jou eerste opval van Hawaii, selfs in die aand toe ek geland het, is die vreeslike humiditeit. Eers dink jy die lughawe se lugreëling is 'n bietjie snaaks gestel, tot jy agterkom daar's oral oop mure (geen vensters nie: die dak staan op stelte) is. Daarna is dit heeltemal casual uniforms waarmee al die mense rondloop (g'n dasse te sien nie, en heelwat kortbroeke). Dan weet jy jy's op die eiland. En die laaste stop van jou toer het begin.