Monday, July 16, 2007

Hawaii Maandag


100_2259, originally uploaded by tstander.

Die eerste ding om te doen as jy van Londen af in Honolulu arriveer, is om jou hotel te vind. Of, as die vrou by die inligtingtoonbank begin lag as jy vra of die hotel stapafstand is, 'n shuttle na die hotel. Maar selfs dit is net 'n middel tot 'n doel: om uit daai langbroek te kom, en so vinnig as moontlik 'n korbroek en sandale aan jou te kry.

Na dit gedoen is, is dit om eerste indrukke te ontwikkel oor waar jy jouself bevind. En eerste indrukke het Honolulu in oormaat.

Daar's natuurlik die hitte en humiditeit. Na 'n hele lang ruk taamlik ver noord, kleef dit aan jou iets verskrikliks. Die aande is amper net so warm soos die dae, selfs deur die periodieke reënbuie wat nie veel doen behalwe om jou nog natter te maak as wat jy reeds is nie.

Tweedens, is dit die oormaat Japannese toeriste. Ek's seker meer as die helfde van ons hotel (en die res van Waikiki, die deel van Honolulu waar ons gewoon het, wat grootendeels bestaan uit hotelle) was vol Japanese toeriste. Daar's genoeg van hulle om te verseker dat al die bordjies in die hotelle en restaurante Japannees is, dat daar personeel is wat die taal verstaan, dat die hotel Japannese TV kanale het, dat die restaurant in die hotel Japannees is, en dat daar selfs winkels is waar jy verbyloop sonder om 'n enkele woord Engels binne of buite te sien. Waikiki kan in alle reg Little Tokyo genoem word.

Iets anders waarvan daar baie is, is ABC winkels. Hierdie geriefswinkels verkoop alles van basiese kruideniersware tot drank, souvenirs, klere, skryfbehoeftes, en alles tussenin. En hulle is ORAL. Daar's letterlik nie 100m in Waikiki wat jy kan stap sonder om deur een bekruip en oorval te word nie. Hulle is egter nogal handig om die plaaslike broue, Kona Long Board Lager en Kona Pale Ale, in die hande te kry om snaakse ure.

Wanneer 'n mens nou egter nie lus is vir 'n koue Kona op jou balkon nie, dan moet jy maar iewers 'n kuierplek gaan soek... of toevallig op een afkom. Dis hoe ek en Dirk toe die Red Lion gevind het, reg langs die strand, so 'n entjie van ons hotel af. Wat ons eintlik ingelok het, was die $3 draft specials (dis nou $3 vir 'n groot pitcher). Ons het egter nie eers driekwart deur ons eerste rondte gekom nie, toe maak ons die eerste keer kennis met die Vlooties van Pearl Harbour.

Daar's 'n groot vlootbasis by Pearl Harbour, en 'n stuk of drie lugmagstasies in die area. En al die manne kuier in Waikiki. En hulle kry, met hul militêre ID kaarte, afslag op al hul drank. So, natuurlik, as hulle 'n vreemde aksent hoor, 'n bietjie aangeklam is, en in 'n nuuskierige bui, begin hulle koop. So kry ek en Dirk toe vir die res van die aand ons bier, met die komplimente van die VSA Vloot.