Monday, June 18, 2007

Tot volgende keer!

Nouja, na meer as twee weke van stilte, is dit my aangename voorreg om my laaste reeks blogposts met julle te deel. Hierdie sluit nou in my laaste paar dae in Londen, asook die week in Hawaii en al die vlugte, lughawens, gebeure en mense tussenin. Ek's jammer dis so laat, maar ek was eenvoudig net te besig goeters te doen, dinge te sien en plekke te beleef om oor goeters, dinge en plekke te skryf. Die meeste wat ek kon doen, is 'n kort puntvorm opsomming van elke dag, sodat ek nou (tot 'n week later) kan onthou wat ek als gedoen het, en die vleis 'n bietjie kan invul.

As die hele punt van die blog was om mense op hoogte te hou van waarmee ek myself besig hou oorsee, hoekom post ek dan nog as ek by die huis is? Kompulsiwiteit. Om dit waarmee ek so noukeurig en doelgerig begin het, klaar te maak en af te rond. Wat seker die rede is hoekom ek aanhou bierbekers versamel het in Duitsland, al het ek begin agter kom dit gaan my tas oorgewig stoot. Of hoekom ek onderskrifte vir AL my fotos laai op Flickr, al neem dit hopeloos te veel tyd in beslag. Ek wil net graag alles neerskryf en op een plek hou, daar waar ek weer daarvoor kan gaan soek as ek weer wil onthou.

Met hierdie reeks posts (wat eindig met "Terugtog") sluit ek dus hierdie blog af. Baie dankie vir almal wat gelees het, julle belangstelling het my gemotiveer on deur te druk (met die blog, en met die uitstappie as geheel).