Saturday, July 28, 2007

Hawaii Vrydag


100_2326, originally uploaded by tstander.

Vrydag het Petrie vir ons drie 'n lekker groot Amerikaanse kar gehuur, om sodoende die res van Oahu te verken, veral die Noordkus. En, na nog 'n opwindende oggend van uitcheck, incheck en kamers ruil, kon ons ons vuurwa by Budget gaan oplaai (ten spyte van die vreeslike gevaarlike trappe wat ons moes trotseer om dit te kry... sien die foto in hierdie verband)

Hoewel die een uitsig wat ons daardie dag wou besoek, gewoon toe was daardie spesifieke Vrydag-oggend, kon ons nogsteeds op 'n paar pragtige plekke al langs die kus stop vir fotos en verkyk. 'n Algemene ding hier is 'n sg. "beach park": 'n groen parkie, met 'n strand, aar jy nou vir die dag kan uitspan. Die een so pragtig soos die volgende, almal in die skadu van die berge net anderkant die kusweg.

Hier het ons dan ook kans gekry om 'n bietjie van Oahu se landskap in te neem, en 'n ongelooflike diverse landskap is dit wel. Een oomblik ry jy nog deur droë bossies en klippe, die volgende oomblik lyk dit soos tropiese eiland (afhangende van watter kant van die waterskeiding jy ry). Ons het dan ook 'n bietjie van die inwoners se huise gesien. Hierdie huise laat jou definitief meer dink aan 'n kusdorp as 'n groot metropool (soos Honolulu). Plek-plek lyk dit 'n bietjie vervalle, maar dit dra amper by tot die quaint karakter van die eiland. Dis waar wat Sheena gesê het: as jy regtig Hawaii wil sien, moet jy uit die stad uit kom.

Een van ons minder produktiewe stoppe was om te check of ons by die Polynesian cultural centre wil besoek. Die konsep is heel oulik: sewe verskillende Polenesiese kulture (behuising, kleding, danse, kos, ens) word uitgebeeld in sewe verskillende dorpies, waar jy nou heeldag kan rondloop en als inneem. Dis oulik, maar helaas het ons besluit dis nie $40pp oulik nie. Toe ry ons maar verder.

Robert en Valpre het ons vertel van 'n scuba plek aan die noordkus genaamd Shark's Cove (nee, daar's nie regtig haaie nie). Aanvanklik het ons vermoed ons het die plek gemis by die baai wat afgesluit was vir verkeer, maar kort anderkant Sunset Beach kom ons toe (heel per ongeluk) daarop af. Scuba gear is dadelik gehuur, daar is summier verklee, en die res van die oggend is in die geselskap van die visse spandeer. Gegewe die groot viskenner wat ek is, sou ek nou nie die meeste van die goed wat ek daar gesien het, herken of selfs onthou nie. Dat dit egter 'n ongelooflike ervaring was, is verseker, en definitief iets wat ek weer sal doen as die geleentheid kry. Die enigste jammerte is dat die plek 'n bietjie vol was (blerrie toeriste, tsk tsk), en kort voor middagete moes ons maar, a.g.v. die geweldige oormag waarteen ons moes kompeteer vir spasie in die water, maar die aftog blaas.

Hiermee dan 'n ernstige travel advisory vir almal wat daardie plekkie besoek: vermy die Shark Cove Grill. Ons het seker meer as 'n halfuur vir ons chips daar gewag, en die vlieë dra dit so gou weg soos jy dit ontvang. Pak 'n toebroodjie in.

Laaste stop vir die dag was Dole, 'n pynappelplantasie, wat ook dien as tuiste vir die wêreld se grootste doolhof. Waar jy by Drielanden darem net een punt soek, moet jy by hierdie plek ses verskillende stasies besoek om die uitstappie as "suksesvol" te beskou. Na die tweede een het ons egter 'n bietjie moed verloor, en maar, soos by Sharks Cove, die aftog geblaas.

Terug by Honolulu, neem ons toe waar dat ons gunsteling kusweg beset is deur 'n heel onverwagse straatfees. Die Pan-Pacific Festival is 'n versameling straatstalletjies, wat allerlei aspekte van Japanese kultuur en internasionale kookkuns tentoonstel. Hierdie fees bring nou letterlik die helfde van Japan na Hawaii; dis nou, die helfde wat nie reeds daar is nie. Tussen al die kos, musiek en dans was daar 'n uitvoering van Japanese tromslaners wat ons ongelooflik beïndruk het. Daardie mense slaan nie, hulle perform: hul gesigsuitdrukkings en hele liggaamshouding is deel van die show. Na die tyd kon ons ons toe ook trakteer op 'n aandete van vis, rib en rys, sommer daar op die sypaadjie tussen die geharwar.

Laaste uitstappie vir die aand was 'n kuiertjie saam met Dirk se vriendinne van Kanada, wat hy heel toevallig daar in Honolulu raakgeloop het een aand. Na 'n vinnige stop by 'n plekkie waar ons, na een rondte, nie meer die informercials op die TV's kon uithou nie, is ons deur na 'n plekkie genaamd Nashville.

Wat jy verwag om te sien in Nashville (die stad), sien jy in Nashville (die kroeg). Ouens en meisies met breërandhoede, reuse belt buckles, stewels tot by hulle knieë, en barn dancing op die ritme van Country musiek. Soos 'n mens ook kan verwag, krioel die plek van militêre manne. Daar's allsorts: marine vlieëniers met hul high 'n tight haarstyle, JAG corps offisiere (een van hulle het die hele aand sy besigheidskaartjie uitgedeel) en 'n hele lot vlootmanne (o.a. "Chief", wat in sy dronkenskap darem nugter genoeg was om na die derde verduideliking te besef ek's nie Brits nie). Nou, vir die koste van hulle en hul geselskap te verdra vir 'n aand, kry jy die hele aand lank graties biere, te danke aan hul militêre afslag. 'n Vreemde aksent is partykeer darem 'n wonderlike ding.

Later was wat ons verwag het is ons toe daar uit, om 'n vinnige uiltjie te knip voor ons uitstappie na Pearl Harbour.