Monday, July 16, 2007

Londen Vrydag


100_2190, originally uploaded by tstander.

Vrydag was nou die Groot Londen dag, waartydens ek al die besienswaardighede wat ek moontlik kon inneem, wou inneem. Om my te help, het ek 'n toergidsboekie op die Internet gekry, wat jou op stedelike wandelings neem rondom die grootste besienswaardighede.

Roete 1 het begin by Trafalgar Square, waar jy ou Nelson se standbeeld en South Africa House kan sien. Seker een van die dae Mandela se standbeeld ook, as die toutrekkery tussen die Mayor en Lord Mayor van Londen eendag end kry. Van daar loop die paadjie af in Whitechapel, verby die Admiralty Gate en die barracks van die Horse Guards (met een verdwaalde siel wat buite staan met 'n swaard, asof iemand ooit daai diere wou steel), tot by Downing Street. Die hele straat is afgesper, en daar's sulke vriendelike omies in swart uniforms wat jou vra wat jy maak as jy te naby aan die straat fotos neem, so ek moes maar my kiekies snap van 'n afstand af.

Digby Downing Street (dis seker maar die idee, dat die belangrike manne woon naby hul werkplek) is die parlement, met Big Ben om seker te maak die ouens verkas vroeg genoeg om nog happy hour te vang by die pub. Hoewel die gids aanbeveel jy moet doen wat jy kan om daar in te kom vir 'n toer, was daar daardie dag nie openbare toere nie. Daar was wel 'n private toer, wat op die oog af taamlik openbaar gelyk het. Dit het taamlik verduidelik gekos om DAARDIE polisieman te oortuig dat ek regtig gedink het dis 'n openbare toer, en nie die parlement wou infiltreer vir kwade bedoelings nie.

Slap links by Westminster Abbey en deur St. James Park, kom jy uit by die ou grote: Buckingham Palace, en soos my geluk dit nou gehad het, net betyds vir die changing of the guard.

Die eerste ding wat hulle jou vertel in die gids, is dat jy vroeg moet wees. Dit help amper nie jy daag die tyd op wat ek opgedaag het nie, daar's nie meer loerplek voor die hek nie. Die beste plekke is natuurlik op die Victoria Memorial, maar daai spasie was ook deeglik beset toe ek daar opgedaag het.

Nouja, so tussen die mense deur (plek-plek is al wat ek van die storie gesien het, dit waarvan ek fotos geneem het toe ek die kamera hoog bokan my kop gehou het) kon ek darem uitmaak wat aan die gebeur is. Heel eerste sien jy die band inmarsjeer (met hul eie radioman agterna... of dalk 'n sound engineer?), en dan die kom die perde verby, en dan kom die nuwe guard. Hulle staan dan en staar vir mekaar vir seker meer as 'n halfuur, terwyl die kapteins so twee-twee al om die paleis stap en seker maak die eerste klomp het nou nie vir die volgende spul 'n klomp probleme gelos nie. Tussentyd speel die band, om die arme ouens (en die toeskouers) te vermaak.

Dit was ook in daardie tyd dat mense begin verveeld raak geloop het, wat vir my meer spasie gelos het om 'n paar foto's te neem. Net om dinge 'n bietjie op te spice, het die koningin ook daar uitgery gekom. Vreemd genoeg, was dit die Amerikaners rondom my, en nie die Britte nie, wat stapelgek geraak het en begin gil het soos net hulle kan. Mens sou sweer hulle het Oprah gesien of iets.

Van daar het ek 'n vinnige draai gegooi in Green Park (so genoem omdat daar nie blomme groei nie, glo a.g.v. die klomp melaatses wat daar begrawe lê) vir 'n worsbroodjie middagete (minus die bier... 'n mens raak baie goed gewoond in Duitsland). Deur Marble Arch, en die kleinste polisiekantoor in Londen, is ek deur Hyde Park al langs die Serpentine. Vandaar is ek gou vinnig verby die V&A museum, vanwaar ek die tube geneem het na Covent Garden. Hierso is 'n heel oulike mark (baie touristy stuff, maar baie ander goed... Dirk behoort hier te besoek my sy t-hemp versameling aan te vul). Hier is ook die London Transport Museum. Howel die museum self toe is, is die museum winkel die mecca vir tube merchandise. En hulle weet dit. Jy weet hulle weet dit as jy kyk na die pryse van hul ware.

Van hier het ek nou die beroemde Leicester Square besoek. Na die triomf en mag van Trafalgar Square, was hierdie nou 'n bietjie van 'n teleurstelling. Dis net 'n kleinerige parkie, meer as enigiets anders. Ek kon nie glo hierdie plekkie het dit op die Monopoly bord gemaak nie, nevermind die refrein van 'n liedjie. Maar die teleurstelling sou nie daar eindig nie. Ek het seker nie regtig verwag Piccadilly Circus sou werklik 'n sirkus wees nie, maar jy sou verwag iets wat hulle 'n sirkus noem, sal dieselfde tipe atmosfeer of grootsheid hê, of selfs net enigiets van besonderse belang wees. Toe nou nie. Piccadilly Circus is 'n verkeersirkel. Met 'n advertensiebord. En 'n eie tube station. Dis dit.

Sulke teleurstelling konnie toegelaat word om te oorleef nie, en ek moes dus dadelik 'n plek besoek wat ek geweet het my nie teleur so stel nie. Maar, oppad soontoe, het ek op 'n trein beland wat my nie teleur gestel het nie. Die Docklands Light Railway (DLR) het nie 'n bestuurder nie. Jy loop tot heel voor in die trein, en kry 'n front seat view van waarheen jy oppad is. Siende dat dit die eerste keer is, na drie maande se trein ry, dat ek hierdie perspektief op die reis kry, was dit nogal 'n ervaring. Bietjie freaky, maar nogtans 'n ervaring.

Jy klim op van die tube op die DRL by Canary Warf. En, heel onverwags, het hierdie plek my glad nie teleurgestel nie. Dis belaglik. 'n Hele ent buite die stadkern, in 'n area waar daar voorheen net docklands was, staan nou reusagtige skyscrapers left right and centre. Blykbaar is dit nou 'n taamlike posh plek om te bly. Ek kan dit glo.

Anyway, al die pad van die tube, na die DLR, deur Canary Warf, het ek uiteindelik uitgekom by Greenwich. Die hartseer hiervan, is dat ek op daardie stadium besef het ek gaan laat wees vir die afspraak met 'n paar vriende by Paddington stasie. Ek moes toe ongelukkig 'n bietjie jaag deur die village om die park te sien, 'n foto te neem by die lyn, en toe weer die tube terugneem na Paddington.

Een lang, warm, Hammersmith & City lyn rit verder, was ek by Paddington se standbeeldjie by die stasie om Mike, Flora en Ellie te kry. Vandaar is ons na 'n tipiese Engelse vis & chips by tipies on-engelse Turkse restaurant, wat spoedig daarna afgespoel is by 'n eg Engelse pub met 'n eg on-Englse Guinness. Van waar ek weer 'n lyn gesny het Aldershot toe om vinnig 'n uiltjie te knip voor nog 'n dag in die Engelse oerwoud.