Monday, July 16, 2007

Londen Saterdag


100_2236, originally uploaded by tstander.

Hulle sê goeie dinge gebeur in drie. Dit is dus vanselfsprekend dat, indien ek 'n derde dag in Londen deurbring, iets goeds moes gebeur. Ek moes gaan uitvind, en toe Adana en Ruan gaan werk het Saterdag, het hulle my weer gaan aflaai by Hatton Cross.

Hier sou ek egter persoonlik ervaar watse avontuur dit kan wees om die tubes te neem oor naweke. Naweke, hier, is die tyd waarop die groot werk aan die lyne gedoen word. Wat beteken dis omtrent 'n stel ompaaie wat jy moet neem om by jou bestemming te kom. So, na 'n stuk of vier keer se oorklim (pleks van die een, wat dit oorspronklik sou neem), bevind ek toe myself in Temple. Meer spesifiek, Walkabout in Temple, die Australiese kuierplek waar die Suid-Afrikaners van die omgewing bymekaargekom het om die toetsrugby te kyk.

'n Paar goed het my opgeval oor hierdie mense. Eerstens, nie almal wat 'n Springbok trui dra, praat Afrikaans nie: baie van hulle is so Engels (wel, seker SA Engels) soos komkommertoebroodjies en Earl Grey. Ek het dus glad nie so baie Afrikaans gehoor soos wat ek verwag het nie.

Flora se opmerking (dat die SA'ers hard kuier) kon ook daar sien. Nie dat hulle seker minder kuier in Stellenbosch nie, maar 'n mens kan agterkom daar's 'n verskil tussen die hoeveelheid leë bierglase op die tafels omring deur groen true, en die op die wit truie se tafels.

En ja, die wit truie was daar. Hoekom hulle besluit het om daar, van alle plekke, te gaan rugby kyk, gaan die verstand te bowe. Miskien het hulle net geweet daar gaan 'n klomp mense wees wat vir die ander span skree, en wou hulle net 'n bietjie moedswillig wees.

Om daai skare te beleef, was 'n ervaring opsigself. Ek het nog nooit soveel gees oor 'n game gesien by enige ander plek waar ek al rugby gekyk het nie. Vreemde mense wat daar mekaar high-5 na 'n drie, wat saam op die ref skel as die Engelse 'n strafskop kry, en vir mekaar Castles aandra. En so hard skreeu na 'n drie, dat jy half doof daar uitstap. Definitief 'n ervaring.

Terloops, vir almal wat al daar was: ja, ek het 'n Snakebite probeer so halfpad deur die tweede helfde. En ja, net een.

Vandaar is ek terug Greenwich toe met daai freaky remote control DLR, om (wat oor is van) die Cutty Sark, die ou Royal Naval Academy, die mark, en die dorpie self te sien. Ek was bitterlik naby daaraan om vir my 'n pak gegeurde koffiebone daar te koop, maar die begroting (na drie maande in die buiteland) begin nou 'n bietjie tight raak, plus ek sou nie plek daarvoor kon kry in my tas nie, al soek ek hoe hard. Ek kon darem by een van die plekkies 'n middagete kry: goedkoop, plus ek hoef dit nie in te pak nie (hoewel ek daai cheeseburger omtrent ingepak het: ek was nogal honger).

Toe ek vir Adana-hulle verduidelik het hoe min beïndruk ek was met Leicester Square, het hulle my oortuig dat ek die verkeerde plek beetgehad het. Die enigste opsie was dus om, via 'n klein detour verby Oxford Street en Bond Street, weer te gaan kyk of ek nie die "regte" plein kan kry nie. Na 'n chance encounter (8 XXXX miljoen mense in Londen, en ek sou waaragtig die ou raakloop) met 'n klaspêl van universiteit, bevind ek my toe presies waar ek die vorige dag was.

Van daar af is ek toe Tate Modern toe, om my te gaan verlustig in die wel en weë van surrealisme en impressionisme tot toemaaktyd. Ek't die gaskamer ('n kamer wat hulle so vol pomp met rook, jy kan nie jou hand voor jou oë sien nie) egter gemis, deels omdat ek dit nie kon vind nie, en deels omdat ek reken dit kan nogal 'n gevaarlike plek wees om te beland saam met 'n klomp ernstige kunsliefhebbers (sien my vorige verwysings na ernstige kunsliefhebbers by die Nacht der Museen inskrywing).

Van daar was dit terug na Paddington, en na 'n wandeling in die woonbuurt rondom, die Heathrow Express na Terminaal 2. Gewoonlik kos hierdie treindiens 'n knerts meer as 16 Pond, maar siende dat hulle soveel probleme gehad het om al die mense tussen die lughawe en die stad vervoer te kry vanweë die herstelwerk aan die lyne, het hulle almal met 'n zone 1-6 tube kaartjie toegelaat om die trein gratis te gebruik.

En daai ding is luuks. Vinnig (15 minute van Paddington na Heathrow), luuks, myle se beenspasie, plus 'n TV voor in elke wa waar jy die spesiale Heathrow Express weergawe van BBC News kan kyk.

Daar aangekom, was dit 'n kort tube rit terug na Hatton Cross, waarna ek die hele Sondag kon rustig vat, stryk, pak en Sky kyk.