Saturday, July 28, 2007

Hawaii Saterdag


DSC07958, originally uploaded by tstander.

Volgens dame by toere toonbank van die hotel, moet jy 07h30 in die tou staan, anders kry jy nie kaartjies nie. Die gevolg was dat ons om 05h30 al moes opstaan, slegs enkele ure nadat ons teruggekom het van Nashville. Maar, jy's nie in Hawaii om te slaap nie, so jy staan maar op... al verslaap jy dan tot 06h20.

Vir die wat nie weet nie: daar's vier groot besoekpunte by Pearl Harbour. Daar's die gedenkmaal wat bo-oor die wrak van die USS Arizona (een van die oorlogskepe wat in die hawe gesink is op 7 Desember 1941) gebou is, die USS Bowfish ('n WW2 duikboot wat in die hawe vasgemeer staan), die USS Missouri ('n 1944 oorlogskip wat nog in 1991 in die Persiese Golf diens gedoen het) en die Stille Oseaan lugvaartmuseum.

Siende dat die Arizona 'n nasionale gedenkmaal is, moet dit, volgens wet, gratis wees om te besoek. Dit beteken 'n lang tou, wat ons toe inderdaad aangetref het (sien fotos). Wat heel onverwags was, is dat die hele tou binne 10 minute kaartjies gekry het. En, kort nadat ons binne die wagarea 'n happie vor ontbyt en 'n koffie (God bless Amerika vir hul filterkoffie vending machines, veral na 'n aand soos die vorige), was daar nie meer 'n tou nie. Daai vrou sal betaal as ek haar ooit weer sien.

Die besoek aan die Arizona begin met 'n filmvertoning oor die geskiedenis rondom die aanval op Pearl Harbour, met die mees ongelooflike film wat tydens die aanval geskiet is. Hier moet ek vir die Amerikaners 'n pluimpie gee: dis een ding om 'n gedenkmaal te bou, maar om seker te maak almal verstaan en waardeer wat hulle sien, is goeie styl. Net jammer Dirk het nie veel daarvan ingeneem nie.

Van hier neem jy 'n boot uit na die middel van die hawe, waar die gedenkmaal staan bo-oor die wrak. Opsigself lyk of ervaar 'n mens dit nie as vreeslik indrukwekkend nie, maar die indruk word seker maar bepaal deur die waarde wat jy daaraan heg.

Om op te maak vir die gratis toer na die Arizona, looi die mense jou behoorlik vir die ander toere. Dis amper $50 om die ander goed te besoek, maar siende dat daar nêrens ander op die aardbol 'n Pearl Harbour is nie, en siende dat Petrie betaal het, het ons tog die volle toer geneem. Eerste stop was die USS Bowfish, met 'n audio toer om jou deur te neem. Wat veral besonders was van hierdie toer, was dat jy kans het om eerstehands te sien al die hoekies en kamertjies wat jy in al die WW2 duikboot flieks gesien het. Ek't selfs die manier van voete eerste swaai deur die luike wat ek op "Below" gesien het, toegepas om tussen die kompartemente te beweeg. Wat die films egter nie heeltemal tuisbring nie, is hoe ongelooflik beknop daai goed is. Nie 'n plek waar ek graag 'n maand wil spandeer nie.

Ook interessant om te sien in daardie omgewing, is die lugafweer kannonne, torpedos, en selfs 'n Kamikaze torpedo... die uitvinder waarvan gesterf het in 'n toetsrit van sy uitvindsel. En dan, natuurlik, 'n hotdog stand om vinnig iets te hap voor jy verder gaan.

Van daar het ons 'n bus geneem na die USS Missouri, die 1944 oorlogskip wat tans dien as museum. Wat ek definitief kan aanbeveel hier, is die begeleide toer: omtrent alles op daardie skip het simboliese waarde, en so 'n toer lig dit heeltemal uit. Van die verfwerk op die 16" kannontorings, tot die dek waar vrede met Japan geteken is, en die duik in die romp waar die kamikaze vliegtuig vasgevlieg het. Blywende indrukke van hierdie skip is dat dit reusagtig groot is, maar ook dat dit reusagtig goed in stand gehou is. 10 uit 10, en 'n definitiewe moet.

Ongelukkig kan ek nie dieselfde sê van die Pacific aviation museum nie. Dis letterlik net 'n saal van vliegtuig replikas, 'n stel simulators, en 'n geskenkwinkel. Halfuur in en uit.

Terug in Waikiki, het elkeen sy eie rigting geskiet. Ek was vinnig by die poskantoor (elke poskantoor hier is 'n franchise... net in Amerika), waarna dit tyd was om bietjie langs die swembad te ontspan. Die namiddag is afgesluit met 'n vinnige middagslapie, voor ons weer gaan aandete eet het by die rock & roll restaurant oorkant die pad. Die dametjies was weer daar om te dans op die verhoog, maar party was maar beter as ander.

Na 'n vinnige rondtetjie met die dames uit Toronto (IEMAND moet vir hierdie mense leer om 'n Guinness te gooi met 'n shamrock. Ten minste het hulle dit darem nie hierdie keer in 'n bottel bedien nie.), was ons maar vroegerig in die bed vir ons vlug die volgende oggend.