Sunday, June 3, 2007

Edinburgh Woensdag


100_2059, originally uploaded by tstander.

Dag drie in Skotland het begin min-of-meer waar dag 2 geëindig het: koud, nat, en op 'n bus. Na ek vinnig opgepak, uitgecheck, en 'n locker vir my tassie gekry het, het ek hierdie keer vroeg geskiet vir bus 15 na Rosslyn. Gelukkig was die bus vandag net 15 minute laat, en voor die plek te vol was, was ek in Rosslyn Chapel.

Hierdie plekkie is ongelooflik. Omtrent elke pilaar, vensterbank, hoekie en draaitjie is kunstig gekap uit klip. Meer as dit, daar's simboliek agter elke ontwerp, en selfs 'n klomp waarvan die simboliek nog 'n misterie is. Plus, daar's 'n reuse kelder onder die kapel wat niemand weet wat daarbinne is nie, want hulle kry nie die ingang nie. Inderdaad iets waaroor 'n mens 'n reuse klomp legendes, stories en 'n prominente plek in 'n fliek sou verwag.

Van die dorpie self (en die kasteel by Rosslyn) het ek ongelukkig nie veel gesien nie, maar die bietjie wat ek wel gesien het, het net so mooi gelyk soos die plattelandse Skotland op die poskaarte.

Vandaar, eers weer deur Edinburgh, was ek by die stad se "ander" kasteel: Craigmillar, waar Queen Mary haar kasteel gehad het. Hierdie was absoluut die moeite werd om te besoek, met vrye toegang tot al die ruïnes se hoekies en draaitjies, insluitende Mary se slaapkamer, grand banquet hall, en die stukke wat in die 17e eeu aangebou is onder die nuwe eienaar, nadat Elizabeth vir Mary laat teregstel het.

Beste deel is, die toer was gratis. Die bordjie by die ingang het gelui "Steward is op lunch tot 13h40, gaan solank in, betaal oppad uit". Toe sy eers 13h45 daar opdaag en sien hoeveel van ons daar wag om te betaal vir die kasteelbesoek wat ons gehad het, het sy besluit om dit vir ons gratis en verniet te gee. Om my waardering te toon, koop ek toe 'n pakkie Skotse fudge: 'n heel slusherige affêre, glad nie soos die bros fudge waaraan ons gewoond is nie. Vreemd.

Vandaar, terug in Edinburgh, was dit tyd om die "groot" besienswaardighede een vir een deur te gaan, en te kyk wat kos om elkeen te besoek. Edinburgh Castle self was 15 pond, wat ek gevoel het 'n bietjie buitensporig is. Camera Obscura was net 6 pond, en sou 'n goeie opsie wees, maar ek het besluit om eers Holyrood Palace te check. 'n Toer daar sou nie so duur wees nie, behalwe dat die Graaf van Rochester tans daar vertoef tot 1 Junie, en die paleis dus nie oop is vir toere nie. Die "Dynamic Earth" uitstalling, hoewel taamlik interessant, het ek nie gevoel is 12 pond interessant nie.

Die laaste opsie was dus die (heeltemal gratis en verniet) Skotse museum. En, soos in Berlyn, het ek die beste gelos vir laaste, en moes heeltemal te vroeg loop. Ek's skaars deur die "antieke mense van Skotland" vloer, toe die omie ons uitjaag.

Nouja, na 'n vinnige pizza en koffetjie nie ver van daar nie, het ek maar my tassie gehaal, die bus geneem terug lughawe toe, en ingecheck... net betyds om te hoor my vlug is WEER laat (hierdie keer met so 40 minute). Aan die ander kant, as hierdie vlug betyds was, sou dit die eerste een wees sedert ek aangekom het in Europa, so ek moes dit seker te wagte wees. Maar, een en 'n half Guinnesse later, was die vlug daar, en hoewel ek trein gemis het, was Adana-hulle vriendelik genoeg om my te kom oplaai.