Sunday, June 3, 2007

Edinburgh Dinsdag


100_2001, originally uploaded by tstander.

'n Mens besoek nie Skotland vir die weer nie. Maar as jy dit toelaat om jou besoek te bederf, sal jy nooit iets sien nie.

Vandag was my amptelike "Vermy Edinburgh" dag. Die PVA was dat ek die hele dag sit op busse na allerlei bestemmings buite Edinburgh, met my Lothian busdiens dagkaartjie van 'n skamele 2.50, heelwat minder as wat 'n mens verwag om te betaal vir die gerief van die hele dag lank busry in en om die stad. Plus, as die weer sleg is, wil jy maar liewer taamlik tyd spandeer in 'n warm, droeë bus. Plus, al klim jy nêrens af nie, kry jy 'n lieflike uitsig oor die Skotse landskap vanaf die bus se boonste verdieping, al die pad.

Eerste stop was Dankeith, en hoewel ek nie heeltemal seker was hoekom ek dit aanvanklik wou besoek het nie, was dit definitief die moeite werd. Dis (wat ek later sou verneem) tipies Skotse platteland, met al die ou mense wat inkopies doen en kinders oppad skool toe. Vandaar het ek verder gery na Mayfield, maar daardie trippie sal ek nie sommer aanbeveel nie.

Van daar af is ek terug (deur Edinburgh) om die Firth of Forth van nader te beskou met 'n trippie na Leith. Hier het ek my rieme egter begin styfloop met die Lothian busdiens.

Ek het bus 11 geneem, maar besluit om 'n bietjie vroeër af te klim en die laaste entjie te loop. Sonder 'n kaart. Wat 'n ramp. Die hyskrane wat ek gevolg het om by die hawe uit te kom, was toe nie die hawe se hyskrane nie... dit was 'n konstruksie van 'n nuwe gebou in 'n woonbuurt 'n hele ent van die see af. Oeps.

Na 'n rukkie se ronddwaal kry ek toe die busroete, en wag by die eerste halte vir die bus.

En wag. En wag. En wag. En die blerrie ding daag nie op nie.

Toe begin ek maar al langs die haltes stap, al deur Firth of Forth, tot by Ocean-Terminal. Ocean-Terminal is 'n reuse (posh) winkelsentrum langs die Fyfe, wat eintlik beroemd is omdat dit die vasmeerplek is van Britannia, die koninklike yaght. Die "yacht", soos 'n mens kan verwag, is 'n reuse skip, wat 10 pond kos om te besoek. Jy kan egter maklik fotos daarvan neem vanuit die winkelsentrum, en 'n koffietjie en tuna toebroodjie aanskaf teen 'n heel billike prys.

Bus terug tot in Edinburgh, was dit tyd om weer die bus te neem, hierdie keer na Roslin om die beroemde Rosslyn Chapel te besoek. En toe strip ek my moer heeltemal vir die busdiens. Daar's net een bus wat Roslin toe hardloop, en die was meer as 'n uur laat. Elke keer as jy wil loop, vertel jy jouself "nee wag, dalk is die volgende bus oor die bult myne". Toe nou nie.

Maar okay, die bus het toe aangekom, maar opgedaag in Roslin nie 'n sekonde later as 5 minute nadat die chapel toe is vir die dag nie. Toe doen ek maar wat ek kon doen, bly op die bus, en ry deur tot by Peniquik.

Hierdie dorpie, meer bekend vir die Edinburgh kristalwerk wat hier vervaardig en verkoop word, is net so picturesque soos Dankeith, maar effens groter. Dit was egter al 'n bietjie laat, ek het op daardie stadium al die hele dag in die reën gestap, en het net oor die algemeen gevoel dat dit tyd is vir huistoegaan. So, na 'n vinnige wandeling deur die dorp en 'n wandelroete rondom, was dit weer ek op die bus terug na Edinburgh.

Daar aangekom, met nog 'n aandete van vis & chips agter die blad, het ek weer kans gesien vir 'n aandwandeling, en was dit tyd om Princes, Rose en Georgestraat te sien. Hierdie drie loop parallel aan die treinstasie (wat, kom ek agter, deur 'n drooggelêde meer lê, wat die klomp brue verduidelik), en is in die 1850's uitgelê en gebou. Rosestraat (die loopstraat tussen George en Princes) is veral besienswaardig, met elke derde stop 'n pub.

En so, na 'n vinnige stort en 'n goeie blogtiksessie in die common room bo-in die hostel, kon ek weer rustig myself fisies voorberei vir my laaste dag in Edinburgh.