Wednesday, July 18, 2007

Hawaii Donderdag


100_2275, originally uploaded by tstander.

Donderdag-oggend was dit weer tyd vir vroeg opstaan, vroeg ontbyt kry by Keori, en die bus neem na die konferensiesentrum. Daardie oggend se sessies was egter nie heeltemal so boeiend soos ons aanvanklik gehoop het hulle sou wees nie (behalwe natuurlik vir die non-planar filters sessie, waar manne mekaar links en regs woes beskuldig het van ongelooflike resultate). Na 'n kort vertoef by die eerste helfde van die een middagsessie, het ons dus net eensklaps besluit dat ons konferensie nou verby is, toe sny ons 'n lyn af na Waikiki strand toe.

Hierde strand loop die volle lengte van Waikiki, die onderdorp van Hawaii waar al die hotelle, kuierplekke en toeriste ook aangetref word. Die strand is egter 'n bietjie kunsmatig: blykbaar moes hulle tonne en tonne sand inry om 'n strand te maak waar daar voorheen eintlik net 'n rotsplaat was. Maar dis maar hoe die gerug loop.

Eg of nie, die water is warm, die poppies nog warmer, en 'n namiddag daar is 'n moet... al is dit dan nou net om die besienswaardighede te gaan waardeer.

Die aand is ons saam met twee ander SAners op die konferensie vir 'n ete by die "beste" (lees: enigste) Meksikaanse restaurant in Waikiki. Robert en Valpre werk vir EMSS buitekant Stellenbosch, en het die moeite gedoen om al die pad Hawaii toe te gaan om dit te bemark. Robert se surf board blykbaar saamgekom, maar natuurlik slegs vir sake doeleindes. Anyway, kos was lekker, bier was enorm (ons het probeer uitreken hoeveel ml 22 oz. is, maar halpad opgegee en maar net bestel), maar hier moet ek bieg dat ek nie heeltemal kan onthou wat ons die res van Donderdag-aand gemaak het nie. Siende dat ek nie iets spesifiek onthou nie, sou ek aanneem dat ek maar huis toe gegaan het vir 'n vroeƫ aandtjie. Hierdie mag egter verander soos nuwe inligting aan die lig kom.