Sunday, June 3, 2007

Edinburgh Maandag


100_1892, originally uploaded by tstander.

Maandag-oggend vroeg was dit weer ek, 'n vroeë trein, en 'n vlug. Hierdie keer was Adana egter gaaf genoeg om my by die stasie te gaan aflaai, was dit koud en nat. Ek het dan ook op die trein tussen Guildford en Gatwick kans gekry om die plaaslike variant van poppie van nader te bestudeer. Vier van hulle het saam met my op die trein gesit, en ek kon die gesprek verseker makliker volg as die Duits. Die gevolgtrekking? Poppies is maar... poppies. Oral. Volgende keer moet ek onthou om my wolmus te bring. Dit sal die meeste van die gesprek keer, plus dit sal help vir die snerpende koue op die trein.

Dis nogal vreemd om nie oral Duits te lees en hoor (en praat) nie. Ek sal seker mettertyd verskille en ooreenkomste uitlig tussen Duitsland, Engeland en SA, maar die eerste ding wat my opgeval het vanoggend, is dat Duitse stasies analoog horlosies gebruik op die perron, terwyl Engelse stasies digitaal gebruik. Die treine (soos vermeld) is baie, baie kouer, en die sitplekke baie nader aan mekaar.

Karakteristiek Europa, het ek ongelukkig beleef, was die vlug 'n goeie uur laat. Die verskil, hier, is dat die mense steen en been kla as dit gebeur. Nie soos in Duitsland, waar elkeen stil-stil sit en wrok koester nie.

Aangekom met die bus vanaf die lughawe, probeer ek toe die hostel (ek het op daardie stadium nog nie 'n kaart gehad nie) se aanwysings volg om by my tuiste vir die volgende paar dae uit te kom. No dice. Nadat ek die bult uitgeklim het (sover het ek die instruksies gevolg) het ek begin soek vir 'n afdraai vir 'n straat. Ongelukkig, verskillende kante van High Street, word hierdie pad George IV en Bank Street genoem. Hierdie ongelukkie lei toe vir my op 'n ontdekkingstog, al met die Royal Mile langs van die kasteel tot by North Bridge (verby Waverly Bridge, waar ek afgeklim het oorspronklik), oor die brug, terug op langs die ander kant van die treinspoor, weer terug tot by Waverly waar ek begin het. Met my bagasie, gedra, want die rollertjies werk nie so lekker op die los cobble stone sypaadjies nie.

Toe besluit ek, genoeg is genoeg. Nee, ek het nie vir rigting gevra nie (dis die mins manlike ding om te doen in so 'n situasie, iets wat my pa vir my al lankal geleer het deur sy goeie voorbeeld). Ek het by die naaste winkel ingestap, en 'n gidsboekie (met 'n kaart) aangeskaf. En kon daarmee myself navigeer tot by die hostel, inteken (lieflike, RUIM kamers) en vir Lesley gaan ontmoet by die Starbucks vir middagete.

Enige idioot kan verdwaal, maar dit neem 'n spesiale tipe genie om te verdwaal MET 'n kaart in sy hand. Gelukkig het sy my nommer gehad, om vir my te SMS watter kant toe, anders het ek nou nog vir daai Starbucks gesoek.

Na 'n vinnige middagete van sop en tuisgemaakte gemmerbier (geen rosyntjies, glad nie soet nie, met groterige stukkies gemmer wat nog daarin dryf... 'n heel ander definisie van die drankie) by een van haar gunsteling kafees, kon ons die paadtjie aandurf om vir Aiden te gaan haal by die skool. Oppad huistoe kon sy toe ook vir my wys waar's die Skotse parlement, en die berg waarrondom die stad gebou is.

Net daar en dan het ek besluit wat om eerste te doen: bergklim. Terwyl die weer orraait is (die weer is hier nooit "goed" nie, net meer en minder miserable) het ek die een koppie na die ander bestyg rondom Arthur's Seat (die ou vulkaan waarrondom die stad gebou is), met die ou grote heel laaste. Die uitsig is ongelooflik, maar die foto's vertel die res van die verhaal.

In 'n bui vir bergklim, besluit ek toe om Carlton Hill ('n ander koppie binne die stad) ook aan te durf. Hierdie enetjie is natuurlik heelwat minder moeite as Arthur's Seat, maar net so besienswaardig. Bo-op is 'n hele rits monumente gebou, ter ere van almal vanaf admirale na skrywers. Weereens, die prentjies (met onderskrifte) vertel die verhaal.

Toe ek van daai bult afklim was ek taamlik pê. Dit was tyd, vir my, om 'n vissie en 'n chippie te nuttig by een van die duisende winkeltjies in die stad wat dit verkoop. Na 'n bietjie nabetragtig, soos ek gesit en smul het daaraan in die Holyrood tuine, was dit miskien nie die goedkoopste vis & chips winkel in die stad nie. 'n Paar slukke verder aan my Irn-Bru het my egter minder daaroor laat omgee.

Na 'n vinnige toertjie om die omgewing rondom die hostel te verken, het ek 'n vroeë aantjie gemaak, om uitgerus die res van die Lothian streek rondom Edinburgh te verken die volgende dag.

Eerste indrukke van Edinburgh: nouja, ek't omtrent net die oustad gesien, maar dit is baie besienswaardig, baie oud, en baie mooi. Wat interessant is, is dat daar 'n hele rits brue is in die stad, maar geen riviere nie en net een treinspoor. Nadat dit my 'n bietjie gepuzzle het, kom ek toe agter die brue verbind net areas van soortgelyke hoogte met mekaar. Onderin die "valleitjie" loop daar nog 'n straat of twee. Amper asof die mense 'n dubbelverdieping stad gebou het.

Skotse Engels is amper onmoontlik om te volg, as jy nie gewoond is daaraan nie. Ek en Lesley kan, op skrif, fantasties kommunikeer, maar ek het plek-plek oor middagete net geglimlag en geknik.

En Edinburgh het baie, baie, baie geskenkwinkels. Wat my onmiddellik laat kyk het waar kan die die goedkoopste van wat (poskaarte, vlae, shortbread) kan kry. Verder sal ek maar my beursie styf moet vashou: daai miniatuur (tog volle funksionele) bagpipes lyk baie aanloklik in daai vensters.