Monday, June 25, 2007

Londen Donderdag


100_2120, originally uploaded by tstander.

As 'n verjaardagtreat vir my, Ruan, en seker Adana ook, vat ons toe die trein vanaf Guildford vir ons groot Londen uitstappie Donderdag. Miskien moes ons maar 'n ander trein, of 'n ander dag gekies het. Van al die dae, van al die treine, het ons gekies om te klim op die een wat vertraag sou word (uiteindelik vir 2 of so ure) oor 'n ongeluk op die lyn. Hulle het darem, na 'n uur of so, vir almal gratis koffie en tee aangebied, maar hulle het nie toegelaat dat ons afklim op Hinchley Wood (die stasie waar ons gestrand gesit het vir die lang ruk) nie.

Aangekom daar en op die tube by Waterloo, het ons afgeklim by Embankment om al langs die rivier te stap tot by ons eerste bestemming vir die dag: Tower of London, wat toe GLAD NIE 'n toring is nie... dis net so 'n kasteelerige-affêre. Hoewel dit baie oulik lyk van die buitekant af, het ons besluit dis 'n bietjie buitensporig om 15 pond te betaal vir die voorreg om die Crown Jewels te sien, toe hou ons maar verby.

So terloops: Een ding wat ek begin mis het in Skotland, en net verder gemis het in Duitsland, is hoe buitensporig duur dit is om besienswaardighede te besoek. In Duitsland, behalwe as daar iets aardskuddend, opspraakwekkend of ongelooflik besonders by 'n museum is, betaal jy nooit meer as 5 of 6 Euro nie. Hier, kom jy net eenvoudig nêrens in vir onder 10 Pond nie.

By Tower Bridge, was dinge nie veel beter nie: hier betaal jy 6, maar dis net vir die voorreg om oor die boonste loopvlak te loop. Soos die kommin plebs wat ons is, het ons maar onderlangs gehou oor die rivier, verby die HMS Belfast, tot by Shakespeare se Globe Theatre (oftewel, 'n herkonstruksie daarvan). Hierdie een kan jy wel van die buitekant af goed sien, en as jy skelm is en deur die skrefie in die deur loer net nadat jy hulle toilette gebruik het, kan jy die binnekant ook verniet sien. 'n Mens moet maar wonder oor watter vermaak daai oumense gehad het destyds: daai teater lyk, van binne, nie 'n plek waar ek drie ure sou wou studeer nie. Wel, nie sonder 'n lekker kussing (wat jy deesdae kan huur vir 3 Pond) en goeie geselskap nie.

Laaste stop vir die dag was die Tate Modern, waar ons ook net lank genoeg vertoef het om te besef ons is te laat om in te gaan. Ons kon wel deur die winkeltjie loop, maar dit was maar so ver soos die opwinding gestrek het. Nie eens ons wandeling na Southwark, die tube trippie na Waterloo of die treinrit terug het meer opwinding opgelewer nie. Hierdie was 'n swak stand van sake, en die opwinding moes gevind word. Ek sou moes terugkeer die volgende dag.